Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 126

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die monnik hoor die leer van Christus. Die eens geestelike blinde herken die Heer en Sy genade.

126 Nou hoor die monnik baie saggies die woorde: "Jesus, die gekruisigde, is die enige God oor alle hemele en oor alles wat die oneindige ruimte vul. Hy alleen is die Oerskepper van alle dinge, van alle engele, mense, diere, plante en die hele materie. Hy is die Vader volgens Sy oerewige liefde, die ewige Seun volgens Sy Wysheid en die alleen Heilige Gees volgens Sy oneindige mag, krag en werking!

[2] Wend jou waaragtig en getrou in jou hart tot hierdie Jesus. Het Hom lief, wie jou soseer liefhet, dat Hy uit liefde vir jou, net soos vir alle mense, die menslike natuur aangeneem het en die bitterste dood van sy liggaam oor Hom laat kom het, om vir jou en alle mense `n ewige lewe moontlik te maak.

[3] Die ewige, aan God volkome gelyk, salige lewe is deur Hom alleen moontlik gemaak en as `n oneindige skat gegee aan al die geskapenes. Daar is nou niks anders meer nodig as om na hierdie groot gawe van ons Heilige Vader gewillig en vol liefde te verlang en dankbaar aan te neem nie; dan sal die mens vir ewig as `n tweede god geluksalig in God se geselskap lewe.

[4] God, of wel ons aller Vader Jesus Christus, is die suiwerste liefde wat niemand oordeel nie en iedereen salig wil maak. Die mens moet alleen dit wil wat die Vader se suiwer liefde wil, want God dwing niemand nie en die allerminste in hierdie wêreld van die geeste. Daarom kry elkeen maar dit wat hy self wil. Wat jy dus wil, sal jy ook ontvang.

[5] Daar bestaan egter geen lewe en geen saligheid, behalwe in die suiwer liefde van God nie. Wie dit in homself opgeneem het, en self dit wil wat die liefde wil, die leef en is vir ewig salig."

[6] Toe die monnik hierdie woorde uit die gefluister opgevang het, is hy nie weinig verbaas nie en sê vir homself: "Merkwaardig, `n hele nuwe leer oor God! Dus, geen drie afsonderlike persone nie. Op aarde sou dit die grootste kettery gewees het; `n hemelsbreë verskil met die Rooms-Katolieke leer. Ek vind haar ewewel baie natuurlik en meer opregter as die van die Rooms-Katolieke. Wat my egter ten seerste verbaas, is dat hierdie gees, wat vanuit die lug so wys met my gespreek het, met geen woord gewag gemaak het van die geluksalige maagd Maria en van die ander liewe heiliges, wat mense sou moes aanroep, vanweë hulle magtige voorspraak nie! Dit is glad nie katoliek nie, maar dit maak nie saak nie! Dié onbekende, wat my hoogs waarskynlik die heerlike, goeie brood en die beste wyn laat toekom het, het my ook nou hierdie leer gegee. Die eerste was buitengewoon goed, hierdie leer is ook! Hoe dit ookal sy, ek sal hierdie leer aanneem.

[7] Ek moet openlik toegee dat selfs die duiwel nog salig sou moet word, as hy van so `n leer deurdronge sou wees. Sulke brood word verseker nie in die hel gebak nie en sulke wyn verseker nie gepers nie. Daarom kom alles uit die hemel: Brood, wyn en leer, en ek sal dit aanneem! Maar as dit so is, verheug jou dan maar, julle kardinale en jy, pous! Ek sal baie eienaardig in julle harsings begin spook. Ek wil Jesus solank daarvoor vra, totdat Hy my dit sal toestaan! Goed, ek sal die Roomse leerstelling in die noute drywe en in haar `n lig ontsteek waarvan sy sal huiwer! Maar nou genoeg hieroor. Nou moet die saak baie ernstig tot die Heer gewend word. Dan eers sal die ander daaruit vloei!

[8] Ek sê vir Robert: "Raak nou sy oë aan." Robert doen dit. Die monnik sien nou, tot sy groot verbasing, die groot skare saliges, benewens My, rondom hom versamel, van wie hy egter nog niemand herken nie. Hy kyk hulle beurtelings aan en gedra hom asof hy slaapdronk is!

