Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 81

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Petrus se skerp oordeel oor Rome. Paulus se helder rede oor die genade".

81 Daarop verhef Petrus homself namens al die ander Apostels: "O Heer, my liefde, my lewe! Rome, die ou hoofstad van die heidene, heers nou al so `n duisend jaar lank in `n hiërargie van `n leer wat saamgestel is uit die heidendom, die jodedom en ook uit U beknopte leer. Hulle noem hulle pous die plekbekleder van die Allerhoogste op aarde! Sy troon noem hy sy stoel en op sigself sy opvolger! Hy beweer om in besit te wees van die volle mag van U aller Allerheiligste Gees, maar soek, wanneer hy in sy wêreldlike of geestelike heerskappy deur oproer bedreig word, nooit in sy vermeende krag van die Heilige Gees nie, maar enkel by die groot maghebbers op aarde. Die pous sit nou in groot moeilikheid en roep openlik vir Maria aan as sy enigste vermeende hulp, om beskerming en spoedige herstel van sy ryk. Omdat hy egter nie self in dergelike hulp glo nie, laat hy ook nog ander hulp toe, waarteen hy vir die skyn wel protesteer om die wêreld as`t ware te toon dat hy meer as genoeg beskerming uit die hemele sou hê en dus geen ander hulp nodig het nie. Maar indien die wêreldse maghebbers hom, ondanks al sy proteste, tog wil help, dan moet dit ook duidelik wees, dat sulke hulp heimlik deur die magtige hemelkoningin aangespoor word om die kerk van god op aarde te help, wanneer die poorte van die hel haar bedreig en haar wil oorweldig. Wat sê U Heer, dan wel oor hierdie gemeente?

[2] Broeder Paulus het haar in waarheid en suiwerheid gestig en verskeie eeue lank het sy min of meer suiwer voortbestaan. Maar hierdie gemeente het, sedert byna `n duisend jaar gelede, oorgegaan in `n onsuiwer, selfs boosaardige heidendom, slegs asend op goud, silwer, mag en op die absolute heerskappy oor alle volkere op aarde. En om hulle doel te bereik, stuur hulle hulle sluwe sendelinge na al die windstreke uit. Sê ons, o Heer, sal U dan nooit paal of perk stel op so `n boosaardige handelswyse nie?

[3] Sien, die volkere wat vir so `n lang tyd baie geduldig aan die lyntjie vasgehou is deur die sogenaamde hemeldogter, het nou eers eindelik die moed bymekaar geskraap om haar skitterende masker af te ruk. Nou doen sy al die moontlike om die skeur in haar ou masker te herstel en sover moontlik onherkenbaar te maak. Heer, U wil geskied! Maar ek meen tog, dat U met betrekking tot die ellendige kreatuur genoeg oor die vingers gesien het. Dit sou daarom eintlik tyd wees om haar geheel te skraap uit die boek van die lewe en haar naam oor te bring na die boek van die dooies.

[4] Want laat U haar weer op haar kragte kom, dan sal sy haar nie verbeter nie, maar sy sal haar hoerery met nog meer glans ten toon stel, sodat ook diegene wat U aanhang, aangetrek sal word deur haar weelderige skoot en haar bomatige sindelike hofmakery. En dan sal daar in `n kort tydjie niks anders oorbly as om met haar te doen, wat U destyds genoodsaak was om met Sodom en Gomorra te doen nie.

[5] Dit is ook waar dat uit hierdie aartshoer `n groot aantal pragtige kinders gebore is, en daarom geniet ons gedurende meer as `n duisend jaar ook min of meer ongestoord U groot geduld en toegeeflikheid, en saam met my broers het ek selfs opregte vreugde daaraan beleef.

[6] Nou het sy egter deur haar groot verdorwenheid onvrugbaar geword en sal weinig mooi kinders kan baar. Daarom meen ek dat dit nou tyd geword het om haar haar verdiende loon te gee. Origens mag tog alleen U wil geskied."

[7] Ek sê aan Paulus: "Broer Paulus, sê jy nou ook as leraar van die heidene, of jy met al hierdie sienswyses en voorstelle eens is. Want met betrekking tot die heidene het jy die belangrikste stem. Soos wat Ek julle self belowe het, is dit aan julle gegee om te rig (bestuur) oor die geslagte van die aarde!"

