Van die Hel tot die Hemel - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 84

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151.

Helena se mening oor die weg tot heil vir die mense op aarde

84 Helena sê: "O Heer, die mooiste lewensblom van my hart, my lewe, my alles! Kyk in my hart wat U bo alles liefhet en U alsiende oog sal daarin alles vind wat ek het en wat ek dink. O my soete, beste, wyse, magtigste en ook…bowe alles beminningswaardige Heer Jesus! Kyk, ek is so verlief op U, dat ek van louter liefde nie in staat is om te spreek nie! Maar daar agter ons sit en staan nog `n groot menigte. Miskien sou hulle ook ten beste hulle mening kan gee. Met my is daar nou niks mee te begin nie. Want kyk, my liefste Heer, ek voel my nou werklik te swak uit pure liefde vir U. Bedink dit tog eers, `n arme Weense meisie, sit hier langs U, wat die enigste Heer is van Hemel en Aarde. En vlak langs my sit Adam en die ander aartsvaders. Dit is vir `n arme siel soos ek tog geen grap nie! Daarom smeek ek U, laat die ander tog eers praat. Miskien skiet daar agterna tog iets verstandig my te binne!"

[2] Ek sê: "Ja My liefste Helena, Ek weet dat jy my bo alles liefhet, wat My grootste vreugde is, maar wat die ander gaste hier betref, sê ek jou slegs; wie eerste gekom het, het die eerste reg om te spreek. Hulle sal naderhand ook spreek, hulle sal nie oorgeslaan word nie. Maar jy moet eers spreek, omdat jy van die eerstes by My was en My so innig liefhet! Bowendien het jy deelgeneem aan die stryd in Wenen en het jy daar jou aardse lewe ingeskiet, wat toe vir jou baie ongeleë gekom het. Daarom moet jy ook praat oor die saak, wat jouself soveel skade berokken het. Skep dus goeie moed en praat, soos wat dit in jou opkom. Ek sal weet om die beste daaruit te haal!"

[3] Helena sê: "O wee, O wee, O my Heer, as U eenmaal iets wil, dan moet dit gebeur, al sou Hemel en Aarde ook daarby vergaan! Maar nou sal ek U tog beetkry! In my skiet nou net te binne hoe die apostel Paulus eens gesê het, vir wie U die woorde in die mond gelê het, dat geen vrou in die raad van die gemeente iets sou mag sê nie, maar slegs die manne. Hoe sou ek hier in die verhewe geselskap van slegs manne dit kan waag om ook iets te sê? U wou my slegs beproef het, omdat U my praatsug ken. Maar Helena, wat U bo alles liefhet, het heelwat verstandiger geword en trap nie maklik in die slagyster nie. Hou jy, my mondjie, jou maar mooi stil en sê nie veel nie, anders kry Paulus jou vandag nog voor stok!"

[4] Paulus glimlag oor hierdie ietwat komiese verontskuldiging van Helena.

[5] Ek sê egter: "Liefste Helena, jy meen weliswaar dat Ek jou nie kan aanvat nie, maar Ek het jou eintlik alreeds gegryp en jy kan My nie meer ontsnap nie, en sal selfs moet spreek volgens die uitdruklike gebod van Paulus en volgens My gebod wat nog hoër staan as die van Paulus en waarvan niemand kan ontkom nie. Kyk, in een brief aan die Romeine beveel Paulus Febè aan, wat die gemeente te Kenchreë in My diens voorgegaan het. Ook beveel hy om dieselfde rede vir Priscilla aan, groet `n sekere Maria wat eweneens net so baie gewerk het in My Naam, en eweneens Tryféna, Tryfosa en sy geliefde Persis, wat met woord en daad baie in My Naam gewerk het.

[6] Sien jy, beste Helena, teen sulke vroue het Paulus geen spreekverbod in die gemeente opgelê nie, maar alleen aan diegene wat vanuit `n sekere hoogmoed in die gemeente sitting het en die reg van spraak wou hê, asof hulle wis en begryp wat die ander weet en begryp wat in MY Gees wedergebore is. Indien daar egter `n vrou is wat vervul is met My Gees, wat in `n man of vrou tog dieselfde is, mag sy, en moet sy spreek soos wat die Gees dit van haar verlang!

[7] My apostels het die eerste Christen gemeente gevorm en hulle was die voortreflikste in die wêreld, omdat dit regstreeks deur My gestig was. Toe Ek die derde dag weer uit die graf opgestaan het, wie het Ek ten eerste na die broers gestuur om aan hulle My opstanding te verkondig. Dit was `n vrou, so ongeveer van dieselfde morele geaardheid soos jy. Wel nou, as die later toegevoegde gebod van Paulus op die wêreldse vroue oral van toepassing gemaak moet word, dit wil sê, ook op die Heer se welgevallige vroue, hoe het `n ene Magdalena dit ooit kon waag om self op te tree as bode vir My eerste Apostels?!

