Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 131

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Die groot maaltyd. Die generaal en sy vriend Kernbeiss. Thomas dank hom vir die vroeëre kuur. Blik op die aardse hel.

131 Na hierdie woorde tree Ek uit die deuropening en gee Robert opdrag om, met behulp van die voormalige danseresse, `n toereikende hoeveelheid brood en wyn te oorhandig aan beide lerare, Thomas en Dismas, wat hierdie versterking vervolgens onder die nuwe gaste moet verdeel. Robert doen dit dadelik en wanneer alle gaste buite op hierdie manier versterk was, hoor mens daarop suiwer gejubel en nog eens gejubel en lofprysinge van alle kante. Beide die lerare tree egter, op `n wenk van My, eweneens die tweede saal binne, waar ook hulle die bereide maaltyd nuttig.

[2] Die nuwe gaste kan hulle maar nie genoeg daaroor verbaas hoe dit tog moontlik kan wees, dat hulle so vinnig bedien word nie. `n Naaste vriend van generaal Theowald sê die volgende daarop: "Beste vriend, watter indruk kry jy daarvan dat ons almal, seker meer as drieduisend in getal, slegs deur twee broers, naamlik die voormalige monnik en aan ons die bekende Dismas, eensklaps ryklik van brood en wyn kon voorsien word? Voor dit bring slegs, as ek my nie vergis nie, die berugte Robert Blum met `n paar dosyn ongelooflike mooi meisies, enkele flesse wyn en ook enkele brode. Toe beide die broers begin om uit te deel, het ek by myself gedink: Nou, voordat die twee die geringe aantal flesse en brode aan almal matematies noukeurig uitgedeel het, soos in die leër, sal die eerstes wel weer honger en dors wees, voordat die laastes aan die beurt kom! Maar dit het baie anders verloop. Soos met `n towerslag, het almal `n beker wyn en `n ordentlike stuk goed­smakende hemelbrood in sy hande gehad; die ongeveer dertig flesse wyn was heeltemal leeg en die brood was tot op die laaste krummel verdeel. Sê my nou net, hoe hierdie saak op maar enigsins begryplike wyse moontlik kon gewees het. Vir my is dit `n volslae raaisel!"

[3] Die generaal sê: "Jy, beste vriend Johan von Kernbeiss, soos die mense jou op aarde genoem het, soek dit weer te ver! Dink by dit alles aan die goddelike wysheid en almag, dan kan jy so-iets sonder probleme begryp. Het jy alles op aarde begryp wat jy daar gesien en beleef het? Wie het vir die spanning in jou longe gesorg, wie het jou hart laat klop en die beweging daarvan gevoel in jou pols? Wie het die voedsel in jou maag laat verteer? Wie het daarvoor gesorg dat jy groei? Wie het die oë en wie die ore gebou, en hoe het die Heer al hierdie dinge tot stand gebring? Sien jy, al hierdie en nog duisende ander wonderbaarlike verskynsels het ons daagliks op aarde gesien, maar omdat ons van jongs af aan daaraan gewoond was, en nie veel daaroor nagedink het nie, het die wonderbaarlike van al hierdie verskynsels ons nooit opgeval nie en ons onverskillig daarby laat verbygaan.

[4] Hier egter, waar ons van alle materie verlos is en ons denkvermoë beter in staat is om sy werk ongestoord te doen, moet alle verskynsels in hierdie wêreld ons des te meer opreg verbaas, namate ons meer in staat raak om dit waarlik wonderbaarlik vinnig op te merk. Dat ons egter ons koppe moet breek om die moontlikheid van sulke dinge te begryp, sou suiwer dwaasheid wees, Is dit vir ons verdere heil nodig, dan sal ons twee lerare dit wel vir ons uitlê. As so `n dergelike uitleg nie absoluut noodsaaklik is nie, dan is dit voldoende dat ons weet, dat alle dinge vir `n almagtige God moontlik is! Want kyk, vir my is alles `n ondeurgrondelike wonder!

[5] God, die Heer het ons almal vanuit Sy erbarming op wonderlike wyse die beste aan brood en wyn laat uitdeel en ons het ons oorvloedig daaraan versadig. Waarom moet ons nog weet hoe Hy dit so wonderbaarlik gedoen het? Laat ons die volmaakte goeie Gewer daarvoor dank, dan sal ons vir Hom ook welgevalliger wees as wanneer ons hom met die wysheid van engele wil deurgrond en ontleed!"

[6] Johan Kernbeiss se: "Jy het gelyk en ek is ook jou mening geheel toegedaan, maar die saak bly nog altyd verrassend wonderbaarlik." Die generaal sê: “Sekerlik, dit sal ook geen engel betwis nie, maar ons is nie daar om dit te deurgrond nie, maar om dit te bewonder en dankbaar daarvan te geniet!"

[7] Johan Kermbeiss sê: "Jy is dus nie vir een of ander vooruitgang nie?" Die generaal sê: "O vriend, jy vergis jou as jy dink, dat ek teen `n geestelike vooruitgang sou wees, omdat ek my nie met sinlose ondersoekinge van wonderbaarlike verskynsels wil inlaat nie. O, ek bemin niks soseer as geestelike volmaaktheid nie. Wag nog totdat ons twee lerare weer na ons toe kom, hulle sal jou meer daaroor kan vertel as ek. As ek jou egter meer sou wou sê as wat ek weet, sou ek `n ydele dwaas, of `n leuenagtige grootprater wees.

