Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die Heer as Seun

27 (Die Heer:) “As die Seun sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan verwek word? En wanneer die Heilige Gees ook sedert ewigheid daar was, hoe kon Hy dan van die Vader en die Seun uitgaan en Sy oorsprong daarin hê? Wanneer die deur julle aangevoegde drie goddelike persone, waarvan die latere mense maklik drie gode sou kan maak, volgens julle alle drie ewig, dit wil sê sonder begin is, dan kon die één dus nie aan die ander die begin van sy bestaan gegee het nie! 

[2] Ek is, soos wat Ek ook nou by julle is as `n mens in die vlees, die Seun en is nooit deur iemand anders as alleen deur Myself verwek nie en is derhalwe My hoogs eie Vader van ewigheid. Waar sou die Vader anders kan wees as in die Seun, en waar die Seun anders as in die Vader, dus slegs één God en Vader in één persoon?

[3] Die liggaam van My is daarom die verheerlikte gestalte van die Vader ten behoewe van die mense en engele, sodat Ek `n begryplike en sigbare God vir hulle kan wees, en julle kan My nou sien, na My luister en met My praat en daarby tog in die lewe bly! Want voorheen was dit so dat niemand God kon sien en in die lewe kon bly nie. Ek is nou in alle opsigte God. In My is die Vader, en die krag wat, ooreenkomstig My liefde, wysheid en almagtige wil, van My uitgaan en die ewig eindelose ruimte allerweë vervul en ook oral werksaam is, is die Heilige Gees.

[4] Soos julle My nou ook as Elohimmens by julle sien, is Ek met My hele oersentraalwese beslis volkome en onverdeeld in julle midde, hier in hierdie eetsaal op die Olyfberg, en bevind My dus as hoogs ware God en Mens tegelyk nêrens anders nie, nie op hierdie aarde en nog minder op `n ander (planeet); maar deur die krag wat van My uitgaan, wat die Heilige Gees is, vervul Ek tog alle hemele en die aardsmateriële en eindelose ruimte met My werksaamheid. Ek sien alles daarin, van die grootste tot die kleinste, ken alles, weet alles, bepaal alles en skep, lei en regeer alles. 

[5] As julle dit nou duidelik uit My mond weet, sal julle ook begryp om watter rede julle die mense wat in My glo en ook volgens My leer sal handel, nadat dit aan hulle bekend gemaak is, die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees moet versterk deur hulle die hande op te lê.

[6] As julle nou die rede begryp, sal julle ook insien dat die mens, as hulle waaragtig en waar deur julle onderrig word, nie maklik op die idee sal kom om drie, persoonlik op homself staande, gode aan te neem nie, omdat julle die drie eienskappe genoem het. Maar Ek druk julle dan ook ten seerste op die hart dat julle die mense oral `n egte en waarheidsgetroue lig sal gee; want waar dit daaraan sal ontbreek, sal die mens maklik en vinnig verkrummel en oorgaan tot allerlei dwaallere, en dan sal dit moeilik wees om hulle op die weg van die volle waarheid te bring.

[7] Dat daar egter ondanks al julle trou tog valse leraars en profete sal opstaan wat baie mense sal mislei, sal julle wel nie kan verhinder nie en dit sal julle ook nie as skuld aangereken word nie, ewemin as dat `n boer, wat suiwer koring op sy akker saai, waartussen sy vyand snags onkruid strooi, tot sonde gereken kan word as die onkruid op sy akker tussen die koring woeker en die goeie graan verswak.

[8] Dit is weliswaar die wens van My liefde dat alle mense van hierdie aarde die ligte weg van die waarheid sal betree en so die ewige lewe tegemoet sal gaan; maar omdat Ek, om redes wat Ek julle al genoem het, My almag volledig moet terugtrek, is elke mens volkome vry en kan hy uiteindelik glo en doen wat hy self wil.

[9] Wanneer julle My leer verder versprei, kan julle die beste die verstand en daarmee die gemoed van die mense bewerk. Want waar die verstand en die gemoed eenmaal deurdring is, daar word die geloof deur die goeie wil lewend en met sukses werksaam; - sonder die korrekte verligting van verstand en gemoed bestaan die geloof slegs uit `n stom en blinde aanneem van een of ander outoriteit wat hy gehoor het. So `n geloof is egter so goed as geen geloof nie; dit wek die gemoed nie op tot vrywillige en die hart gelukkig makende werksaamheid en is dan ook dood, omdat dit sonder vrye, vreugde verwekkende werke is. 

[10] Werke wat die mens verrig onder van buite af opgelegde dwang het vir die siel geen waarde nie, aangesien dit die siel nie opwek nie, maar terneerdruk, omdat dit nie vrywillig met vreugde uit innerlike oortuiging volbring word nie, maar slegs uit angs vir die straf waarmee gedreig word, terwyl mens heimlik ergernis, gramskap en woede voel.

[11] Wanneer Ek al vir julle sê dat julle net so volmaak in insig en suiwer liefde moet wees as die Vader in die hemel, dan moet julle leerlinge dit ook wees! Daarom sê Ek vir julle ook nog die volgende: “Ondersoek alles goed vooraf, en behou dan die goeie en ware!”

[12] Wat Ek julle nou aanraai om vir julleself in ag te neem, moet julle ook julle toekomstige leerlinge aanraai! Ek sou nou baie goed van julle kan verlang dat julle sonder verdere verklarings van My glo wat Ek julle sê en aanraai om dit te doen, want die tekens wat Ek voor julle oë gedoen het, het My tog seker die gesag verleen dat julle gedwing sal word om My te glo; maar so `n afgedwonge geloof is nog lank geen innerlike lig van die siel nie, en wek haar nie blymoedig op tot dade nie.

[13] Dat dit inderdaad so is, bewys julle deur julle voortdurende vrae, en daardeur erken julle openlik dat geloof, slegs op grond van gesag, die siel te min lig bied, en die gebrek daaraan word eers in julle deur My verklarings opgehef. Soos julle ook nou naas alle tekens en leringe wat Ek gegee het, nog steeds duidelike verklarings verlang, wat ook heilsaam vir julle is, so sal julle leerlinge dit ook van julle verlang, en julle moet nie suinig daarmee wees as julle die optrede van die valse profete optimaal wil teengaan nie! 

[14] Julle sal ook tekens doen, en die valses sal met behulp van allerlei bedrog dieselfde doen, en daarom sal die tekens wat deur julle verrig word, steeds `n magtiger bewys vorm vir die egtheid van die leer wat deur julle aan die volk verkondig word; maar wat julle deur middel van verligtende woorde in die verstand en die gemoed van die mens sal inprent, sal `n ewige onuitwisbare, lewende bewys van die waarheid van die leer uit My hemele bly. So `n helder begrypte waarheid sal julle en julle leerlinge dan eers volkome vry maak. - En nou het Ek weer baie onthul en julle baie lig gegee, en daarom vra Ek julle nogmaals of julle dit ook goed begryp het.”

[15] Almal sê: “Ja, Heer en Leraar, dit het ons nou baie goed begryp; want nou het U weer eens baie vry en openlik gespreek!”

[16] Hierop sê Ek: “Ons het nog tyd; as iemand nog iets verder wil weet, laat hy dit dan vra!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205