Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Lofprysing as gevaar vir die siel. Selfs engelevorste het deemoed nodig vir hulle geestelike vooruitgang. Beken deemoedig jou skuld, terwille van jou welsyn.

37 Ek sê: "Beste vriend en broer! Dit is nou haas nie moontlik nie. Hier in die wêreld van die geeste kan alleen dit in werklikheid sigbaar word wat `n mensesiel in haar hart saam hierheen gebring het. Is die hart egter geestelik heeltemal leeg, soos helaas by jou, ondanks die feit dat jy daarteen protesteer, dan kan daar nie eers `n klein grasveldjie daaruit tevoorskyn kom nie.

[2] Jy sê ook dat Ek baie kan vertel oor die sterrehemel, as om jou jou aardse foute voor te hou. Dit wil Ek graag glo. Iedere siel word vanaf die oerbegin van haar bestaan eerder geprys as berispe, ook al is daar soveel rede daarvoor.

[3] Maar glo My, iedere lof, ook al is dit verdien, is gif vir die siel en dus ook skadelik vir die gees. As Ek jou vyandiggesind sou wees, dan sou Ek jou loof, om jou daardeur ten gronde te rig. Maar omdat Ek beslis jou grootste vriend is, moet Ek daarom alleenlik eerlik met jou praat. Want `n skandelike vlyer is vir iedereen `n gevaarlike vyand, omdat hy onder die vermomming van vriendskap, gewoonlik `n gevaarlike verskeurende wolf verberg. Ek sê vir jou, jy kan jouself nie iets erger aandoen as om jouself lof toe te swaai en jou te verheug oor jou voortreflikheid nie. Want daardeur gee jy jouself `n doodsteek in jou eie hart.

[4] Ek het daarom al My leerlinge ernstig opgedra om hulle nie te laat prys as hulle alles gedoen het wat God maar van hulle verlang het. Ook dan moes hulle ook steeds baie ernstig verstaan dat hulle niks anders as nuttelose knegte was nie.

[5] Waarom het Ek dit van My leerlinge verlang? Omdat alleen Ek maar al te duidelik gesien het wat die siel moet doen om deur die vrymaking van haar gees haarself waarlik vry te maak. In die hele oneindigheid bestaan daar maar één enkele werksame middel om die doel te bereik, en dit heet "deemoed van die hart", in die totale betekenis van die woord!

[6] Die egte, volmaakte deemoed, wat werklik nut het vir die siel, sluit selfs die swakste en mees beskeie selfverheerliking uit, omdat daardeur die eieliefde, wat `n afwending van die Godheid is, voedsel kry, voedsel waarvan die gees ten gronde gaan, wat die egte dood van die siel is.

[7] Wanneer Ek jou ook nog sou prys, ofskoon al jou aardse doen en late goed beskou, slegs My verdiende afkeuring verdien, en daar in jou bowendien nog `n sterk verlange na lofprysinge aanwesig is, waardeur jy My ten minste sover wil bring dat Ek jou wysheid sou waardeer en `n groot respek sou kry vir die skerpte van jou verstand, wat sal dan van jou word?

[8] Neem nou egter eers aan dat dit moontlik sou wees om so iets by My te bewerkstellig: wat sou dit vir jou tot gevolg hê? Niks anders as dat Ek as oorwonne voor jou sou moes wyk nie, omdat jou groter krag My sou onderwerp, wat in die geesteswêreld soveel wil sê as om sy teëstander in te sluk, sodat hy nie meer sigbaar aanwesig is nie. Die gevolg daarvan sou wees dat jy weer heeltemal alleen sou staan, en dit dan uiters moeilik sal wees om ooit weer geselskap te kry. Wanneer Ek iemand sou verlaat, dan sal hy ook vir ewig verlate wees, en dan sal die dood sy siel ewig ten deel val.

[9] So iets is egter absoluut onmoontlik. Selfs die grootste wyse van alle sterre moet tot in die mees innerlike vesel van sy lewe voor My wysheid buig. En dit is heilsaam, selfs vir die diepsinnigste engelegees. Want ook die grootste engele moet deemoedig wees, as hulle volkome salig wil wees, ofskoon die glans van hulle wysheid iedere son tot `n donker klomp maak wanneer hulle in die sfeer van hulle lig kom.

[10] Hoeveel noodsaakliker is egte verdeemoediging dus vir jou, jy wat nog `n gemis het aan alles wat jy ook maar met `n sprankie werklike bestaan sou kon vervul. Beoordeel daarom in die vervolg alles wat Ek jou voorhou noukeuriger en word nie kwaad daaroor nie, maar beken jou skuld teenoor my en verdeemoedig jouself. Dan sal jy binne oomblikke verder kom as in `n duisend jaar!

[11] Dink goed daaroor na en sê My presies wat jy sal doen. Ek sal My van nou af aan daarvolgens rig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205