Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Dit wese van Satan

34 Toe kom weer één van die in Emmaus bekeerde Fariseërs, wat `n Skrifgeleerde was, na vore en sê: “Heer en Leraar! Ons weet nou goed hoe dit volgens waarheid gestel is met die besetenes en wie in die grond van die saak die bose geeste is, waardeur hier en daar die liggaam van `n mens in besit geneem word; maar in die Skrif word nietemin baie nadruklik gepraat oor die werklike, aartsbose duiwels en oor hulle vors, Satan, en tewens gesê dat Satan, wat ook Lucifer genoem word, en `n ontelbare groot aantal engele, wat hulle na hom gewend het deur God verstoot is en in die ewige hellevuur gewerp is.

[2] So staan daar ook geskrywe dat Satan in die gedaante van `n slang die eerste mens ten gronde gerig het, en hoe God die vrome Job deur hom laat versoek het.

[3] Hoe is dit nou volgens U nuwe leer met Satan en sy duiwels wat aan hom ondergeskik is? Wie en waar is Satan, en wie en waar is die duiwels?

[4] Aangesien dit ons deur U vergun is om die gehele misterie van God se ryk te begryp, moet ons ook wat dit betref duidelikheid hê; wil U daarom so barmhartig wees om ons `n begryplike uitleg daaroor te gee!”

[5] Ek sê: “Daaroor is al baie deur My gesê en uitgelê, en My ouer leerlinge weet waaraan hulle toe is; maar omdat jy nog `n nuweling by My is, mag jy wel vra oor wat nog nie aan jou bekend gemaak is nie; luister dus! 

[6] Kyk, wat die eindelose ruimte as materie in homself bevat, dit is geoordeel en daardeur vasgemaak deur die mag van God se wil! As dit nie so sou gewees het nie, sou daar geen son, geen maan, geen aarde en al glad geen skepsel in die groot eindelose ruimte gewees het nie; dan sou God alleen bestaan het en Sy groot gedagtes en idees aanskou het.

[7] God het egter al sedert ewigheid Sy gedagtes as`t ware buite Homself geplaas en hulle deur Sy almagtige wil van `n liggaam voorsien. Hierdie beliggaamde gedagtes en idees van God is egter streng gesproke geen liggame nie, maar dit is geestelike dinge wat hulle in die oordeel bevind en is rypwordingshouers ten behoewe van `n selfstandige “wees (bestaan)”. Dit is dus skepsele, bestem om as`t ware uit hulleself en uit eie krag ewig voort te lewe naas My, die Skepper wat vir hulle sigbaar is.

[8] Alle skepsele, as geoordeelde geestelike wesens, is vergeleke met die suiwer en vry geestelike, nog onsuiwer, onryp en daarom nog nie goed nie, en kan ten opsigte van die geestelike suiwere goeie, op sigself nog as sleg en kwaad beskou word.

[9] Onder “Satan” moet jy dus die hele materiële skepping in die algemeen verstaan, en onder “duiwel” die afsonderlike spesifieke dele daarvan.

[10] Wanneer `n mens op hierdie wêreld God se wil ken en daarvolgens leef, verhef Hy homself daardeur uit die gevangenskap, wat eie is aan al dit wat geskape is, en gaan oor na God se vryheid, wat eie is aan dit wat nie geskape is nie.

[11] `n Mens wat egter nie in `n God wil glo en derhalwe ook nie wil handel volgens Sy wil wat aan die mens geopenbaar is nie, sink vervolgens steeds meer en dieper weg in die geskape materiële en word geestelik onsuiwer, sleg en oordeel boosaardig, en as gevolg daarvan `n duiwel. Want al die louter geskapenes en geoordeeldes is, soos ook reeds gesê, ten opsigte van die ongeskape suiwer en vry geestelike, onsuiwer, sleg en boos; egter nie omdat God uit Homself ooit iets onsuiwer, sleg en boos geskep het nie, maar enkel en alleen omdat dit in die eerste plek ten behoewe van die bestaan noodsaaklikerwys iets moet wees wat geskape is, begiftig met intelligensie en daadkrag en tewens in die mens met `n vrye wil, en in die tweede plek omdat dit, om ooit selfstandigheid te verwerf, in homself selfstandig gebruik moet maak van wat as geskape gegee is en dit as`t ware tot sy eiendom moet maak. 

