Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 99

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Vervulde en nie-vervulde voorspellings in profesieë. Die wilsvryheid van die mens en die alwetendheid van God

99 Nou vra een van die Fariseërs, wat ook sy vrou en kinders in Bethanië het, aan My: “Heer en Leraar, sou U my dit kwalik neem as ek sou weggaan om my vrou en kinders te gaan groet?”

[2] Ek sê: “O absoluut nie; maar kyk eers na hierdie oudste leerlinge van My; hulle het tuis ook vroue en kinders en geeneen van hulle vra My so iets soos wat jy nou vra nie! Maar Ek sê nou vir jou, en ook vir julle almal: wie op die wêreld ook nog maar iets meer liefhet as vir My, is My nie werd nie, en wie eenmaal sy hand aan die ploeg geslaan het en agterom kyk, dit wil sê na dit wat van die wêreld is, hy is nog nie geskik vir die ryk van God nie. Dink jy dan dat jou vrou en kinders beter versorg sal wees as jy hulle hierdie nag nog sou sien en spreek? Dit is nou My mening; origens staan dit jou volkome vry om te doen soos wat jy ook goed dink.”

[3] Toe die Fariseër dit van My gehoor het, het hy ook geen sin meer om nou op die laat aand sy vrou en kinders te besoek nie, en hy bly baie rustig aan tafel sit.

[4] Nou vra `n ander uit die groep Judese Grieke, egter wat ook `n Fariseër was: “Heer en Leraar, U weet al sedert ewigheid in U Gees wat U môre alles gaan doen en onderneem! Af en toe het U ons dit ongevraag laat weet; daarom kan dit nou tog ook nie so baie verkeerd wees as Ek U vra wat U môre alles gaan onderneem nie.”

[5] Ek sê: “As dit vir jou en die ander nodig en nuttig sou gewees het, sou Ek julle ook wel gesê het wat Ek môre alles gaan onderneem; maar omdat dit nie so is nie, sê Ek dit ook nie vir julle nie.

[6] Dit is nou eenmaal nie goed vir die mens as hy vooraf teveel weet van wat daar in die toekoms as vasstaande sal gebeur nie; want dit sou die mens, of tot vertwyfeling bring, of hulle uiteindelik baie lui en passief maak.

[7] Op hierdie aarde, waar die kinders van God opgevoed word, is dit ook onmoontlik om die toekoms met ewe groot sekerheid te voorspel as wat die geval op `n willekeurige ander planeet kan wees; want vanweë die volledige wilsvryheid van die mens op hierdie aarde is dit in die allereerste plek bepalend wat die mens self wil en hoe hulle volgens hulle kennis en wil handel.

[8] Wanneer Ek nou sou sê: “Jy kan nou weet, wil en handel soos jy ook maar wil, maar daar sal met volledige sekerheid tog maar net gebeur wat Ek wil en vir jou sê!, ja, wanneer dit so sou wees, dan sou Ek egter volkome sinloos vanuit die hemele na julle mense afgedaal het, en die hele leer wat Ek aan julle gee sou nutteloos wees!

[9] Ja, Ek sê nog sterker: Wanneer in sedelike en staatkundige opsig maar net sou gebeur wat Ek julle verkondig, en wel onveranderlik, dan sou julle mense geen hoër bestemming gehad het as die diere nie; en waarvoor sou julle dan julle insig, julle verstand en julle liefde hê, en vandaar uit julle volmaakte vrye wil? Ek kan julle van vooraf maar net in soverre as geheel vasstaande sê dat julle dit of dat sal oorkom, wanneer julle sus of so wil en handel; maar wanneer Ek ooit van vooraf `n volk of maar net `n mens as geheel vasstaande sou laat weet dat dit of dat vas en seker sou gebeur, dan sou julle nie daartoe bestem gewees het om kinders van God te word nie en sou Ek in My Gees nie julle Vader gewees het nie.

[10] Kyk maar by alle profete, wat toekomstige dinge voorspel het, of daar ooit één ding as `n onafwendbare komende feit voorspel is! Elkeen van hulle het sy voorspelling steeds maar net geformuleer onder bepaalde voorwaardes, wat altyd betrekking gehad het op die beter of slegter word van die mens. Slegs My vleeswording is vir die mens tot hulle heil as geheel vasstaande voorspel, onafhanklik van hulle wil of handeling, daarom is dit ook louter My werk; maar alhoewel dit so is, laat Ek tog elkeen wat maar wil, deelneem aan die uiterste groot werk van My.

[11] Jona moes, deur My Gees gedrywe, na die Nineviete toe gaan om hulle ondergang aan te kondig, as hulle in hulle boosheid sou volhard. Hy wou dit nie graag doen nie, omdat hy as profeet goed geweet het dat My vooraankondiging steeds op voorwaardes gebaseer was. Maar die volk van Nineve het hulle lewe verbeter en die feitelike uitvoering van My dreigement bly natuurlik uit, wat selfs vir Jona vererg het.  