[8] Paulus buig en sê: "Heer, ek het die heidene veelvuldig gade geslaan en ek het U Woord vir hulle gepreek, wat hulle baie gretig en vol vreugde aangeneem het, waardeur hulle U genade deelagtig geword het. En tog was hulle kinders van die vader van die leuen en hoogmoed! Die kinders van Abraham het egter die hoë gesant van God gekruisig en het hom nie herken nie. Ek vra, wie is dan wel lofwaardiger, `n heiden, of `n nakomeling van Abraham? Wat het die jode dan vóór op die heidene? Dat God alleen met dié volk gespreek het, is dit dalk `n verdienste van die volk, of is dit nie veeleer die genade van God nie? Of glo iedere jood dalk, dat God met sy vaders gespreek het? Ek vind onder alle jode en heidene niks, wat ek geregtigheid of verdienste kan noem nie. Alleen God, ons Heer en Vader, is waaragtig en regverdig; alle mense egter, jode en heidene of die teenwoordige Christen, is onbetroubaar en dien gladnie die Allerhoogste nie!

[9] Maar as die heidene in hulle ongeregtigheid nogtans God se geregtigheid prys, oor wie moet ons dan nog rig (bestuur)? Kan U o Heer, daaroor toornig word? O nee, dit is ver weg van U! Want as U daaroor sou toornig word, dan sou U immers onregverdig moet wees en dit is ewig ver van U! Want wie sou dan wel die wêreld in stand hou, as God presies so sou dink soos `n mens?

[10] Wat baat dit ons as ons roep: "Heer, sien tog die ongeregtigheid van U volkere!" Ek sê vir julle: Heeltemal niks! Want ons weet maar al te goed, dat alle mense sondaars voor God is, soos wat daar ook geskrywe staan: "Daar is ook nie een, wat regverdig sou wees voor God nie". Indien ons dit egter weet, hoe kan ons dan nog vir God vra om te oordeel, al sou ons sonder sonde wees?

[11] Sê julle eers vir my, waarop kan daardie mooi vrou aan die Heer se sy haar beroem? Watter verdienste het haar geregverdig voor Hom? En desondanks sit sy langs Hom, louter deur Sy genade! En welke verdienste het ek voor Hom, ek, wat diegene wat in Hom geglo het, vervolg het? Sien, ek was `n boosdoener en was die ongeregtigheid self. Maar God het Hom nie aan my sonde gesteur nie, maar het my beroep asof ek `n regverdige was. En ek het die roep van Sy stem gevolg en was dadelik geregverdig deur Sy genade! Wil julle nou God van ongeregtigheid beskuldig, omdat Hy my genadig was?

[12] Wie van julle kan nou teenoor die Heer beweer dat hy verstandig en wys sou wees? Ek sê vir julle, daar is nie een nie! En tog wil ons Hom tot `n oordeel dwing. Wie van ons kan sê: ek het nog nooit van God afgedwaal en het nog nooit onbekwaam voor Hom geword nie? Ek sê vir julle, onder ons is daar nie één wat een haar beter is as die ander nie, en tog roep ons: O Heer, sien tog eindelik die groot boosheid van die mense op aarde aan en tugtig hulle!"

[13] Wat sou daar gebeur het as die Heer Hom ten slotte verhef het en gespreek soos destyds in die tempel te Jerusalem tot die jode wat `n egbreekster voor Hom gebring het…sou ons onsself ook nie uit die voete gemaak het nie? Ek sê vir julle: Daar is nie een onder ons wat sou kon sê: Heer, ek het maar net die goeie gedoen en is van geen sonde bewus nie. "Ja, wie van ons dwase is, die kan dit sê net soos die fariseër in die tempel, wat God ook geprys het dat Hy hom so buitengewoon opreg gemaak het! Maar soos ons almal weet, het die Heer sy "regverdigheid" verwerp en dié van die sondige tollenaar aanvaar!

