Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 47

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Intrede in Robert se huis. Geestelike ooreenkoms van die verdiepings. Waarskuwing om versigtig te wees met die Weense gaste. Kommunikasie met die Heer vanuit die hart.

47 Daarop gaan Robert met My die huis binne, wat drie hoë verdiepings, benewens, `n majestueuse, mooi benedeverdieping het. Elke verdieping het egter `n ander kleur en wel as volg: Die benedeverdieping is helder sapgroen, met allerhande wit en rooi versierings. Die eerste verdieping is heeltemal wit en versier met liggeel en blou. Die tweede verdieping is ligblou en versier met violet en roosrooi. En die derde verdieping is so rooi soos die oggendrooi en het absoluut geen versiering nie.

[2] Hierdie uiteenlopende kleurskakering van die hele huis val Robert op en hy vra My stilletjies: "O Heer, moet die tinte en versiering so wees, of is dit slegs `n kwessie van smaak van die bouliede van die streek? Want op aarde, byvoorbeeld op baie plekke van Europa, sou mens so `n boustyl, wat hier trouens pragtig staan, Chinees of selfs dwaas vind! Daarom sou ek graag vir u opheldering wil vra daaroor. Soos U wil, skenk my dan genadiglik enkele woorde uit U heilige mond!"

[3] Ek sê: "Om te begin, My beste broer, moet jy, as jy met my spreek in die teenwoordigheid van jou baie gaste, alleen maar in jou hart spreek, sodat jy My nie voortydig aan hulle verraai nie. Want wanneer hulle My nou sou herken, soos jy, dan sou Ek moet weggaan, omdat hulle nog te min stabiliteit het om my aanwesigheid volledig te kan verdra. As jy egter openlik iets met My wil bespreek om hulle op `n hoër begripsvlak te bring, noem My dan slegs vriend of broer, maar nie Heer nie. Dan sal jy met jou vriende binne `n kort tydjie baie ver kom, wat nou juis My vurige wens is!

[4] Wat jou vraag egter betref, is jy tog genoeg op hoogte met die kleure- en blommetaal en jy weet presies wat die verskillende kleure van die huis beteken. Kyk, daarom is jou vraag oorbodig, veral hier in die teenwoordigheid van al die mense wat nog lank nie moet weet wie Ek is nie.

[5] Neem jy jou in die vervolg goed in ag, veral as jy oor My praat, anders sou jy met die beste bedoelinge tog meer skade as nut teweegbring. Want jy mag nie vertrou op die instemming van hierdie vriende en dink dat hulle, as hulle alles goedvind, hulle volmaaktheid al baie naby is daardeur nie. Ek sê vir jou, dit is altyd juis die teendeel van dit wat jy dink!

[6] Sien, Ek ken mense hier en op aarde, wat My baie beter ken as jy nou. Ek sê vir jou dat Ek vir hulle net so min beteken as `n verslete jas! Hulle liefde vir My is net so sterk, dat dit volledig vergaan by die aanblik van `n ietwat bekoorlike meisie! En daarna het Ek My hande vol om nie by sogenaamde aanhangers heeltemal in die vergetelheid te raak nie!

[7] Sien, juis dit sou ook by hierdie vriende van jou die geval kan wees. Hulle is almal genot- en sensasiesoekers. Wanneer ons hulle steeds wondere sou laat sien, hulle daarby goeie kos sou gee en hulle nog `n paar goed gevormde jong dames sou besorg, waarop hulle hulle groot sinlikheid onbeheers sou kon uitlewe, dan sou hulle ook steeds ons beste vriende bly en ons sou selfs onmisbaar vir hulle word. Maar as ons nou noodsaaklikerwys iets ernstiger begin bespreek, dan sal jy jou hoogstens verbaas hoe hulle ons, die een na die ander, die rug sal toekeer. Hulle sal nog `n swaar dobber vir ons word. Maar deur `n baie wyse begeleiding kan hulle tog gewen word. Ja, Ek sê vir jou in die geheim: Enkeles sal selfs die eerste graad van die hel moet proe om hulle groot begeerte na vrouens kwyt te raak! Ons sal weliswaar net nog alles probeer wat maar met hulle vryheid te verenig is, maar as dit alles nog niks baat nie, dan sal vanselfsprekend na die uiterste middel gegryp word. Wees daarom baie versigtig en verraai My deur geen enkele teken nie. Probeer hulle allereers opmerksaam te maak op hulle sinlikheid en die gevolge daarvan, dan sal ons nog makliker met hulle oor die weg kom. Ek sal My ook met hulle besighou, maar hulle mag, soos gesê, nog lank nie te wete kom wie Ek is nie.

[8] Ek sal jou ook nog in kort vertel wat die verskillende gekleurde verdiepings van jou huis beteken: Die sapgroen benede verdieping stel die geestelik-natuurlike toestand voor, waarvan die vernaamste karaktertrek die is uit hoop, wat omkleed is met geloof en liefde. Die eerste verdieping stel die suiwere en ware geloof voor, wat omkleed is met sagte rus en duursaamheid. Die tweede verdieping stel die daadwerklike liefde voor, wat uit suiwer geloof voortkom: Ooreenkomstig met die aardse kleur van die hemel, waardeur eweneens die duursame, daadwerklike liefde van die lig duidelik herkenbaar verkondig word aan almal wat `n begrypende hart het. Hierdie verdieping is daarom ook versier met diep, hemelse wysheid (violet) en suiwer naasteliefde (roserooi). Die derde verdieping, ten slotte, kenmerk deur haar maagdelike, verhewe morerooi die hoogste onskuld en mees suiwere liefdeshemel; die eintlike volkome ware hemel waarin Ek met diegene wil woon, wat My bo alles liefhet. Hierdie hemel het ook geen versiering nie, omdat dit in sy wese van sy kleur reeds alle denkbare volkomenhede bevat en Ek alleen sy versiering is.

[9] Nou het jy kortliks die korrekte betekenis van die besonder gekleurde inrigting van jou huis. Vra egter nie verder nie, want namate jy in jou huis self van verdieping na verdieping sal hoër gaan, sal dit alles sonder meer vir jou duidelik word, wat jy nou nog nie sal kan begryp nie.

[10] Ons sal nou intrek neem in die onderste verdieping, waar ons onsself sal voorberei vir die eerste verdieping. Ons sal dus voorloop en al die ander ná ons laat binnekom, as hulle dit so wil. Diegene wat nie wil nie, moet dan maar doen wat hulle self wil! Het jy alles goed begryp?

[11] Robert sê: "Ja broer, en ek sal dit ook getrou nakom. Maar merkwaardig is dit tog, dat daar tussen die goedmoedige mense sulke verstokte en ligsinnige tipes sou wees. Werklik, dit is vir my `n groot raaisel!"

[12] Ek sê: "Ja, beste broer, jy gaan jou nog buitengewoon verbaas, as jy te doene kry met allerhande karaktertipes in die geesteswêreld! Jy sal die mooiste teëkom, uiterlik met sneeuwit wol bedek, terwyl hy innerlik louter `n verskeurende wolf, leeuin, hiëna, beer of tier is!

[13] Maar sien, nou is ons al in jou huis en wel in die vernaamste toegangsvertrekke van die onderste verdieping. Hoe geval dit jou?


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205