Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 45

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Robert se magtige getuienis van Christus. Die Weense geselskap

45 Robert sê: "Dit verskaf my `n groot plesier, beste vriende en dapper strydmakkers, dat julle alles nou so gewillig aanneem wat ek julle aangeraai het! Ek gee julle ook die versekering, so waar as wat ek, en ook julle grootste Vriend wat my altyd mog bystaan, dat ek julle nou ook goed oorwoë aanwysings sal gee, waarvoor julle stellig die ware geluk sal bereik van die ewige, onverwoesbare lewe, waarin julle julleself nou, na die aflegging van julle sware liggaam, bevind.

[2] Daar sal trouens nog heelwat nodig wees en julle sal nog heelwat proewe moet deurstaan, voordat julle volledig ryp sal wees vir die groot doel, wat die heilige, ewige Grondlegger van alle bestaan ons aardse mense, wat Hy tot Sy kinders uitverkies het, gestel het.

[3] Maar hou moed en wees volhardend en bewaar `n ware, volmaakte liefde tot Hom, ons ewige heilige Vader! Daarmee sal ons alle gebeurtenisse, wat ons in die war kan bring, maklik oorwin en binne `n kort tydjie die rypheid bereik, waardeur ons Hom in gees en in waarheid sal kan nader!

[4] Broers! Ek, julle trouste vriend Robert, sê vir julle: Wat ek self op aarde nie eers kon vermoed het nie, ontvou nou hier voor my oë so wonderbaarlik, dat geen woorde kan beskryf wat God vir diegene berei het wat Hom liefhet nie! Maar alles wat julle nou sien, is in vergelyking met die see, nog geen doudruppel nie! Want onuitspreeklike dinge wag op ons!

[5] Luister, `n wyse op aarde het eens op `n tyd in groot vervoering gesê: "Wat `n rykdom, wat `n onuitputlike bron van tallose hemele is in die klein hart gelê van diegene, wat op aarde onder alle diere regop loop en homself mens noem! Sou hierdie mens al sy idees deur een goddelike "Laat dit wees" kan verwesenlik, hoe sou dit dan nie iets groots gewees het om mens te wees nie! En tog is die rykdom van al hierdie idees en fantasieë van `n mens, nouliks `n flou afspieëling van die eindelose volheid, diepte en helderheid, van die insig wat iedere diepdenkende mens in God sal kry nie!

[6] Wanneer hierdie wyse egter vir homself so `n verhewe idee kon gevorm het oor die mens, en nog `n meer verhewe idee oor die Godheid, hoeveel te meer het ons die reg om ons heeltemal oor te gee aan die groter idees, omdat ons deur God se genade verhewe is bokant die stof van die ontbinding, en wat ons Christene noem, wat geroep is om binne te gaan in die groot ryk van God.

[7] Jammer genoeg is ons nouliks in naam Christene. Baie van ons skaam ons om selfs Christen genoem te word, waarvan Rome en ons eie domheid eintlik die grootste skuld dra. Maar van nou af aan sal dit nooit meer so wees nie! Dit sal nou die hoogste eer vir ons hart wees, om volledig aan Christus te behoort!

[8] Ek sê vir julle; Christus is alles in alles! Hy is die ewige Alfa en Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde! Hy alleen is die lewe, die waarheid en die weg, vir alle wesens, mense, geeste en engele. In Sy hande rus alle hemele, alle wêrelde, en alles wat op en in Hom leef. Deur Hom en deur Sy ewige Woord kan ons kinders word van Sy Vaderhart en in Hom alles in alles wees! Sonder Hom is daar ewig geen bestaan, geen lewe, geen saligheid nie! Glo julle dit, beste vriende?"

[9] Almal roep: "Ja, ja, ons glo dit! Al sien ons ook nog nie heeltemal in wat jy ons nou verkondig het nie, tog glo ons dit onomstootlik. Want ons weet immers dat jy ons niks sal verkondig wat jy nie self duidelik en met gegronde rede ingesien het nie! Ere aan God in die hoogte, wat jou begiftig het met soveel begrip en insig!

