Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 134

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Troos beteken vir die tereggesteldes in die eerste plek wraaksug. Uitwerking van die vreemde stemme. Nood leer bid. Die heilsstem.

134 Die graaf sê: "Wat se troos, wie sou ons kan troos? `n Verdienstelike vergelding aan diegene, wat ons sonder bewysbare rede laat vermoor het, dit sou die enigste troos wees vir my en vir julle almal! Alle ander troos is vir my `n gruwel! Dink u dat God my met `n honderd hemele skadeloos sou kon stel vir dit wat ek verloor het, naamlik my vrou, my eer, en my groot vermoë? Ek weet ook goed dat ek alles mettertyd sou moes agterlaat, maar my naam sou glansryk soos die son nog vir `n lang tyd voortbestaan het. Nou sal my naam op aarde egter verbleik en wêreldregters sal hom in latere tye vol leedvermaak onder die galgegeskiedenis opgeteken vind. Dus vergelding, onverbiddelike wraak! Daarom weg met alles wat ook maar enigsins `n sweem het na `n Godheid of na een of ander engelagtige vorm van bemiddeling! Allereers moet ons eer op aarde volkome herstel word en ons moordenaars moet op `n helse manier geoordeel word! Dan eers sal ons oor een of ander versoening voor die tribunaal van alle duiwels praat!

[2] Die meedoënlose sê: "Beste heer graaf, u het u te veel opgewen en daardeur kan u hierdie saak ook nie met die nodige rus en waardigheid beskou nie. Sien u, ek, wat tog meedoënloos streng oordeel, dink baie anders oor die punt van die herstel van ons verlore eer. Wat se eer sou dit vir ons wees om deur so `n skandelike wêreld geëer te word? Ek sê vir u, hierdie aardse diere kon ons geen groter eer bewys het, as deur die manier waarop hulle met ons te werk gegaan het nie. Sou dit dan `n eer wees om deur sulke gemene skurke geëer te word? By God, hierdie wens is vir ewig ver van my hart!

[3] Hoe sou dit wees met die naam van ons edele Blum, as daardie pes van `n vors Windisgrätz nie deur middel van lood en kruit die weg na onsterflikheid vir hom sou gebaan het nie? Gou sou mense nouliks meer iets van hom af geweet het nie. So bly sy naam egter vir alle tye, as `n ware erenaam bewaar, en presies so en nog beter sal dit gaan met ons name! Het ek gelyk of nie?"

[4] Die graaf sê ietwat gerusgestel: "Kyk, dit is `n voortreflike gedagte! Waarlik, ook ek het op die hondewêreld geen eer meer nodig nie. Ja, so `n wêreldse eer sou vir ons maar net die grootste skande wees! U het gelyk, volkome gelyk!"

[5] Na hierdie woorde van die graaf word weer stemme gehoor en nou ook deur die graaf self, wat vir die meedoënlose sê: "Wel, hierdie keer het ek ook stemme, soos van baie mense, gehoor. Dit is nie goed nie! Uiteindelik is ons hier deur vyandige geeste ontdek en hulle sal ons vang en dan êrens in die hel dryf! Hulle moet al baie naby wees. Hoe sou dit wees as ons probeer om êrens heen te vlug. Want verseker is daar vyande voor ons, wat op ons lê en loer!"

[6] Die meedoënlose sê: "Wat dit betref is ek `n ander mening toegedaan. Waarheen sal ons vlug in hierdie ewige nag, waarin ons so `n swak ligskynsel rondom ons bespeur, dat ons mekaar net, net herken? Wie van ons is bekend met hierdie troostelose omgewing? Ons hardloop miskien enkele tree en een tree tot in die oneindige reikende afgrond wat ons genadiglik sal opneem, want hier lyk alles oneindig en ewig te wees. Of ons sou in ons vyande se hande kon hardloop! Die groot massa sou hulle juis daar ophou, vanwaar ons heeltemal geen stemme hoor nie en daar sou ons vreeslik gegryp kan word! Laat ons onsself hier baie rustig hou. Kom daar dan `n klein patrollie in ons omgewing, of `n paar rondsluipende verkenners, dan gryp ons hulle skielik, neem hulle gevange en bring hulle tot swye!"

[7] Iemand anders uit die geselskap sê: "Alles goed en wel, as geeste wel omgebring kan word. Dat dit nie kan wees nie, kan julle almal uitmaak uit die feit, dat ons ook hier presies so verder lewe asof ons nooit gedood is nie. Dit is weliswaar so `n miserabele lewe, maar dit is en bly tog `n lewe!"

[8] Ek dink ons moet ons sonder omhaal gevange laat neem en met ons vermeende vyande gemene saak maak. Dit lyk my trouens dat ons feitlik heeltemal geen vyande kan hê nie, want hoe sou ons anders vyande hier kon maak, as ons, behalwe met mekaar, nog met geen enkele siel in aanraking gekom het nie?

[9] Die graaf sê: "Vriend, dit begryp ek nie. Is daar dan hier in hierdie vervloekte duiwelswêreld dal ook nie `n hele spul Oostenrykse, keisergesinde siele of geeste, wat gelyk is aan duiwels nie? Wie op aarde swart-geel was, sal dit dan ook hier wees en sal dus ons vyande wees."

[10] Die ander sê: "Dit glo ek nie, heer graaf! Net die rykes is swart-geel. Die staat moet hulle eers arm maak en dan word hulle so radikaal soos wolwe! Wanneer hulle eers deur hulle liggaamlike dood alles verloor en daar vir hulle niks oorbly nie behalwe `n ellendige naakte sielelewe, sal ook hulle swart-geel gesindheid, sekerlik skipbreuk ly."

