Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 127

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Oor die waaragtige wese van God. Die liefde werk in eng, maar duidelike kringe

277 Die bode sê: “Hierdie angstige verwondering is alweer `n gevolg van julle al te verhewe denkbeelde oor God, maar hierdie opvattings deug nie vir die ware lewe uit en in die liefde nie! Wat gaan die oneindige van die goddelike wese julle dan aan? Hou julle slegs by die liefde, wat alles wat sy eenmaal aangetrek het, in eng kringe om haar heen versamel wil hê. 

[2] Die liefde is `n vuur wat versamel en nie verstrooi nie. Die lig wat van die helder vlamme van die liefde uitgaan, golf ewenwel in regte strale ewig verder en keer nie terug nie, behalwe wanneer die liefde van God die grense gestel het, waarteen dit weerkaats en die terugweg begin na sy oorsprong. As julle die Godheid egter beoordeel oor die verspreiding van Haar lig, en daardeur ware “ligruiters” is, wat op die vleuels van die gees die wye ruimte deurkruis op soek na die aanwesigheid van die groot Godheid, dan bly die ware erkenning van die eintlike goddelike wese ewig ver van julle. Uiteindelik moet julle voor die eindelose grootsheid van God beswyk, en sal julle nie meer in staat wees om julle op te rig in julle harte, waarmee julle slegs in staat is om die ware wese van God, julle Vader, te aanskou en te bevat nie. Staan daar dan `n wese soos Ek voor julle wat sê: “Ek is dit, wat julle solank tevergeefs in die oneindigheid gesoek het”, dan skrik julle en krimp onmagtig ineen. Die oorsaak is dat julle die wese, wat hom aan julle kenbaar maak as die ware Godheid in Haar oerbestaan, nog steeds met op die oneindigheid veroordeelde oë aanstaar, sodat julle gemoed opnuut deur julle ydel verbeelding begin weg te dryf in die oneindigheid. 

[3] Dit is wel goed dat `n gees of `n mens die goddelike Wese beskou in Sy werk, maar mens moet nie daarin verstrik raak nie! Kyk, in die begintyd van die aarde het die mens plesier daarin gehad om reusagtige bouwerke op te trek: Nimrod het Babylon gebou en `n bo die berge uitstekende toring. Semiramis het berge laat afgrawe. Minus het die groot Nineve gebou. Die ou farao’s het Egipte oorspoel met kolossale bouwerke en beelde. Die Chinese het `n muur van baie honderde myle lank gebou. Sou mens nou sulke bouers netso groot voorstel as hulle werk, dan sou mens deur elke weldenkende mens tog as `n dwaas aangesien word. Kyk, hierdie oerboumeesters van die groot bouwerke van die aarde was as mens nie groter as julle nie, hulle het slegs geweet hoe om hulle kragte op groot wyse te ontplooi en gestalte te gee. 

[4] As die klein, geskape mens egter al groot werke tot stand bring en daarby self geen millimeter groter word nie, waarom sou die Godheid in Haar oerwese dan wel netso groot wees as Haar bouwerke? Daar staan tog geskrywe: “God skep die mens na Sy ewebeeld”; waarom sou God dan `n reus wees en die na Sy ewebeeld geskape mens slegs mikroskopiese klein diertjies, waarvan daar triljoene in `n doudruppel kan woon? 

[5] Was Christus, wat tog ten volle God en mens tegelyk was, dan `n reus toe Hy die werk van die verlossing op aarde volbring het? Hy was van gestalte glad nie `n reus nie, hoewel Sy werk van `n grootte was wat vir julle nooit te meet is nie. En kyk, dieselfde Jesus, wat geen reusagtige mens was nie, staan nou ook voor julle! Slegs Sy gees, wat uit Hom stroom soos die lig uit die son, werk ewig in die hele oneindigheid met onverminderde krag. Maar hierdie gees gaan julle nie aan nie, wanneer julle julleself by die oerbron en by die Heer van al wat gees is, bevind. Verstaan Hom daarom volgens Sy liefde en nie volgens Sy uitstralende lig nie, dan is julle waaragtig Sy kinders, soos wat Hy julle aller Vader is!

[6] Sou dit nie dom wees van die astronome as hulle die son sou meet volgens die reikwydte van haar ligstrale nie? Hulle dring verder en verder deur in die dieptes van die ewige ruimte en hulle afmeting word steeds van sekonde tot sekonde groter. Welke maatstaf sou daar dan vir so `n dwase berekening aangelê moet word? Daarom meet die sterrekundiges die son self, omdat haar afmeting vasstaande en blywend is. 

[7] Doen julle ook so! Meet My soos wat Ek nou voor julle staan, met die korrekte maat van die liefde in julle harte en koester nie so `n kinderagtige angs vir My nie, want Ek het tog presies julle grootte en het julle lief met alle krag van My hart! Dan is julle vir My welgevallig en kan so bomatig salig wees in die eng kring van die liefde, waarsonder daar vir julle nêrens `n waaragtige saligheid kan bestaan nie. Het julle My goed begryp, of is daar nog iets êrens onduidelik vir julle?” 

[8] Verbaas sê die saliges nou: “O Heer, U is tog baie anders as wat ons onsself voorgestel het! Ja, so kan en moet mens U wel met `n volkome vry hart bo alles liefhê! Wie U nie erken soos U is nie, dra in sy blindheid vagevuur en hel in hom, maar by diegene wat U erken soos ons nou, het alles eensklaps verander in die hemel van die hemele.

[9] Maar wie kan iets daaraan doen dat die mens op aarde sulke onsinnige opvattings oor U het? Die leer van Rome dra wel die meeste daarby. Hierby leer ons `n God ken vir wie mens wel `n afskuwelike angs, maar nooit liefde kan hê nie. Mens word daardeur wel volgestop met `n hel en verdoemenis, maar van liefde kan daarby geen sprake wees nie. Waar angs die septer swaai, is liefde ver te soek.

[10] Nou begryp ons alles tot in die fynste besonderhede. Die liefde weef en werk slegs in eng, maar baie duidelike kringe. Slegs so verwarm sy groot en klein, kunstenaars en wyses. Waarlik, sy alleen is alles in alles! Sy is die werklike son, al die ander is slegs bedrieglike skyn. O Heer, hoe goed is U nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205