Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 78

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Waarskuwing om versigtig te wees met half blindes. Aankondiging van `n hemelse raadsvergadering. Die grootsheid, eenvoud en goedheid van die Heer

78 Ek waarsku hulle egter vir `n goeie rede, dat hulle nie voortydig moet laat merk watter besondere genade aan hulle geopenbaar is nie. Hulle begryp My en swyg, terwyl hulle harte steeds meer begin te ontbrand.

[2] Helena het die meeste moeite om te swyg. Maar Jellinek sê vir haar: "Liewe suster, brand innerlik so veel as wat jy wil en soos wat jy kan, maar beheers jou na buite toe, sodat daar geen gerug uitkom by diegene wat hier nog blind van hart is nie. Ons sal nou eers `n groot beraadslaging gaan hou, soos die Heer my in die geheim meegedeel het. En daarby moet ons onsself so rustig as moontlik gedra, sodat hulle wat nog nie insien dat die Heer van alle lewe besonder naby hulle is nie, dit nie merk nie! Dus, wees nou rustig!"

[3] Helena sê: "Wat sê jy, `n geheime beraadslaging? Wat sal dan daar bespreek word? O God, o God, daar moet sekerlik iets gewigtig daaragter sit!"

[4] Jellinek sê: "Ja, ja, iets baie gewigtig. Ek sê vir jou: Wee alle hoogmoediges, heerssugtiges, alle moordenaars en menseslagters, en wee diegene wat op trone sit! Ek het voorheen `n enorme menigte toornige engele met vlammende swaarde op die aarde sien neerkom. En `n stem galm hulle donderend agterna: "My geduld is ten einde! Daarom, geen toegeeflikheid meer nie! Want die grotes soek geen hulp by God nie, maar by hulle baie wapens. En die kleintjies huil en kners tande en keer ook nie terug na God, van wie alle hulp kom nie. Daarom geen verskoning meer nie!" En kyk, daaroor sal beraadslaag word, omdat alle hemel­magte nou in beweging gebring word. Daarom moet jy ekstra rustig wees!"

[5] Helena sê: "Ja, ja, ek is al rustig. Maar wat sal daar uitkom? O, vreeslik, vreeslik!"

[6] Jellinek sê: "Ja, my agtingswaardige suster Helena, hier gaan dit baie anders as in Wenen, waar ons onsself beide, salige gedagtenis, nog in ons liggaam onder die vryheidstryders bevind het! Want hier geld in die waarste sin van die woord: Lewe of dood, hemel of hel! Die Heer van die oneindigheid, die almagtige Skepper, is hier onder ons! En Sy miljarde magtige dienare sal, al is hulle nog onsigbaar vir ons, sekerlik nie ver hiervandaan wag op Sy heilige wenk nie. So kan jy al `n bietjie vaste begrip vorm oor die onuitspreeklike belang van hierdie groot kamer, waarin die Heer van alle hemele en wêrelde met ons, Sy jongste vriende, `n beslissing sal neem, waarvan alle toekomstige tye en ewighede van sal afhang. Nou, wat dink jy by jouself, as jy hierdie saak eers eg in die regte lig beskou?"

[7] Helena sê: "Kyk, beste vriend, ek kan die verskriklike en onbeskryflike belang van hierdie plek nie heeltemal omvat nie! Dit is vir my onbegryplik hoe daar in Hom, wat geen enkele goddelik-almagtige glorie ten toon stel nie, so `n ontsaglike hoë magtige krag en mag aanwesig kan wees. En hoe Hy met één blik die hele ewige oneindigheid, van die grootste tot die kleinste, so skerp oorsien? Hy staan hier te midde van ons, asof ons die enigste is met wie Hy Hom sou besig hou. So totaal beskeie, so goed, voorkomend en onbeskryflik lief in Sy manier van doen. O vriend, wat se oneindige minsaamheid!

