Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 70

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Judas voor die Hoë Raad

70 Ook Judas luister saam, maar sonder dat hy daardeur van sy verkeerde opvattings bevry word. Inteendeel, hy raak maar net meer daarvan oortuig dat niemand so gou sou slaag om die Krag van God so met homself te verenig dat daar na My `n ander as Messias sou kan optree om die wêreld te bevry nie. Hy beskou dit daarom maar net as roemryk en verheug hom in sy eersugtige gedagtes, dat hy die een sou kon wees wat, volgens sy mening, die noodsaaklike, laaste dwingende stap sou voorberei wat My daartoe moes bring om volgens sy wense van die verleende mag van My gebruik te maak. Hy kom vir homself as `n soort verlosser voor en meen in sy verblinding om deur My te werk. Toe die gedagte, dat hy My sou kon dwing, eenmaal in hom ontwaak het en sy vaste oortuiging bly bestaan dat Ek elke gevaar sou kon trotseer en ook maklik kon oorwin, lyk alles ook vir hom reg wat daartoe kon bydra om die plan te verwesenlik.

[2] Hy maak daarom die tweede dag van Ons verblyf aan die Jordaan aan My die voorstel om na Jerusalem te gaan sonder om herken te word, om daar te kyk hoe die stemming oor My was, en of die volk deur My verdwyning onrustig geword het.

[3] Ek sê vir hom dat hy kan maak soos wat hy dink, en die ander, bly om hom kwyt te wees, stem maar net in met sy aanbod.

[4] Hy vra waar hy My sou kon aantref, en Ek sê vir hom dat Ek tot die volgende dag rondom die middaguur op hierdie plek sou bly.

[5] Daarna vertrek Judas en begeef hom na Jerusalem. Baie spoedig kom hy daar te wete dat elkeen verbaas was oor My skielike verdwyning. Van die groot opwinding wat My intog veroorsaak het, was niks meer oor nie, en oor die algemeen meen die volk dat Ek vir die mag van die tempel gevlug het. Die tempel self word skerp bewaak deur die tempelwagters en die soldate van Herodus. Bowendien trek daar daagliks Romeinse soldate deur die stad om die samedrommings uiteen te dryf. Die tempel het al by die landvoog Pontius Pilatus beskerming gesoek teen `n uiteindelike oproer en My as volksopruier aangekla.

[6] Daar was dan ook al `n ondersoek deur Pilatus ingestel, waaruit egter geblyk het dat die volk geen enkele uiting van vyandelikheid getoon het nie, maar slegs van `n groot geesdrif vir die Wonderheiland, wat vir Pontius Pilatus al lankal nie meer onbekend was nie. Hy ken dus aan hierdie gebeurtenis dan ook geen diepere betekenis toe nie, maar om die orde te handhaaf, laat hy groepe soldate reëlmatig deur die stad patrolleer. Die volk word deur hierdie maatreëls goed onder die duim gehou; hulle het immers maar al te goed geweet dat die mag en strengheid van Rome by ongerymdhede gevrees moes word.

[7] Die tempel was nou weer aansienlik in die voordeel, en die mense het gevind dat die tyd ryp was om My `n vernietigende slag toe te dien - as hulle maar geweet het waar en hoe hulle My sonder gevaar kon vang; want dat dit ook nie so maklik was nie, het hulle al heeltemal genoeg gemerk.

[8] In `n geheime sitting word nou eers hierdie, dan weer ander middele oorweeg, sonder dat die tempelhere dit eens met mekaar kon word. Toe word aan hulle gemeld dat iemand die Hoë Raad wou meedeel waar die Nasarener Hom bevind het.

[9] Uitermate verheug laat Kajafas hierdie man, wat Judas Iskariot was, na hom toe kom en bring hom na die Hoë Raad toe. Daar deel Judas die Raad mee dat hy meen dat hy in staat sal wees om die gesoekte Jesus van Nasaret in die hande van die tempelwag oor te lewer, as die nodige versigtigheid maar net daarby in ag geneem word.

[10] Op die vraag, hoe hy dit dan wou doen, antwoord Judas: "Ek het my `n geruime tyd in Sy nabyheid opgehou, en ek ken hom en Sy aanhangers dus van baie naby. Daar was selfs `n tyd gewees wat ek die verwagte Messias van die Judeërs in Hom gesien het. Maar nou het ek daarvan oortuig geraak dat hy geen ander oogmerk het as om ons vanouds eerbiedwaardige voorskrifte en wette, wat onder die heilige beskerming van die tempel staan, omver te werp nie, sonder dat hy in staat sal wees om iets kragtig en beter daarvoor in plek te stel. Hy is dus gevaarlik, en as eerlike Judeër, wat sy bes behoort te doen om die agting vir die wet van Moses hoog te hou, bied ek my dienste aan om aan die gevaarlike aktiwiteite `n einde te maak. Ek weet nog nie of dit sal slaag nie; maar waar soveel wyse manne byeen is, sal dit seker geluk om die korrekte middel te vind waarmee hierdie Wonderheiland gevange geneem kan word."

