Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Raël vertel sy lewensverhaal

20 Toe Ons nou aan tafel sit, vra Raël opnuut waar hy My dan eintlik al voorheen gesien het; want hy kan hom nie herinner wanneer dit gebeur het nie.

[2] Ek sê aan hom: "En tog staan dit baie duidelik in jou hart geskryf, jy durf net nie jou vurigste wens met `n aardse mens in verband bring nie. Maar wil jy nie self vir Ons sê, wat daar in jou hart as vurigste begeerte leef nie?" 

[3] Raël, wat naas My sit, sê: "Rabbi, die wens van elke egte Israeliet is, dat die Gesalfde van die God vanuit die hemele na ons sal afdaal en onder ons mense sal woon, soos die profete verkondig het. My dae is getel, en my jare het die aantal wat `n mens gewoonlik geskenk word, ver oorskrei. In hierdie barmhartige God het ek steeds `n teken gesien dat dit my nog vergun sal wees om Hom te sien wat aan ons beloof is, wat die stad van Dawid sal binnetrek en as magtige vors in Sion sal troon. Sien, Rabbi, dat die dae vervul mag word, is die vurigste wens wat in my hart leef, en dit het ek aan U en die uwe hier nou meegedeel!"

[4] "Heel korrek", sê Ek aan Raël, wie se gelaat by die uitspreek van hierdie hartewens in vrome gelowigheid gewoon straal, "maar vertel ons tog ook of jy ooit aanwysings gevind het dat die dae wat God Sy volk sou besoek, naby gekom het?"

[5] Raël sê: "Rabbi, ek sou nie meer gelewe het as ek dit nie baie seker geweet het nie. Kyk, ek het veel van die wêreld gesien en het probeer om my meer en verder reikende kennis eie te maak as net dit wat die tempel toegestaan het! Ons reëls verbied ons weliswaar dat ons onsself ook met vreemde leringe besighou; maar in my jong jare was ek `n soort vrydenker, wat hom amper afgevra het wat wel of nie toegestaan was nie. Vir my het alles toegestaan gelyk wat my beval het. En omdat ek van huis uit ryk was en deur die vroeë dood van my ouers al baie vroeg selfstandig oor my rykdom kon beskik, wou ek reis, in die hoop om my kennis daardeur te vergroot en myself `n posisie by die volk te verskaf, wat van groter betekenis sou wees as die van `n skrifgeleerde wat nooit ver buite die stadsmure van Jerusalem was nie. 

[6] Vroeër - dit is nou al byna honderd jaar gelede – het die volk van God al nie meer die egte vaste geloof besit nie, wat nou nog veel meer aan die wankel geraak het en reeds in my jeug het daar `n vermoede geleef dat weldra in vervulling sou gaan wat die profete voorspel het. My ongeduld het egter steeds meer toegeneem, toe ek sien dat die vryheid van die volk verlore gaan en Pompeus ten slotte die land en die heilige stad verower het. Ek sien nog voor my hoe die Romeinse bevelhebber die heiligdom binnedring, en hoe die volk verwagtingsvol om die tempel staan, verwagtend dat die toorn van die Hoogste sou neerkom op die hoof van die heiden, wat die heiligdom ontwy het. Maar daar gebeur niks!

[7] Weliswaar het die Romein deurdring geraak van die gewydheid van die plek, en beskroomd wyk hy terug van die Allerheiligste; maar die toorn van die Hoogste word nie uitgestort op sy hoof en die geweldige mag van Rome nie.

[8] Ook die Redder, die Messias, kom nie na Sy volk toe nie.

[9] Toe word my hart bevang deur `n diep ongeloof, en ek besluit om my van die Beloofde Land af te keer. Die hele gebied van Griekeland, Klein-Asië en Italië het ek al bereis, en ek besluit om daar te soek na die regte kennis, waar ons volk solank gekneg was - in Egipte. Moses sou ingewy gewees het in alle wysheid van die priesters van die Egiptiese land; ek wou probeer om dieselfde wysheid te verkry.

[10] Terwyl dit vroeër wel haas onmoontlik was, en alleen met die allergrootste volharding en op voorspraak van die koning, om in die tempel en tot die misterieë deur te dring, is dit teenswoordig lank nie so moeilik nie; want die Egiptiese geheime leer het teenswoordig ewe goed koopbaar geword as vele ander besondere handelsartikels. Aan diegene wat na hoër kennis streef, word egter van die egte, ou wysheid nou so goed as niks bygebring nie; want die priesters begryp self nie meer wat daar agter hulle beelde skuil nie, en hulle besit in hulle misterieë enkel nog ingewikkelde, maar holle frases, soos ook in ons tempel die vorm die geestelike kern oorwoeker het.

