Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 144

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Heerlikheid en grootte van die huis. Woon Jesus Christus hier? Vurige verlange van die siele na die Heer. Die korrekte vermoede van Miklosch

144 Bathianyi sluit hom regs by die Vreemdeling aan en die Fransiskaan links. Miklosch volg die Vreemdeling as aanvoerder van die res van die geselskap.

[2] Hoe nader hulle aan die huis kom, des te meer val die grootsheid en die onuitspreeklike prag en majesteit van die gebou hulle op. Reeds in die nabyheid van die huis kan Bathianyi homself nie meer self inhou van verwondering nie en sê vol geesdrif: "Vriend, dit kon nóg engele nóg die wysste geeste van alle sterre gebou het, maar dit het God met sy hoogseie hande gebou! Hierdie grootte en daarby die buitengewone estetiese simmetrie (eweredig­heid in afmeting), is met niks anders te vergelyk nie. Ag, dit is meer as wat ons ooit sal kan begryp! Wel, as hierdie huis van alle huise van buite so onuitspreeklik mooi gevorm is, hoe goed sal dit dan nie binne ingerig wees nie?"

[3] Die Fransiskaan sê: "Jy het gelyk! Vergeef my, heer graaf! U het heeltemal gelyk, wou ek sê." Die graaf sê; "Vriend, hou jy maar by die "jy", ek wil van geen titels meer iets weet nie. Ons is van nou af broers!"

[4] Die Fransiskaan sê: "Baie goed, beste vriend, dit was reeds lank my wens, maar nou ter sake! Jy het gelyk. Ek het tog die St. Peterskerk in Rome en die Vatikaan met sy duisend kamers gesien, maar dit alles is nouliks `n slakkehuis vergeleke met hierdie paleis! Met die eerste oogopslag sal, na my skatting, in die reusagtige paleis maklik plek wees vir honderd keer die bevolking van die aarde. Sowel links as regs loop dit byna tot in die oneindigheid in. En wat die hoogte betref lyk dit vir my, dat die gewel byna aan die maan moet grens, want so `n hoogte is alleen in myle uit te druk. O, dit is iets enorm, iets om jou verstand te laat verloor!

[5] Die graaf sê tot die onbekende leier: "Sê ons tog eers, beste goeie vriend, woon die God Jesus Christus in hierdie meer as wêreld omvattende gebou? Want vir één of meer van die saligste en grootste engele sou dit tog veels te groot en pragtig wees! "

[6] Hy, wat vir die geselskap nog `n Vreemdeling is, sê: "Ja, ja, Hyself woon ook dikwels in sulke huise, net soos ook in die huise van Sy vriende en kinders. Maar op hierdie oomblik is Hy nie in die huis nie, maar wanneer julle die huis sal binnetree, sal Hy hoog waarskynlik dadelik verskyn. Julle moet maar net goed oplet, sodat julle Hom kan herken!"

[7] Die graaf sê: "Heilige Christus! O vriend by God, as ek Christus net eenmaal sou kon sien, sou ek daarna geen ander saligheid meer wens nie. Maar dan wel die werklike Christus, en nie so `n Roomse vermomming van Hom nie." Ook die Fransiskaan sê: "Ja, ook ek verlang geen ander saligheid meer nie!"

[8] `n Ander een uit die geselskap tree na vore en sê: "O, ek vra U ook om net eenkeer die Christus te kan sien, en as dit moontlik is, ook die heilige Josef, omdat hy my naamheilige is! Maar as dit nie kan nie, dan hoef dit nie te wees nie; as ek Christus maar net mag sien!"

[9] Die Vreemdeling sê: "Ja, waarom sou jy die Christus dan so graag wil sien, lê My dit eers uit." Hy, wat na vore getree het, sê: "O, daar is nie veel uit te lê nie; wat `n mens bo alles liefhet, wil hy tog ook graag sien!" Die Vreemdeling sê: "Dit is wel waar, maar waarom het jy Christus bo alles lief?" Die man antwoord: "O, dit is baie duidelik: Omdat Christus God is en omdat Hy my verlos het van die hel en ook, omdat Hy so `n goeie Heiland was!" Die Vreemdeling sê: "Maar wat sal jy doen as jy Christus sou sien?" Die na vore getredene sê: "O, dan sal ek van vreugde uitroep: "Heilige Christus!" …en Hom, as ek sou durf, om die hals val!"

[10] Die Vreemdeling sê: "Wel, dan sien Ek nou al, dat jy Christus dit mag aandoen! Maar wat sou jy doen, as Christus jou nie so graag sou wou sien soos wat jy Hom wil nie?" Die aangesprokene sê: "O, dit maak nie saak nie, al is ek nie veel werd nie, Christus sal my tog graag wil sien. Daaroor maak ek my nie bekommerd nie." Die Vreemdeling sê: "My beste, gaan nou maar weer terug na jou kamerade met die versekering, dat die Heer Christus jou miskien tog nog meer sal liefhê as wat jy Hom liefhet!"

