Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 10
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 230

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245.

Die ontoeskietlike herbergier

230 Daarop reik Ek die herbergier `n beker vol water, en hy was baie erg verbaas dat hy in plaas van water `n buitengewoon goed smakende wyn in sy mond kry, en toe sê hy: “Volgens my is julle magiërs en heksemeesters; met sulke mense is dit nie goed om mee om te gaan nie!”

[2] Ek sê aan hom: “Met magiërs van ons soort kan jy wel klaarkom, maar nie so maklik met die magiërs wat jy ken nie; want die het kwade bedoelings en sit vol bedrog. Ek is egter die Waarheid Self, en elke soort bedrog staan eindeloos ver van My af. In die toekoms sal jy dit nog duideliker insien as nou; maar bring ons nou meer brood!”

[3] Die herbergier sê: “Ek het nog maar één brood, en dit het ek môre nodig vir my personeel, en my bure slaap almal, sodat ek nie na hulle toe kan gaan om `n brood te leen nie!”

[4] Hierop seën Ek die paar stukke brood wat nog op ons tafel lê; en dadelik daarna het ons genoeg brood, en daar bly nog soveel daarvan oor, dat die herbergier met die oorgeblewe stukke `n hele groot mandjie kon vul.

[5] Dié wonder laat hom oorstelp staan, en hy sê dat die verander van water in wyn nie so onbekend was nie, want hy wis dat ook die Bacchus-priesters iets dergeliks gedoen het; maar die vermeerdering van brood slaan hy hoër aan. Want van iets wat daar was kan iemand, wat die geheime ken, wel iets maak - maar iets skep as daar niks is nie, dit lyk vir hom van goddelike aard te wees; want dit kan alleen die gode, maar mense nooit as te nimmer nie!

[6] Ek sê aan die herbergier: “Jy is weliswaar `n Griek en het verskeie stede in Griekeland besoek; maar om die waarhede, wat hier en daar nog verstrooi onder die mense heers, het jy jou nie so erg bekommer nie, en as herbergier behoort jy nie tot die mees toeskietlike nie! Jy is wel erg hebsugtig, maar desondanks het jy nog maar `n klein vermoë verwerf. As dit vandag nie so laat was nie, het Ek wel daarvan afgesien om My intrek in jou huis te neem.”

[7] Daarop sê die herbergier: “Luister, my wonderbaarlike vriend en gas! Ek sou jou wel vriendeliker tegemoet getree het, maar jou gedrag teenoor my was ook enigsins afwysend. Want ek het julle vleis en vis aangebied; maar daaroor maak jy `n opmerking waaroor ek nie bly kan wees nie. Ek kan weliswaar nie daaragter kom hoe jy geweet het dat my visse nie vars was nie, en dat ek julle ook net varkvleis kon aanbied nie. Jou opmerking was wel korrek, maar ek het my tog daaroor vererg; want jy sal goed begryp dat geen mens - of hy nou Judeër, Griek of Romein is, hom graag laat beledig nie. Ek sien nou goed dat jy iets buitengewoon moet wees - want jou hele wese skyn deur `n hoër gees besiel te wees - maar desondanks kan ek jou so laat in die nag alleen maar aanbied wat ek besit. Die enigste fout wat ek teenoor jou begaan het, is waarskynlik dat ek julle nie die beste wyn uit my kelder voorgesit het nie; maar die fout kan ek tog wel goedmaak, en ek sal jou onmiddellik `n karaf van my allerbeste wyn op tafel bring.”

[8] Ek sê: “Dit is alles nie nodig nie; want as Ek wil, sou die hele Jordaan en die Dooie See hul in één oomblik in die beste wyn verander! Maar ons het nou voldoende brood en wyn, en dus kan jy met ons saameet en hoef jy jou kelder nie verder aan te spreek nie!”

[9] Daarop kom die herbergier by ons sit, neem brood en My wyn, eet en drink en word daarop heel opgewek; hy vra My verskillende kere om vergifnis vir die feit dat hy My nie met passende vriendelikheid tegemoet getree het nie. Maar hy meen ook dat Ek `n wyse man was en as sodanig goed sou weet dat mens niemand sy onwetendheid as buitengewone fout kan aanreken nie.

[10] Daarop sê Ek: “Nou, nou, dit is alles alweer goed! Eet en drink en wees opgewek; want môre sal jy My met veel meer teensin weer laat vertrek as wat jy My vandag saam met hierdie mense, wat My vergesel, opgeneem het!”

[11] Daarop neem Ek ook `n stukkie brood, strooi sout daarop, eet dit op en drink ook wyn daarby. My leerlinge doen dieselfde, netsoos die herbergier.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205