[11] Slegs enkele, egte, ware priesters - seldsame edelstene van die ware, ou kultus - lewe nog baie teruggetrokke in enkele gebiede van Egipte, deels deur hulle eie metgeselle as sonderlinge bespot en uitgelag, deels deur die volk en die priesters as heilige manne vereer. Maar in waarheid is hulle nóg die een nóg die ander, maar alleen troue bewaarders van die oeroue, verhewe, ware geloof, wat oorgebly het as getuie van `n hoog geestelike lewe, waarvan die huidige wêreld geen vermoede het nie.

[12] Ek het die geluk gehad dat ek so `n man ontmoet het. In Thebe koop ek my in, in die diens van Horus. Daar het in die tempel `n ou wyse geleef, wat nog met skroom en ontsag deur die priesterstand vereer word. In ure van heilige geesvervoering ontvang hy die gees van die profesie en word sy geestelike oog geopen. En omdat alles presies gebeur soos die gees dit aan hom openbaar het, staan hy baie hoog in aansien.

[13] Net aan hom het ek te danke wat ek weet; want die eerbiedwaardige man het van my gehou, en het my eens gesê dat ek nog dié Een sou sien wat hy nie meer, dan alleen nog deur my, sou aanskou. "Die Gees van Wysheid daal af, gestuur deur die ewige Liefde, en sal die helderste lig versprei. Dan sal Isis kerm oor haar gedode eggenoot, maar die ewige Seun sal die heerskappy op Hom neem van die Troon van die Vader. Dan breek daar `n nuwe tyd aan. Die aarde sal omval en daar sal `n nuwe wêreld ontstaan, totdat die Seun opnuut, toegerus met alle krag, die groot doodsgerig sal hou en sal skei wat goed en verkeerd is." 

[14] So het die wyse destyds tot my gespreek, en ek begryp nou baie goed waar hy op gesinspeel het.

[15] Twaalf jaar het ek `n leerling van hierdie besondere man gebly, die enigste aan wie hy sy volle vertroue geskenk het. Op `n dag sê die wyse aan my dat hy voel dat sy dood naby was, en dat hy wens dat ek dit sou bewaar wat hy my geleer het. Hy sê dat daar maar één God is, en alles wat geskape was, moes Hom alleen dien. Maar die Godheid het besluit - so was dit aan hom meegedeel - om Haar skepsele meer as salig te maak, deur Haarself met die vlees te omhul en as mens neer te daal, om die weë van heil te toon aan almal wat die weë wou gaan. Maar `n kort tyd daarna sou `n groot oordeel daaraan verbind wees, sodat die weë duidelik sigbaar sou wees, ook vir die donker mag van die duisternis wat probeer te gronde rig, ofskoon hierdie weë ook vir haar geld. Daarom was dit goed dat elkeen in homself sou keer, sodat hy nie deur die oordeel getref sou word nie. En die inkeer sou moet wees: Om God bo alles lief te hê en die kragte wat van Hom uitstraal te eerbiedig, maar nie as gode te vereer nie, en om dwaalweë te vermy. Dit sou nie lank duur voordat die oordeel sou begin wat alle gode omver sou werp nie.

[16] Ek moes aan hom sweer dat ek aan die een God van my vaders sou vashou; want Hy was Dieselfde wat ook hy gevind het: Geen God van wraak, waarvoor Hy baie uitgemaak word nie, maar `n God van liefde, wat nie toorn en straf nie, maar wat alleen die volkere baie `n halt moes toeroep, omdat hulle heeltemal te gronde sou gaan - en die baie liggame te gronde moes rig, as enigste middel om die siele te red. "Sien, die gees het aan my gesê - en my oë het dit gesien - dat jou land uitverkore is om die groot wonder waarheid te laat word! Daar sal gebeur wat vir die huidige tyd en latere geslagte steeds onbegryplik sal bly, omdat dit goddelik is en die menslike begrip te bowe gaan!"

[17] So het my leraar en leier gespreek aangaande die geestelike misterie van die oergeloof van die Egiptiese volk, wat in feite - op die korrekte manier begryp - slegs in `n ander vorm dieselfde waarhede bevat wat ook in ons voorskrifte te vinde is.

[18] Spoedig daarna sterf hy, en ek keer terug na my vaderland om die groot tyd af te wag. In helder drome word aan my geopenbaar dat ek nog getuie daarvan sou wees, maar tog het dit vir my goed gelyk om my terug te trek uit die kringe van tempeldienare en skrifgeleerdes; want dat die heil nie daarvandaan sou kom nie, was maar vir my al te duidelik. Te midde van mense wat self maar net in soverre in God geglo het, as wat hulle eie voordeel toegelaat het, kon die verwagte Messias onmoontlik verskyn, of dit sou `n Messias van net die grotes, rykes en vernames moes wees, maar nie een wat die volk sou gelukkig maak nie!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205