Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 55

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Op die landgoed van Lasarus

55 Toe ons Bethanië bereik, sien beide die susters van Lasarus My reeds van ver af en loop My met ope arms tegemoet.

[2] Toe hulle by My kom, kon hulle nie lowend genoeg vertel wat alles intussen ten goede in Bethanië afgespeel het, terwyl Ek My in Jerusalem bevind het nie, en wat se vreugde hulle die oggend gehad het by die aankoms van die baie jong mense; maar tegelyk betreur hulle dit ook dat die liewe kinders nie in Bethanië sou kon bly nie, soos RafaEl hulle ook duidelik gemaak het. 

[3] Ek vertel hulle egter die rede, en daarmee was hulle tevrede.

[4] Ondertussen bereik ons die hof en gaan dan ook dadelik die huis binne, waar die jongeres My in `n groot saal ontvang en as Vader begroet, en wel met sulke hartlike woorde dat almal daardeur tot trane toe beweeg word.

[5] Vanuit hierdie saal gaan ons `n ander saal binne.

[6] Toe ons onsself in die reeds genoemde saal bevind en `n plek soek om enige rus te neem, laat Lasarus brood en wyn op die tafel sit met die versoek om ons ietwat daarmee te versterk. Dit doen ons dan ook bepaald sonder teensin, omdat ons `n bietjie moeg geword het van die klein tog. Die moegheid was egter werklik nouliks die vermelding werd; maar omdat die Romeine die wens te kenne gegee het om ook die erfgoed van Lasarus, wat uitgestrek was, van naderby te leer ken, was `n klein liggaamlike versterking vooraf heeltemal op sy plek. Ons neem dan ook die brood en die wyn, nadat Ek beide vooraf geseën het, en eet en drink baie welgemoed. 

[7] Na hierdie klein versterking van die liggaam begewe ons onsself opnuut na buite en loop deur die grootste deel van die besitting van Lasarus, en die Romeine verbaas hulle baie oor die groot rykdom van Lasarus.

[8] Maar Lasarus sê: “Beste vriende, ek besit nog wel dertig keer soveel as wat julle hier slegs vlugtig kon deurgekyk het! Maar al hierdie rykdom maak My nie gelukkig nie, omdat ek dit op hierdie aarde nie volkome myne kan noem nie; want vandag is ek volgens die wêreldse wette weliswaar nog die regmatige eienaar, maar môre eis die Heer my siel op, en sy sal teenoor Hom rekenskap moet aflê oor hoe en tot watter nut was die aardse goedere wat aan haar toevertrou was en getrou beheer is. En kyk, dan sal dit menige siel wel swaar beval om haarself teenoor die Heer te regverdig! Daarom is ons wel, bekyk vanuit die regte standpunt ten aansien van die lewe op hierdie wêreld, slegs tydelike beheerders van dergelike aardse goedere, tot nut van die arme mensdom, maar nooit besitters nie. Want die ewige regmatige besitter is alleen die Heer; ons besit alleen die reg om hierdie aardse goedere tot nut van die behoeftige mense te beheer en dit doelmatig te bewerk.

[9] En so is ek dan ook geen besitter van dit alles nie, maar net nog altyd `n swak bewerker en beheerder. Die Een wat nou egter as allerhoogste Lewensvriend onder ons leef en die ware Heer van al die lewe is, is as enigste ook die ware besitter van hierdie en alle ander goedere van die aarde; en dit sal ons eenmaal tot heil strek as Hy vir ons sal sê: “Julle het My toevertroude goedere aan julle goed beheer!"

[10] Agricola sê: “Wat jy nou volgens volle waarheid oor jou besitting dink en sê, dit sal ek ook van myne dink en sê, en waar moontlik ook handel soos jy ook. Ons vra egter nou reeds vir U, o Heer, of U nie later `n al te streng afrekening met ons wil hou oor ons omgaan met die aardse goedere nie, wat U slegs in ons beheer gegee het! Want aan die wil om die korrekte te doen sal dit ons nie ontbreek nie; maar of die uiterlike, duistere wêreldse omstandighede ons so nou en dan nie menige onverwagte en onvoorsiene streep deur ons goeie rekening sal trek nie, dit lê buite ons mag, en sal U, o Heer, ten aansien van dergelike gevalle barmhartig en vol medelye teenoor ons wees.”   

[11] Ek sê: “Van dit wat daar ooit teen julle wil sal gebeur, sal diegene rekenskap moet aflê wat julle so nou en dan belemmerend in die weg gestaan het. Want die enigste rekening wat vir My geld, sal in julle hart geskrywe staan. En omdat julle nou My vriende is, sal julle dit ook in ewigheid bly!

[12] Want voorwaar Ek sê vir julle: salig is julle, wat nou hoor en sien wat alle aartsvaders en profete so vurig gewens het om te sien en te hoor! Maar destyds was dit nog nie die tyd daarvoor nie. In die gees sien en hoor hulle dit nou ook en verheug hulle buitengewoon daaroor; maar vir hulle vlees bly dit verborge en vir die toekomstige generasies sal dit ook meer of min verborge bly. Vir julle is dit nou egter maklik om te glo en daarvolgens te handel, want julle is nou met ore en oë getuie van al dit wat geen menslike oog nog ooit gesien en geen menslike oor op hierdie aarde gehoor het nie; maar in die toekoms word alleen hulle salig wat nie sien en nie hoor nie, soos julle ook nou, en desondanks sal glo en volgens die geloof sal handel. Daarom sal dit vir hulle ook as `n hoër verdienste aangereken word.”

[13] My leerlinge sê: “As U, o Heer, in die vervolg vir niemand meer sigbaar of hoorbaar sal wees nie, hoe sal U dan tot aan die einde van die tyd by die wat U sin is, bly?

[14] Ek sê: “Dit was weer eens `n buitengewone onnosele vraag van jou! Hoeveel - en grootse! - dinge het Ek julle al nie verkondig en getoon nie, en tog begryp julle nog weinig van die innerlike wysheid in God! Ek kan tog nie ewig in die vlees op hierdie materiële wêreld bly nie, en Ek het julle al verskeie kere gesê wat daar nog met My sal gebeur, sodat die maat van die sonde van die Judeërs sal vol word, sodat hulle oordeel oor hulle kan kom, en nog vra julle as blindgeborenes na die kleure van die lig, hoe Ek in die toekoms dan wel tot aan die einde van die tyd by die wat Myne is, sal bly! Omdat julle dit egter nog nie begryp nie, sal Ek dit julle nog een keer sê:

[15] Ek sal in die gees, in die woord en in die waarheid by die wat Myne is, bly, en diegene wat `n groot liefde vir My sal hê, sal My af en toe ook enkele oomblikke persoonlik te sien kry. Met diegene egter, wat volgens My woord sal lewe en sorgvuldig na die innerlike waarheid daarvan sal soek, sal Ek so spreek dat hulle dit in hulle hart sal begryp en so sal Ek My woorde in hulle gemoed lê; en jong manne en vroue wat in My Naam goed opgevoed is, sal visioene kry waarin hulle My wese, die hemele en die ewige lewe verklaar word net soos die lot van die afvalliges en boses, en ook op die manier sal Ek by die wat Myne is, bly tot aan die einde van die tyd van hierdie aarde. Begryp dit nou alles goed en vra My nie meer daaroor nie!”

[16] Die leerlinge was met die antwoord van My heeltemal tevrede en vra My toe nie meer verder daarna nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205