Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Ooreenkoms tussen die mikro-kosmos en die makro-kosmos. Die redes vir die menswording van die Heer op hierdie aarde

57 (Die Heer:) “Kyk, soos elke mens in die kleine ook ten behoewe van sy kort liggaamlike proeflewe op `n bepaalde manier ingerig is, so is die hele Groot Skeppingsmens ook in sy algehele omvang op ooreenkomstige wyse ingerig!

[2] Nou moet julle bedink dat hierdie hulssfeer, waarin hierdie aarde, met die maan, die son en alle ontelbaar baie ander sonne en hemel-liggame hulleself bevind, by die inrigting van die hart van die Groot Skeppingsmens hoort, en dat hierdie son, met die planete wat om haar heen sirkel, die “bevestigende, positiewe kamertjie” voorstel, en dat binne die lewenskamertjie juis deur hierdie aarde, op ooreenkomstige wyse, in die eintlike geestelike basisstof van die lewe voorsien word - iets waarvan `n wêreldse geleerde wel nooit die hoe en waarom sal kan insien nie. Maar Ek, as Skepper van die oneindigheid uit Myself, weet dit en kan julle dus ook sê hoe dit hiermee gestel is.

[3] Ek is egter van ewigheid die grondslag van al die lewe en al wat bestaan, en is derhalwe ook die oer-bevestigende, positiewe lewenskamer in die ewige lewenshart van die oneindigheid.

[4] Toe Ek dus volgens My Liefde, Wysheid en Orde in Myself besluit het om My in die liggaam van `n mens te klee, kon Ek dit, in ooreenstemming met die ewige orde in die Groot Skeppingsmens, immers ook maar net realiseer het op die punt dat, ook al is dit uit My geskape, dit volkome met My Oerwese moet ooreenkom.

[5] Daarmee is weliswaar nie gesê dat waar hierdie aarde, waarop ons nou is, die eintlike sentrale positiewe punt sou moet voorstel nie. Dit sou ook `n ander aarde (planeet) kan wees wat by hierdie son hoort, en daar was ook al `n ander daarvoor bestem; maar die bewoners daarvan het hulle nog baie onwaardiger gedra as die bewoners van hierdie aarde nou, en daarom was daardie aarde verwerp en saam met haar bewoners verwoes.

[6] Omdat hierdie aarde nou sedert die tyd van Adam daartoe uitverkore was, en Ek op haar bodem nou die liggaamlik-menslike aangeneem het, sal sy dit ook bly tot aan die einde van die tyd van die geoordeelde geeste in alle materie, en julle sal in die gees ook diegene bly wat die oorspronklike lewe uit My in alle oneindigheid en ewigheid sal uitdra, en om die rede My ware kinders wees.

[7] Kyk, so is nou baie in kort en so helder as moontlik vir julle die rede uiteengesit, waarom Ek maar net op hierdie aarde en op geen ander aarde (planeet), hoe groot of volmaak ookal, uit suiwer liefde vir diegene wat nou My kinders is, die liggaamlike menslike bestaan kon aanneem nie!

[8] Daar is egter naas hierdie vernaamste rede ook nog ander redes, wat My wil saam bepaal het in ooreenstemming met die ewige orde. Maar hierdie bykomende redes is tog slegs die noodsaaklike gevolge van die eintlike hoofredes en ons hoef dit dus nie afsonderlik te belig nie.

[9] Een dergelike rede is byvoorbeeld die algehele verdeemoediging en vernedering, waarsonder ook `n hoër gees hom nie met die vlees van die lewensproef kan beklee en vervolgens weer in die mees vrye en selfstandige lewe kan oorgaan of terugkeer nie; en ook dit weerspieël hierdie aarde.

[10] Die bevestigende, positiewe lewenskamertjie in die hart is onder die liggaamsdele seker ook die mees onaansienlikste deeltjie van die hele liggaam; dit is duister en word nooit deur die strale van die son verlig en word selfs deur die mense, aan wie dit tog lewe verskaf, glad nie geken en gewaardeer nie. Ja, wanneer mens daaroor sou spreek voor die wêreldse geleerdes, dan sou hulle hulle skouers ophaal en sê: “Hoe is dit nou moontlik dat die magtige, algemene lewe van `n mens afhang van `n nouliks sigbare klein puntjie?!” Daaruit blyk tog wel duidelik dat selfs die grootste geleerdes, laat staan nog ander gewone mense, hulle eie bestaansgrond nie in die minste ken nie.

[11] En tog moet elke mens wat homself en God werklik wil leer ken, die uiterste onaansienlike lewenskamertjie van sy hart langs die weg van uiterste deemoed en volgsaamheid binnegaan en die daaruit ontvangde lewe weer geestelik teruggee! Wanneer `n mens dit doen, maak hy die lewenskamertjie groter en verlig hy dit deur en deur. En as dit gebeur het, word die hele hart en, vanuit die hart, die hele mens verlig en ken hy homself en daardeur ook vir God, omdat hy dan eers kan gewaarword en kan sien hoe die lewe vanuit God die kamertjie binnestroom, dit daar versamel en hom tot `n vrye, selfstandige lewe ontwikkel.

