Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 79

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Praat en optree is beter as skryf. Oor die egte en valse evangelie

79 Ook die leerling Johannes vra My of hy, aangesien daar nog tyd voor was, notas moes maak van wat daar gesê en gebeur het.

[2] Ek sê: “Wat Matthéüs opgeskryf het, is genoeg; want nie alles is bedoel vir die volk nie, en nog minder vir die menslike varke, waaroor Ek dit so flussies gehad het. Na My sal julle egter nog tyd genoeg kry om vanuit die gees op te skryf wat julle nou van My gehoor en gesien het.

[3] Want in die verre toekoms sal Ek ook knegte opwek en deur die gees in hulle hart sal Ek hulle alles dikteer wat daar nou gebeur en geleer is sedert die tyd dat Ek die leraarskap op My geneem het en julle tot My eerste leerlinge gemaak het, en ook wat daar nog sal volg en nog baie ander dinge; en as dit vir My in die verre toekoms moontlik is, sal dit by julle nog soveel te meer moontlik wees om aan julle deur die gees van julle hart alles te dikteer waarvan Ek dit nodig ag dat dit opgeskrywe word.

[4] Julle moet julle in die begin egter nie te veel met skryf besig hou nie, maar meer met spraak, sodat die mense in die eerste plek hoor waaroor dit gaan!

[5] As die mense eenmaal daarvan in kennis gestel is en in My Naam gemeentes gevorm het, dan kan julle daarna ook wel skryf aan sulke gemeentes, as julle in ander plekke aan die werk is. Maar julle hoef geen brief te skryf aan die gemeente waar julle preek nie; maar wanneer julle dit verlaat, kan julle ook `n skriftelike aandenking daar agterlaat. 

[6] Maar waarsku die gemeentes baie nadruklik dat hulle dergelike agtergelate geskrifte nie gaan verafgod, soos ook die Fariseër en Judeërs doen met die boeke van Moses en die profete nie; want hulle maak nou diep buigings voor die kas in die tempel waarin die boeke bewaar word, en hulle bid tot die tafels van die wet en dink om daardeur vir God die korrekte eer te bewys. O watter blinde dwase! Wat is daar nou meer en beter: om die tafels van die wet te aanbid in die mening om God daardeur die korrekte eer te betoon, of die wette wat op die tafels geskrywe staan in die daaglikse lewe in ag te neem? Dit tweede, wat die enigste korrekte sou wees, doen in werklikheid geen enkele tempeldienaar en geen enkele Judeër nie; maar die eerste, wat waardeloos is, doen hulle gewetensvol, omdat dit hulle sekerlik minder moeite kos.

[7] Daarom sê Ek dit nou vir julle, sodat julle ten eerste nie te veel skryf nie, maar meer praat, en sodat mense in die toekoms nie ook met My nuwe leer sal doen wat die tempeldienare en aartsjode nou met die boeke van Moses en met die tafels van die wet en die profete doen nie, deur selfs bepaalde magiese werkinge daaraan toe te skryf, wat die boeke nooit besit het nie. Poog om dit dus baie sorgvuldig te vermy! 

[8] Verder moet julle voorlopig ook nie te veel skryf nie, om te voorkom dat die skryfgees onder die mense die eerste tyd al te veel gewek word. Dit is beter dat die mense meer volgens My leer sal optree, as wat hulle dit sal opskryf, nadat hulle dit gehoor het; want as die skryfgees te vroeg wakker word onder die mense, sal julle in `n kort tyd na My, tallose geskrewe evangelies sien ontstaan, selfs onder julle naam, en julle sal baie druk besig wees om al die geskrifte van valse profete te weerlê. Praat daarom liewer baie, maar skryf min! Maar wanneer die regte tyd aanbreek, dan moet daar ook baie geskrywe word! - Het julle dit nou goed begryp?”

[9] Nou sê Simon Juda: “Heer, dan sou dit uiteindelik tog beter wees as daar heeltemal niks geskrywe word nie, óf alles sou egter baie noukeurig opgeskrywe moet word, sodat daar dan maar één ware Skrif uit U mond sou bestaan, waarvan dan later eers geoutoriseerde en volledige kopieë vir ander volkere gemaak kan word! Want ek stel my voor dat bepaalde mense met verloop van tyd ook die woord wat deur ons verkondig sal word, sleg en onwaar sal opskrywe, en dan kan daar op die manier immers ook `n groot aantal valse evangelies verskyn, en die mens sal dan later nie meer weet watter evangelie die korrekte en ware is nie, en dit sal dan ook tot allerlei verskillende geloofrigtings lei.”

[10] Ek sê: “Simon Juda, Ek verwerp nie jou visie nie en sê ook nie dat dit wys sou wees nie; maar wat Ek julle aangeraai het, is en bly voorlopig die beste!

[11] Julle kan egter doen wat julle wil; maar julle sal vir die komende tye nie kan verhinder dat hulle naas die ware en egte evangelie ook `n groot aantal pseudo-evangelies sal ontwikkel nie, en dit sal vir die latere nakomelinge, wat die een of ander evangelie in die hande sal kry, steeds moeilik wees om vas te stel of dit eg is.

[12] Daarom moet My woord nou deur julle meer met die mond verkondig word; dan sal die egte gelowiges vanself wel in hulleself tot die lewende woord vanuit My kom, en julle sal dan nie die een of ander geskrewe evangelie hoef te ondersoek om te beoordeel of dit wel eg en waar is nie.

