Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 35

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oor die persoonlikheid van Satan

35 (Die Heer:) “Ekself het Satan eens in `n beeld vir my eerste leerlinge laat verskyn, en hulle het geweldig geskrik daarvoor. Iets dergeliks het ook herhaalde kere by die aartsvaders van hierdie aarde plaasgevind; maar destyds was daar geen verklaring in woorde bygegee nie, omdat die oues, wat wys was uit die gees, die simboliese voorstelling langs die weg van innerlike ooreenkomste goed begryp het en daarom ook gesê het: dit is verskriklik om in die veroordelende hande van God te val, dit wil sê: dit is verskriklik vir `n siel, wat al tot volledig selfbewussyn gekom het, om haarself weer gevange te laat neem deur die onveranderlike wet van die dwingende oordeel van die goddelike wil in die materie.

[2] Dat dit al as iets verskriklik vir die siel bestempel word, leer elkeen deur die ervaring van `n sterwende, wat vooraf nie die volledige wedergeboorte in die gees bereik het nie. 

[3] Want waarom vrees so `n siel soseer die dood van haar liggaam? Omdat sy, nog verstrik in die dwanggerig van die liggaam, dink dat sy saam met die liggaam sal sterf! Dat dit die geval is, kan julle goed herken by almal wat gladnie of maar nouliks glo aan `n voortlewe van die siel na die dood van die liggaam, omdat sy siel haarself eweneens heeltemal, of vir die grootste deel, in die oordeel van haar vlees bevind en bygevolg ook die dood daarvan saam moet deurmaak, vir solank sy deur My wil nie volledig daarvan geskei word nie.

[4] Aangesien julle nou hopelik goed besef, hoe dit staan met Satan en sy duiwels, sal julle daardeur ook vanself insien dat dit met die hel nie anders gestel kan wees nie. Dit is, net soos Satan, in homself die ewige dwanggerig, dus die wêreld en die materie daarvan.

[5] En waarom word Satan ook `n vors van die duisternis en leuen genoem? Omdat alle materie nie dit is wat dit skyn te wees nie, en wie in sy liefde skynbaar daarna gryp en hom daardeur gevange laat neem, bevind hom dan ook duidelik in die ryk van die leuen en, ten opsigte van die waarheid, in die ryk van die duisternis.

[6] Wie byvoorbeeld die sogenaamde skat uit die ryk van die dooie materie teveel liefhet en dit beskou vir wat dit skyn te wees en nie vir wat dit volgens waarheid is nie, bevind hulle daardeur reeds in die ryk van die leuen, omdat sy liefde, as grondslag van sy lewe, as`t ware heeltemal blind in die materie versink het en haarself weer uiters moeilik uit `n dergelike nag sal kan verhef na die lig van die volle waarheid. 

[7] Wie goud egter slegs beskou as `n ooreenkomstige uitdrukkingsvorm, waardeur die goeie van die liefde in God voorgestel word, soos ook suiwer silwer die waarheid van die wysheid in God voorstel, die ken dan ook die werklike waarde van goud en silwer en bevind hulleself dus in die ryk van die waarheid, en sy siel sal nie verstik word in die bedrieglike skyn en die oordeel daarvan nie. 

[8] So het ook by die oues en alle profete goud, silwer en die verskillende soorte edelstene maar net die ware betekenis gehad; as materie het hulle egter geen waarde gehad nie en kon daarom ook nie gevaarlik word vir `n siel nie. Deur die insig in die werklike waarde van die materie het hulle ook maklik en vinnig ontdek waarvoor dit van nature geskik en bruikbaar was en het die ware nut daaraan ontleen.  

[9] Toe die mens egter met verloop van tyd waarde begin toeken aan die materie, vanweë haar glans en skone aanskyn, het hulle oor in die oordeel daarvan gegaan, geestelik blind, hard, hebsugtig, gierig, leuenagtig, twissiek, bedrieglik, hoogmoedig, boosaardig en oorlogs- en veroweringsugtig geword, en het daardeur tot afgode- en heidendom verval en bygevolg ook tot die eintlike hel, waaruit hulle nie sonder My verlos kan word nie.  