[14] Omdat ons egter almal weet wat waarde het vir God, waarom vra ons hom dan om te handel volgens ons maatstawwe, asof ons wyser sou wees as Hy. Wat het ons dan wat ons nie van Hom af ontvang het nie? Waarop beroem ons onsself dan, as sou ons dit nie ontvang het nie, en skreeu Sy ore doof en sê: "Sien, o sien Heer!" Asof Hy doof en blind sou wees, en `n swak verstand en `n swak wil sou hê! O, sê my vriende, watter weë het ons dan nou self aangelê, sonder dat Hy nie al vooraf die onveranderlike plan vooruit geskets het nie?

[15] Aangesien ons nou alles van Hom af gekry het, en omdat ons alles wat ons was, en wat ons nou is, alleen deur Hom en in Hom is, hoe kan ons dan sê: Heer, laat U belofte eindelik in vervulling gaan en verdelg die boosdoeners op aarde!"

[16] Sien, wat daar uit die mond van die mense kom, was nie altyd goed nie. Hulle tonge het altyd leuens gespreek. Hulle voete het hulle altyd gehaas om bloed te vergiet! En hulle weë was altyd vol ongeluk, droefnis, harteleed en kwellinge van allerlei aard. Die ware weg van die vrede het nog geen sterfling egter ooit in sy volle betekenis deurgrond nie, want die vrees vir God was vir hulle soos `n bose droom!

[17] Ons weet egter wat die wet sê, sy spreek teen diegene wat onder die wet gestel is, maar nie tot hulle wat bo die wet staan, of wel nooit van die wet gehoor het nie, deurdat elkeen eintlik die mond gesnoer mag word, en hulle eindelik sal insien dat ons en iedereen altyd teenoor God skuldig is en bly! Begryp tog net dat geen menslike wese ooit deur die wet geregverdig teenoor God kan word nie, ook al sou hy die wet stiptelik vervul! Want deur die wet ontstaan die besef van sonde. Wie die sonde egter ken, die is uit die sonde, en die sonde is in hom!

[18] Ons het ewenwel `n nuwe openbaring ontvang, waarin ons, soos voorheen deur die profete en hulle wette getoon was, die mense ook sonder die toedoen van die wet kan kom tot die ware geregtigheid, wat as enigste voor God geld. Waarom roep ons dan desondanks: "Heer, oordeel hulle en gee hulle hulle verdiende loon en verwyder hulle name uit die boek van die lewe!" Wel sê julle altyd ten slotte:" Maar alleen U wil geskied." Maar dit verontskuldig julle harte nie! Waarlik, ek sou eerder die dood wil ingaan as om vir God te sê: "Heer, doen dit en doen dat! Het ons dan die Heer Sy verstand gegee, of het ons nie veeleer ons verstand van Hom af gekry nie? En tog spreek ons, asof Hy ons raad sou nodig hê! As kinders brabbel ons solank as wat hulle nog onmondig is, is so-iets wel te begryp, maar ou hemelburgers sou na my mening tog moet weet wie hulle is en wie die Heer is!

[19] Wie die sonde wil oordeel, moet self sonder sonde wees, want dit is onmoontlik dat een sondaar die ander kan oordeel. As alle mense dan sondaars voor God is, en die ongeregtigheid hulle aandeel is, met welke reg wil ons dan oordeel?

[20] Ja, ons het wel `n geregtigheid wat geld voor die aangesig van God. Maar dit kom nie voort uit ons insig oor die sonde en nie-sonde, en ook nie uit die wet en die werke daarvan nie, maar uit geloof in Hom en uit die suiwere liefde tot Hom! En hierdie geregtigheid heet "genade" en goddelike erbarming!"

[21] Daar bestaan voor God geen verskil tussen mense en mense nie, want hulle is almal sondaars, hoe dan ook, en hulle het niks waarop hulle hulleself teenoor God kan roem nie! Wanneer hulle egter op grond van hulle geloof deur God aangeneem word, word hulle tog geregverdig sonder enige verdienste, maar suiwer deur Sy genade, wat voortkom uit Sy hoogste eie verlossingswerk. Ewemin as wat ons God gehelp het om die wêreld en alle hemele te skep, kan ons Hom behulpsaam wees by die nog groter werk van die verlossing! Indien ons aan die tweede en grootste skepping en vernuwing van alle dinge onmoontlik `n verdienstelike aandeel kan hê nie, juis omdat ons self die verlostes is, hoe sou ons dan aan die alleen Almagtige toekomende regterskap wil deelneem, terwyl ons tog self die begenadigdes en die verlostes is?

