Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 73

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die verhoor en die veroordeling van Jesus

73 Die stoet gaan nou oor die Kidron deur dieselfde poort waardeur My intog plaasgevind het. Die tempelwagte bring My eers na Annas, wat die skoonvader was van die hoëpriester Kajafas. Annas was die eerste waar Ek na toe gebring word, omdat hy die plaasvervanger van Kajafas was en hom in hierdie aangeleentheid steeds baie aktief opgestel het, en daarom word aan hom ook dan eerste die berig gebring dat dit geluk het My gevange te neem.

[2] Nota bene. Dit is nou absoluut nie die bedoeling om hier alles te herhaal wat in die evangelie van Johannes al uitvoerig behandel is nie - want dié geskrif moet die evangelie van Johannes in die geheel nie oorbodig maak nie - maar in die navolgende historiese gebeurtenisse sal alleen aangevul word, wat as leemte ervaar kan word.

[3] Die manier waarop Annas My ontvang en ook die val van Petrus is daar na te lees. (Johannes 18:13-27)

[4] Annas stuur My gebonde na Kajafas.

[5] Judas, wat nou insien dat alles waarskynlik anders blyk af te loop as wat hy gedink het, sien hoe Ek weggelei word, en volg die stoet verbysterd en vol vrees oor die welslae van sy bedoeling. Hy wil ook met My tot die hoëpriester deurdring, maar die toegang word hom ontsê.

[6] By Kajafas was die hele Hoë Raad byeen, wat al lankal ongeduldig en wraaksoekend op My verskyning gewag het. Daar word die aanklag nou geheel volgens die reëls teen My ingebring, en daar tree getuies teen My op wat moes getuig dat Ek hoogverraad gepleeg het. Hiervoor word veral die intog gebruik, netsoos die feit dat Ek dit gewaag het om die heiligdom te betree, waardeur Ek My priesterlike mag aangematig het wat Ek nie besit het nie. Daarna word haarfyn bewys dat Ek die volk teen die Romeinse keiser wou opsteek om Myself koning te maak. Maar toe dit daarop aankom om getuies daarvoor te vind, wat die bedoeling deur My woorde onder eed kon bevestig, was daar geeneen te vind nie.

[7] Ten slotte tree die getuie op wat sê dat Ek gesê het: "Breek hierdie tempel af, dan sal Ek hom weer in drie dae opbou!"

[8] Kajafas sê nou dat dit `n belediging teen die tempel self was; want om dit te volbring was goddelike mag nodig, wat alleen die Gesalfde van God, wat eenmaal sou kom, kon besit. Maar Ek het gesê dat Ek Messias was, die Gesalfde, en daarom besweer hy My om te sê of Ek werklik Messias, die Seun van God was.

[9] Daarop antwoord Ek: Jy sê dit. Maar Ek sê vir julle: Van nou af aan sal dit gebeur dat die Seun van die mens sal sit aan die regterkant van die Krag en in die wolke van die hemele tot die Vader sal kom, wat in Hom woon!"

[10] Toe skeur die hoëpriester sy klere en spreek: "Hy het God gelaster! Waarvoor het ons nog meer getuienis nodig? Julle het Sy godslastering gehoor."

[11] Natuurlik staan almal hom onmiddellik by; want in die Raad was slegs diegene byeen, van wie Kajafas geweet het dat hulle hom toegewyd en volgsaam was. Vir diegene wat My op een of ander manier vriendelik gesind was - wat al by die laaste sitting geblyk het - was die bedoeling om My gevange te neem en die verraad van Judas verborge te hou. Die doodsoordeel was daarom ook vinnig klaar, en dit het maar net daaroor gegaan om die goedkeuring van Pontius Pilatus te verkry. 

[12] In alle vroegte word Ek daarheen gebring en word die saak aan die landvoog voorgelê: Ek was `n rebel en `n godslasteraar en was as sodanig die dood skuldig.

