Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 16

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die voorwaardes om wysheid te verkry

16 Toe ons onsself heeltemal liggaamlik versterk het, vra die kommandant na Kisjona en Philopold.

[2] Ek sê vir hulle: “Sien die manne hier regs van My; die eerste is Kisjona en die tweede is Philopold! Jy sal nog baie geleentheid hê om met hulle te praat; maar Ek weet goed waaroor jy nou alles met Philopold sou wil bespreek - waar dit nou egter nie die korrekte geleentheid voor is nie; stel daarom jou voorneme liewer uit tot `n ander tyd. Vir vandag het jy baie gesien en geleer om jou ou heidense bygeloof uit te roei; dink maar daaroor na, sodat dit in jou geheue en in jou hart bly en jy dit nie weer kwytraak, as jy binnekort weer na jou wêreldse dinge en besigheid terugkeer nie!

[3] Wat jy en jou metgeselle nou leer ken het, het die mense in die ou tye ook geweet; maar toe hulle nakomelinge hulleself steeds meer met die dinge van die wêreld besig gehou het en trots en heerssugtig geword het, vergeet hulle weldra die ou wysheid, slaan geen ag meer daarop nie en dink dat dit nie nodig was om dergelike dinge te weet om die lewe in stand te hou nie. Volgens hulle was dit voldoende as slegs bepaalde wyses daarvan op hoogte was; die volk moes hulle daarenteen alleen besighou met hulle kuddes en met hulle akkers, tuine, weiding en diere jag en nie met die dinge aan die hemel nie. Kyk, daardeur raak die volk en sy leiers nie net in hierdie nie, - maar ook in ander dinge dom en blind en ten slotte vol duister bygeloof, soos wat dit nou nog is, en terugdeins vir die waarheid en vir die lig daarvan vlug!

[4] Mens kan by alle wysheid ook sorg dra vir dit wat die mens vir sy liggaam nodig het; maar veral moet elke mens sorg vir dit wat sy siel aanbetref en die gees van die lewe in die siel en daaroor bekommerd wees. Want geen mens is op hierdie wêreld gesit ter wille van eet, drink en vir vername dinge doen nie, maar om te lewe volgens die orde wat God getrou aan hulle geopenbaar het, net vir die enigste doel wat God hulle gestel het.

[5] Noudat jy hier die lank verlore waarheid aangaande die dinge van die hemel verkry het, verteer dan in jou siel wat jy ontvang het; as jy daarin sterk geword het, kan jy jou by Philopold met verdere dinge inlaat!”

[6] Die kommandant sê: “Ja, Heer en Majesteit, U het in alle dinge gelyk; ek sien nou wel in hoeveel en hoe grootse dinge ek deur U barmhartigheid van die wonderbaarlike jongman ontvang het, wat die dinge van die sigbare hemel betref! As ek dit alles in myself volkome georden het en ook tekeninge daarvan gemaak het - wat ek goed kan doen - om ander daarmee te onderrig, sal ek my eers daarna oor verdere dinge bekommer.”

[7] Ek sê: “Daarin het jy gelyk; maar die beste is om veral die ryk van God en die geregtigheid daarvan in sigself, self te soek, deur volgens My leer te lewe en te handel. Wie dit in hulleself gevind het, sal ook waarlik al die ander as `n vrye toegif ontvang; want die gees in die mens is uit God, en as Hy meester geword het in die mens, leer hy die siel in `n uur baie meer as wat jy op aarde selfs van die mees wyse lerare in `n duisend jaar sou kan leer.

[8] My RafaEl, wat `n volkome suiwer gees is - wat jy van My kan glo en nie moet vergeet nie - het julle drie laat sien in watter kort tydjie hy dinge vir julle kan onderrig, wat die mense met al hulle skerpsinnigheid en met alle ywer van hulle soeke, ondersoek en dink in meer as duisend jaar nie in die suiwerheid en waarheid sal ken nie. Op die manier kan `n siel van `n gees in één oomblik eindeloos baie meer leer as die mense onder mekaar met hulle natuurlike verstand. Onthou dit goed en handel daarvolgens!”