[13] Maar as julle nou onmiddellik na My, in plaas van baie te preek, maar net baie sou skryf, dan sou julle geskrifte sekerlik eerder deur ander mense oorgeskryf word met allerlei weglatings of ook toevoegings, en in die geval sou die mense hulle baie gou moet gaan afvra of die geskrifte wel eg en betroubaar van julle afkomstig is. As julle egter persoonlik onderrig en julle, wanneer dit nodig is, ook as sodanig deur tekens te doen, dan sal niemand vra of julle wel My egte leerlinge is nie en of julle woorde wel heeltemal die van My is nie. 

[14] O ja, wanneer julle My reeds dikwels verkondig het en baie in My Naam gedoop sal hê en al baie daardeur ook tot die innerlike lewende evangelie gekom het, dan, soos ook gesê, kan julle ook skryf, sodat die nakomelinge in julle geskrifte `n getuienis het hoe Ek julle Heer en Leraar was, en hoe julle My leerlinge was. Maar die geskrifte van julle moet dan ook alleen by die gemeente bewaar en bewaak word, waardeur die handeling van die innerlike, lewende evangelie tewens van vader na seun en so verder sal bly voortbestaan en julle sodoende nie as suiwer geskrewe nie, maar as lewende werksame apostels tot `n ware en ewige getuienis in die hart van die mense sal bly lewe.

[15] Waar dit by `n gemeente nie die geval sal wees nie, moet die geskrifte ook nie in bewaring gegee word nie; want dit sou die gemeentelede van geen enkele nut wees nie, omdat hulle nakomelinge, wat betref die gees van die hart “dood” is, nie meer in staat sou wees om die egtheid daarvan te ondersoek en `n vals geskrif nie meer van binne af sou herken nie, maar dit slegs volgens die meerderheid van `n stem, in hulle oor die algemeen blinde vergadering sou bepaal, soos wat dit ook nou in die tempel by die Fariseërs en hoëpriesters die geval is. Wat beteken baie stemme van blinde mense egter vir die een waarheid? Ek sê vir julle: As één mens, wat van binne af leef en vol lig is, die waarheid spreek, waartoe is dan ontelbaar baie vergaderingstemme nog in staat teen die éen waarheid? 

[16] Daar is maar één waarheid, wat ewe goed deur één mens as deur miljoene engele uitgespreek en bewys kan word. Maar wanneer die wêreldse wysheid hulle daarteen verset, omdat die waarheid nie bevorderlik is vir haar wêreldse voordele nie, is dit dan `n rede om aan te neem dat die waarheid minder waar is?

[17] Die leuen kan hom in `n groot vergadering van mense deur tallose stemme laat verteenwoordig, maar daarom word dit tog nooit waarheid nie.

[18] Maak julle dus nie bekommerd oor wat die beste is nie, die verkondigde of die geskrewe woord; want aan die vrug is die waarheid baie goed te herken! Die leuen bou haar huise op los sand, maar die waarheid op rotse, en daarteen kan die hel geen veldtog onderneem nie; want soos die duisternis van die nag ook nooit tot daglig word nie, word die leuen ook nooit tot waarheid nie. En dan kan daar tienduisend valse evangelies geskrywe word, maar steeds sal dit alleen die enigste ware wees en bly wat hom ooreenkomstig My belofte aan die lewende mense sal openbaar, as hulle volgens My woorde sal lewe en handel, - en die lewende evangelie sal ook tot aan die einde van alle tye die enigste toetssteen wees en bly, wat in staat is om te onderskei of `n geskrewe evangelie eg of vals is.

[19] Aan die vrugte moet julle dit dus herken; want van distels oes mens geen vye en van `n doringstruik geen druiwe nie! Daaraan sal mens maklik sien of iemand My leerling is of nie. My leerlinge en ook julle leerlinge sal mekaar altyd liefhê, soos ook Ek julle altyd liefhet; maar die onegte leerlinge sal mekaar verseker openlik of in die geheim haat. Want daarin bestaan die eintlike swart en slegte vrug van die leuen dat hy homself steeds haat, omdat die een leuen nooit voor die ander wil buig nie; maar die waarheid soek maar net voortdurend haar gelyke en bemin julle steeds meer en meer, net soos die een lig ook die ander nooit verduister nie, maar alleen helderder en helderder maak en ten slotte tot `n verenigde, baie helder lig lei. 

[20] Die lig het dus `n groot liefde tot nog meer lig; maar die leuen haat die leuen, omdat hy daarin verraad vrees. Kyk, dit is `n belangrike kriterium, waarmee mens selfs met `n blinddoek die waarheid baie goed van die leuen kan onderskei!

[21] Daarom sal mense die valse evangelies ook steeds maklik van die egte kan onderskei; want die valse sal mekaar oor en weer steeds vervolg en haat - maar die egte sal mekaar as tweelingbroers liefhê; hulle sal mekaar soek en ook vinnig maklik vind.

[22] Ek dink, My beste Simon Juda dat Ek nou wel duidelik genoeg tot julle gespreek het! Maar maak nou vir jouself uit, of jy My ook goed begryp het!

[23] Simon Juda sê: “Heer, hierdie keer het U weer eens uitsonderlik duidelik tot ons gespreek, en ek het U in alle opsigte baie duidelik begryp en al die ander seker ook. Maar ek het uit hierdie glashelder woorde van U ook begryp dat mense absoluut niks teen U kan inbring nie. Maar so is dit ook volkome waar; want as mens dit sou kon doen, sou U nie die Heer en Leraar van ewigheid gewees het nie! En hierdie woorde van U moet vir ons ook tot `n voortdurende riglyn bly! Ons dank U almal vir hierdie duidelike les!”

[24] Ek sê: “Hou dan ook maar daaraan vas, anders val julle voordat julle dit onder die knie het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205