[8] Kyk, daar kom die twee al aan. Die een eenvoudig en sonder glansrykheid, dit is Dismas, en Thomas, stralend soos egte sonlig! Ek sal jou dadelik as `n hartstogtelike soeker na God se wysheid aan hulle voorstel, as jy wil."

[9] Johan Kernbeiss sê: "Ek smeek jou, moet dit nie doen nie, want ons gesprek moet geheel onder ons bly. Waarom moet die hele hemelse geselskap op hoogte gebring word daarvan? Beide van hulle sou hulle oë oopsper, as ek by hulle met so `n vraag aankom. Swyg daarom liewer heeltemal daaroor! Ek deel nou jou mening volkome en sal daarby bly."

[10] Thomas en Dismas tree nou weer die eerste saal binne, waarin die groot menigte hulle bevind. Generaal Theowald en sy vriend Kernbeiss gaan hom vriendelik tegemoet en spreek namens die hele menigte hulle dankbaarheid jeens die Heer van die heerlikheid uit vir so `n kosbare onthaal. Kernbeiss merk nog spesiaal op, dat alles so wonderbaarlik vinnig afgehandel is.

[11] Die monnik Thomas antwoord egter dat hy sy tans bereikte geestelike voleinding, in die nabyheid van die Heer, hoofsaaklik te danke het aan die kragtige teregwysing van die generaal en daarnaas ook aan die hele menigte, wat hom die goeie diens bewys het, om hom vanweë sy groot domheid, na buite te gesmyt het. Daarop sê Kernbeiss: "Beste vriend, praat maar nie meer daaroor nie, want ek was ook een van hulle wat jou na buite geslinger het; wat maar eenmaal gebeur het, kan nie meer ongedaan gemaak word nie. Dit het my al `n honderd keer berou, maar `n mens raak soms so verhit, dat hy homself nie meer ken nie. Jammer genoeg kan dit ook die beste mense oorkom. Ek dink egter dat as die mensegeeste hulle wedersydse misstappe weer na die beste van hulle vermoë sal goedmaak, mekaar om vergewing vra en ter versoening, mekaar vriendskaplik die hand reik, dat ook ons liewe Vader geen kwade gesig daaroor sal trek nie!"

[12] Thomas sê: "Vanselfsprekend; wanneer die mense hulle teenoor mekaar gedra soos wat dit hoort, dan doen hulle dit ook teenoor God, want God, die Heer wil immers niks anders van die mense hê as dat niemand hom hoër ag as iemand anders nie en dat niemand regter speel oor die ander nie. Ons twee het tog nooit iets teen mekaar gehad nie en het daarom ook niks om vir mekaar te vergewe nie. Dat jy egter hier in die geesteswêreld `n bietjie saamgehelp het om my daaruit te gooi, het tog niks met ons aardse vriendskap te make nie. Dit geld des te minder, omdat jy my daardeur `n uitstekende diens bewys het. Sonder hierdie gebeurtenis sou ek miskien tot op hede nog in my monnike­domheid bly vassteek het, terwyl ek nou teenoor julle begane domheid, deur die genade van die Heer, weer ruimskoots kan goedmaak.

[13] Hoeveel onsin het ek julle nie op aarde voorgeswets nie; sodat sommiges nou selfs hier met een of ander domheid, wat ek met julle as priester gepraat het, opgeskeep sit. Maar dit alles sal weer hier deur my goedgemaak word aan julle. Domhede moet opge­ruim word en in plaas daarvan moet, vir sover dit in my vermoë lê, wyse lesse kom. Hy, wat my die suiwer hemelse amp gegee het, sal julle en vir my vir dié doel versterk!

[14] Deur die genade van die Heer het ek die vermoë ontvang om te sien, wat nou daar op aarde en veral in ons aardse vaderland gebeur. Ook julle sal spoedig berig ontvang via enkele nuwelinge, wat hier sal aankom. Ek sê vir julle: Die grotes, wat egter baie klein was, het hulle behoorlik met die bloed van hulle broers vetgevoer en het weer dik en sterk geword. In plaas van om die Heer te dank vir die oorwinning op hulle vermeende armsalige vyande, weet hulle nou van verwaandheid, hoogmoed en wraaksug nie wat hulle moet doen nie. Die Satan het die hele hel op die toneel van die wêreldpolitiek aan hulle voete gelê. En hulle het die hel aangegryp en handel volgens haar beginsels!

[15] "Oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie! Verdoem niemand nie, sodat jy nie verdoem mag word nie. Wees barmhartig, dan sal jy ook barmhartigheid ondervind!" Dit is die ernstige vermanings wat die Heer die mense op aarde gegee het. Maar ondanks al hierdie ernstige, goddelike wette, doen hulle, wat magtig geword het, met hulle broers wat hulle maar wil. Hulle oordeel, verdoem en dood nou na geloof om hulle mag te laat geld. Spoedig sal verskeie mense, wat in die laaste tyd wreed vermoor is, hier aankom en hulle sal luid begin weeklaag. Julle moet hulle dadelik opneem, troos en kalmeer, en so sal julle julle eerste hemelse taak verrig!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205