Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 189

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die probleem van die amp van leraar

189 Terwyl ons nog so aan tafel bymekaar sit en brood en wyn tot ons neem, sê Barnabas, wat `n fariseër was, soos julle weet: “Majesteit en Heer, as U my ook as waardig sou beskou om U leer onder die mense uit te brei, sou ek nie één woord van U leer weglaat en ook nie één daaraan toevoeg nie!”

[2] Ek sê: “Jy is weliswaar `n Judeër en het dit deur jou aansienlike vermoë sover gebring dat jy fariseër geword het, aangesien jy kan aantoon dat jy van die stam van Levi is; maar jy is onder Grieke opgevoed en het daardeur ook baie Griekse onbuigsaamheid aangeneem, en na verloop van tyd sal jy met `n ander leerling van My nie so goed oor die weg kom nie. Maar Ek sal julle almal iets sê, luister dus na My!

[3] `n Ware verbreider van My leer moet soos `n baie ervare, meegaande en buitengewoon bekwame arts wees.

[4] So kom byvoorbeeld `n arts in `n dorp, waar hy na baie siekes geroep word, wat aan jig en allerlei koorse ly. Nou dink die arts by homself: “Dergelike siekes het ek al baie behandel en hulle met die of daardie geneesmiddel gehelp, en hierdie siekes hier ly aan dieselfde siektes; ek sal hulle dus dieselfde geneesmiddels gee, dan sal hulle gesond word!” Die arts doen dit - en sien, die siekes word deur sy medisyne steeds slegter in plaas van beter, verloor die vertroue in hom en soek `n ander arts! Die arts word boos daaroor en sê by homself: “Hierdie medisyne van my het al soveel mense gehelp; waarom nou juis hierdie dan nie?”, en hy gaan geërger na sy huis.

[5] Weldra kom die arts wat as tweede geroep was. Hy was verstandiger as die eerste en verneem eers hoe die sieke geleef het, watter voedsel hy tot hom geneem het en deur welke siektes hy al vanaf sy jeug gekwel was. En so verneem hy na nog meer dinge waarna `n wyse arts dien te verneem, en aan die hand daarvan stel hy sy geneesmiddels vas: Vir die een sieke dit, vir `n ander weer iets heel anders. En kyk, die arts wat hierdie moeite doen, genees spoedig die siekes in die hele dorp, omdat hy die kuns verstaan het om sy geneesmiddels af te stem op die verskillende karakters en eienskappe van sy siekes.

[6] Soos wat `n arts slegs op hierdie manier - as dit nie reeds te laat is nie - gelukkige genesings by `n sieke kan bewerkstellig, so kan `n egte sielearts dit ook by die vele sielsieke mense op hierdie wêreld, waarvan die een siel liggelowig is, die ander weinig geneig om te glo, weer `n ander hoogmoedig, of gierig, selfsugtig en vele van dergelike dinge meer. As die sielearts nou by sulke siele kom en dadelik op starre wyse die leer wat hy van My ontvang het, aan die uiteenlopende siele begin te verkondig, sal dit nie veel nut hê nie.

[7] Wie nie weet om met die wenende te ween, met die laggende te lag, met die opgewekte self opgewek en met die ernstige self ernstig te wees nie, is nog nie geskik om My ryk op aarde uit te brei nie en lyk in daardie opsig soos `n landbouer wat by die omploeg van `n veld wel sy hand aan die ploeg slaan, maar steeds agter hom kyk om te sien hoe die vore lê; daarby vergeet hy die ploeg, wat skeef gaan deur te weinig oplettendheid van die ploeër, en daar is vir hom niks anders oor as om die ploeg terug te trek na die plek waar hy nog reg gegaan het, om weer opnuut daar te begin ploeg.

[8] So is dit ook met die leraars wat alle mense - welke karakter en watter aangebore eienskappe hulle ookal het - op een en dieselfde manier êrens in wil onderrig. Enkele van die mense sal iets van daardie onderrig vat, omdat die onderrig presies geskik was vir hul kapasiteite; die ander sal egter onwetend en onbekwamer as voorheen die leraar verlaat.

