Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 112

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Bruno onderrig sy leerlinge. Bedenkinge teen wedergeboorte en vrye wil. Bruno gee hulle opheldering

112 Hierdie lering gee Bruno `n hemelse uitstraling. Hy wend hom dadelik na sy vissies en begin hulle op gepaste wyse te onderrig!

[2] Toe hy sy onderrig beëindig het, sê één van hulle, wat `n nuwe-katoliek is: "Vriend, jou woorde was goed gekies, maar waartoe dien al hierdie diepsinnige teosofiese frases? Kyk, Moses vertel in sy Genesis: Toe God aan Sy skeppingswerk begin het, was dit nag in die hele oneindigheid. En God spreek: "Laat daar lig wees!" en dit word lig in die hele eindelose ruimte! Toe die heelal op hierdie manier verlig was, begin die Almagtige God se Gees eers oor die waters en sy inhoud te sweef, die water en sy chaos te deel en te orden." Dit was werklik `n volkome wyse manier van handel, en is `n God waardig. Jy slaan met ons egter die verkeerde weg in. So spreek jy baie en weloorwoë oor Christus en Sy alleen in Hom wonende Godheid, oor Sy liefde, goedheid en ontferming en eweneens oor Sy nabyheid. Maar wat het ons daaraan? Hoe kan ons beoordeel, of dit werklik Hy is, as geen oog Hom nog te siene gekry het nie!

[3] As jy een of ander mag besit, sê dan ook, net soos die Godheid, "Laat daar lig wees." As ons gesigsvermoë eers gelouter is, dan kom al die ander vanself! Maar as jy vertel wat jy alles kan sien, terwyl ons, behalwe vir jou, niks anders kan sien of hoor nie, hoe kan ons dan geloof heg aan jou woorde? Besin jy daarom en doen vir ons wat ons die meeste nodig het! Dan sal jy hopelik nie teen die orde van die hemele handel nie, aangesien die ordening tog `n voorwaarde is vir die ontstaan van alle dinge!

[4] Ons begryp nog steeds nie waarom ons nou minder sien as in die begin van ons aanwesigheid hier nie! In die begin het ons die ruim saal baie goed gesien, net soos die Heiland Jesus, Robert Blum, Messenhauser, Jellinek, Becher, Leondra, die Patetikus Dismas, sy vriend Max Olaf, en `n paar dosyn van die mooiste danseresse. En nou sien of hoor ons niks van die ander en alles nie. Hoe steek die vurk nou in die hef?

[5] Tot nou toe het jy ons geen antwoord daarop gegee nie, maar wel beloof, dat God, die Heer Self ons almal se oë sou open. Maar nou gebeur daar niks van al hierdie dinge nie! Doen jy daarom dit vir ons, dan sal al die ander vanself kom!"

[6] Bruno sê: "Vriende, nog `n bietjie geduld, dan sal dit gebeur waarna julle so sterk verlang! Jy het God se orde by die skepping van die aarde wel baie wys aan my getoon, maar ek moet nie met julle handel soos wat God met die skepping met die oerseën van Sy ewige idees gedoen het nie, maar net soos `n vroedvrou met `n pasgebore baba. By `n kind is die open van die oë tog nie die eerste wat gedoen word nie, waarom sal dit by julle anders wees? Laat julle julleself eers gewillig uit die moederliggaam van julle sinlikheid help! Dan eers sal dit duidelik word hoeveel goddelike lig julle op één slag kan verdra! En so geskied dit in die Naam van die Heer!"

[7] `n Ander een, wat langs die vorige spreker staan, sê sarkasties en oë vol spot: "Nou toe nou, beste vriend, op hierdie manier het jy nou selfs `n hemelse vroedvrou geword! Jammer dat die heilige verlossingspriesters (Redemptoriste) nog nie so-iets op aarde gehoor het nie! Hulle sou jou miskien reeds as beskermheilige, onder die naam "hemelse vroedvrou" uit hout gesny het en verguld op `n hoofaltaar geplaas het, en sou hulle, voor die lees van `n goeie mis ter ere van jou, `n paar honderd silwerlinge laat betaal vir die verkryging van `n voorspoedige bevalling! Nee, sê ek, wat `n puntenerige kêrel is jy nie, wat weet hoe om hom uit elke moeilike situasie te red!