[11] Kajafas vra hom: "Weet jy waar Hy Hom nou bevind?"

[12] Judas sê: "Nee, want ek kan nie weet of hy die plek al verlaat het nie. Maar ek weet dat Hy, soos altyd, ook hierdie jaar die Pasgalam te midde van Sy aanhangers sal wil eet, en dat dit nêrens anders as in die buurt van die stad sal gebeur nie."

[13] Een van die fariseërs wat na die opwekking van Laserus so `n gedugte afstraffing opgeloop het, roep: "Laat veral niemand probeer om Hom in Betánië gevange te neem nie! Daar sou dit nutteloos wees; want Sy duiwelskrag sou weer daar te voorskyn kom. Dit sou die beste wees as mens hom snags kon gevange neem - enersyds vanweë die volk, wat sterk op Sy hand is, en bowendien het ek gehoor dat die krag van sulke towenaars snags swakker is. Op `n bepaalde uur sou selfs die ergste towenaar selfs swakker wees as enige gewone mens, sodat hy teen niemand weerstand kan bied nie. Spreek - jy moet dit weet, aangesien jy in Sy nabyheid verkeer het: Het hierdie Man ook Sy swak uur? Wat doen Hy snags?"

[14] "Hy slaap, netsoos elke ander mens", antwoord Judas. Ek glo wel dat ek die uur ken waarop Hy die swakste is."

[15] Triomfantelik wend die fariseër hom tot die ander en vind dat die uur benut moes word.

[16] Kajafas wou egter niks daarvan weet nie, omdat hy seker daarvan was dat die Nasarener oor geen ander bonatuurlike kragte beskik het as die Essene nie, wat voldoende daarvoor bekend gestaan het; maar ook hy was daarvoor om hom snags te gryp, om geen enkele opsien te baar nie.

[17] Daarom word met Judas afgespreek dat hy op die dag van die Pasgalam die nag na die tempel sou kom, waar hy die geregsdienaars sou aantref, wat hy na die plek moes bring waar die Nasarener Hom bevind het.

[18] Nou vra Kajafas hom wat hy vir hierdie diens verlang.

[19] Judas, wat hom inwendig verheug het dat die Hoë Raad, soos wat hy gedink het, in die val, wat deur hom opgestel was, ingeloop het, was nou nog meer verheug omdat sy plan ook nog geld vir hom sou oplewer - wat aanvanklik nie sy bedoeling was nie - en vra nou die dertig silwerlinge wat hulle hom ook beloof om te betaal, as hy op die aand, waarop dit moes gebeur, sou kom.

[20] Judas gaan nou onmiddellik vanaf die tempel deur die stad en luister orals, om te wete te kom of die volk van Jerusalem en ook die groot aantal vreemdelinge teen My was. Hy tref orals groot verbasing aan vanweë My oënskynlike swakheid; maar nêrens vind hy mense onder die volk wat nie oortuig was van My krag nie, wat Hom dikwels en ook op die laaste nog duidelik bewys het. Hy sien duidelik dat Ek ook later nog sou slaag om die hele volk met My saam te trek, sodra daar maar `n heroïese daad van My sou uitgaan – en dat die volk wel wantrouig was, maar nie geheel en al van My afvallig geword het nie.

[21] Die insig verheug hom en sterk hom nog meer in sy plan om My in `n situasie te bring wat My sou dwing om My aanvallers van My lyf te hou en hulle miskien te vernietig, of tog dermate onskadelik te maak dat elkeen duidelik sou sien dat niemand op aarde My kon weerstaan nie, as Ek maar net ernstig wil. Toe hy gedink het dat hy van alles grondig oortuig was, sonder om hom in die tyd met Herodus besig te hou - wat hy oënskynlik nie meer vir sy doeleindes nodig gehad het nie, omdat hy dit ook sonder hom kon beredder - gaan hy weer op weg na die Jordaan toe om My op te soek en verslag te doen van wat hy te wete gekom het.

[22] Hy tref Ons nog op die ou plek aan, en doen nou noukeurig verslag van die stemming in Jerusalem, en hoe die volk nog altyd op My as die Verlosser gewag het. Ek hoor dit alles rustig aan sonder om daarop te antwoord, waardeur Judas maar net daarvan oortuig raak dat sy woorde diep indruk op My gemaak het. Hy was ook mensekenner genoeg om nie verder by My aan te dring nie, omdat hy gedink het dat sy woorde in My moes rypword. Hy het hom opvallend swygsaam gedra, maar mens kon aan hom gemerk het dat hy tevrede was en alleen nog opmerksaam rondkyk.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205