Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 91

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

`n Skrifgeleerde beroep hom op Moses

91 Eers na `n rukkie se diep nadenke sê die Skrifgeleerde: “Heer en Leraar, Ek het U woorde nou so goed moontlik by myself oorweeg en het tot die gevolgtrekking gekom dat U volgens die beginsels van die suiwer menslike verstand heeltemal gelyk het, en volgens dit wat U sonder enige twyfel is, ook gelyk moet hê; maar aangesien in U die ewige Gees van JaHWeH woon, U hart Sy troon is en Hy vanuit U spreek en deur Sy almagtige wil handel en die hele skepping in stand hou en regeer, begryp Ek nie hoe Hy eens aan Moses op die Sinai die wyding van die Sabbat opgedra het nie, baie streng deur `n eie wet, met die manier waarop die Sabbat gewy moet word daaraan toegevoeg? Hy, as Een en Dieselfde, sou destyds tog ook so kon gespreek het soos wat U nou helder en wys in ons bewussyn gespreek het, dan sou mense nooit tot `n werklose en seremoniële wyding van die Sabbat verval het nie! Ja, dit is selfs bekend dat Judeërs, wat die Sabbat deur slaafse arbeid ontheilig het, onmiskenbaar deur God getugtig is! Waarom het God by monde van Moses dan beveel om die Sabbat te wy (heilig), en waarom het Hy dit nie so aangegee soos U nou gedoen het nie? God is tog ewig onveranderlik in Sy raadsbesluite en kan Sy woorde nie verander nie!”

[2] Ek sê: “Nou het die Skrifgeleerde in jou gespreek; maar hy het met hierdie woorde ook duidelik laat sien dat hy die Skrif nog nooit ook maar in die minste begryp het nie - en allermins die boeke van Moses! Destyds was dit vir die sterk ontaarde Judeërs in Egipte noodsaaklik dat daar vir hulle `n dag aanbeveel word waarop hulle sou rus van die slaafse werk en na God se woord kon luister; want sonder so `n gebod sou hulle net soos voorheen, soos wat hulle ook in Egipte daaraan gewoond geraak het, geen enkele dag rus kry nie, en dan nie sover gekom het om na God se woord te luister nie. Want die Judese volk was sinlik en dag en nag was hulle maar net besig om te kyk hoe hulle hulleself metodes kon verskaf om hulle buike met vleis te vul. Daarom het God destyds, ten eerste om baie natuurlike en ten tweede om geestelike redes `n bepaalde dag gegee om te rus en om na God se woord te luister, en wel dieselfde dag as wat die aartsvaders tot rusdag gekies het, naamlik die Sabbat.

[3] Maar God het in Sy sabbatswet aan niemand die gebod gegee dat hy op die Sabbat aan niemand `n noodsaaklike en goeie diens mag bewys nie. Eers deur julle, is die Mosaïese gebod vervang deur `n dergelike gebod en julle laat op die Sabbat maar net iemand werk om `n noodsaaklike en op sigself goeie werk te verrig, as hy julle daarvoor `n aansienlike losprys en ander kosbare offers gebring het. 

[4] Maar as jy dink dat God die eenmaal gegewe vorm van wet in `n bepaalde noodsaaklike tyd nie sou kan verander nie, omdat Hy in Homself ewig onveranderlik is, hoe durf julle dan aan julleself die vryheid veroorloof om die wet van Moses so erg na julle goeddunke en tot julle eie materiële voordeel te verander, dat julle nou werklik ook geen jota meer in ag neem van wat Moses en die profete geleer en aanbeveel het nie?

[5] As die wet van Moses en sy geskrifte vir julle so gewyd (heilig) is, waarom het julle dan later die sesde en sewende boek van Moses en die suiwer profetiese aanhangsel as oneg verwerp en dit vervang deur `n ander werk, wat van mense afkomstig is?

[6] Was die ou Ark van die Verbond nie `n heiligdom van alle Judeërs gewees nie? Maar toe die kolom van rook en vuur reeds dertig jaar gelede verdwyn het, vanweë julle bose dade en die ark daar in die allerheiligste gestaan het, verlaat deur haar krag, het julle haar in `n kamertjie geberg en in die plek daarvan `n ander neergesit, waarin vanweë die vreemdelinge `n natuurlike vuur brand en waaruit ook natuurlike rook opstyg. Waarom het julle dit gedoen? Het Moses miskien ook `n wet daarvoor gegee waarin dit staan dat julle so iets mag doen?

[7] Ja, die profete het wel voorspel dat, in die tyd wat julle nou meemaak, die ou Ark van die Verbond voor die oë van alle mense in `n nuwe en lewende verander sal word; maar op die manier soos julle dit ook eiemagtig gedoen het, het die profete dit verseker nooit bedoel nie! Want as julle deur die profete daarvan oortuig was dat dit dertig jaar gelede volgens die wil van God moes gebeur het, dan sou julle dit sekerlik in lang toesprake aan die volk verkondig het en hulle ook vertel het dat hulle groot offers moes bring; maar dit het julle baie fyntjies en wyslik agterweë gelaat, en tot op die uur weet die volk niks van julle eiemagtige handelswyse nie.

[8] Maar as julle weet dat die profete met die nuwe Ark van die Verbond vir My bedoel het, - waarom verkondig julle dit dan nie aan die volk nie en waarom vereer julle, in plaas van My, die onbeduidende en dooie werk van julle hande?

[9] Julle beroep julle voortdurend op Moses en die profete; maar as Ek julle nou die korrekte en enigste ware betekenis en diepere geestelike inhoud van die Skrif toon, hoe is dit dan dat julle tempeldienare in werklikheid die grootste loënaars van God, Moses en alle profete is?

[10] Moses het om baie wyse redes die woord wat deur God aan hom geopenbaar is, en veral die inwendige lewende betekenis en gees daarvan, in ooreenkomstige beelde gehul, en wat hy aan julle onthul het, dit het julle verwerp. Nou het Ek self gekom en onthul vir julle die verborgene; waarom glo julle dit nou nie en probeer julle My maar net te vang met dit wat julle self nog nooit geglo en heeltemal nooit begryp het nie?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205