[9] Na `n rukkie kom die monnik tot besinning en vra baie skugter aan Robert, wat die naaste aan hom staan: "O, hemelse vriend, sê my tog waar ek my bevind, as jy dit nie te erg vind dat ek jou dadelik lastig val met die vraag nie, sê my dan ook beste vriend, met wie ek die eer en genade het om te mag spreek!"

[10] Robert sê: "Jy staan hier op hemelse bodem. En die huis hier, wat hier onbeskryflik groot, pragtig en majestueus voor jou staan, is vir ewig my hemelse woonhuis. Ek is egter nou `n salige gees, wat vir jou op aarde die welbekende, ongelukkige Robert Blum was, en hierdie pragtige vrou aan my sy is deur God die Heer vir ewig aan my verbind. Noudat jy dit weet, sê jy nou, wat jy bo alles wens."

[11] Die monnik sê, terwyl hy sy kop heen en weer skud: "Jy, Robert Blum? Die groot ketter Robert Blum…en in die hemel?…Aha, dit is tog nie heeltemal in die haak nie! En dit sou jou grond en jou huis wees? Is daar dan in die hemel ook stukke grond en huise? Die hemel bestaan tog slegs uit ligte wolke, waarop die hemelbewoners net soos die engele rondswewe, God se aangesig aanskou en aanhoudend roep: "Heilig, heilig, heilig is die Heer Sebaot! Hemel en aarde is vol van Sy heerlikheid. Ere sy God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, Amen! Van dit alles is hier egter geen teken van nie! Hoe kan dit dan die hemel wees? Miskien alleen maar so `n nuwe-katolieke hemel, wat God se genade julle toestaan tot op die jongste dag, om julle tydelik te beloon vir al die goeie, wat julle op aarde gedoen het! Daarna sal hierdie hemel vergaan en verander word na die hel! Die huis sal waarskynlik gebou wees op los sand en nie op `n rots nie. So sal dit dan as nuttelose puin inmekaar stort!

[12] Hierdie saak lyk my nie heeltemal betroubaar te wees nie. Sê my eers, waar is dan vervolgens God, die Heer met sy heilige engele en die ander heiliges, as dit die hemel is?"

[13] Robert sê: "Kyk maar net om jou heen en jy sal die naaste aan jou God, die Heer, en agter Hom die apostels duidelik aanskou en weer daaragter die oervaders van die aarde, wat begin by Adam!"

[14] Die monnik kyk skugter om hom heen en herken meteens vir My, Jesus, die gekruisigde. So ook die apostels wat hy aan die bekende tekens van hulle gewade herken. Hy val skielik voor My neer en sê: "Heer, God, Jesus, as dit U is, wees my arme sondaar genadig en barmhartig, want ek is `n growwe en groot sondaar.”

[15] En Ek sê: "Thomas, staan op, aanskou en leef! Ek is die Alfa en Omega, die eerste en die Laaste! Waarom twyfel jy nog aan My en aan die waarheid van My hemele?"

[16] Die monnik Thomas sê: "O Heer, U vra my, asof ek U iets kan sê wat U nog nie weet nie. Kyk U maar eers in my hart en U sal daarin nog die oerteks vind wat U almagtige regterhand opgeteken het. Uit hierdie teks spreek `n oneindige grootsheid en verhewenheid, sodat my hart U alleen daardeur kon aanvoel. Sy was daarom nooit in staat om U anders voor te stel nie. Elke bekrompe, heers- en hebsugtige voorstelling van U kon nooit daardeur in my hart posvat nie. Om hierdie rede kon ek ook nooit die geloof in die Godheid van Jesus die Gesalfde, eg en heeltemal aanvaar nie, hoewel ek streng genome nooit aan die moontlikheid getwyfel het nie. Tog sou die Godheid van Christus duidelik sigbaar na vore moes getree het, ongeveer soos by die apostels, dan sou ek wel tot `n vaste geloof genoodsaak gewees het! Dit was egter ongetwyfeld om wyse redes nooit die geval nie. Christus of Sy Gees laat altyd toe dat die Roomse leerstellings van Hom mag maak wat hulle maar wil.

