Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 40

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die betekenis van brood en wyn; oor die seremonies

40 Lasarus laat dadelik nuwe wyn bring en sê: “Groot en baie Verhewene, wat ons nou uit U goddelike mond gehoor het, moet ook met `n nuwe wyn bekragtig en in ons hart verseël word!”

[2] Ek sê: “Daarin het jy gelyk, vriend en broeder Lasarus! Al die goeie en ware het sy volledige ooreenkoms in brood en wyn. Daarom kan julle volgens My, by die matige gebruik van brood en wyn, tot My gedagtenis ook steeds verseker wees daarvan dat Ek My tot aan die einde van alle tye van hierdie aarde in die gees, soos ook nou in die liggaam, persoonlik onder julle, My kinders, broeders en vriende, sal bevind. Al sal julle My sekerlik nie altyd met die oë van julle liggaam sien nie, dan sal julle hart tog vir julle sê: “Verheug julle; want julle Heer, God en Vader is onder julle en seën vir julle die brood en die wyn! Wees dan vrolik en opgewek in Sy Naam, en dink daarby aan die arme broeders en susters en in die besonder die armes van gees!”

[3] Wanneer julle hart julle so `n aansporing sal gee, bedink en glo dan altyd dat Ek My persoonlik onder julle bevind, en wat julle My dan aan goed en waar vir julle sielelewe sal vra, dit sal Ek dan ook altyd baie bereidwillig en op `n goed verstaanbare wyse gee.

[4] Wie My dan met groot liefde in hulle hart sal begroet, sal hulle weldra ook met hulle oë daarvan oortuig dat Ek My werklik persoonlik onder julle bevind. En wat Ek hier vir julle sê en verklaar, geld ook ten volle vir julle ware en getroue navolgers. - Maar gee nou die nuwe wyn; want Ek het dors geword!”

[5] Hierop word `n heel aansienlik en baie goeie wyn bedien. Ek drink, en ook al die ander drink en prys die wyn, wat deur My wil baie gekrui en versoet was.

[6] Toe ons onsself so versterk het, vra die Skrifgeleerde nogmaals of Ek nou al geneig was om hom `n antwoord te gee op wat hy My gevra het. 

[7] Ek sê egter: “Vriend, daar is wel nog ander dinge, wat noodsaakliker is om nou te bespreek as die einde van die heidendom. Laat die môre maar eers aanbreek en die Fariseërs wat in die ander vertrek rus eers van hier af vertrek, dan sal Ek julle daarna in die ope lug die hoe en wanneer van die einde van alles wat “wêrelds” en “heidendom” heet in beelde uiteensit.

[8] Maar nou sal ons, soos ook reeds opgemerk, oor iets anders spreek, wat nou belangriker sal wees as die treurige en uiters benarde einde van al die wêreldse en die heidendom. Waaroor sal ons, volgens julle, nou die eerste moet spreek, en waaraan het julle almal egter behoefte om te weet en te glo?”

[9] Nou spreek Petrus weer `n slag: “Heer, Ek het nog iets; as ek nou ook sou kon praat - en daarom vra Ek U - want ek het wel `n vraag aan U te stel!”

[10] Ek sê: “Spreek dan! Want nou het elk van julle die reg om te spreek en te vra.”

[11] Toe sê Petrus: “Heer, Moses het vir die reiniging van sondaars bepaalde uiterlike metodes voorgeskryf, wat aan elke Judeër welbekend is. Moet ons onsself ook daarvan bedien? Het dit vir die mens `n krag wat hom wy (heilig), en is dit absoluut noodsaaklik vir die bereik van die ewige lewe van die siel?

[12] Moet die heidene hulle ook laat besny as hulle U leer aanneem, of is by hulle die doop alleen al voldoende? En moet, behalwe die besnydenis, ook die ander middele ter reiniging toegepas word by die heidene wat hulle tot ons bekeer?”

[13] Ek sê: “Wie `n Judeër is en besny, sal ook altyd besny bly; maar die besnydenis self is op sigself niks en het vir niemand een of ander geheime en bepaalde magiese heiligmakende waarde vir die siel nie.

[14] Die mens word deur niks anders geheilig as deur die lewende geloof en sy daadwerklike liefde tot God en die naaste nie.