[12] So gaan dit ook met die profeet Jeremia, `n seun van Ghilkia, uit die priestergeslag van Anatot in die land Benjamin, wat Ek geroep het ten tye van Josia, die seun van Amon, in sy dertiende regeringsjaar as koning van Juda, en eweneens ten tye van koning Jojakim, `n seun van Josia, en tot aan die einde van die elfde jaar van Sedekia, ook `n seun van Josia, koning van Juda, en tot die gevangeneming van Jerusalem in die vyfde maand. Ja, die voorspellinge van hierdie profeet het dikwels in vervulling gegaan, en die gevangeskap het plaasgevind; maar nie vanweë die feit dat Ek die toenmalige Judeërs, wat My heeltemal vergeet het, van vooraf deur die genoemde profeet laat aankondig het nie, maar omdat die Judeërs nie hulle lewe verbeter het nie, en die profeet slegs uitgelag en uitgeskel het en ten slotte selfs vervolg het, sodat hy self onwillig geword het en alles wat hy geskrywe het, vernietig het en Ek hom vervolgens gesê het dat hy alles weer opnuut moes opskryf en hom dit ook laat doen het. 

[13] Die Judeërs was dus self skuldig daaraan dat dit helaas vir die grootste deel aan hulle voltrek was wat aan hulle verkondig was. Maar vir baie Judeërs, wat hulle lewe werklik verbeter het, het die bose deel van die voorspelling van Jeremia nie in vervulling gegaan nie, maar slegs die goeie.

[14] En so is dit vanself begryplik dat alles wat Ek julle voorspel het en nog sal voorspel, noodsaaklikerwys in twee dele uiteenval: óf die ergste dinge gebeur wel, oftewel die goeie; eweso word ook die tyd nooit as vasstaande aangegee nie, maar dit rig homself altyd heeltemal na die wil en die handeling van die mens! Want hoe sou Ek vir `n volk, hoe ontaard ookal, kan sê: “Omdat julle so sleg geword het en geen ag geslaan het op My ernstige vermaninge nie, moet julle oor sewe dae, gereken vanaf vandag, van die aarde verdelg word met bliksem en donder en pik en swael uit die hemel!” - maar as die volk dit baie ter harte sou neem, boete sou doen in sak en as hulle na My sou keer?! Sal Ek onder dergelike omstandighede ook nog op die sewende dag My dreigement ten uitvoer bring, omdat Ek dit Self verkondig het? O nee - Ek sal My oor die volk wat tot inkeer gekom het, ontferm en hulle seën en nie tugtig nie!

[15] Julle het die tekens gesien en weet wat Ekself oor die toekoms van Jerusalem voorspel het, maar daarom het dit nog nie tot gevolg dat dit ook as geheel onveranderlik en vasstaande moet plaasvind nie, maar dit sal alles afhang van die wil en die handeling van die Judeërs en tempeldienare!”

[16] Nou sê die Fariseër: “Maar Heer, U moet vir U self tog met volledige sekerheid kan voorsien of die Judeërs en tempeldienare hulle lewe wel of nie sal verbeter nie, en op grond daarvan dan ook kan sê of die aangekondigde oordeel nie wel oor hulle sal kom nie!”

[17] Ek sê: “Ja, so dink jy as mens - maar Ek dink baie anders daaroor. Het julle dan nooit op sommige plekke in die Skrif gelees nie dat daar staan: “En God het Sy aangesig van die volk afgewend”? Wat wil dit nou sê? Kyk, dit wil soveel sê as: As Ek `n volk één-, twee-, drie- tot sewemaal gewaarsku het, let Ek nie meer op wat hulle wil en wat hulle vervolgens doen nie; kortom, die volk of ook elke mens kan dan vir homself wil en doen wat hy glo, en Ek neem nooit kennis daarvan nie, totdat hy sy lewe, oftewel volledig verbeter het, of tot die maat van die sonde wel vol is. Soos `n volk of ook `n mens dan wil en handel, so sal dit ook met hom gaan! Want Ek het dit op aarde wel so ingerig dat op elke handelswyse van die mens die sekere resultaat vanself moet kom. 

[18] En so sal dan die dag van môre ook kom, sonder dat Ek julle nou hoef te voorspel hoe dit daar sal uitsien. Ook al sal suiwer liggeeste die mense so nou en dan iets voorspel, dan sal dit tog ook bly by wat Ek julle nou gesê het, en waarvan julle verstand moet erken dat dit alleen die enigste waarheid kan wees. Maar omdat ons vir vandag voldoende oor allerhande dinge gespreek het, sal ons onsself nou weer eens ter ruste begewe en ons ingewande deur die slaap versterk.”

[19] Daarop staan almal op en begewe hulle na die plekke, waar rusplekke vir hulle gereedgemaak was. Ek bly egter tot die môre op My russtoel in die saal. 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205