Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 51

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Wenke vir die veredeling van die siel

51 Petrus sê: "Ja, Heer, dit sien ek nou wel baie goed in, en ek begryp ook steeds beter hoe baie U menslike natuur gelyk is aan die van ons, en dat die verskil alleen geleë is in die gees in ons. Ons almal sal sekerlik ons uiterste bes doen om alle doeleindes, wat U ons toon, te bereik. Maar dit gaan nog absoluut nie goed met die wedergeboorte van ons siele nie. Ons is weliswaar op die goeie weg, maar as ons alleen is, is daar tog herhaaldelik sprake van `n terugval wat ons tot dwaashede verlei, wat U al verskillende male sien gebeur het. Hoe kan ons dit vermy?"

[2] Ek sê: "In die eerste plek deur die korrekte krag van die geloof te verwerf, ook wanneer julle My nie sien nie - want salig is hulle, wat glo en nie sien nie! En dan in die tweede plek deur julleself vry te maak van elke vrees en God alleen met alle krag lief te hê, waarvan julle weet dat Hy in My is en Wie julle herken het!

[3] Ek weet wel dat julle My baie liefhet; maar die liefde betref nou nog meer My persoon as My gees. Die onwankelbare liefde wat heeltemal geen twyfel meer ken nie en wat haarself ook vir julle onbegryplike dinge nie aan die wankel laat bring nie, besit julle nog nie, maar net `n geloof waaraan voorlopig alleen My dade ten grondslag lê en dit is nog geen rots nie, maar is vermeng met losse grond, wat nog deur die reënbuie van die leed weggespoel kan word.

[4] Glo nie net wanneer Ek by julle is nie, maar glo en vertrou volkome op My krag, ook as Ek liggaamlik nie by julle is nie! Ondersoek julle siele om te sien waar nog iets onsuiwer sit, en werp dit van julle af!

[5] Solank julle nog wrewel, ergernis, ontevredenheid en onrein gedagtes in julleself ontdek, is daar nog sprake van twyfel, wat die lewende geloof nie sterk laat word nie. Maar al die slegte eienskappe is vir die gees vreemd; daarom kan hy nie deurdring in die siel, wat dit alles vrywillig moet aflê nie!"

[6] Petrus sê: "Ja, Heer, dit weet ons almal baie goed, en ons span ons ook in om volgens U woorde te handel; maar tog is dit dikwels baie moeilik om jouself te oorwin. En tog het ons U van ganser harte lief, met al ons kragte!"

[7] Ek sê: "Dit is wel in orde! Ek het julle immers na Efraim gebring sodat julle julleself sou reinig, om vry en deur eie inspanning die innerlike voleinding te verwerf; maak verder dus maar geen punt daarvan nie! Sou julle My leerlinge gewees het, as Ek nie gehoop het om julle sover te bring dat julle die Vader dien, netsoos Ek Hom tans dien nie?! Die Vader weet immers goed wat Hy doen en welke instrumente Hy vir Homself uitkies! Wat julle nog ontbreek, sal julle verwerf; streef dus daarna! Aan krag sal dit nie ontbreek, as julle daarvoor vra nie."

[8] Petrus sê: "Ja, Heer, ons weet baie goed dat U ons steeds die benodigde krag gee, as ons daarvoor vra; ons vergeet maar net al te veel om te vra, omdat ons onsself reeds as sterk beskou en dink om uit eie krag te kan oorwin! En die gevoel van krag vervul ons met groot vertroue, wat egter maar al te maklik omslaan in berou, wanneer, ondanks alle goeie voornemens, die maar al te groot swakheid van die menslike hart en ons wankelmoedigheid deur iets aangetoon word. Moet ons dan gladnie probeer om ook iets uit eie krag te doen nie?" 

[9] Ek antwoord: "Wie na vereniging met God streef, sal eers probeer om Sy wil te vervul en sy eie wil ondergeskik te maak; want slegs wat in die mens lewend geword en die daadkragtige wil van God kan en sal nooit skipbreuk lei nie. Maar as die mens eiewys is en probeer om iets uit te voer, sonder om hom daaroor te bekommer of sy voorgenome daad ook met God se ooreenstem wil, moet hy nie verbaas wees as die daad nie in sy voordeel uitval nie. 

[10] Die gevoel van krag waaroor jy praat, is net niks anders as geestelike hoogmoed nie, wat homself verhewe voel bo ander menslike broers en daarom iets buitengewoon wil presteer om sy eie ydelheid te bevredig of ook vanuit `n sieklike behoefte om deur ander bewonder te word. Behoed jou dus vir die eienskappe; want My aanhangers moet arm van gees wees, soos julle weet, sodat hulle alles van My ontvang en God werklik kan sien! Maar diegene wat hulle geestelik ryk waan, is nou juis diegene wat meen om volmaak te wees, en wat met hulle selfoorwinning pronk en geestelik hoogmoedig word.

[11] Kyk na die fariseërs, hoe hulle glo om net vir God te dien met allerlei niksseggende wysheid en woordkramery, en tog net hulleself en hulle eie welsyn dien! Dit is heeltemal onmoontlik om selfs die geringste wysheidsleer van My hemele in hulle hart te laat vloei; want die is heeltemal gevul met allerlei rykdom, dit wil sê eiedunk van hulle siel, terwyl dit maar net daar gegee kan word, waar volledige armoede heers. - Begryp jy en jou broers dit?"

[12] Netsoos vroeër was Petrus woordvoerder vir die ander, en nadat hy die aanwesige broers aangekyk het, wat almal instemmende gebare maak, sê hy: "Ja, Heer, dit begryp ons baie goed; want U het al voorheen in soortgelyke bewoordings dergelike lesse gegee. Maar ons sou wel iets anders van U wil weet!

[13] U spreek oor `n wedergeboorte van die gees én van die siel. Die onderskeid het ons baie opgeval, omdat ons nooit `n verskil daarin sou gesoek het nie; ons dag dat wanneer die siel eenmaal volledig opgegaan het in die gees, ook alles bereik is wat daar bereik kan word. Hoe is dit nou daarmee, sal U dit nie miskien duideliker uitlê nie?" 

[14] Ek sê: "Wat julle nou kan bevat sal julle hoor! Maar alles sal eers in My ryk vir julle volkome duidelik word, waar julle met julle eie oë en sintuie die bevestiging sal vind. Maar nie alleen ter wille van julleself nie, maar ook ter wille van julle volgelinge moet julle weet wat Ek met die wedergeboorte van die gees bedoel en wil aangee. - Luister dus!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205