[22] Ken julle egter die ware regterstoel van God? Sien, dit is Christus self. Die volheid van God leef vir ewig liggaamlik in Hom! Hierdie regterstoel van Christus het egter deur Sy eie werk `n genadestoel geword en kan genadig wees vir wie Hy wil, en barmhartig vir wie Hy barmhartig wil wees!

[23] Maar waar bly ons glorie egter as gevolg daarvan? Deur welke werke van die wet sou Hy ons tegemoet kom? Bestaan daar dan `n wet sonder sonde of `n sonde sonder wet?

[24] Ons het tog een roem en een geregtigheid! Maar dit kom nie voort uit die wet nie, nóg uit die handeling daarvolgens, maar suiwer deur Sy genade, wat jy deelagtig word deur die geloof in Hom en Sy verlossingswerk! Maar hierdie geregtigheid voor God gee ons nogtans nie die reg om met Hom regsitting te hou nie, omdat ons, soos wat ons hier hoogs begenadig is, voor Hom dieselfde sondaars is as wat ons nog altyd was.

[25] Aangesien ons slegs uit die geloof teenoor God geregverdig is, en nie deur die nalewe van die wet nie, sou die geloof die wet daardeur ophef?? O, nee, ver van dit! Want die geloof verhef die wet en maak haar lewend!! Maar die wet verhef nie die geloof nie, maar maak dit dood, as jy nie vooraf deur die geloof lewend geword het nie.

[26] Die lewe van die geloof is egter die liefde!! En die lewende wet is die orde van die liefde! As die geloof dan eg is, dan is alles eg. As die geloof egter oneg is, dan is ook die liefde oneg en is dan so goed as geen ordening nie.

[27] Wie kan iets daaraan doen, as iemand `n verkeerde geloof meekry vanuit `n verkeerde leer? Ek sê, vir wie so glo soos wat vir hom geleer is, is so `n geloof nie verkeerd nie, en hy sal genade vind! Maar wee daardie leraar wat `n valse leer verkondig het! Want hy is `n boosdoener en `n versteurder van die goddelike ordening! Nie ons nie, maar die Heer alleen kan hom oordeel!

[28] Toe die grootste en suiwerste van alle geskape geeste op die Sinaï met Satan gestry het oor die liggaam van Moses, en soos dit aan ons oor broer Moses bekend is, geen veroordeling uitgespreek het nie, desondanks dat dit die magtigste gees van Satan was, maar die gees spreek tot hom en sê: "Die Heer sal jou oordeel!" As selfs Michael self geen oordeel oor Satan hom mog aanmatig nie, hoe sou ons dan oor ons broers kan oordeel of die Heer tot `n oordeel wil beweeg? O, dit is ver van ons af!

[29] Ek sê egter: "Die Heer handel en regeer alreeds baie lank en het nie op ons raad gewag nie! Beskou hierdie aangeleentheid daarom as nietig! Maar wanneer die Heer tot julle sal sê: Doen dit en doen dat, laat dan julle hele wese louter in die daad volgens Sy woord! Want die Woord van God is al die volledige daad in julle harte!

[30] U, O Heer, dank ek, omdat U hierdie woorde in my hart gelê het. Mag dit tog op hierdie aarde en net soos in die hemele die beste vrugte dra. Aan U alleen ewig alle eer en alle lof! Amein."

[31] Ek sê: "Paulus, jy is soos My regterarm en My regteroog. Jou het Ek tot My werktuig uitverkies en dit sal jy ook ewig bly. Jy het heeltemal korrek gespreek, en dit is soos wat jy gesê het!

[32] Maar desondanks sal ons hierdie nuwelinge hier ook nog vra wat hulle mening is, en ons sal daarna `n korrekte beslissing neem.

[33] Daarom, spreek jy nou, Robert Blum, sê jy wat ons met die aarde moet doen, wat soveel onregverdige bloed opgelewer het? Welke genoegdoening verlang jy van haar en haar maghebbers, wat jou veroordeel het!?


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205