[8] Bowendien het Ek ook eens vir die Saduseërs aangetoon dat in die Hemelryk alle aardse verskille ophou om te bestaan, dit wil sê, die aardse regte deur geslag. Alles is gelyk aan die Heer se engele en hulle geniet dieselfde reg, naamlik, om die Almagtige se kinders te wees.

[9] En so staan dit ook met jou, My allerliefste Helena! Alhoewel jou beskeidenheid My groot genoegdoening verskaf, sal jy tog moet praat. En wel omdat jy, net soos Adam wat langs jou sit, voor My dieselfde reg van spraak het. Begin dan nou maar rustig te praat.

[10] Helena sê: "Wel, wel, ek sien nou duidelik in dat U nie gevang kan word nie. Ja, merkwaardig. U wysheid en die van ons, dit skyn baie merkwaardig twee verskillende soorte van wyshede te wees, o ja, wat `n verskil! Nee, met verontskuldigings kan mens nie teen U opkom nie. Maar `n egte hartlike versoek, sou U nie kan afbring van U eenmaal uitgesproke wens nie?"

[11] Ek sê: "Ja, My liefste Helena, met `n regte versoek kan mens wel baie met My bereik, maar nie alles nie. Sien, as iemand op die aarde baie plesier aan sy lewe het, sodat hy ewig daar sou wou lewe, en hy sou My baie nadruklik daarvoor vra, dan sal Ek geen gehoor aan so `n bede kan gee nie, omdat dit teen My orde sou ingaan. En ewemin sal Ek jou bede, om af te sien van jou spreekbeurt, kan verhoor nie. Maak nou maar jou mooi mondjie oop en spreek soos wat dit in jou opkom."

[12] Helena sê: "Wel nou, in U Naam, omdat U, my hemelse geliefde, dit absoluut so wil hê, sal ek dan tog praat. Maar weet U, as ek te dom klink, help my dan verder aan, sodat ek teenoor U en hierdie hoë persoonlikhede van die aarde nie te veel beskaamd staan nie. Ek sal nou maar dadelik begin om my mening ten beste te gee.

[13] Op aarde is `n klein aantal mense te hoog geplaas en hulle besit te veel. Die grootste aantal, daarenteen, is te laag geplaas en besit min of heeltemal niks, of in ieder geval veels te min in verhouding met diegene wat te veel besit. Die noodsaaklike gevolge daarvan is: Die hooggeplaastes, wat verreweg die kleinste groep vorm, sien met veragting neer op die laer stande, omdat hulle alreeds die spookbeelde as `n moontlikheid voorhou dat die gewone, armoedige volk hulle kan verenig en in een groep sou kon uitreik na die oorvloed en welvaart van die grotes en die rykes. Om dit egter soveel moontlik te voorkom, ontbreek daar geen enkele middel by hulle nie. Die gees moet onderdruk word, hoe en waar dit maar moontlik is; deur allerhande streke, deur die totale onderdrukking van die drukpers, deur die verbied van beter boeke, selfs van die Bybel. Wie daarteen opstaan, word gestraf, en dit nie net op een manier nie, dat hoor en sien daarby vergaan! Wie kan onder hierdie omstandighede daarin slaag om sy gees op te wek?

[14] Aan die ander kant word alles aanvaar wat maar kan bydra tot die doodmaak van die gees. Soos byvoorbeeld, alle soorte ontug, al word daar vir die skyn openlik deur die polisie daarteen opgetree. Verder word dit toegelaat om liederlik te lewe en te swelg soveel as wat die arme, onopgevoede mensdom maar wil, omdat ook die genotsug, `n baie nadelige invloed op die gees het. Ewe-eens word komediese toneelspel toegelaat, en daarin mag dit so hittig gaan as wat maar moontlik is. As daar net nie politieke ondertone of geestelike opwekkende dinge daarin voorkom nie, kan die voorstelling sonder enige beswaar voortgaan, omdat dit `n deurslaggewende invloed op die gees het!

[15] Sou `n gees egter, ondanks al hierdie milde afstompende middele, hom tog wil verhef, of as daar soms hier en daar blyke is dat hy van goddelike afkoms is, dan word daar strenger maatreëls getref, waardeur so `n gees se goddelike afkoms hom duur te staan kom. Becher en sy vriende is die lewende getuies daarvan van hoe die grotes van die aarde iedere openlike verset van `n gees behandel. Hulle sê: "O, daar het ons weer so `n hemelse mensevriend! Dus maar vinnig na die hemelryk met hom, deur middel van die strop of vuurkrag!" Wie dit waag om die waarheid te praat, kry dadelik die titel van; "Uitskot van die mensdom!" en hulle plaas `n prys van etlike goudstukke op sy kop. Kry hulle hom in die hande, dan sou dit beter vir hom en sy vrye gees gewees het, as hy nooit gebore was nie!