[10] Daarom moes Ek Myself in materie en daarmee in die oordeel hul, en moes Ek dit deurbreek, sodat Ek daardeur die toegangspoort na die ewige lewe kon word vir alle gevalle mense, wanneer hulle deur hierdie poort die lewe wil binnegaan. Daarom is Ek ook die deur na die lewe en die Lewe Self. Wie nie deur My na binne gaan nie, kom nie tot die lewe in die lig van die ewige waarheid en van die vryheid nie, maar bly gevange in die oordeel van die materie.

[11] Nou kom daar egter vanself nog `n vraag op, en dit lui: Bestaan daar dan werklik geen persoonlike Satan en geen persoonlike duiwels nie?

[12] En Ek sê: “O ja, dit bestaan wel hier, lewend in die vlees, en nog veel meer in die groot wêreld aan die ander kant, wat ook altyd daarop uit is om `n slegte invloed op die wêreld aan hierdie kant uit te oefen, en dit enersyds deur die ruwe natuurgeeste, wat hulle vanweë hulle voorbestemde rypwording nog in allerlei materie ophou, en vervolgens ook regstreeks deur geheime influisteringe, prikkelings en verlokkinge. By die mense merk hulle die verskillende swakhede en geneigdhede baie goed op, maak hulle meester daarvan en wakker dit aan tot gloeiende hartstogte.

[13] En as die swakheid van `n mens eenmaal tot `n gloeiende hartstog geword het, bevind hy hom al heeltemal in die toestand van die oordeel van die materie en die bose geeste daarvan, en dan is dit moeilik vir hom om hom daarvan los te maak. 

[14] Satan is die optelsom van die totale oordeel van die materie, en wat sy persoonlikheid aanbetref, dit bestaan nêrens as sodanig nie; maar wel is dit te beskou as `n vereniging van duiwels van elke aard en soort, nie slegs van hierdie aarde nie, maar van alle wêrelde in die eindelose skeppingsruimte, soos wat Ek ook volgens My uitleg, wat reeds aan julle gegee is, ook al die talloos baie hulssfere, wat almal saam uiteindelik een ontsaglike groot skeppingsmens voorstel.

[15] In kleiner verband is `n vereniging van alle duiwels van `n hemelliggaam natuurlik ook een Satan, en in die kleinste omvang is elke afsonderlike duiwel dit op sigself.

[16] Solank daar egter geen mens op `n hemelliggaam bestaan het nie, was daar ook geen persoonlike duiwels nie, maar slegs geoordeelde en ongegiste geeste in alle materie van `n hemelliggaam; wat alles tot die materie behoort wat julle met julle sintuie waarneem. 

[17] Maar julle kan ook aanneem dat daar nou op geen enkele hemelliggaam slegter en boosaardiger duiwels bestaan as juis in en op hierdie aarde nie. As dit hulle toegestaan sou word, sou hulle die aarde en haar bewoners verskriklike kwaad aandoen - maar dit word nie toegelaat nie - maar omdat die duiwels dit nie kan doen nie, is hulle dan ook met volkome blindheid en bygevolg ook met die grootste domheid behep, en hulle vereniging lyk soos die bewaakte inrigtings van hierdie aarde, waarin die dwase en waansinniges vasgehou word, sodat hulle die ander mense nie kan skade berokken nie.

[18] Uit wat daar tot nou toe gesê is, kan julle nou almal wel met julle hele denke en met verligte verstand insien hoe dit staan met Satan en sy duiwels, en dit is nie meer vir julle nodig om nog iets verder daaroor te vra nie. - En sê jy nou, Skrifgeleerde, of jy dit ook alles goed begryp het!” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205