Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 213

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die vrou van die herbergier

213 Maar gou kom sy vrou die eetsaal binne om haar man, wat te lank wegbly, te vra wat Ek as middagmaal bestel het, en of Ek miskien Self in die kombuis op een of ander wonderbaarlike wyse sou meewerk aan die bereiding daarvan.

[2] Toe sy egter dadelik merk dat ons almal aan die ryklik van spyse en drank voorsiende tafels sit en eet en drink, slaan sy van verbasing haar hande bo haar hoof ineen en sê: “Maar om Moses se wil, wie se dag ons vandag eer, wat is dit dan?! Waar kom die spyse en die wyn nou vandaan?”

[3] Die herbergier sê: “Stel geen vergeefse vrae nie! Want ook al sou ons dit vir jou sê, sou jy dit tog nie begryp nie; later sal jy wel `n keer hoor waar hierdie spyse vandaan gekom het. Maar sien daar in die kombuis nou toe dat alle ander gaste in die ander eetkamers behoorlik bedien word!” 

[4] Daarop gaan die vrou meteens weer die kombuis in en doen haar plig. Maar dit laat haar tog nie los waar die spyse vandaan gekom het nie. Daarom onderwerp sy die personeel ook aan `n grondige ondervraging deur wie, hoe en wanneer en waarvandaan die spyse gehaal was. Maar toe almal na volle waarheid verseker dat hulle dit nie weet nie, hou die vrou dit nie meer uit van nuuskierigheid nie en kom nogmaals na ons toe, om by één van My leerlinge uit te vis hoe dit nou met die spyse is.

[5] Toe sê `n Esseen vir die vrou: “As jy nie te blind was met jou verstand nie, sou jy al lankal moes merk wat se wonderwerk hom hier en ook buite die herberg voorgedoen het, enkel deur die wil van die ewige groot Heer en Leraar - en so het ook hierdie spyse ontstaan. Dit is werklik uit die hoogste hemele hierheen gebring. Maar kom eers hier en beproef alles, en sê dan as goeie kombuis meesteres hoe hierdie hemelse kos vir jou smaak!”

[6] Toe kom die vrou `n bietjie verleë na die Esseen toe en proe die spyse, die brood en die wyn, en gee toe dat sy in haar hele lewe nog nooit iets geëet het wat so buitengewoon goed smaak nie. Nou glo sy self dat hierdie spyse nie in `n aardse kombuis berei was nie.

[7] Maar die Esseen wys met sy hand na My en sê: “Kyk, daar sit die ewige groot Spysmeester, wat nou die heerlike middagmaal op wonderbaarlike wyse in één enkele oomblik en nie op menslike wyse berei het, maar suiwer so geskape het soos Hy ook op die hele aarde vir alle skepsele ewig hulle passende voedsel skep! En nou weet jy voorlopig genoeg; glo, sodat jy salig kan word! Daar het die huis `n groot heil ten deel geval, net soos hierdie hele plek, en ons sal God nooit genoeg daarvoor kan loof en prys nie. - En nou kan jy, vrou, weer met jou werk aangaan; maar oor wat jy nou gehoor het, moet jy niks vir ander mense sê nie, want die Heer en Leraar wil dit nou so hê!”

[8] Toe gaan die vrou na My toe en bedank My vir wat sy geëet het, waarna sy weer na die kombuis gaan.

[9] Maar Ek sê vir almal: “Weliswaar is daar vanaf die begin geen enkele vrou geroep om as profetes vir `n volk te profeteer nie; maar as die hart van `n vrou vroom is en sy die gebooie hou en haar kinders wys opvoed in die ware eerbied tot God en in liefde, dan is sy ook gelyk aan `n profeet en neem God se Gees ook Sy intrek in haar hart.

[10] Daarom moet julle, as julle in die toekoms My woord sal verkondig, die vroue nie uitsluit nie, soos dit ook tot nou toe dikwels die geval was nie, maar julle moet hulle ook niks weerhou van wat julle oor die Godsryk geopenbaar word nie; want wat die vroue as moeders en vernaamste opvoedsters die kinders leer, is blywender en meer werd as die onderrig van alle hoërskole ter wêreld! 

[11] Wanneer `n vrou wys is, word haar kinders ook wys; maar as `n vrou dom en onontwikkeld is, sal haar kinders ook nie maklik tot profete gemaak kan word nie. Hier geld die spreekwoord, waarvolgens `n appel nooit ver van die boom val nie. 

[12] Dit is baie waar dat `n vrou `n goeie, ywerige huishouster is en ook haar kinders in die huishouding oplei en oefen; maar dit is nog beter wanneer sy, self vervul van die Gees van die Waarheid uit God, ook die hart van haar kinders met dieselfde Gees vervul. Aan sulke kinders sal My evangelie dan maklik en suksesvol verkondig kan word. Neem dit in die toekoms dan ook goed in ag!”

