Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 124

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Rooi oorlogsgeeste en blou-grys praatjiesmakers

274 Na die beëindiging van hierdie lofprysing breek die Sabbat aan. `n Menigte in rooi geklede geeste van die noordelike streke nader nou die heuwel; hulle dra `n rooi en `n wit vlag.

[2] Robert vra My: “Heer, dit is weer `n baie nuwe verskyning. Wat moet daar met hierdie geeste gebeur? In U heilige Naam, dit gaan byna netso daaraan toe as in die bekende “Duisend en één nagte”! Wat kom hierdie rooies met hulle vaandels hier doen?” 

[3] Ek sê: “Dit is suiwer oorlogsugtiges. Soos wat daar op aarde mense is van beide geslagte, vir wie oorlog die grootste vermaak is, so is daar hier ook geeste, wat geen saligheid buite die oorlogvoering ken nie. As daar op aarde baie oorlogsgeweld is, is hierdie geeste die gelukkigste. Hulle wen weliswaar niks daarby nie, maar hulle verstaan baie goed die kuns om die krygslus in die gemoedere van die volkere aan te wakker. Die met die wit vlae het `n defensiewe oorlogsugtige ingesteldheid en die met die rooi `n offensiewe. Hulle het ook gemerk dat Ek My in hoogs eie persoon op aarde bevind en kom hiernatoe om by die geeste uit te vra of Ek dalk `n oordeel oor die aarde wil afkondig. Want alles wat in enige vorm `n goeie spektakel kan oplewer, is vir hulle welkom.

[4] Jy sien egter ook hoe ander geeste in donker, blou-gryserige en vuil gewade hierdie krygslugtiges nader. Hulle is egte praatjiesmakers. Hulle grootste plesier bestaan daaruit om die nuuskierige sensasiesoekers te belieg tot hulle skeel kyk, en dit dikwels met so `n welsprekendheid, dat sommiges van hulle op die duur self glo wat hulle gelieg het. Hierdie geeste is weliswaar nie kwaadaardig nie, maar hulle is slegs sogenaamde grappiesmakers. Hulle sal dan wel niemand ernstige skade berokken nie, maar hulle is ook nie bepaald van nut nie. Deur hierdie geeste sal die oorlogsugtiges nou kragtig aangespoor word en alles sal dan in rep en roer kom. Daar sal ook enkele vriende van die waarheid vanuit die middag bykom, wat die krygslustiges sal vertel dat hulle deur hierdie blou-gryses belieg is. Die oorlogsgeeste sal dan genoegdoening verlang en dit sal die oomblik wees waarop ons langs `n bepaalde weg vat op hulle sal kan kry.”

[5] Robert sê: “Ag, maar dit is tog vermaaklik! Ek sou graag daarby wil wees om te hoor hoe die blou-gryses die rooies op die stang sal jaag.” Ek sê: “Dit is jou taak en Ek het jou self opmerksaam daarop gemaak. Gaan dus saam met Peter na benede en neem albei julle vroue saam. Probeer êrens iemand te vind as vrederegter tussen die partye vir ingeval hulle regtig begin te stry, want dit sal tussen hulle op die duur baie hittig en stormagtig daaraan toegaan.”

[6] Robert en Peter begewe hulle nou vinnig na benede en kom presies op tyd vir die eerste ontmoeting. `n Rooie hardloop die blou-gryses tegemoet en sê: “Vriende, ons het verneem dat die almagtige Gees van die beroemde Nasarener, Jesus genaamd, (nou skrik die blou-gryses `n bietjie) Hom persoonlik in hierdie streek ophou met `n groot menigte ander magtige geeste. Kan julle nie hierdie streek ietwat nader vir ons beskryf en ons sê wat hierdie magtige gees naderhand van plan is om te onderneem teen die slegte mensdom op aarde nie? Ons het tydens ons reis verneem dat Hy oor geheel Europa `n verskriklike oorlog wil laat uitbreek. As julle iets betroubaar daaroor weet, deel dit dan aan ons mee, want ons moet die hele wêreld dadelik laat weet, sodat hulle hulleself na behore kan voorberei.”

