Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 101

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Dwase trots van die verblinde Dismas. Skerp oordeel van sy ware vriende.

101 Hier wend Dismas hom tot Robert Blum en sê: "Beste, dierbare vriend, dit is presies soos wat ek gedink het! Met hierdie Jesus is daar nie te prate nie en niks om mee te begin nie! Hoe meer mens voor Hom buig en verdeemoedig, des te barser en ontoegankliker word Hy! Die gevolg daarvan is dat mens hom van Hom moet verwyder en op alle moontlike maniere gaan probeer om van die ellendige lewe, waarvoor `n mens nooit `n God gevra het nie, daarvan af te kom, wat alleen sou moes dien tot vermaak van so `n goddelike steekvlieg. Ek sien wel in dat my onmag nooit iets sal kan uitrig teen die goddelike almag nie, maar die goddelike tirannie sal ek nooit as te nimmer dank vir hierdie snertelewe nie!

[2] Ek het so onderdanig as moontlik na die Heer gekom en meen dat Hy my betreklik goed sou opneem, net soos die Lerchenfeldse. Wat `n verskil is egter tussen haar en my: Sy word behandel soos `n engel en ek soos `n verdoemde, en tog was sy ewegoed `n hoer soos wat ek `n hoereloper was. Wie in so `n handelswyse geen grillerige willekeur van die Godheid sien nie, moet geen oë in sy kop hê nie! Op die vervloekte aarde is die mens `n slaaf van sy vlees en hier `n aller miserabele monster! En mens sou God nog moet dank vir so `n mooi lewe? Wanneer, in duiwels naam, het ek ooit vir God gevra om my `n lewe te gee? Waar is dan die ewige kontraktuele voorwaardes, waaronder die Godheid my tot `n selfstandige wese gevorm het?

[3] Die Godheid het my geskape soos wat ek is, en het my eers daarna agteraf wette gegee wat ek duidelik nie kon nakom nie, omdat my hele natuur nie daarvoor ingerig is nie! En nou sou ek tot vermaak van die goddelike ondeug ewig gestraf moet word daarvoor, omdat ek kragtens my natuur nie so kon handel, dat dit vir Sy humeur aangenaam was nie. Kort en goed, nou is God en duiwel eenders vir my. Die mag speel met die onmag soos `n kat met `n muis! En presies handel die Godheid so met die mens. `n Mooi lot, om `n mens te wees! Maar nou is dit vir my alles eenders. Waar is die beroerde hoek waar ek vir ewig deur `n steekvlieg gepynig moet word? Ek sal dadelik daarheen gaan en die aller regverdigste Heer Jesus kan dan één of duisend muskiete op my afstuur. My dank daarvoor sal grensloos wees! God se regverdigheid soek haar gelyke in tirannieke willekeur! Maar solank ek in staat is om vry te dink, sal ek so `n kritiek op haar hê dat sy groot oë sal trek. En hoe meer sy my sal kwel, des te harder sal ek op haar skreeu! En nou die beroerde hoek in met my, sodat ek des te vinniger geleentheid kry om met alle krag te vloek!"

[4] Robert sê: "As jy so `n taal uiter, sal ek nie verder met jou praat nie. Die Heer, teen wie jy te velde trek, sal jou wel `n antwoord gee! Ons geeste van Sy genade het die reg om afgedwaalde siele deur die liefde en goddelike wysheid vir die ware, ewige lewe te wen en hulle voor die aanskyn van die Heer te lei, wie se suiwerste lig hulle dan deurstraal en hulle waaragtig opwek tot die ewige, vrye lewe uit Hom en in Hom. Maar wanneer een of ander deur ons swakker geeste gewonne siel `n suiwer duiwel is, het ons geen reg meer om ons verder met hom in te laat nie! Verwag daarom van my niks meer nie; die Heer sal jou wel gee wat jy verdien!"

[5] Hierop wend Robert hom van Dismas af en gaan na sy vriende, wat hulle, vol ergernis oor die onbeskaamdheid van Dismas, maar nie genoeg kan verbaas nie. Sy familie slaan een kruis na die ander en is ontsteld deur sy verstoktheid. Die aanwesige apostels kyk verbitterd en ernstig toe, die aartsvaders huiwer oor hierdie afgryslike mens en Helena ontsteek in toorn oor die monster, soos sy hom noem!

[6] Die brawe Max Olaf slaan met trane in sy oë sy hande ineen en sê: "O God, o God, hoe is dit moontlik dat `n mens, wat tog goed tuis was in die Heilige Skrif, deur suiwer sinlikheid so `n brutale duiwel kan word!? Wie het dit ooit kon dink? Nee God, vir hom om sy eie nietigheid in te sien en dan so `n taal te besig! O Jesus, heilige, liefdevolle, waaragtige, beste Vader! My hart breek van verdriet, dat U so deur `n ellendige aardse wurm so skandelik misken en beledig word, en dit nog wel hier voor ons, U begenadigde kinders! O Heer, Vader Jesus, wreek Uself tog op hierdie ellendeling, want hy vertrap U sigbare genade, wat U hom wil skenk, met egte satansvoete en waag dit om U voor U aangesig te trotseer!!"

[7] Die bekende Marianne slaan sewe kruise oor haar voorhoof, mond en bors en sê dan, nog steeds in die Weense dialek tot die voorgenoemde Frans, wie se oë ook oopgesper is: "Nou sê, het jy dit gehoor?! O, wat `n duiwelse kreatuur. Het `n menslike siel al ooit so-iets gehoor of gesien? Ek is ook `n groot sondares en weet baie goed dat ek niks anders as die hel verdien het nie, maar ek sal nou kan smelt vir ons liewe Heer Jesus, omdat hy tog so goed is. Ek sou op aarde nie so `n groot sondares geword het, as ek `n beter opvoeding ontvang het nie. Maar hierdie duiwelse kreatuur het `n uitstekende opvoeding gehad en het steeds die Heilige Skrif en ander boeke gelees, sodat sy vriende gedink het dat hy na sy dood reguit hemel toe sou gaan! Maar nou kom dit aan die lig wat se duiwel van `n skrifgeleerde hy was! Daar het julle nou sy ware aard. Wag maar, in die hel sal hulle jou wel vertel wat jy werd is! Om so teen ons liewe Heer te spreek, dit het die wêreld nog nie gehoor nie!"

[8] Frans sê: "Ja, ja, ek dink dat die allergrootste duiwel dit nie so sou kon doen nie! As hierdie maaifoedie nie in die hel kom nie, dan word die ergste duiwel nog salig. Jy weet, ek was `n goeie ou gewees en het geen hond iets kwaad toegewens nie, maar hierdie stuk vee sou ek in die hel sien brand sonder dat ek medelye met hom sal hê. Ek dink dat die Heer hom wel sal sê watter uur vir hom geslaan het!"

[9] Daarop sê `n ander vriend vir Frans: "Sê Frans, sou dit nie goed wees as ons beide uit liefde vir ons Heer hierdie lummel eerder sou beetpak en hom sonder genade na buite uitsmyt en hom daar eens en vir altyd afransel, sodat hy `n halwe ewigheid daaraan sou hê!?"

[10] Frans sê: "As ons liewe Heer niks daarop teë het nie, laat ek my nie twee keer nooi nie! Want ek is so giftig teen die vent, dat ek hom in klein stukkies sou kon skeur. Maar wees jy nou maar rustig, want dit lyk my dat die liewe God al gereedstaan om die groot skelm regstreeks in die hel te slinger!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205