[10] Wat jy ons nou so mooi vertel het oor Christus, het ons almal baie verheug. Weet jy, heimlik het ons onsself baie met Hom opgehou! Maar natuurlik, wanneer die Roomse pape Hom maar al te dikwels niks anders laat doen het as om alle mense, wat nie na hulle pype gedans het nie, reëlreg die hel in te verdoem, dan moes jy jou voor hierdie, andersins so verhewe naam, werklik begin skaam. Want so `n toornige en eiesinnige God, soos wat sommige monnike van die goeie Christus Jesus gemaak het, kon geen sinvolle mens tog aanvaar nie! Rosekranse gebede, litanieë (herhaalde formules), heilige gebede, geestelike oefeninge, verering van relikwieë, eindelose en doellose gebieg, misse betaal en dergelike meer domhede, sou Christus van die mense verlang om die hemel te wen! Broer, dit kan die mens in die 19de eeu tog nie meer aanvaar en aanneem nie, sekerlik nie as `n mens as arme dagloner, maar al te dikwels gesien het hoe hierdie dienare van God aan die altaar, waar hulle hul misse opdreun, hulleself deur al hulle vet nouliks kon draai nie!

[11] Maar die Christus waaroor jy nou gespreek het, aanvaar ons met die grootste bereidwilligheid, en ons is vol vreugde oor Hom. Hy kan ook wel God self wees! Want volgens ons begrippe is Hy goed, wys en magtig genoeg daarvoor! Die egte Christus moes seker `n heel ander wese gewees het, as wat die pape van Rome aan die arme sondaars vir geld verkondig het!

[12] Wat dink jy broer, en wat dink jou Vriend miskien, wat vir ons baie liefdevol voorkom, maar wat tot nou toe nog niks gesê het nie! – ons wil ook die genade hê, om die ware Christus te eniger tyd, al is dit maar van ver af, te siene te kry? Want ons kan nie verlang dat `n Christus, soos wat jy Hom verkondig het, Hom dikwels sou vertoon aan sulke doodgewone mense soos ons nie. As so iets moontlik is, dan sien ons verder van alle ander saligheid af!"

[13] Robert sê: "Beste vriende, ek verseker julle: Die ware Christus, alhoewel Hy die allerhoogste en heiligste Goddelike Wese Self is, is nog steeds dieselfde as wat Hy as mens op die aarde was. Hy het alleen maar `n oog vir wat op aarde eenvoudig was en geminag word, en diegene wat deur die wêreldse mag vervolg was, is Sy vriende en broers! Maar alles wat die wêreld groot en geweldig noem, en waaraan sy haar voorkeur gee, is vir Hom `n gruwel!

[14] Daarom, wees bly, my geliefde broeders, julle sal die werklike Christus nie één keer nie, maar vir altyd sien en Hom mateloos en eindeloos liefhê. Want glo my op my woord: Christus is nou nader aan julle, as wat julle ooit sou wil glo! As ek sou mag, sou ek julle hoofde daarheen kon draai waar Hy hom bevind, en julle sou Hom dan sonder meer kon aanskou. Maar ter wille van julle heil, mag ek dit nog nie doen nie! Wees daarom nog `n bietjie geduldig, totdat julle ietwat ryper is, dan sal dit ook gebeur. Is julle daarmee tevrede?

[15] Almal roep: "Ja, ja, ons is almal volkome tevrede! Ons weet maar al te goed dat ons Sy aanblik nog lank nie waardig is nie, maar ons sal alles wil doen om ons enigsins waardiger vir Hom te maak!

[16] Weet jy, in Wenen was ons tog maar `n spul stommerike! En daarom kan ons onmoontlik so-iets te gou verwag. As die Roomse pape in hulle hellepreke aan hulle toehoorders maar een honderdste van die waarheid sou opgedis het, dan sou ons ronduit ryp gewees het vir die sentrum van die hel! Wanneer God se genade in Christus egter groter is as wat die predikers verkondig het, dan mag ons ook wel hoop hê. Maar daarvoor is nog baie tyd en geduld nodig, en dus is ons tog baie tevrede en dank ons en jou vriend vir hierdie belofte!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205