[9] Ook by die uitbreiding van My leer moet daar dus goed opgelet word watter mense dit is aan wie julle My leer verkondig, anders sal dit weinig nut hê.

[10] `n Liggelowige sal al gou alles glo - veral wanneer julle die leer nog met `n wonderwerk bekragtig; maar bedink daarby: Wie al te maklik iets nuuts aanneem, laat dit ook maklik gou weer vaar, veral as hy onder druk staan van `n versoeking. Met iemand wat moeilik iets glo, sal julle weliswaar veel meer werk mee hê - maar as julle hom eenmaal gewin het, sal hy ook bly by wat hy aangeneem het. Daarom moet julle by hom ook meer moeite doen as by liggelowige mense. Vertrou hulle nie omdat hulle so graag en sonder veel moeite julle leer aangeneem het nie. Want as julle weer na hulle toe kom, sal miskien nouliks die helfte van hulle hul nog aan julle leer hou, en die ander helfte sal na hul ou, onsuiwer geloof terugkeer of `n ander, valse profeet aanhang.

[11] Wees dus volkome eensgesind in dit wat My leer betref - maar wat die oordra daarvan betref, moet julle eers bekyk watter mense julle vóór julle het; begin hulle daarna eers My evangelie te verkondig, dan sal julle oral nuttige werk verrig!

[12] Dink daarby ook aan die aloue Romeinse spreekwoord, waarvolgens daar van `n baie plomp en verrotte houtblok geen Godheid gevorm kan word nie en dat `n sagmoedige, vreesagtige duif nog nooit `n adelaar uit haar eiers uitgebroei het nie! Wees dus ook - soos Ek julle al gereelder gesê het - uitgeslaap soos slange, maar tog vol sagmoedigheid soos die duiwe!

[13] Die amp van leraar is een van die moeilikste beroepe; maar heil diegene wat weet om daardie amp bekwaam te vul!”

[14] Hierop sê Barnabas: “O Majesteit en Heer, U het nou baie duidelik die suiwer waarheid gespreek; want ek was vroeër ook leraar gewees en het ervaar hoe moeilik dit is om met uiteenlopende mense om te gaan. Daarom sal ek hierdie raad van U ook bo alles goed ter harte neem en dit in dade omsit!”

[15] Ek sê: “Dit sal jy wel doen; maar jy sal ook een van die eerstes wees wat met `n uitverkore leerling van My sal bots, en dan sal julle vir geruime tyd uitmekaar gaan. Ek vertel nie wanneer, by welke geleentheid en met welke leerling nie; maar wanneer dit gebeur, sal jy jou herinner wat Ek jou so pas gesê het.”

[16] Daarop sê Barnabas: “Majesteit en Heer, aangesien U dit al vooraf weet, sou dit vir U tog ook moontlik moet wees om so `n onaangename voorval al vroeër op die regte manier te verhinder!”

[17] Ek sê: “Julle, My leerlinge, is nou die mees vrye mense op die hele aarde, en juis julle wil Ek nie die minste boeie aanlê vanuit My almag nie; want as Ek julle die wêreld instuur om ander mense in My Naam van hul boeie van die harde knegskap onder die wet te bevry - kan Ek julle tog nie as geboeide knegte uitstuur nie? As Ek dit sou doen, sou dit daar met die vrymaak en verlossing sleg uitsien by die mense; want in daardie geval sou hulle `n nuwe, swaarder juk opgelê word as wat die oue was en sou My koms op hierdie aarde van geen enkele nut gewees het nie.

[18] Ek wek julle egter tot apostels en profete van die nuwe, en nie meer van die ou Verbond nie, en maak julle daardeur tot die eerste verlostes op hierdie aarde, omdat deur julle My verlossing op die korrekte manier en in die volmaakte orde van My ewige liefde, wysheid en mag op alle mense moet oorgaan. - Het jy, Barnabas, dit begryp?”

[19] Barnabas sê dat hy dit goed begryp het, en almal sê dieselfde.

[20] Ek sê aan hulle: “Bly in My, dan sal Ek by julle bly tot aan die einde van die tye en sal ieder van julle op sy jongste dag in My ryk opwek!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205