[11] `n Derde sê: "Nou, swart-geel, en geesteswêreld, dit pas mooi bymekaar. Mens moet dit eers bedink, waarom die onderdane van die eintlike Oostenryk swart-geel is. Hulle is swart-geel ten eerste: Uit angs vir die baie bajonette, kanonne en galge. Ten tweede is die rykes, die militêre en die beamptes dit uit eiebelang! Nie die welsyn van die volkere nie, maar suiwer uit eiebelang gaan dit hulle ter harte! Ten derde is baie uit suiwer godsdienstige domheid swart-geel, omdat daar een heilige keiser Leopold sou gewees het en `n vroom Ferdinand, wat alle protestante vervolg het. Die laaste soort sal hulle hier miskien kon handhaaf, maar wat die eerste twee betref, is ek daarvan oortuig dat ons hier geen spoor meer van hulle sal vind nie!"

[12] Die graaf sê: "U het goed gepraat, dit is waar, maar ek bedoel heeltemal iets anders as u, en dit sou mens ook wel hier kan aantref. Dit is: Wraakneem uit heerssugtige boosaardigheid! Ha, ha, wat sê u daarop?" Die derde sê: "Niks anders as: Waar niks is, daar is dit met alle wraak- en heersugtige boosaardigheid gedaan en elke werklike of vermeende reg loop op niks uit nie!" Die graaf sê daarop: "Vriend, die innerlike sataniese kwaadaardigheid is `n vuurwurm, wat nie sterf en wie se vuur nooit gedoof word nie. Ons het hier niks anders as ons eie ellendige bestaan nie, maar vir die egte boosaardigheid kan dit nog veels te min wees. Mens kan daarom maklik aanneem dat dit Sy vurige wens is om dit so ellendiger as moontlik vir ons te maak. Daarom dink ek ook dat ons langsaam, met hande en voete wat rondvoel, van hierdie plek moet weggaan. Kom ons iemand teë, dan vra ons wie hy is. As hy nie vir ons gevaarlik is nie, dan neem ons hom saam. Maak hy egter `n gevaarlike indruk, dan laat ons hom weer gaan!

[13] Maar die beste sou nog wees as ons begin bid. Weliswaar het ek nouliks op aarde iets dommer gevind, as veral die rosekrans en die Latynse gebede, maar hier kom dit vir my voor dat dit miskien goed sou wees om tot een of ander Godheid te bid. U, my vriend, wat op aarde `n Fransiskaan was, sal tog nog wel etlike gebede ken, byvoorbeeld, die "Onse Vader", in Latyn, Duits, Sloweens of Hongaars. Baat dit nie, sal dit ons tog nie kan skaad nie! Wees u daarom so goed om vir ons voor te bid, al is dit maar vir ons plesier!"

[14] Die onbarmhartige Fransiskaan sê: "Wel ja, nou nog mooier! Dit sou beteken: Om die menslike vernuf te dood. As mens dan tog wil bid, moet mens weet tot wie en waarom! Om maar net te bid om die tyd dood te maak, is die grootste en sondigste domheid! Want bestaan daar een of ander wyse God, dan moet so `n dom gemurmel vir Hom nog weersinwekkender voorkom as vir onsself! Bestaan daar egter geen God nie, dan sal dit nog `n groter domheid wees, as ons ons gebede laat weerklink vir absoluut niks. Ek is daarom van mening dat ons voorlopig heeltemal niks meer moet doen nie, maar alles met die grootste moontlike rus moet afwag. So sal ons almal geheel en al voorbereid wees vir dit wat ons moontlik mag oorkom.

[15] Maar nou hoor ek baie naby ook selfs woorde, soos wat dit vir my voorkom. Luister, daaruit sal ons gou kan uitmaak watter geeste hulle in ons nabyheid bevind! Aha, het julle dit gehoor? Ek het die woorde nou duidelik verstaan: "Wend julle in julle harte tot Jesus, die Gekruisigde, dan sal julle gehelp word.”

[16] Daarop sê die graaf dat hy dieselfde woorde gehoor het: "Vriend dit sien mooi daaruit! Met so `n egte Rooms-Katolieke aansporing en `n aanvanklike handel daarvolgens sal ons maar bar weinig geholpe wees. Dit verwonder my alleen dat ons hier net na Jesus en nie tegelykertyd na die hele rits van die heiliges verwys word nie. Ja, ek sou selfs wil beweer dat dit geen alleen saligmakende aansporing was nie, maar so `n Lutheriaanse of Calvinistiese een!"

[17] Die Fransiskaan sê: "Dit maak ook nou niks meer saak nie! Mog daar nou hulp kom vir die wat gehelp wil wees, dan is dit tog om`t ewe met welke middele! As ons nou deur Jesus hulp aangebied word, wat sal ons dan verhinder om dit aan te neem?"

[18] Die graaf sê: "Baie goed, beste vriend! Weet u ook baie seker, dat ons vandaar hulp aangebied word? Sou daar nie nog ander groepe in ons nabyheid kan wees, wat hulle in `n soortgelyke miserabele posisie bevind nie. Allah is groot en die leer van Mohammed, sy profeet, is veelomvattend! Dus kan ons sê: "God, as Hy bestaan, is groot en Jesus, Sy profeet was nog grootser in Sy leer as die Saraseense Mohammed. God weet waar diegene is, vir wie die aansporing nodig is!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205