[8] En luister, wat `n verskil tussen Hom, die almagtige ewige Heer van die oneindigheid, en die maghebbers van ons stinkende aarde! Hy, wat alles in alles is, is vol deemoed en verhef Hom nooit bo sy eie skepsele nie. Maar die magtiges van die aarde, jy ken hulle goed, wil niks weet van minsaamheid en verdeemoediging nie. Hulle wil alleen alles wees en alles hê; maar al die ander na die duiwel! Werklik, deur sulke regerings moet die anders so pragtige aarde tog noodsaaklikerwys binne die kortste tyd `n ware hel word, waaruit ten slotte geen sterflike mens meer vir die ewige lewe gewen kan word nie!"

[9] Jellinek sê: "Ja, ja, jy oordeel goed en skerp. Maar bedink ook, dat baie dinge by God moontlik is, wat selfs die mees wyse gees hom nooit sou kon voorstel nie; jy sal dan al wat kom en gaan met `n veel geruster hart tegemoet kan loop! Want kyk, diep in die oneindige grootsheid van Sy mag lê nou juis die onmeetlike grootsheid van Sy liefde. As by die Allerhoogste egter die liefde die kern van Sy verhewendheid, mag en grootsheid is, dan hoef ons regtig nie bang te wees vir Sy beslissing nie, al is dit hoe groot! Want wat die magtigste liefde doen, kan tog onmoontlik anders as om maar alleen uiters goed te wees, ook al sou dit hoe afskrikwekkend voorkom!"

[10] Helena sê: "Ek dank jou, groot vriend, vir hierdie les. Werklik, jy het nou `n swaar klip van my hart afgewentel! Maar sê my nog: Wanneer sal die bedoelde bespreking begin?"

[11] Jellinek sê: "Aanstons, liewe suster. Kyk, die groot geselskap Weense proletariërs (arm klas), wat nog geen lig skyn te hê nie, word juis deur Blum daar in `n syvertrek ingelaat. Slegs die vier-en-twintig danseresse, Blum, Messenhauser, Becher, ek, jy en Max Olaf met sy aanhang van twintig persone, en ook die half-Engelsman met `n paar dosyn egte aristokrate daar op die agtergrond in die saal, sal by die beraad aanwesig wees.

[12] Daar uit `n ander vertrek kom nou net twaalf, so te sien, baie wyse manne te voorskyn, en agter hulle nog sewe ander. Hulle sal hoogswaarskynlik ook aan hierdie belangrike vergadering deelneem. En in die middel van hierdie saal, wat blyk om steeds groter te word, staan ook al `n groot tafel. Sodoende is alles al gereed. Verheug jou, onverwyld sal die vergadering nou plegtig begin!"

[13] Na hierdie aanwysing van Jellinek, wend Helena haar baie berouvol en buigend tot op die grond na My, en kan van louter vrees byna geen woord uitbring nie. Maar Ek gryp haar aan die arm en sê vir haar: "Maar My liefste dogter Helena, hoekom trek jy so `n gesig? Vir wie is jy dan so verskriklik bang? Kyk, Ek is tog by jou! Hoe kan jy dan bang wees aan My sy?"

[14] Helena sê: "O, my God en my Heer, as U my maar toegeneë wil bly, kan ek eintlik nie bang wees nie. Maar as ek dan weer U heilige Godheid, wat deur geen sondaar genader mag word nie, in gedagte bring, dan skyn dit my tog dat U mense soos ons, maklik sou kon verdoem, veral as U `n bietjie toornig sou word. Vroeër was ek trouens nie so bang nie, omdat ek toe nog nie geweet het wie U was nie! Ek het U slegs as `n ou heilige beskou en daardeur ook `n intieme vriend van God, wat by God `n nuttige voorspraak vir my sou kon doen. Maar nou, wat `n verskriklike ontgogeling is U, God Almagtige! O wee, o wee, wie sou dan nie bang wees nie?"

[15] Ek sê op die mees goedmoedige toon in die wêreld: "Dus, daarom sit dit jou so vreeslik dwars! Wel, as jy dan nou so vreeslik bang is vir my, dan sal jy ook nie meer van my kan hou nie. Wat moet ek nou doen as jy jou liefde vir My ontsê, omdat Ek die skrikaanjaende Almagtige is? Heleentjie, sê My eers, of jy nou nog soveel vir My omgee as vroeër, toe jy My maar slegs as `n Josef of `n Petrus beskou het?"