[11] Josef gaan nou terug en die Vreemdeling sê vir die graaf: "Luister, hy het met sy hart, in plaas van met sy tong gespreek. Hy is ook die onskuldigste van julle almal en het sy doodstraf op aarde werklik nie verdien nie. Met hierdie mens moet Ek werklik in die besonder rekening hou! Nou is ons egter by die poort; laat ons dadelik die vertrekke van die huis binnegaan!"

[12] Die graaf sê: "Beste vriend, nog één vraag! Sê ons tog, as Christus sal aankom, miskien met miljoene engele, hoe sal ons hom herken? Die Vreemdeling sê: "Verlaat julle alleen op My! Ek het julle al gesê, dat Hy presies soos Ek lyk. Julle hoef My maar aan te kyk en te vergelyk of daar iemand is, wat net so lyk soos Ek, en die een sal dan Hy wees!" Die graaf sê: "Ek dank jou dat jy by ons bly. Dan sal Christus, die Heer ook nie by ons verbygaan, sonder dat ons hom sien nie. Dit is goed, baie goed!"

[13] Miklosch, wat hom agter Hom bevind, sê nou: "Vriende, soos ek sien, is ons `n bietjie blind, ek sê vir julle, ek het `n eienaardige vermoede!" Die Fransiskaan sê: "Wel, wat vermoed jy dan?" Miklosch sê: "Hoe kon ons sulke blinde osse gewees het! Het julle my begryp?" Volslae blinde osse!"

[14] Die graaf sê: "Beste vriende, ons staan nou op die drumpel van die ingang van `n huis, wat op son, aarde en maan sy weergawe nie ken nie. Daarmee sal seker ook die intrede in heeltemal nuwe, nog nooit vermoede lewensomstandighede baie nou verband hou. Omdat die intrede in die wonderbaarlike huis egter versterkende gevolge sal hê, is ek van mening dat broer Miklosch, hom eers duidelik sal moet uitspreek, want sy vermoede kan vir ons van groot belang wees. Wees daarom so goed, broer Miklosch, om ons jou vermoede van naderby te verklaar!"

[15] Miklosch sê: "Ja, my beste vriende, my vermoede is werklik vreemd, maar ek kan dit nie beskryf nie. Dit kom my hier byna so voor, soos die twee wandelende leerlinge wat na Emmaüs loop, toe die Heer Self in hulle midde geloop het en hulle Hom nie herken het nie, alhoewel Hy hulle gewys het op allerlei dinge en hulle onderrig het. Ek sou byna wil wed, dat die vermoede wat my salig stem, meer is as slegs `n strooihalm! Kom tyd, kom raad! Ten slotte sal die waarheid tog aan die lig kom."

[16] Die graaf sê: "Ag, gaan weg, beste vroom dweper! Christus, die Heer, sal vanuit Sy hoogste hemel net so eenvoudig en sonder enige glorie tot ons growwe sondaars neerdaal, soos wat Hy as Menseseun tot die hardvogtige Jode neergedaal het. Sê, hoe kom jy daarby? Bedink tog wie Christus is en wat ons teenoor Hom is, dan sal jy dadelik tot `n ander vermoede kom. Jou mooi vermoede is niks anders as `n Christus-lugkasteeltjie nie, soos wat ek in my jeug ook behoorlik gebou het. Maar wat het dit met die werklikheid te make? Origens beval jou lugkasteeltjie my byna nog beter as die huis. Christus mag hoe goed en minsaam wees, maar of Hy dit vir ons so maklik gaan maak as wat ons onsself met hierdie iddiliese-christelike lugkastele voorstel, sou ek tog sterk wil betwyfel. Het ek gelyk of nie?"

[17] Miklosch sê: "Jy het gelyk, maar tog kan ek my vermoede nie van my afskud nie. Werklik, ek voel my hart bewe!" Die graaf sê: "domoor, myne bewe ook, en hoe! Maar dit is toe te skryf aan die betekenisvolle intrede in die Godshuis en deur die onsekerheid wat ons daar te wagte staan." Miklosch sê: "Ja, jy sal ten slotte tog wel gelyk hê. Ja, dit sal sekerlik so wees!"

[18] Die Vreemdeling sê: "Wel, is julle klaar met julle beraadslaging? " Die graaf sê: "Vriend, is ons nou weer heeltemal met mekaar eens? Dit sou interessant wees om ook van jou op hierdie punt opheldering te kry, maar jy vat die deurhandvatsel al vas. Miskien sal `n geleentheid hom nog wel in die huis voordoen om ons ietwat opheldering daaroor te gee."

[19] Die Vreemdeling sê: "Seer seker, daarvoor sal daar nog genoeg geleentheid wees. Maar nou moet ons dadelik die huis binnetree. Daardeur open julle julle poort na die ewige lewe!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205