[17] Watter meer gewekte gees sou, as hy op die hoogte was van die Rooms-Katolieke teologie, ook maar in die verste verte op die idee kon kom om so `n leer as suiwer Goddelik te beskou? Ek self het van meel duisende egte christusse gemaak en dit grotendeels self opgeëet. Wat moet `n eerlike mens dink van `n leer waaroor iedere Chinees sou skaterlag? Hoe dikwels het ek na `n mis gedink, wanneer ek `n blik werp op die son, of in die aand kyk na die miljarde sterre: "Dis Hy, wat jy vandag deur middel van die gewyde ronde koekie van setmeel tot allerhoogste God gemaak het, en daarna lewend opgeëet het. O, Heer, dit was vir die geloof van `n sterfling bietjies te veel gevra gewees! Wie dit kan glo, is werklik nie te beny nie, want hy kan nie `n sprankie gees besit nie. Ek het wel die sogenaamde erediens, volgens voorskrif, voor die oë van die blinde wêreld verrig, maar ekself kon nouliks daaraan geglo het, omdat die oerteks in my hart en in die hele skepping my altyd iets anders geleer het!

[18] Dat die werklike Christus, wat sulke onsin duld, daardeur by my en nog baie ander in diskrediet geraak het, sal U, o Heer, nog duideliker insien as ek! Nou glo ek weer in U as enigste Godheid, omdat U nou presies so aanwesig is soos U eens op aarde gewandel het, maar in `n setmeel koekie-Christus sal ek nooit glo nie!

[19] Kyk, Heer, so staan dit in my hart geskrywe. Dit is my lewe, soos ek dit goddelik in myself sien. So het ek, arme sondaar, in gebrekkige bewoording aan U, Alwetende, nie anders voorgelê en wat U alreeds ewig helder ingesien het! So geskied dan met my volgens U heilige wil!"

[20] Ek sê: "Goed, My beste Thomas, dit is alles in orde wat jy gespreek het, maar wanneer jy My verwyt, dat Ek nog nooit teen die gruwels van die Roomse kerk `n teenwoord gespreek het nie, doen jy My `n onreg aan! Bekyk tog nou net al die afskeidings van die Roomse kerk; is daar nie geweldige teenkragte nie? Maar dit baat weinig, omdat Ek die draak, terwille van My liefde, nog nie wil oordeel nie. Kyk net verder na die verbreiding van die suiwer woord deur die gedrukte skrif in alle tale. Maar dit baat weinig, omdat ek die draak nie wil oordeel ter wille van My liefde nie. Kyk verder na die te alle tye, deur My gewekte nuwe profete. Hulle oefen `n sterk teenwig uit. Maar dit baat weinig, omdat Ek die draak nog steeds nie wil oordeel nie…ter wille van My liefde. Bekyk dan nog die honderdvoudige verdeemoediging, wat Ek die Roomse kerk as kragtige vermaning op velerlei wyses laat ondergaan het! Maar dit baat eweneens tot nou toe maar weinig, omdat Ek die draak nog steeds nie wil oordeel nie, ter wille van My liefde!

[21] Van nou af aan sal dit met die Roomse kerk baie anders gaan. Haar wêreldlike mag sal sterk aangetas word en dit sal alom geoorloof wees om die stem openlik teen haar te verhef. Sal sy ook nog nie van sulke openbaringe die vrugte pluk nie, dan sal die draak geoordeel word, vanweë die te lang misbruik van My lankmoedigheid!

[22] Ek dink dat jy met die betreffende nalatigheid, wat jy My verwyt het, nou wel in die reine sal wees! Sluit jou dus nou volledig by My aan en gaan saam met ons in die huis in, waar die maaltyd reeds berei is."

[23] Thomas sê: "O ewige Heiland van alle siek siele en geeste, `n maaltyd wat Uself vir U verdienstelike dienare berei het, is ek tog nie waardig nie! Dit sou te veel erbarming vir my wees, omdat ek op aarde steeds grof gesondig het teenoor U. Die huis sal ek wel binnegaan, maar deelneem aan so `n heilige maaltyd sou ek nooit durf nie, omdat ek al te maklik die lot van Judas Iskariot sou kon ondergaan, en dit sou iets verskriklik wees."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205