[16] Helena, ietwat gerusgestel sê: "O, my God en my Heer! Nou, is dit vir my `n vraag! Wat my liefde vir U aanbetref, kan U sonder meer in my hart kyk, en daar moet tog ook dadelik gesien word of daar, behalwe vir U, ook nog plek vir iemand anders in my hart is! Ek hou van U en daarom hoef U nooit oor my liefde vir U besorg te wees nie. Maar ek mag besorg wees oor U liefde vir my, omdat ek so `n groot sondares is."

[17] Ek sê: "Wel, My liewe Heleentjie, nou sal dit gou in orde wees tussen ons, as jy nou sou probeer om My te omhels en selfs te kus!?"

[18] Heeltemal oorbluf vryf Helena haar oë en sê ten slotte met `n stem wat tril van liefde: Hm, dit sou inderdaad verruklik wees! Ek sou U natuurlik graag oneindig liefhê, as U maar net nie so heilig en almagtig gewees het nie!"

[19] Ek sê: "Ag, dit maak nie saak nie! Doen maar wat jou hart jou ingee en jy sal jou dadelik daarvan oortuig, dat My heiligheid en almag jou nie aan jou neus sal byt nie!"

[20] Toe Helena so minsaam voor My staan, verdwyn al haar angs. Sy werp haar aan my bors, soen dit en sê na `n rukkie: "God, o God, dit doen my baie goed! Kan ek maar so die hele ewigheid by U bly?" Eindelik rig sy haar weer op en sê: "Maar hoe is dit tog moontlik, dat U, my God en Heer, so onbegryplik minsaam kan wees? Nee, dit sou ek op aarde nooit durf dink nie. So goed, deemoedig en lief is U. Wie nie van louter liefde voor U beswyk nie, is werklik geen mens nie!"

[21] Ek sê: "Wel, sien jy, nou is dit weer heeltemal in orde tussen ons twee en daarom is Ek bly! Gaan jy ook nou met My na die vergadertafel. Daar moet jy vlak langs My sit en kan jy ons ook af en toe raad gee oor wat ten einde moet gebeur met die sleg geworde wêreld op aarde!"

[22] Helena sê: "Nee, nee, dit gaan nie! Ek…en raad gee!? Nee…dit sal mooie raad wees!"

[23] Ek sê: "Nou, My liewe Heleentjie, ons sal jou juis nie te veel vra nie. As jy dalk iets verstandig wil ingooi, sê dit dan vir My. Dan sal Ek, as jy dit nie self wil doen nie, dit wel vir die raadsvergadering voorlê."

[24] Helena sê: "O, my God en my Heer, as mense U aankyk en U so eenvoudig hoor praat, dan kan iemand soos ek haar gladnie indink, dat U ons allerliefste Heer en God is nie. Maar tog is U dit, en dit sien ons nou baie duidelik. Maar daarom word ek nou so verlief op U, dat my hart van louter liefde kan bars! Maar U sal dit tog nie vir my kwalik neem, want ek kan immers niks daaraan doen nie. Hoekom is U so liefdevol, innig goed, en so beskeie en minsaam?"

[25] Ek sê: "Wees maar verlief so veel as wat jy wil, dit is vir My goed! Maar al sou jy so verlief op My wees, My liefde vir jou is nog altyd veel sterker. En ook dit maak nie saak nie. Want as God moet Ek nou eenmaal sterker kan liefhê as jy, omdat Ek in die res immers ook sterker is as jy, My liefste Helena!"

[26] Helena sê: "Ek smeek U, wees tog nie so goed vir my nie. Ek sou nog van louter liefde vir U, heeltemal beswyk!"

[27] Ek sê: "Og, maak jou nie bekommerd daaroor nie. As jy so nou en dan `n bietjie swak word, het Ek `n hele spul versterkinge by My, wat jou weer op die been sal help. Wees nie bang daarvoor nie. Maar nou begewe ons onsself na die vergadertafel. Kom dus saam en kom sit hier langs My!"

[28] Helena volg My nou beskeie en word aan tafel, waar die ander ook nou gaan sit het, uit pure verleentheid heeltemal rooi. Maar na `n rukkie begin sy weer op haar gemak te voel in die geselskap en wag aandagtig op die eerste toespraak.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205