Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 127

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die dankbare Thomas prys God. Onderrig van die Heer oor die eenvoud van die liefde.

127 Ek sê: "My dierbare Thomas, jy is nog baie dom! Ek het Judas nie opgedra om sy hand saam met My in die skottel met brood te doop nie, want Ek het geweet dat dit hom tot oordeel sou strek, omdat hy onwaardig was om die brood van die lewe saam met My te eet. Vir jou nooi Ek egter uit, omdat Ek in jou niks onwaardig ontdek nie, en daarom kan jy sonder beswaar doen wat Ek van jou verlang. Bowendien hou iedere geregtelike toerekening hier op, omdat elke daad hier sonder meer sy gevolge het in ooreen­stemming met die gees waarin dit begaan word. Omdat elke gees, na gelang van sy dade hier, volkome sy eie regter is, het jy ook van geen enkele kant `n vreemde invloed te vrees nie. Wat jy wil, sal jy ook doen, en daardie handeling sal jou ook oordeel ooreenkomstig jou wil, wat die eintlike dryfveer is van iedere handeling.

[2] Van nou af moet jy geen gewetensbeswaar hê nie. Wanneer jy honger of dors is, sal jy tog iets te ete en te drinke wil hê. As jy egter nie wil eet of drink nie, dan moet jy jou wel die pyn laat welgeval wat die honger en dors as noodsaaklike gevolg saambring. Of sou jy `n skerp gesel ter hand wil neem en jou daarmee tugtig? Dit sal jy tog wel agterweë laat!

[3] Wat jy jouself egter nie wil aandoen nie, sal jy ook nie jou broers wil aandoen nie, want die liefde van jou hart sal sekerlik nooit toelaat dat jy jou broers pyn aandoen nie, omdat dit hier in die geestelike ryk so gesteld is dat elke daad, verrig aan `n tweede, ook met dieselfde gevoel terugwerk op die dader.

[4] Deur hierdie uiteensetting weet jy nou hoe die sake hier inmekaar steek. En Ek dink dat jy nou My uitnodiging sonder gewetensangs kan aanneem, wat jou vir jou hoogste eie beswil kan en sal dien.

[5] Kyk, Ek sal jou kan dwing om oombliklik daarheen te gaan, waar Ek jou wil hê. Indien Ek jou nie met My almag tot die goeie dwing nie, maar alleen deur sagmoedige onderrig jou hart, jou verstand en jou wil versterk, hoeveel te minder sal ek jou dan tot iets slegs wil dwing. Deur My word niks soseer gerespekteer as die volledige vrye wil van die mens nie. Daarom kan jy baie moedig waag om vrywillig dit te doen wat Ek, as jou God, Skepper en Vader, vol magtige liefde van jou verlang."

[6] Thomas sê: "O, liefdevolle Vader, nou is daar geen enkele beswaar in my hart nie. Want U wens sal steeds die heiligste wet van my hart wees. O, hoe sagmoedig is U heilige Vaderwil! Waar is daar `n hart wat hom kan weerstaan? Hoe salig is my hele wese nou, omdat ek U mag volg en omdat U my Self ter syde staan en my aan U Vaderhand lei in die ryk van die ewige lewe. O heilige huis van alle huise wat God betree! Wie kan die groot maaltyd wat God self berei het vir al diegene wat Sy Vaderhart uitverkies het as Sy kinders, voldoende prys? Salige broers en kinders, voel julle dit heeltemal aan, besef julle wel die heilige, diep waarheid, dat ons leraar en leidsman God Self is? Ons is by God, ja, by die groot skepper van die oneindigheid, by die Vader is ons! O, sê eers, voel julle wel diep genoeg wie Hy is wat ons nou Sy huis binnelei?"

[7] Terwyl ons die huis binnegaan, sê Ek: "Goed, goed, My beste seun Thomas! Dit verheug My dat in jou hart gevoelens opkom wat baie ooreenkom met My prysende vurige gedagtes van die Serebyne en Serefyne, wat in ewigheid die uitvoerders is van My wil! Maar hoe verhewe sulke gedagtes ookal is, waarvan weinig geeste die diepte en grootte besef, Ek verkies dit dat My kinders My eg en hartlik "Vader" noem, as wanneer die grootste lofengele My met wysheidsliedere besing en ten slotte totaal uitgeput neersink, as hulle tot die insig kom dat hulle vurigste gedagtes nie eers die soom van My kleed beroer nie, terwyl my eenvoudige kinders salig speel met My hart en My gedagtes, en altyd by My is en aan My tafel die brood van die ware lewe geniet.

[8] Kyk, hulle wat My mag besing en die oneindige groot God prys, is ver van My en beskou My ongeveer op dieselfde manier soos jy op aarde die sterrehemel dikwels baie verhewe besing het, maar daarby nie geweet het wat die deur jou gesonge sterre eintlik was en wat in hulle is nie. Hulle wat egter vir My sê: "O liewe Vader! O my goddelike Broer!" Hulle is by My en selfs in My. Hulle prys My soos kinders hulle eie egte vader en beskou My grootsheid nie meer met heilige skroom vanuit die verte, waarby `n groot kloof hulle steeds van My geskei hou nie. Hulle is egter selfs op die sterre by hulle Vader in die volle genot van die heilige werklikheid, wat nouliks deur jubelende engele vermoed word!

[9] Begryp jy nou die belangrike verskil? En omdat jy dit begryp, is jy nou ook baie gelukkiger as voorheen. Dit is goed en waar en vir My baie meer welgevallig, omdat dit in My ordening lê. Julle sal baie spoedig aan My sy ontsaglike groot werke vol wondere te sien kry. Wanneer jy dan vra: "Wie voel dit diep genoeg wat God is?" sou My liewe kinders jou uitlag en sê: "Maar onnosele broer Thomas, hoeveel onsin praat jy tog nie! Wie kon ooit diep genoeg en ten volle voel en ervaar wat God in wese is? Hoe kan die eindige ooit die oneindige bevat? God is ons aller Vader! Ons het Hom bo alles lief; Hy lei ons en ons sien Hom en sien hoe lief en oneindig goed Hy is! Dit gaan tog baie verder. Om God as Vader bo alles lief te hê, is tog immers oneindig meer werd as om Hom te wil deurgrond. Wat is eintlik meer menswaardiger: Om in gedagtes verdiep te wees en, as `n broer verbygaan, hom deur suiwer ingedagte gladnie opmerk nie, of om die gedagtes aan God, die heilige Vader, opsy te skuif en met `n liewe vriendelike blik die arme broer behulpsaam tegemoet te gaan? Laat ons daarom die grootsheid aan die grootsheid oorlaat. Ons bly egter in die liefde mooi klein bymekaar en sal gelukkiger wees as wanneer die grootsheid hulle geluk soek in die grootsheid!

[10] Kyk Thomas, so sou al hierdie broers met jou praat, daarom bly ons ook bymekaar, want om die hele hemel te sien, hoef mens nie oë te hê wat net so groot is soos die hemel self nie! Begryp jy dit?

[11] Ja, ja, jy begryp dit al, daarom sal ons dadelik met die maaltyd begin, omdat ons onsself nou in die groot saal bevind waar die tafels gedek is."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205