[9] Die kommandant sê: Heer en Majesteit, die grondbeginsels van U leer is aan my wel bekend, naamlik dat mense ten eerste in U moet glo en in U ook die een, enige ware God erken, dat mense die erkende God, asook as die beste en mees volmaakte ewige wese bo alles liefhet en sy medemens soos homself, en dat mense ook die gebooie van Moses in ag moet neem en hulle daaraan hou.

[10] Wel nou, wat U eise betref: Dit sou maklik op te volg wees; maar Moses het `n groot aantal wette, voorskrifte en verordeninge gegee, wat in die eerste plek moeilik te onthou en te begryp is, en vervolgens ook moeilik in ag te neem en te onderhou is.

[11] Moet elke mens wat U gees in homself tot volledige heerskappy wil bring en aldus U ryk en die volle geregtigheid daarvan in hulleself wil ontvang, ook al die wette, voorskrifte en verordeninge hou en trou in ag neem?”

[12] Ek sê: “As jy in My die een enige ware God erken, in Hom glo en Hom inderdaad bo alles liefhet en jou medemens soos jouself, dan vervul jy daarmee ook alles wat Moses en alle profete onderrig het; want hulle sê met hulle baie woorde, met betrekking tot die pligte van die mense teenoor God en mekaar, niks anders as wat Ek jou in die paar woorde gesê het nie.

[13] Maar dan is dit wel `n saak dat jy as Romeinse kommandant by `n onskuldige misstap van iemand soos Ebal teen jou, uit blinde ywer die gestelde verordeninge nie dadelik eiemagtig `n sodanig groot boete in goud en silwer eis dat, met uitsondering van Jerusalem en die tempel, byna geheel Palestina, Samaria en Galilea dit nie sou kon opbring nie. Want so `n eis bevat nie één vonkie naasteliefde of geregtigheid van die ryk van God in die mens nie, omdat uit `n dergelike eis nie eens `n vonkie van julle Romeinse reg blyk nie; en die eis getuig dat jy slegs tuis is in die grondbeginsels daarvan!

[14] As jy volgens My leer wil lewe en handel, moet jy jou eiemagtige, skerp verordeninge in die toekoms ook streng verander; want met sulke verordeninge staan jy nog baie ver van die ware naasteliefde af en derhalwe van die ryk van God, waartoe die kennis wat jy nou van die aarde, die maan, die son en die orige planete het, jou op sigself nie sou verhef nie. Want alles wat jy in die groot, sigbare ruimte met jou liggaamlike oë kan bekyk, het eers waarde vir die ryk van God in die mens, wanneer dit ook van daaruit beskou en geestelik verlig word. Op sigself het dit as materie geen waarde vir die hele mens nie, maar net `n uiters vlugtige en verganklike waarde vir die liggaam. - Dit, My vriend, sê Ek vir jou sodat jy jou daarvolgens sal rig!”

[15] Die kommandant sê: “Heer en Majesteit, ek dank U ook vir hierdie buitengewone ware en goeie raad, wat ek verseker ook sal opvolg in soverre dit in my vermoë lê! Ter wille van die orde sal ek uiterlik gesien streng moet lyk, - maar in my hart sal dit anders daaruit sien; en dit sal in U oë, o Heer en Majesteit, tog nie verkeerd wees nie?”

[16] Ek sê: “O nee, in geen geval nie, maar wees alleen streng volgens die egte wette van Rome, waarin baie versagtende omstandighede by bepaalde klein vergrype te vinde is! `n Sagmoedige regter in hierdie wêreld sal in die ander wêreld ook deur My sagter geoordeel word, en `n barmhartige sal ook by My barmhartigheid vind. Kortom, met dieselfde maat waarmee jy meet, sal jy ook gemeet word!”

[17] Die kommandant neem dit ter harte, en nou sê Ek vir alle aanwesiges: “Daarmee is `n swaar stuk werk, waarop Ek julle al vroeër, nog tydens die middagmaal, gewys het, goed beëindig, en ons het drie nuwe leerlinge. Maar omdat dit nou al taamlik laat in die nag geword het, sal ons ons ledemate ook weer die nodige rus gun!”

[18] Hierop staan Ek met enkele leerlinge op en begeef My na `n ander vertrek ter ruste, en so doen ook Maria en Jarah; die ander bly egter nog sit en praat met mekaar oor My, My leringe en dade.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205