[12] In die kamertjie woon derhalwe die eintlike gees uit God, en as die siel van die mens die kamertjie deur die regte deemoed en volgsaamheid binnegaan, soos die liefde van die egte mens ook die ewige, ongeskape liefde van God binnegaan, dan verenig die siel haar daardeur met die ewige gees uit God en verenig hierdie gees hom met die geskape siel, en dit is dan die wedergeboorte van die siel in die gees uit God. 

[13] Soos `n egte mens dit ook moet doen om in homself die volle heerlikheid van die lewe binne te gaan, so het Ek dit nou ook Self gedoen om julle `n ware voorbeeld en `n baie betroubare wegwyser in die Groot Skeppingsmens te gee, en het Ek op die aarde gekom omdat dit, soos ook reeds gesê, volgens My ewige orde met die bevestigende, positiewe kamertjie ooreenstem, om so tot My eie en daardeur ook julle grootste heerlikheid binne te gaan in die volledige mag in die hemel en op alle aarde.

[14] Weliswaar was Ek reeds van ewigheid in Myself in die besit van alle mag en heerlikheid, maar tog was Ek vir geen enkele geskape wese `n sigbare en `n tasbare God nie, ook nie vir die mees volmaakte engel nie. As Ek My tot op sekere vlak sigbaar wou maak vir iemand soos Abraham, Isak en Jakob, dan het dit gebeur deurdat Ek `n engel spesiaal sodanig vervul het met die gees van My wil, dat hy op bepaalde oomblikke My persoonlikheid voorgestel het. Maar van nou af aan het Ek vir alle mense en engele `n sigbare God geword en het Ek vir hulle die grondslag gelê vir `n totaal volmaakte, ewig en selfstandige vrye en as gevolg daarvan ware lewe; en daaruit bestaan dan ook My eie groter verheerliking en daarmee ook die van julle.

[15] Want hoe kon selfs die mees volmaakte engele en ook die vroomste mense van hierdie en alle ander aardes (planete) die God, wat hulle nooit gesien het en daarom ook nooit begryp het nie, in waarheid verheerlik deur `n ware en lewende liefde vir Hom? Want daar word altyd gesê: Niemand kan God sien en daarby die lewe behou nie; want die suiwer Godheid is in Homself `n verterende, ewige vuur!” Die vuur is nou in My bedek en getemper deur die liggaam van My, en nou geld nie meer: Niemand kan God sien en lewe nie!”, maar: “Van nou af aan sal elke engel en mens God kan sien en lewe; en wie God nie sal sien nie, sal `n baie ellendige en `n geoordeelde lewe hê!”

[16] Wat Ek julle nou gesê en getoon het, is sodoende sekerlik ook `n belangrike bykomende rede waarom Ek slegs op hierdie aarde, die menslike vlees aangeneem het.

[17] Soos julle ook nou uit hierdie beskrywing sonder meer duidelik moes begryp het, waarom Ek op hierdie en geen ander aarde die menslike vlees kon aanneem nie, sal julle ook die volgende nog helder kan begryp en insien.

[18] Julle het gesien hoedat `n bepaalde uiters onaansienlike bevestigende, positiewe lewenskamertjie van die hart as die eintlike grondbeginsel van die lewe van die mens ook as enigste in staat is tot die helderste en mees ware intelligensie, en derhalwe reeds in homself die lig, die waarheid en die lewe is. So is dit ook gestel met die mense van hierdie aarde. Oorspronklik is hulle ten opsigte van die mense van ander aardes ook baie onaansienlik, blind, duister, klein, swak en magteloos; die geeste van ander hemelligame ken hulle eintlik nie, soos die mens van hierdie aarde homself uiteindelik ook nie ken nie. Maar in die verborge innerlike kern van hulle lewe is hulle vanuit My die fundamentele lewenspunt van die gehele Groot Skeppingsmens en kan vanuit hulleself dan ook baie hoë lewenskapasiteite ontwikkel, wat by die mens van ander aardes slegs in `n baie eensydige en ondergeskikte graad voorkom.

[19] Kragtens sulke baie hoë en goddelike kapasiteite van die mens van hierdie aarde, waartoe ook veral, `n goeie geartikuleerde uiterlike en innerlike taal, die skryfkuns en rekenkunde en nog baie ander dinge behoort, is hulle dan ook as enigste in staat om die geopenbaarde woord uit God se mond, byvoorbeeld eers in die uiterlike betekenis van letters of beelde, en van daaruit vervolgens ook in die ware geestelike sin en ten slotte ook in die diepste sin van die hemelse lewe te verneem.

[20] Die vermoë is iets onskatbaar groots en voortreflik, soos ook die lewe- en intelligensievermoëns van die bevestigende, positiewe lewenskamertjie van die hart, wat die onskatbare volmaaktste en edelste deel van die hele mens is. En ook weer daarom, kon Ek alleen maar by julle op hierdie aarde kom en by niemand anders op `n ander aarde nie.

[21] Kyk, dit is dan weer so `n rede waarom Ek alleen op hierdie aarde die menslike vlees kon aangeneem het! En dit is dan so die vernaamste redes vir My menswording op hierdie aarde.

[22] En dink nou tog daaroor na, en gee dan julle mening oor hoe julle dit nou begryp het!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205