[13] Pontius Pilatus, wat alles van My intog geweet het en niks rebellerends daarin kon ontdek nie, probeer My te red, omdat hy as Romein geneig was om in My `n soort halfgod met buitengewone kragte te sien. Hy spreek nou met My soos in die evangelie van Johannes te lees is, en sê aan die tempeldienare wat voor die geregsgebou staan, dat hy geen skuld in My kan vind nie. (Johannes 18:33-38)

[14] Daarop kom een van die hoër priesters na vore, wat hom nogmaals uitlê dat Ek deur die land getrek het en teen die tempel en die dienare daarvan gepredik het, wat tog die hoogste gesag van die land en plaasvervangers van God was. By die geleentheid word gesê dat Ek uit Galilea kom.

[15] Pilatus was bly toe hy die mededeling hoor, omdat hy `n uitweg sien om die hele kwessie van hom af te skuif. Galilea staan onder die oppergesag van Herodus, en daarom kon hy `n oordeel hierin vel. Hy beëindig die verhoor dus kortweg en gee bevel om My na Herodus te stuur, om hom reg te laat spreek oor een van sy onderdane. 

[16] Herodus was baie verheug toe Ek na hom toe gebring word, omdat sy wens, om My nou persoonlik te sien, vervul word en hy hom nou daarvan wou oortuig wat daar waar was van die vele gerugte oor My wonderkrag. Hy laat My onmiddellik na hom toe bring en beveel die mense wat om hom heen was om hulle te verwyder. Ons bly alleen. Hy spreek sy verwondering daaroor uit dat `n man soos Ek, wat tog oor buitengewone kragte beskik, Hom gevange laat neem het, en hy wil weet hoe dit kon gebeur het. Ek gee hom egter geen antwoord nie, sodat hy daardeur in verleentheid raak en nadruklik `n antwoord van My verlang. Omdat Ek bly swyg, word hy steeds ontstemder en ten slotte woedend, sodat hy na My toe loop en dreig om My te folter. Ek hoef hom maar net kalm aan te kyk, en onmiddellik beef die hart van die ou sondaar soseer deur die blik dat hy angstig na sy omgewing roep. - Ek het uiters onheilspellend vir hom geword, en om sy vrees te verberg, bespot hy My nou in die teenwoordigheid van sy hofdienare, wat vanselfsprekend onmiddellik instem met die spottende woorde van hulle heerser.

[17] Herodus sien nou dat hy bedrieg was in sy hoop, deur met bonatuurlike mag iets tot stand te kan bring, en wil nou in ieder geval nog soveel moontlik voordeel uit die hele kwessie trek. Daarom gee hy bevel om My weer na Pilatus terug te bring, terwyl hy met beleefde woorde te verstane gee dat hy graag aan die opperheerskappy van Rome onderdanig was en daarvan afsien om reg te spreek oor een van sy onderdane, wat hom volgens die bewering van die tempel ook teen die opperheerskappy van Rome wou verset. Met `n wit kleed aan, wat Herodus vir My as `n teken van onderwerping laat gee, kom Ek nou by Pilatus terug, wat nie bepaald verheug was oor My terugkoms nie, maar wel oor die handelswyse van Herodus, wat later ook `n volledige versoening tussen die twee maghebbers teweeggebring het.

[18] Pilatus was intussen gewaarsku deur sy vrou, wat in `n droom gesien het hoe die goeie en die slegte deur die Seun geskei word, en hy streef daarna My vry te laat. Sodoende kom hy op die idee om aan die volk voor te stel om My vry te laat, omdat dit gedurende die Pasga gebruiklik was om `n misdadiger vry te laat, wie die volk kies.

[19] Die priesters en tempeldienare het egter hulle hele aanhang opgeroep, wat voor die geregsgebou staan, en hulle laat niemand van die res van die volk daarby nie, sodat die geïntimideerde volksmenigte, wat My aanhang, nie vlakby staan nie, maar wel die tempelaanhangers, wat met alle mag probeer om hulle doel te bereik, naamlik om My uit die weg te ruim. Omdat Barabbas goed aangeskrewe gestaan het by die tempel, soos al eerder gesê is, word op die vraag van die landvoog, welke gevange hy moes vrylaat, onmiddellik volgens afspraak, "Barabbas!" geroep en geëis dat Ek gekruisig sou word, waarby steeds benadruk word dat Ek `n oproerling teen die keiser was.