[13] Roclus, die ander Essene en die herbergier bedank My vir hierdie les en Roclus sê nog in die besonder: “Ja, Heer en Leraar, dit is by ons, en veral by die Judeërs in die omgewing van Jerusalem, steeds die groot fout gewees, dat daar te min aandag geskenk is aan die ware ontwikkeling van die hart en die verstand van die vroue, en daarin moet dan ook veral die oorsaak van die volledige verduistering en die verval van die mens in die suiwer geloof in één God gesoek word! Van nou af aan sal ons die vroue dan ook nie dit weerhou wat, net soos by die manne, vir hulle geestelike ontwikkeling nodig is nie.”

[14] Ek sê: “Doen dit, dan sal dit weldra lig word onder die mense! Maar wanneer mense later nooit meer hierdie raad van My sal opvolg nie en die vroue weer wêrelds en selfingenome word, sal die ou duisternis weer onder die mense opduik, en die geloof sal uitdoof en die liefde verkil; en so sal daar opnuut droewige ellende onder die mense wees, soos daar ook nog nie vroeër was nie. Want nou het die helderste lig vir alle mense deur My opgegaan. Wanneer die maan verduister word, sal daardeur die nag van die aarde weliswaar ook groter wees, maar uiteindelik nog baie draagliker as wanneer die son in die middel van `n helder dag volkome verduister sou word. Dink by julleself goed na oor hierdie beeld!”

[15] My leerlinge sê: “Heer en Leraar, die beeld is vir ons nie duidelik nie! Wat stel die maan voor, en wat is die son? Hoe moet ons dit uitlê?”  

[16] Ek sê: “Hoe lank sal Ek nog onder julle moet lewe, voor julle geheel en al tot insig gekom het? - Die tyd vanaf Adam is, wat betref die geestelike ontwikkeling van die mens deur middel van die baie profete via die weg van openbaringe, gewees soos die lig van die maan. Die maan wissel met sy lig: hy is `n tyd lank gladnie te sien nie en neem dan weer toe, totdat hy vol word. So het dit met die kennis van God tot in hierdie tyd gegaan. Deur die woord en deur die tekens van die profete het hierdie kennis by die verskillende volkere tot `n volkome lig toegeneem. Hierdie profete was derhalwe steeds soos die volle lig van die maan, wat ook geen eie lig het nie, maar wat dit van die son leen, net soos ook alle profete in alle tye ook maar net uit God, uit die son van die engele en geeste geleende lig gehad het, waarmee hulle die mense verlig het.

[17] Naas en na die profete staan daar ook ander leraars op, stel allerlei toevoegings en verklarings op en verduister die oorspronklike leer op die manier steeds maar meer en meer, sodanig dat daarna weldra niks meer daarvan oor is nie. Toe moes die mense hulle in hulle nag met die swak lig van die sterre help, totdat daar weer `n profeet onder hulle opgewek was. Die geestelike nag, wat op die manier donker geword het, het nie so ontnemend op die gemoed van die mens ingewerk nie, aangesien hulle geloof in Eén God, net soos die swak lig van die baie sterre, nooit volledig kon uitdoof nie.

[18] Maar nou het in My die son van die hemele self vir die mense opgegaan. Hy het geen geleende, maar haar hoogs eie magtige lig, wat self nie toe- of afneem nie. En wie My herken het, sal My nie een keer meer en dan weer minder ken nie. Maar dit is baie goed moontlik dat die helder lig in die mens deur sy wêreldse instelling en deur sy selfingenomenheid heeltemal uitdoof, en dan sal hy vergelykenderwys net so daaraan toe wees as die aarde, wanneer die son, wat alles baie helder verlig en verwarm, skielik heeltemal aan die hemel uitgedoof sou word. Dan sal die swak lig van die sterre die mens geen troos meer kan bied nie, omdat sonder die son, alles op aarde deur die koue moet verstar en sterf. 

[19] Wanneer vanaf nou die geloof in My - My lewenslig in die mens - sal uitdoof, sal daarmee ook die liefde - die lewenswarmte - geheel en al verkil, en dit sal dan `n sodanige droewige ellende onder die mense tot gevolg hê dat hulle hulleself baie ongelukkiger sal voel as `n vertrapte wurm, wat in die stof draai en kronkel. En baie sal hardop uitroep: “Hoe is die diere tog nie gelukkig nie, vergeleke met ons mense! Hulle lewe en ken die dood nie; maar ons moet lewe, om die dood en sy verskrikking steeds voor oë te hê!”

[20] Kyk, dit is die groot droewige ellende onder die mense, wanneer die lig en die liefde hulle verlaat het! Streef dus daarna dat die mense in die lig bly, dan sal hulle ook in die liefde bly en geen dood voor hulle sien, voel of smaak nie! Het julle dit nou goed begryp?”

[21] Almal sê: “Ja, Heer en Leraar; maar dit is tog treurig dat dit moontlik is!”

[22] Ek sê: “Baie verseker - maar Ek kan nie die mens sy vrye wil afneem nie, omdat hy andersins geen mens sou wees nie. Maar laat ons nou daaroor ophou! Laat ons nou nog eet en drink en ons ledemate versterk; daarna sal ons weer werk!” 

[23] Daarop eet en drink ons baie welgemoed, en daar word nog menige opmerking gemaak oor die goeie smaak van die spyse, die brood en die wyn.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205