Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 139

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die vraag na die naaste

139 Ek sê: “Daarvoor sal julle lewende geloof in My julle beskerm; en as julle jul geloof in My deur werk van ware naasteliefde sal bewys, sal julle jul daar ook geheel en al van bewus word dat Ek werklik die beloofde Messias is, en julle sal dan by die profete nalees en alles deur My vervul en in My alles bevestig sien wat daar in die Skrif oor My geskryf staan.”

[2] Die oudste sê: “Majesteit en Heer, naasteliefde aan die mense bewys sou wel in orde wees, as ons maar heel duidelik sou weet wie nou werklik ons naaste is!”

[3] Ek sê: “Julle naaste is ieder mens, vriend of vyand, wat julle hulp nodig het op watter goeie, met God se gebooie ooreenstemmende manier ookal; maar dit spreek vanself dat julle iemand wat in stryd met God se gebooie handel, nie daarby behulpsaam moet wees nie, maar julle daarvan moet afhou. As julle dit doen, beoefen julle die naasteliefde en sal julle loon in die hemele groot wees.

[4] As daar armes na julle toe kom en julle hulle nood bekla, help hulle dan volgens krag en vermoë; want wat julle vir die armes doen, sal Ek beskou asof julle dit vir My gedoen het, en Ek sal dit julle reeds hier en nog meer later in My ryk ewigdurend vergoed.

[5] As daar `n ware volgeling en profeet in My Naam na julle toe kom, neem hom dan op, luister na hom en bewys hom liefde; want deur dit te doen het julle My opgeneem en sal julle ook die loon van `n profeet waardig geag word.

[6] Maar daar sal weldra ook `n groot aantal valse profete in My Naam opstaan; hulle sal die volk onderrig terwille van hulle eie gewin en die volk verlei deur valse tekens, wat hulle van die magiërs geleer het. Neem dergelike valse leraars en profete nie op nie, ook al sal hulle hardop roep: “Kyk, hier, of daar is die Messias, die Gesalfde van God!”, maar toon hulle met liefde en erns dat hulle teen My is en handel. As hulle na julle luister en van hulle verkeerdheid afsien, dan mag julle hulle ook as vriende beskou en behandel; as hulle egter nie na julle luister en hulle nie bekeer nie, verjaag hulle dan uit die gemeente!

[7] `n Valse leraar en profeet sal julle maklik herken aan sy selfsugtige werk en dade vol eieliefde; want van distels oes mens geen vye en van dorings geen druiwe nie.

[8] Wees steeds vol liefde, sagmoedigheid, deemoed, erbarming, regverdigheid en waarheid teenoor iedereen, dan sal Ek ook so teenoor julle wees! Word nie doof en hardvogtig van hart teenoor die stem van die armoede nie, sowel wat die gees, as die liggaam betref, dan sal Ek dit ook nie teenoor julle wees wanneer julle in een of ander nood julle stem tot My sal verhef nie. Met die maat waarmee julle meet, sal julle ook weer gemeet word.

[9] As julle, soos wat Ek baie goed weet, wel `n groot aardse vermoë besit en dit alleen teen goeie rente leen aan diegene wat dit op `n vasgestelde tydstip weer kan terugbetaal, dan het julle daarmee ook wel `n soort naasteliefde beoefen - maar by My kom `n dergelike naasteliefde, wat julleself met goeie rente beloon, nie in aanmerking vir vergoeding nie. As julle egter julle vermoë ook sonder rente aan die armes leen, van wie julle weet dat hulle dit nie weer maklik aan julle sal kan terugbetaal nie, dan sal Ek die Een wees wat die rente betaal en julle vermoë terugbetaal, en niemand sal by My tekort kom nie!

[10] Kyk net na die inwoners van die dorp, wat arm was! Hulle het self maar altyd baie skamel geleef; maar as daar arm en noodlydende mense by hulle gekom het, word hulle dadelik opgeneem en volgens vermoë sonder vergoeding versorg. Ek het dit goed geweet en het, as die beste Vergoeder, nou op die regte oomblik na hulle toe gekom, en geeneen van hulle sal sê dat Ek te vroeg of dan wel te laat gekom het nie. Doen julle netso, dan sal Ek te gelegener tyd ook julle Vergoeder wees!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205