Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 11
LEOPOLD ENGEL

Hoofstuk 76

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79.

Die opstanding en hemelvaart van Jesus

76 Op die derde Pasgadag keer die Godheid terug en roep die liggaam van die Menseseun aan, wat onmiddellik geheel en al opgelos word en wat nou as gewaad nog aan die siel toegevoeg word. Dié gebeurtenis sien die Romeinse wagters as `n skitterende lig, wat die grafholte geheel verlig; daarvan skrik hulle so, dat hulle onmiddellik weghardloop om te gaan vertel dat Ek opgestaan het. Die klip word van die opening weggewentel, sodat elkeen nou in die grafgewelf kon kyk.

[2] Die soldate gaan meteens na Pilatus, wat hoogs verbaas was en dit met `n sekere leedvermaak aan die Hoë Raad meedeel. Enkele lede van die Hoë Raad gaan dadelik daarheen en tref die plek leeg aan, waarop hulle vanweë die volk, waarvan hulle die ontevredenheid ken, naarstig die saak probeer te verdoesel, die soldate geld gee en hulle opdra om te sê dat die leerlinge die lyk gesteel het, terwyl hulle geslaap het. Tegelykertyd waarborg hulle hulle dat hulle nie gestraf sou word deur Pilatus nie, wat `n dergelike vergryp, naamlik slaap terwyl hulle op hulle pos moes gestaan het, met die dood sou bestraf het.

[3] Pilatus wil die vrystelling van straf egter nie toeken nie, maar sê, toe `n hoër priester met hom probeer onderhandel: "Of die soldate het geslaap, en dan is hulle dubbel skuldig, deurdat hulle geslaap en my voorgelieg het, of hulle het nie geslaap nie; en in die geval wil ek my nie deur `n leuen blootstel aan die toorn van die Een wat opgestaan het nie."

[4] Daar kon niks met hom bereik word nie, en daarom gee die priesters die soldate baie geld, sodat hulle na verre streke sou vlug, wat hulle ook gedoen het; toe doen die verhaal oor die diefstal van die lyk die rondte, wat tot op die dag van vandag nog steeds geglo word.

[5] Uit die evangelies is bekend, dat Ek na die opstanding aan vele verskyn het, en dit het nie alleen op die aangegewe plekke gebeur nie, maar orals waar Ek as leraar opgetree het, om My aanhangers te bewys dat die leer wat Ek hulle gegee het, juis was.

[6] Nie alleen My persoon het sigbaar geword nie, maar ook vele van diegene wat al voorheen gesterf het, verskyn in helder drome aan hulle familielede en in `n enkele geval selfs ook oordag, om hulle te vertel van die nuwe Jerusalem. Hierdie feite is later met die oomblik van My dood in verband gebring, en daarin moet die verklaring gesoek word dat daar vele dooies opgestaan het, wat aan hulle familielede in hulle huise verskyn het.

[7] Wat daar nou nog belangrik is uit hierdie tyd, vanaf Ek van die Olyfberg weggeneem was, sal nou baie in die kort vermeld word.

[8] Die eerste wat My gesien het was Maria Magdalena (van Magdala). Dit het presies gebeur soos wat Johannes dit beskryf het (Johannes 20:1-18).

[9] Maria het met nog ses ander vroue al baie vroeg na die graf gegaan - nog voordat die Hoë Raad op die hoogte was - om daar te bid en die welriekende salf, wat die liggaam vir ontbinding moes oppas, nogmaals daaroor uit te giet. Hulle tref die graf egter leeg aan en gaan onmiddellik terug om dit aan die leerlinge te vertel. 

[10] Toe hulle opwinding bedaar het en almal teruggaan om die ander in kennis te stel, wat nog nie geweet het dat daar iets gebeur het nie, bly Maria Magdalena alleen agter.

[11] Daar is al gesê waarom Ek haar tereggewys het met die woorde: "Raak My nie aan nie!" - Haar nog onsuiwere liefde vir My sou haar vernietig het, as sy My nou suiwer geestelike Wese sou aangeraak het. 

[12] Verder berig Johannes dat Ek aan die leerlinge verskyn het toe hulle agter geslote deure bymekaar was (Johannes 20:19-23). Dit het op die volgende manier gebeur: Nadat die fariseërs hulle valse berig rondgestrooi het, ontstaan daar weldra `n groot onrus onder die volk in Jerusalem. Die meeste glo nie die tempeldienare nie; want daarteenoor staan die duidelike oortuiging, dat dit iets ongehoord was wanneer Romeinse soldate `n plek, wat hulle moes bewaak, sodanig sou verontagsaam dat daar `n graf geopen en leeggemaak kan word! Daar doen dus baie gou allerlei opmerkings oor die diepe slaap van die soldate die ronde, wat die spot dryf met die onwaarskynlike verklaring en die baie dieper slaap van die tempel met die van die soldate vergeleke. Die priesters word baie boos daaroor en probeer die leerlinge, wat hulle leuens ontsenu deur die werklike toedrag te vertel, indien moontlik gevange te neem om hulle ook onskadelik te maak.