[20] Pilatus het nie meer geweet wat hy moes doen nie, omdat daar wel genoeg beskuldigings teen My ingebring was, maar hy kon die skuldvraag nie heeltemal vir homself onderskryf nie. Hy dink nou dat hy My slegs deur `n géseling voldoende straf sou oplê en gee dan ook bevel daartoe. Sodoende word Ek toe gegésel.

[21] Na hierdie straf bring die knegte My in `n baie erbarmlike toestand, in `n purper mantel en gekroon met `n doringkroon, na buite, omdat Pilatus gehoop het dat die aanblik die Judeërs tot medelye sou bring, sodat hy My kon vrylaat.

[22| Maar die hart van die Judeërs was harder as klip, en weer roep hulle: "Kruisig hom! Kruisig hom!"

[23] Pilatus herhaal dat hy by My geen skuld vind wat die dood verdien nie, en dat Ek nou genoeg gestraf was.

[24] Toe skreeu die voorste en mees verbitterde Farisese priesters: "Hy moet sterf, want Hy het God gelaster! Hy het Homself tot God se Seun gemaak, en volgens ons wet moet diegene wat God laster, gedood word!"

[25] Toe hy dit hoor, skrik Pilatus nog meer; want sy Romeinse opvatting dat Ek `n halfgod sou kon wees, kry hiermee nuwe voeding. Daarom gaan hy weer die huis binne, waar die knegte My ook weer binne gebring het, en vra My waar Ek vandaan kom, dit wil sê van welke afkoms en uit welke land Ek was, omdat hy My wou glo, en nie My aanklaers nie.

[26] Maar Ek gee hom geen antwoord nie - en wel van uitputting. Pilatus vra opnuut, soos dit in Johannes 19:10 aangegee is. Ook die verdere gebeurtenisse speel hulle af volgens vers 11, 12 en 13.

[27] Pilatus, wat nou geskrik het - want hy ken die tempel en het geweet dat hulle tot alles in staat was, as dit daarom gaan om iets deur te druk - wou dus `n einde aan die saak maak en neem plaas op die regterstoel, `n seremonie wat by die Romeine gebruiklik was wanneer dit daarom gaan om `n onomstootlike oordeel te vel. Hy toon My nogmaals aan die volk en vra wie hy moes vrylaat.

[28] Die aanhang skreeu opnuut: "Barabbas!"

[29] Daar word nou ook iemand na hom toe gestuur om hom die vryheid te gee. Toe wys Pilatus na My en sê: "Sien hier julle Koning! Wat moet daar met Hom gebeur?"

[30] Opnuut skreeu die horde: "Kruisig hom!"

[31] Pilatus sê spottend: "Moet Ek julle Koning kruisig?"

[32] Nou kom daar een van die hoë priesters na vore en sê baie nadruklik: "Ons het geen ander koning as alleen die keiser; maar Hierdie hier is teen die keiser en het Homself tot Koning gemaak. Die skuld kom op Hom!"

[33] Pilatus sê baie ernstig: "En as daar nou tog onskuldige bloed vergiet word?"

[34] "Dan kom Sy bloed oor ons en ons kinders!", roep die hoë priester hardop. En die aanhang val hierdie uitroep met baie lawaai by en herhaal dit vele male.

[35] Toe sien Pilatus dat hy My nie kon help nie, sonder om homself ernstige moeilikheid te besorg. Ook vrees hy dat die Romeinse aansien daaronder sou kon ly, wanneer hy te veel swakheid sou toon.

[36] Om `n uiterlike teken te gee dat hy homself vry voel van die verantwoordelikheid, was hy in die teenwoordigheid van die volk sy hande en sê (Pilatus): "Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Regverdige, want volgens ons wet het Hy niks verkeerd gedoen nie. Volgens julle wet kan dit anders wees, soos julle sê - en daarom gee Ek hom nou oor aan julle wet!"

[37] Daarop lewer hy My oor aan die gereedstaande tempelwagte, wat My dadelik in versekerde bewaring neem, op dieselfde tydstip toe Barabbas vrygelaat word en deur die volk met harde krete begroet word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205