[8] Sê my eers, ervare beskermheilige insake geboorte-aangeleenthede, hoe dikwels moet `n mensesiel dan eintlik gebore word voordat hy eers kan sê: "Goddank, nou het ek vir goed uit die laaste moederliggaam in die blywende daglig gekruip! Ek glo dat, met jou voorstelling van die hemel, geen enkele siel dit ooit so ver sal bring nie! Geen wonder dat `n Nikodemus, toe Christus hom iets onthul oor die wedergeboorte van die gees, dit noodsaaklik geag het om te vra of hy weer in die moederskoot sou moes terugkruip! Dit lyk my dat julle hele hemelse wysheid uit niks anders as deur geboorte en dood, en dan weer uit wedergeboorte en dus ook uit herhaalde sterwe bestaan en saamgestel is nie. Sê ons tog opreg hoe dikwels jy jou hemelse vroedvrou werk nog vir ons sal verrig, voordat ons werklik ons gesigsvermoë gaan terugkry? Lig, lig, vriend die vroedvrou! Dan sal alles sonder verloskundige werk beter gaan, want sonder lig is al die geswets ouvroupraatjies! Begryp jy dit?"

[9] Bruno sê: "Vriend, met grofhede gaan geen siel dit hier in die ryk van die geeste ver bring nie; laat dit voorlopig in alle erns vir jou gesê wees. Ek sal jou nooit daarvoor veroordeel nie, maar jy sal jou daardeur self steeds meer verwyder van jou uiteindelike bestemming. Waarom vra jy hoe dikwels jy nog uit die moederliggaam gebore moet word, voordat jy tot die heldere waarheid sal kom? Ek sê daarop vir jou: Seker nog honderde kere as jy volhard in jou eiesinnige en growwe gemoedsgesteldheid!

[10] Is dit dan so moeilik om jou eie wil vaarwel te roep, en in die plek daarvan, die wil van die goddelike orde te laat werk en daadwerklik daarin te volhard! Sou jy dit op aarde gedoen gehad het, sou jy ook al lankal uit die laaste moederliggaan gebore gewees het en jou reeds in die waaragtigste lig van alle lig bevind het! Maar jy was nooit te vinde daarvoor om maar ook iets van jou eie geliefde wil op te gee nie. En sodoende moet jy jou laat welgeval dat jy nou blind is netsoos diegene wat, net soos jy was, en helaas nog soos jy is.

[11] Sou jy wil wat God wil, dan sal dit vir jou lig word. Wil jy nog steeds jou eie wil volg, dan sal dit hopeloos lank duur voordat dit met jou sal beter gaan! Het jy hierdie woorde goed begryp?

[12] Die lomperd sê: "Ja, broertjie, heilige vroedvrou, ek het dit begryp! Hoor net hier, jy is nog baie dom en praat maar deurmekaar oor dinge waar daar nóg kop nóg stert sit, en mag daar een of ander kop aan sit, dan is dit een van `n droë stokvis!

[13] Sê net, wie kan dan sy eie wil uitban en dan in die plek daarvan `n vreemde wil in sy siel instop? Dit is merkwaardig dat jy, as `n siende, nie insien dat ek die wil van `n vreemde onmoontlik anders as alleen deur my hoogste eie wil tot myne kan maak nie. Sou ek heeltemal geen eie wil hê nie, dan sou ek wil weet met welke wil ek dit sou kan wil, wat iemand anders, wie dit ookal is, my sal oplê om te wil! Ek het jou altyd as `n bietjie dom beskou, maar dat jy so ontsettend dom sou wees, het ek nooit kon droom nie! Nee, geen wil het, en daarby dan tog vasberade wil wat `n ander wil nie! Dit is nog erger as iemand wat `n landgoed skenk, terwyl hy nie eers die eienaar van `n slakkehuis is nie! Vertel my tog asseblief, het jy hierdie wysheid opgedoen by die H. Ignatius van Loyola. Of het jy dalk jou harsings bedorwe met sleg gebakte skaapvleis?