[16] Kyk Heer, so staan die sake met die arme mensdom op aarde! Is dit dan `n wonder as hulle ten slotte in opstand kom en wraak neem op hulle wat al vir soveel eeue die kwelgeeste en uitsuiers was? Noudat ek tog moet praat, beken ek openlik dat die mensdom die volste reg het om hulle op die manier te verset, en dat dit nou ook die allerhoogste tyd is om die grotes, wat nie `n sprankie liefde voel vir die mense nie, hulle verderflike magsposisie te ontneem en hulle vir goed van die aardbodem te verban. Die grotes moet afdaal en die wat te veel het, moet dit deel met hulle armer broers. Van die baie ruim kastele moet verander word in armhuise, en hulleself tot mense! Vir die armes moet daar skole kom en onderwysers wat goed opgelei is in U Gees, O Heer, anders sal dit nooit op aarde beter word nie, maar alleen van dag tot dag nog slegter. Want die grotes word nog meer hardvogtiger en tirannies en die haat van die geringes sal groei soos `n rollende sneeustorting. Wanneer U, O Heer, nie gou op `n beslissende manier op die aarde gaan ingryp nie, dan is dit, ten minste aards gesien, en in lande wat vir my bekend is, volkome met alle mense gedaan, wat tog sekerlik nie U wil kan wees nie!

[17] Of kan U, O Heer, `n plesier daarin hê dat mense mekaar soos wilde diere by die duisende afmaai? En dit alleen omdat die grotes selfs nie ter wille van die miljoene menselewens ook maar iets van hulle rykdom en heerssug wil prysgee nie. Hulle dink naamlik dat die mense alles van hulle wil afneem, wat egter `n volkome verkeerde idee is. Want ek is daarvan oortuig dat, wanneer hulle die arme volkere vriendelik tegemoet sou kom, hulle dan daarvoor op die hande gedra sou word. Maar wanneer hulle die volkere bedrieglike konsessies gee, as die mense hulle in groot massas opsweep en uit wanhoop hulle wil verhef en hulle ernstig bedreig, terwyl hulle die afgedwingde beloftes slegs vir die skyn so lank ophou, totdat hulle die toesegging deur hulle versamelde militêre masjien op die kenmerkende wyse weer oorboord kan gooi, dan is dit immers heel begryplik, dat die volk alle vertroue in hulle verloor het. Deurdat die opregte vertroue tussen volkere en regente nie meer herstel kan word nie, bly daar volgens my niks anders oor as om die volkere van hulle forte te bevry en in hulle plek waaragtige, deur God verligte leiers aan te stel nie, wat self as egte mense ook die menswaardigheid van hulle broers sal eerbiedig en alles sal doen om die gees in iedere mensehart waarlik tot lewe te bring. Dit moet gebeur! En gebeur dit nie, dan sal U, O Heer, net soveel moeilikheid met die mense op aarde hê soos nou met ons, wat ondanks U groot genade, nog so dom soos koeie staan en rondkyk! U moet ten slotte ook genoeg kan kry as hier elke oomblik duisende oerdomme wesens aankom, wat net soveel van U weet as die dom vee op die aarde!

[18] Wees daarom ook vir die arme aarde weer één keer goed, soos wat U hier vir ons is, en laat U aanhangers nie meer gekruisig word deur hulle wat U, net soos eertyds, sonder enige bedenkinge sou kruisig, wanneer U weer na die aarde sou terugkeer en teen hulle sal ywer nie, soos wat U eens teen die Fariseërs geywer het! Laat U geld, O Heer, bewerk die aarde en bemes haar in alle erns met U volle genade, anders sal dit weldra `n verskriklike gruwel van die verwoesting word! Kyk, Almagtige, my liefste Jesus, U sê tog self dat ek U beminde Helena is! As ek dan hierdie allerhoogste benaming dan nou waardig is, doen U, as enigste geliefde van my hart, dit dan ter wille van my!

[19] Ek wil U weliswaar, net soos die sprekers voor my, nie voorskryf nie, maar alleen my mening gee waarvolgens nou tog iets beslissend moet gebeur. U alleen is ontsettend wys en sien die allerbeste in wat daar nou moet gebeur. Hierdie wysheid besit ek nie en daarom kan ek dan nie vir U wyse raad gee nie. Maar volgens menslike maatstawwe staan die sake nou eenmaal so, en my menslike insig sien slegs die genoemde moontlikheid tot redding. Vir U sal daar talryk bekend wees; doen U daarom maar wat die beste is."

[20] As ek heeltemal onsinnig gepraat het, dan is dit nie my skuld nie, want dan moes U my maar aan my mou getrek het! Omdat U daarenteen meer as een keer vir my geglimlag het, dink ek dat ek tog nie so baie onsinnig gepraat het nie? Origens sou dit geen wonder wees nie, want met `n geestelike ontwikkeling, soos dit wat ek op aarde gekry het, kan `n mens werklik geen Catharina van Siena word nie! My aanwesigheid hier is maar nouliks toereikend om U, al is dit maar baie oppervlakkig, te ken.

[21] Ek het nou, volgens U wil gehandel en het my sienswyse uitgespreek. Aan U, o Heer, is alles opgedra! Die domme dinge wat ek gesê het, sal U wel korrigeer. Ek vra U net, dat U nie vir my, na al my gebabbel, minder sal liefhê as voorheen nie. Al my liefde, my lewe en my hele bestaan lê ek vir ewig aan U voete! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205