[15] Wie egter gesondig het teenoor God en teenoor sy naaste, moet sy sonde met ware berou erken, God ernstig om vergewing vra, die onreg wat hy sy naaste aangedoen het, goedmaak en verder nie meer sondig nie, dan is hy vervolgens heeltemal gereinig; want deurdat hy die kwaad goedgemaak het en geen sonde meer begaan nie, word ook die sonde vanselfsprekend vir hom kwytgeskeld.

[16] Wie dit egter nie doen nie, bly voortdurend geheel en al in sy sonde en die bose gevolge daarvan, ook al sou daar tienduisend bokke vir hom geslag en in die Jordaan gewerp word. Dit en ook alle ander uiterlike reinigende metodes verbeter en wy die mens nie in die minste nie, maar alleen sy waaragtige en opregte handel volgens My leer, en dat hy in sy hart glo in die een, ware God, en dus ook in My.

[17] Ek het julle immers al gesê dat elkeen van julle wat My leer en dus ook Myself innig en waaragtig aangeneem en opgeneem het, moet doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees; daarvoor is die oplê van die hande voldoende en as `n uiterlike teken van ware, innerlike reiniging deur God se gees die wassing met suiwer water. En dit is werklik voldoende vir Judeërs en heidene.

[18] Al die ander het voortaan geen waarde in My oë nie, soos ook `n uiterlike gebed met die lippe, al is dit hoe lank, vir My geen waarde het nie. Wie verlang en wil dat sy gebed deur My verhoor word, moet in die stille kamertjie van sy hart in volle geloof tot My bid, dan sal Ek hom gee wat hy gevra het.

[19] Ek sê julle nogmaals, soos Ek ook al so dikwels gesê het: soek in alles slegs die waarheid; dit sal julle volkome vry maak!

[20] Dit is tewens baie goed dat die mens volgens die leer van Moses sy liggaam skoon hou. Deur vuilheid kom daar allerlei boosaardige siektes in die vlees en die bloed en dit veroorsaak onvrede en droefheid in die swak siel; maar wat die vlees van vuilheid skoonmaak, dit reinig nie die siel van haar sonde nie. Die Judeërs was immers voor en na `n maaltyd hulle hande en dikwels ook hulle voete, en ons doen dit nie dikwels nie, en tog is ons met ongewaste hande reiner as die streng Judeërs met hulle gewaste hande en voete. 

[21] En nou kort en bondig: geen enkele uiterlike reinigende middel het `n heiligende werking op die innerlike mens nie, maar slegs die lewende geloof in die waarheid, en die liefde en goeie werke daarvan. - Het julle dit nou begryp?”

[22] Petrus sê: “Dan is dit dus in die vervolg ook nie nodig dat ons net soos die tempelpriesters die huwelike inseën nie?”

[23] Ek sê: “Op sigself geneem glad nie; want die huweliksband word voldoende gesluit deur die wedersydse gelofte ten opsigte van die ouers of ander waaragtige getuies. Maar as julle in `n gemeente, wat julle in My Naam gestig het, huwelike as goed erken en hulle in My Naam seën, sal dit hulle tot nut en bekragtiging van hulle verbintenis strek. Dit dien egter slegs plaas te vind as `n liefdesdiens, uitgaande van julle goeie wil.

[24] Ek gee julle dit egter slegs as `n goeie raad en nie as `n wet nie. En daarom moet deur julle ook veral geen wet daarvan gemaak word nie; want wat se negatiewe invloed dwingende wette het op siele met `n vrye wil, het Ek julle vannag meer as voldoende laat sien, net soos die onontkombare gevolge daarvan, en daarom moet julle altyd maar net vry handel vanuit ware en suiwer liefde en nooit vanuit `n dwingende gebod nie. Slegs daaraan sal mens My ware leerlinge herken, naamlik aan die feit dat julle onder mekaar slegs die vrye wet van die liefde toepas en mekaar oor en weer liefhê, soos ook Ek julle nou liefhet.

[25] Maar so `n betaalde inseëning van die huwelik deur `n outoritêre en hoogmoedige priester in of buite die tempel het vir My nie die minste waarde nie, maar slegs My grootste misnoeë. En wat My afkeuring verdien, is seker ook in stryd met My orde en is `n boosheid en `n sonde, wat werklik vir geen enkele mens seën bring nie. As julle dit goed begryp het, handel dan ook so, dan sal julle goed daaraan doen!”

[26] Hierop sê Agricola: “Heer en Leraar, dan sal ook ons Romeine goed daaraan doen as ons by ons met die huwelik so te werk gaan! En wat is U mening ten aansien van veelwywery, is U daarvoor of daarteen?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205