[14] Maar nou in alle erns! Sê eers eerlik, is jy werklik so dom, of hou jy ons almal, vir jou eie plesier, vir die gek? Kyk, `n mens sonder wil sou tog niks anders wees as `n meganies-organiese horlosie sonder veer of gewig nie. Ek bedoel: `n Mens kan wel sy wil `n tydlank ten dienste van ander stel en hulle wil doen wat die ander wil, of dit nou verstandig of onverstandig is. Om sy eie wil uit te drywe, soos `n swanger vrou haar vrug, en haar vervolgens `n ander wil, by wyse van spreke, laat inplant, dit gaan selfs bokant die horison van die laaste vaste ster! Kap jy maar baie evangelies en goedbedoeld jou hande en tewens ook beide voete af en laat dan `n paar vreemdes daaraan vasmaak; dan sal ons wel sien welke bokspronge jy daarmee sal maak! Dus nou verstandig vriend, verstandig! As jy krag oor het, handel dan tot ons welsyn, maar bespaar ons vir goed jou leë woorde, meester Brunissi-mus!

[15] Bruno doen alles wat moontlik is om sy opgewonde gemoed tot bedaring te bring, maar die lomperd wil nie geheel uit sy hart wyk nie. Nadat hy sy innerlike geleidelik tot bedaring gebring het sê Bruno aan die lomperd: "Vriend, uit jou opsetlike beledigende teenwerping het ek duidelik uitgemaak dat jy my woorde nie in die minste begryp het nie. Ek het julle in die begin tot opregte geduld gemaan, want sonder dit kan geen mens iets waardevol bereik nie. Daarna het ek julle laat sien hoe `n mens slegs vooruit kan kom en sy gewenste doel bereik, wanneer hy sy eie, onbeduidende wil so beteuel, dat hy daarmee die wil van `n wyse in hom kan opneem en dan nie meer die eie, verkeerde, maar uitsluitend die beter vreemde wil daadkragtig in hom laat werk.

[16] Ek dink dat dit tog duidelik moet wees? Maar jy vind hierdie belangrike waarheid slegs dom, omdat jy die saak opneem, asof mens homself totaal willoos moet maak om eers dan `n vreemde wil as die eintlike werkende wil in homself te moet opneem. Wie het jou eintlik so `n leer gegee? Ek weet net so goed soos jy, maar miskien nog beter, dat `n mens sonder `n wil heeltemal nie kan wil wat `n ander wil nie, want `n mens sonder `n wil sou, óf `n dom outomaat óf eenvoudig net `n standbeeld wees! Dit is tog vanself­sprekend dat `n mens sy wil so kan laat oorgaan in die van `n ander, wanneer hy juis met sy eie wil die van `n ander vasbeslote aanvaar en sy handelinge daarop instel!

[17] Die wil is die arm van die menslike behoefte. Wie derhalwe sy wil wil verander, moet eers sy behoeftes verander. Is die traagheid by die mens `n oorgeërfde behoefte, dan maak hierdie behoefte van die siel dit noodsaaklik om niks te doen nie. Is die bevrediging van die vlees die behoefte van die mens, dan moet die siel al die moontlike doen om daarvoor te sorg dat die vlees versadig word. Die mens het egter `n hoër vermoë tot insig, waardeur hy besef hoe skadelik die growwe behoeftes is. Daarmee kan hy sulke onsuiwer behoeftes bestry, en dit ten slotte totaal uitban en in die plek daarvan beter, dit wil sê, die goddelike plaas! Dit beteken dan dat hy die materiële wil vir `n werklike goddelike verruil! Dit is wat ek egter in die naam van die Heer van julle verlang!

[18] Wanneer ek slegs dit en niks anders van julle verlang nie, sê my dan eers om welke rede jy so beledigend ru en grof teen my opgetree het?

[19] Die lompert sê: "Sou jy vroeër so verstandig teenoor ons opgetree het, sou ek jou ook anders tegemoetgekom het! Jy het egter voor dit baie geleerd en ortodoks teen ons geredeneer, sodat ons dit, met die beste wil in die wêreld, nie kon begryp nie! En die onaangename gevolg was dat ek jou daarom namens my talryke broers enkele "komplimente" toegesnou het! Ek trek dit egter weer terug, omdat ek uit jou laaste korrigerende woorde dit begryp het, dat jy tog nie so simpel is as wat ek gedink het nie. Na jou laaste toeligting is die effek heelwat beter daaraan toe, en ons sien nou almal die noodsaaklikheid daarvan in van wat jy vertel het oor die geduld en die vervanging van die menslike wil. Ja, ja, op dié manier sal dit ook kan gebeur, al is dit ook met baie moeite, want `n ou perd laat hom nie so maklik opsaal soos `n jong perd nie. Maar dit gaan nie veel saak maak as die geduld op die regte plek ingespan word nie!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205