Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 119

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die Heer stel Hom voor aan die liefhebbendes. Die blinde hart begryp meer as die ontwikkelde verstand. Groot seëning op die berg

269 Maria sê: “O, jy moet wel `n besondere groot vriend van die Heer wees, omdat soveel mag aan jou gegee is! Ook jou manier van onderrig is heeltemal dieselfde as die van die Heer, Jy lyk my slegs ietwat strenger as die Heer Self. Wie daarom goed met jou oor die weg kan kom, kan seker ook met die Heer goed oor die weg kom.”

[2] Ek sê: “Waarom vind jy My dan strenger as die Heer self?” Maria sê: “Omdat dit jou, in `n sekere sin, genoegdoening skyn te gee om die hele aarde spoedig in stof en as voor jou te sien lê. Straf die ryk woekeraars en help die armes in die Naam van die Heer, dan sal die aarde haar weer goed ontwikkel.” Ek sê: “Ja, so sal dit ook geskied; jy sal gelyk hê. Hierdie keer sal daar `n oordeel oor die woekeraars kom. Hierdie molle van die aarde sal saam met hulle bedrieglike praktyke, deur die vloed van God se toorn verdrink word.

[3] O, My geliefde, Ek hoor baie goed die gekla en geween van die armes. Ek sien die bakkers, meulenaars en slagters wat die ergste woeker bedrywe, maar hulle maak asof hulle die volgende dag tot bedelaars sou kon word. Hulle maak asof hulle nie genoeg wins maak om `n lepel sop te koop nie. My liewe Maria, dit is `n ten hemel skreiende onreg. En so maak byna almal, wat in lewensmiddele handel dryf.

[4] Ander rykes, wat vroeër die behoeftiges nog ondersteun het, trek hulle steeds meer terug en probeer te besuinig, maar hulle lewe almal goed daarvan; slegs die armes ondervind die ellende dubbel en dwars. Kyk, dit sal die lank sluimerende toorn van God spoedig opwek en `n onnoemlike oordeel bring oor alle wisselaars, makelaars en woekeraars, maar dan ook oor alle ryke wat hulle hart en huis heeltemal afgesluit het vir die armes. Hierdie keer sal dit sover kom dat die armes God sal loof en die ryke alles sal vervloek wat hulle sal oorkom; maar dit sal hulle nie baat nie!”

[5] Maria sê: “Maar liefste vriend, hoe kan jy so presies weet wat die Heer sal doen? Is jy dan so met God se Gees vervul, dat jy dit alles so presies kan voorspel asof jy die Heer Self is?” Ek sê: “Wel, gaan nou maar na jou leerlinge toe en bring hulle hier, sodat ons uiteindelik heeltemal in die reine kan kom met hulle.”

[6] Maria gaan na die baie leerlinge en roep hulle toe: “Geliefde broeders en susters, die Heer het ons smekinge verhoor! Hy het twee bodes uit die hemele gestuur, sodat hulle ons kan bring na die weiding van die lig, die lewe en die waarheid in God, wat die einddoel van ons strewe en vir ewig ons liefde is. Staan op en gaan saam met my na die twee bodes!”

[7] Almal jubel en kom ordelik na My toe en stel hulle op in `n wye kring van sewe rye dik, waarna Maria weer na My toe kom en sê: “Vriend, daar is hulle almal en volgens my wete is daar niemand onder hulle wat nie in `n bruilofsgewaad geklee is nie. Almal voel en dink soos ek, want ek het hulle so goed moontlik onderrig en tot hier gelei. Om hulle nog verder te lei, sou vir my onmoontlik wees, omdat daar aan my geen verdere weg meer bekend is nie. Jy is so van die liefde en krag van die Heer vervul, dat die liefde vir jou my verteer. Laat ons dan ook dit toekom van die oorvloed aan liefde wat die Heer vir Sy kinders het en wat jy self ook besit. Openbaar ons ook die heilige wil van die Heer, sodat ons kan insien wat ons verder te doen staan!”

[8] Ek sê: “My liefste, die tyd dring en die Donderdag loop ten einde. Die aardse son het die avondlike horison reeds lankal verlaat. Daarom sal Ek ook in kort uitlê waaraan julle toe is en wat voortaan julle doen en late sal wees. Luister dus na My:

[9] Die Heer, wat jy soseer liefhet, `n liefde waartoe jy jou egter moet dwing, omdat jou hart my maar nie kan loslaat nie, is Ek Self in hoogseie Persoon!” (nou sink Maria op haar knieë neer) “En dit is julle opgawe om My nou te volg na die heuwel, daar in die ooste, waar baie op ons wag. Daar sal julle geseën en versterk word met My liefde, genade, krag en mag!”

[10] Na hierdie woorde herstel Maria haar ietwat en roep met `n van liefde oorvloeiende hart: “Heer, Heer, my God, my Vader, nou begryp ek eers waarom my hart slegs vir U in vuur en vlam gestaan het. As ek met my verstand probeer om die hart op God te rig, dan was die hart tog verstandiger, want sy wou haarself nooit van U losmaak nie. Daarom sou die mens altyd meer waarde moet heg aan die korrekte ontwikkeling van hulle hart as aan die van hulle verstand, want as die hart in sy blindheid reeds meer sien as die mees ontwikkelde verstand met geopende oë, wat sou `n goed ontwikkelde hart dan nie kan sien nie! O Heer, liefde van die liefde van my hart! Vergeef my die groot blindheid van my verstand, waardeur ek U nie herken het nie, terwyl my hart U tog so maklik herken het, toe hy U nabyheid gewaar word!”

[11] Ek sê: “Wees maar gerus, My liewe Maria, dit is alles die beste in orde; staan nou maar op en sê vir jou leerlinge dat hulle ons moet volg.” Maria staan dadelik op met `n van vreugde en liefde vervulde hart en deel My wil vinnig aan haar leerlinge mee. Hulle val op hulle aangesig en begin My luidkeels te betuig. Maria spreek hulle egter baie verstandig toe en almal verhef hulle van die grond en sê: “Heilige Vader, sien ons genadig aan en neem ons op as die geringstes onder U dienare!”

[12] Ek sê: “Alle vrede sy met julle! Julle sorge rus op My skouers en My genade en liefde is nou vir ewig julle lewe! Dit is egter julle opgawe om My lief te hê en al julle broeders en susters soos julleself, want My wet vir die aarde is ook `n wet vir alle hemele! Maar volg My nou!”

[13] Nou verhef almal hulle en binne enkele minute is ons by die bekende plek en word eerbiedig deur iedereen begroet. Wanneer ons onsself almal op die Reinerkoepel bevind en hierdie berg deur ons tot in die dal in beslag geneem word, seën Ek alle nuwelinge en laat hulle die waaragtige brood en die ware wyn uit die hemele aanreik.

[14] Toe almal versadig is, hef hulle weer as dank `n lofsang aan, wat tot Vrydagoggend voortduur. By die opgaan van die aardse son versink almal wat pas aangekom het in diep gebed en bid tot My uit die diepste van hulle hart en stop eers die middag daarmee, terwyl terselfdertyd `n groot menigte monnike van allerlei soorte die heuwel van alle kante nader.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205