[7] `n Blou-gryse sê: “Ja, ja, die groot magtige Gees bevind Hom hier in hierdie streek in geselskap van miljoene geeste, wat almal enorm magtig moet wees. Die korrekte plek kan ons nie presies aanwys nie; maar dit is in geen geval ver hiervandaan nie. Maar kyk net omhoog, dan sal julle `n lig vol geeste aanskou.”

[8] Die rooies doen dit en verbaas hulle oor die tallose leërskares. Die blou-gryse gaan verder: “Oor `n Europese oorlog het ons weliswaar nog nie baie verneem nie, maar wel oor `n algehele wêreldoorlog waarby alle lande van die aarde betrokke sal wees. Hierdie oorlog sal soos `n sondvloed van Noag, alles wat leef en asem haal, op enkele mense en diere na vernietig, want die mensdom het te kranksinnig en te sleg geword!”

[9] Met die berig trek die rooies besonder vrolike gesigte en sê: “Ja, ja, so sal dit sekerlik gaan en die eerste aanvang sou wel die politieke spieëlgeveg tussen Oostenryk en Pruise kan wees.* As beide magte nou heeltemal klaar bewapen staan, sal hulle hulleself, gesteun deur Rusland, gesamentlik op die republieke in Europa werp en hulle sal sterk monargieë daaruit vorm. As hulle onderneming egter misluk, dan staan die wêreldoorlog voor die deur...`n nie te oorsiene stryd tussen die slawerny van die absolutisme en die onvoorwaardelike vryheid van die suiwer wêreldburgerskap. Dan sal die nag net so lank worstel met die lig, totdat hy heeltemal sal ondergaan en die lig ten slotte die volledige oorwinning sal behaal. Wat dink julle daarvan?” *[Oostenryk – Pruisiese Oorlog – 1866 (ook genoem die sewe-weke oorlog, waarby honderdduisende gesterf het. Die oorlog was aangehits deur die Pruisiese minister van Buitelandse Sake – Otto von Bismarck (1866) tussen Oostenryk en Pruise, wat Pruise die dominante krag in Duitsland gegee het.]

[10] Die blou-gryses sê: “Ja, julle sal gelyk hê, maar ons het nog iets anders verneem.” - “Wat dan, wat dan?”, vra die rooies gejaagd, - “Miskien nog iets erger as `n wêreldoorlog?”

[11] Die blou-gryses sê: “O, absoluut! Ons het van geloofwaardige geeste verneem dat die magtige gees ernstig van plan is die algemene oordeel oor die wêrelde in die hele oneindigheid te laat plaasvind en dat alle moontlike voorbereidings daartoe al getref word.” Nou deins die rooies van ontsetting agteruit en skree: “Nee, dit is onmoontlik! In godsnaam! Julle meen tog nie die oordeel waardeur son en maan verduister word en alle sterre van die hemel op hierdie aarde sal val soos sneeuvlokkies in die winter nie?”

[12] Die blou-gryses sê: “Ja, die oordeel sal nou op koms wees en daarmee die oplossing van die hele natuur!” Die rooies sê: “Waar en van wie het julle dit verneem? Het die groot magtige gees dit dalk Self aan iemand toevertrou of het Sy geeste dit miskien verkondig? Is daar dalk al basuine gehoor?”

[13] Die blou-gryses sê: “Dit bepaald nog nie, vir sover ons weet, maar `n menigte ander geeste het ons oor die een en ander belangrike aanwysings gegee en daarom sou wel iets daarvan waar kan wees.” Nou trek die rooies baie verbouereerde gesigte en vergeet die hele oorlog. Die blou-gryses vra aan die rooies: “Waarom skrik julle so vir so `n mededeling, terwyl julle na die hoor van die nuus oor `n wêreldoorlog tog baie opgewekte gesigte getrek het? Hinder die beloofde wêreldoordeel julle dan wat die groot magtige gees Jesus sal hou, soos Hy dit Self tydens Sy aardse lewe voorspel het met die stad Jerusalem voor oë?”