[13] Die leerlinge kom daarom bymekaar om oorleg te pleeg wat hulle moes doen, en wel by die herbergier in die herberg op die Olyfberg, wat genoegsaam bekend is.

[14] Thomas was egter nie by die eerste vergadering aanwesig nie, omdat hy in Jerusalem was om uit te vind hoe die sake daar gestaan het.

[15] Midde-in hierdie vergadering, waarby Laserus ook aanwesig was, kom Ek in en begroet die aanwesiges, wat na die eerste verbasing, oorweldig deur vreugde, om My heen kom staan. Ek onderrig hulle die aand nogmaals oor die doel van My sterwe, asook oor hulle ampte as leraars, wat hulle nou ontvang het, en vervolgens dat hulle geen vrees moes hê nie, omdat hulle met `n vaste vertroue op My en liefde tot My veilig was vir alle vervolgings. Ek bewys dus aan hulle die onsterflikheid in My ryk, deur My eie verskyning, en almal was nou volkome van geloof vervul en ywerig van hart. 

[16] Daarna gaan Ek van hulle af weg, nadat Ek hulle aangeraai het om agt dae later opnuut daar bymekaar te kom, en dat elkeen van hulle sy huis in orde moes kry. 

[17] Na agt dae volg toe die gebeure met Thomas, soos Johannes dit eweneens berig. (Johannes 20:26-29)

[18] In die tyd na Pasga het Ek persoonlik verskyn aan almal met wie Ek direk omgegaan het, om hulle die bewys vir die waarheid van My woorde te gee en hulle gemoedere te versterk vir die verbreding van die leer. Niemand word daarvan uitgesonder nie. Diegene wat deur My dood vertoornd was op die Judeërs, word milder gestem, en diegene wat wankelmoedig geword het, word versterk.

[19] Maar dit is oorbodig om al die gevalle te beskryf, omdat daarby niks voorgeval het wat elkeen nie vir homself kan voorstel nie. Hierdie dade is enkel `n bekroning van hulle geloof gewees, maar daar het nie `n uitbreiding van My leer daardeur plaasgevind nie.

[20] Die verhaal van die twee leerlinge van Emmaus byvoorbeeld gee `n taamlike noukeurige beeld van al die gebeurtenisse wat op soortgelyke wyse verloop het; daarom is die verhaal ook oorgelewer.

[21] Die openbaring aan die Meer van Galilea egter, het ten doel gehad dat Petrus, wat onuitspreeklik gely het onder die besef dat hy My verloën het, weer op te rig en te versterk. Daarom word aan hom die proef opgelê waarby hy sy geloof in dade kon omsit. Toe die leerlinge in die skip was, My herken en die herkenning teen Petrus uiter, spring hy onmiddellik in die meer om die weg na My te verkort. Die geloof reinig hom van die nog aanklewende slakke; want elkeen wat My herken het, moet deur die kolkende see die kortste weg na My soek. (Johannes 21:1-19)

[22] Sy driemalige verloëning korrespondeer dan ook met die drie keer gestelde vraag: "Het jy My lief?"

[23] In die gebeure lê `n groot ooreenkomstige betekenis, wat elkeen vir homself kan oplos, wat dié werk met sy hart en nie net met sy verstand gelees het nie. Laat daarom elkeen homself ondersoek, en sien of hy hierdie ooreenkoms kan vind!

[24] Die leerlinge gaan weldra weer aan die werk om tuis orde op saak te stel. Ek het hulle gebied om op `n bepaalde dag weer by die herbergier bymekaar te kom, en dit gebeur ook. Dit was die veertigste dag na die Pasgafees, ooreenstemmend met die veertig dae in die woestyn, wat ieder van hulle nodig gehad het om hom voor te berei. 

[25] Almal wat na aan My gestaan het, het ook gekom, en opnuut kom Ek in hulle midde en lei hulle na die top van die Olyfberg, van waaruit mens `n wye uitsig gehad het. Daar versamel Ek die apostels om My heen. Die orige leerlinge staan in `n groot kring om Ons heen. Ek vermaan almal nogmaals om stewig aan My en My leer vas te hou. Ook gee Ek My leerlinge die opdrag om orals heen te gaan en die evangelie in My Naam te verkondig. Daarna neem Ek afskeid van hulle en lê hulle uit, dat hulle My nou nie meer liggaamlik sou sien nie, maar op elke oomblik geestelik met My verbind sou bly.

[26] Toe seën Ek hulle, en weldra het Ek uit hulle midde verdwyn.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205