[12] Vir God bestaan daar egter niks onsuiwer nie, niks slegs en niks boos nie; want vir die Suiwere is alles suiwer. Alles wat God geskape het, is goed, en vir God bestaan daar dan ook geen Satan, geen duiwel en bygevolg ook geen hel nie. Slegs die geskapene as sodanig is dit alles, solank as wat hy iets geskape en geoordeel moet bly en solank hy uiteindelik in die besit van die vrye wil, hetsy goed of sleg wil bly.

[13] Wanneer daar dan in die Skrif staan dat Satan in die gedaante van `n slang die eerste mensepaar verlei het, dan wil dit eintlik sê dat die eerste mensepaar, wat God en Sy wil goed geken het, hulle deur die bekoorlikheid van die materiële wêreld laat betower het en dat die begeerte en die stem van hulle geoordeelde vlees gesê het: “Ons wil eers kyk wat daar sal gebeur wanneer ons in stryd met die welbekende wil van God sal optree! Want God Self het ons die vryheid van handeling gegee; ons kan daardeur niks aan insig verloor nie, maar slegs wen. Want God weet sekerlik wat met ons, deur vry te handel, kan gebeur, ons weet dit egter nie; laat ons daarom slegs één keer volgens ons sin handel, dan sal ons deur ondervinding ook dit weet, wat slegs God nou weet!”

[14] En kyk, toe eet beide van die verbode boom van kennis langs die pad van hulle “wil self ondervind”, en sink daardeur `n graad dieper weg in hulle geoordeelde materiële, wat ten opsigte van die vrye lewe van die gees ook “die dood” genoem kan word. 

[15] Hulle het daarop baie goed ingesien dat die onvryheid van die oordeel en die dood in hulle vlees woon, wat by `n toenemende liefde vir die wêreld ook die vrye siel in sy oordeel en sy onvryheid kan begrawe, en so verloor hulle dan ook die suiwere paradys, wat bestaan uit die volledige vereniging van die siel met haar gees, en kon dit uit sigself nie weer heeltemal terugvind nie; want hulle siel was deur die angel van die materie verwond en dit het haar toe baie moeite gekos, om haarself nog so vry moontlik bo die oordeel van die geskape onvryheid te handhaaf, soos wat dit ook nou by alle mense die geval is - en daarom het Ek in hierdie wêreld gekom, naamlik om weer vir die mense die ware lewensweg te toon en hulle deur My leer die verlore paradys terug te gee. 

[16] Dieselfde is ook die geval met Job. Job was, in `n aardse opsig, `n uiters gelukkige man en het baie besittings gehad. Hy was egter ook `n wyse mens en baie toegewyd aan God, wat streng volgens die wet geleef het. Sy buitengewone welstand het sy vlees egter tog steeds begeriger gemaak en het hoë eise aan die gees in hom gestel.

[17] Die geoordeelde gees van die vlees sê in `n sekere sin vir die siel: “Ek wil tog net kyk of ek jou deur al my aardse genoegdoeninge en leed nie van jou God kan wegtrek en of ek jou geduld nie sodanig kan uitput dat ek jou onder my dwanggerig kan stel nie!”

[18] Dit het Job toe `n magtige stryd gekos; want enersyds het alle aardse vreugde hom tot sy beskikking gestaan, waarvan hy weliswaar geniet het, maar dit het nie oor sy siel geheers nie, wat verbonde gebly het met die gees. 

[19] Aangesien die bose gees van die materie op hierdie manier egter niks bereik het met die siel nie, word sy siel versoek deur allerlei liggaamlike narighede, wat in die boek simbolies aangedui word. Maar Job het dit alles met geduld deurstaan, alhoewel hy af en toe gemopper en sy nood bekla het, maar uiteindelik tog altyd openlik beken het dat God hom voorheen alles gegee het, wat dit nou afgeneem het, en dit hom weer sou kan teruggee, en selfs nog meer as wat Hy van hom afgeneem het, vanweë die volledige versterking van sy siel in die gees.  

[20] Wanneer dit nou so is, wie was dan Satan, wat die vrome Job soseer versoek het? Dit was die geoordeelde gees van sy vlees, dit wil sê die verskillende begeertes daarvan!

[21] Maar `n bepaalde persoonlike oer-Satan en persoonlike oerduiwels het in werklikheid nooit êrens anders bestaan nie, as slegs in die geoordeelde wêreldse materie van elke aard en soort. Dat Satan en die duiwels deur die ou wyses egter in allerlei skrikbeelde weergegee was, was sodat die siel haarself deur allerlei verskriklike beelde kon voorstel wat se nood `n vrye lewe sy sal moet deurgaan, wanneer sy haarself weer deur die oordeel van die materie sou laat gevange neem.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205