[14] `n Rooie sê: “Ja, vriende, dit sit ons verskriklik dwars, want na so `n oordeel hou alle wêrelde op om te bestaan. Geen mens sal die aardbodem meer betree en van `n vermaaklike oorlog sal daar sekerlik geen sprake meer wees nie. Wat moet ons dan begin? Oorloë is tog ons lus en ons lewe! Sonder oorloë bestaan daar vir ons heeltemal geen lewe, geen profyt en geen vermaak meer nie. Hierdie op hande synde wêreldoorlog sou dus die laaste wees wat op hierdie aardbodem sal uitbreek?”

[15] Die blou-gryses sê: “Seer seker! As daar geen mens meer sal bestaan nie, wie sal dan nog oorlog voer? Selfs as daar na die wêreldoorlog nog `n dertigtal mense, of miskien nog minder, in die lewe bly en die aarde nog so `n vyftig jaar behoue mag bly, dan kan daar op haar tog geen oorlog meer plaasvind nie, omdat die paar mense genoeg land sal besit. Dit sal daarom nie nodig wees dat hulle mekaar nog verder oor hulle besit bestry nie. Wanneer die weinige oorgeblewenes bowendien nog in die lig van God sal staan en baie maklik volgens Sy gebooie sal lewe, omdat baie duisende bekorings, wat die mens nou as handelinge teen God se gebooie laat handel, vanself wegval, wie sal dan nog aan oorlog dink?

[16] En dit vind ons baie goed, want selfs uit die fortuinlikste oorlog het nog nooit `n geluk vir die mensdom voortgekom nie. Daarom is die ewige einde van alle oorloë bo alles te verkies. Of daarenteen die algehele wêreldgerig ook sulke seënryke gevolge sal hê, as die totale beëindiging van die oorloë, is `n ander vraag. Sulke oorlogsugtige helde, wat behae skep in die grootste ongeluk van die mensdom, sou altans nie die beste daarvan afkom nie.”

[17] Die rooies vra baie heftig: “En waarom dan? Was die oorlogshelde dan nie steeds die verdienstelikste mense op aarde gewees nie? Bepaal hulle nie alleen die roem van alle volkere nie? Is ordetekens en oorwinningstrofeë dan niks in julle oë nie? Slegs gelouterde helde lewe ewig voort in die geskiedenis en die herinnering van die volkere! Al die ander vergaan egter soos eendagsvlieë en leef nie meer in die herinnering van die mens nie.”

[18] Die blou-gryses sê: “En wat het julle helde nou daaraan as julle miskien `n paar eeue langer as ander arme drommels soos vae skandubeelde voortlewe in die herinnering van swak aardse mense? Ook julle sal vergeet word! En as die oorlog alles sal vernietig, sal die geskiedenisboeke dan wel bly bestaan? En as hulle bly bestaan, sê net, wie sal hulle dan lees as al die lewe geëindig het? Hier in die geesteryk is alle onderskeid egter opgehef en waar dit nog bestaan, daar is die hel! As julle ook standsverskille hier soek, is julle geeste van die hel en word dit tyd dat julle julle van ons verwyder, anders sou dit kan gebeur dat julle deur ons verwyder word!”

[19] Nou word die rooies totaal sprakeloos van ergernis. Slegs hulle wat onder die wit vlag staan, kom na vore en sê: “Ons is geen krygsliede vir ons plesier nie, maar uit noodsaak. Ons is suiwer verdedigers en vra nie vir oorlog nie. As dit egter aan ons opgedring word, dan verstaan ons die kuns goed om die vyand die hoof te bied. Is ons onderskeidings en ons helde hier dalk ook nie meer werd as `n gewone mens sonder verdienste nie?”

[20] Die blou-gryses sê: “Dit is hier volkome eenders. Julle is geen haar beter as die ander nie, want julle is netso eersugtig soos julle teenstanders. Ook julle wag met brandende begeerte op die oorlogsoekers om julle met hulle te kan meet. Wat se verskil is daar dan en wie van julle twee het dan wel die meeste verdienste? Ons is van mening dat daar van `n verskil byna niks te merk is nie, want die een duiwel is netsoos die ander.”

[21] Nou stuif diegene met die wit vlag ook op van woede en wil die blou-gryses gaan afslag. Maar nou tree Robert en Peter na vore, dring die rooies ruim honderd treë terug en bedreig hulle. Daarop word die rooies egter almal eers heeltemal krygslustig.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205