Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 129

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Die eenvoudige maar kragtige rede van die Heer. Oor die kort weg na die hemel. Oor die verstand van die kop en die insig van die hart. Die gelykenis van die vrugteplukkers

279 Die ligbloues sê: “Dat U Hy is... die waaragtige en ewige God, Heer en Skepper van alle hemele, sonne en aardes, daaraan twyfel ons nou nie meer in die minste nie, want mens hoef U maar net te hoor praat en alle bedenkings verdwyn soos newels in die lig van die son. Soos wat U self op aarde op onnavolgbare wyse vir elke geskape gees gespreek het, so spreek U nou ook vir ons. Uit U onopgesmukte spreekwyse borrel die stroom van die diepste waarheid en goddelike liefde en wysheid op soos magtige bronne!

[2] Hoe skitterend het U nie die weg na U ryk beskryf nie ! Dit gaan net by ons, netsoos eenmaal by Nikodemus, wat ook nie geweet het wat hy daarmee moes doen toe U, o Heer, met hom oor die wedergeboorte gespreek het nie. Die weg van die kop tot in die sentrum van die hart is werklik kort, maar hoe bewandel jy hom? Die saak klink, ondanks die daarin verborge wysheid, baie raaiselagtig en ons sou hier met Nikodemus ook wil vra: “Heer, hoe kan ons met ons voete in ons eie liggaam, ja selfs in die sentrum van ons hart binnegaan?” Dit sou wel tog makliker wees om op die allerlaaste ster van U eindelose skeppings te kom as om binne in ons eie hart te kom

[3] Hier moet ons U, o Heer, tog om `n nadere uitleg smeek, soos ook U apostels op aarde dikwels gedoen het, want ook vir hulle was U wysste lesse dikwels onbekende terrein, waarop `n vreemdeling sy weg nie kon vind nie. Waar is die toegang en hoe sal die boutekening lyk? Heer, lê ons hierdie saak nog ietwat van naderby uit!”

[4] Ek sê: “Dat julle so-iets nie begryp nie, is slegs te danke aan julle nog redelik aardse ingesteldheid. Tog sou julle wel so oop moet wees om te begryp dat daar geen sprake kan wees van `n natuurlike loop op voete nie, maar slegs van `n suiwer geestelike reis in die gemoed. Nikodemus was nog `n aards-materiële mens en dit was daarom begryplik dat hy met sy bevattingsvermoë die moederliggaam as noodsaaklik beskou het om vir die tweede keer daaruit wedergebore te kon word. Julle is egter nou self al volkome vry van alle growwe aardse materie - hoe kan julle as geeste, dan so materieel dink? 

[5] Het julle dan nooit twee soorte geestelike werkings by julleself ontdek nie, naamlik een in die kop en die ander in die hart? Kyk, in die kop setel die koue, berekenende verstand van die siel met sy handlanger, die vernuf, wat, behorend aan die siele-verstands-liggaam, soos `n verreikende arm lyk vol oë en ore. Die verstand verleng hierdie arm steeds meer en wil met hom ten slotte die hele oneindigheid na hom toe trek. Die ydele, dwase strewe is op sigself geneem, nou juis die gevaarlike, dood en oordeelbringende eienskap van die siel, wat met die woord hoogmoed aangedui word. In die hart rus die liefde egter as `n gees, wat uit die Gees van My hart geneem is. Hierdie gees het, netsoos die van My, sonder meer reeds alles in Haar wat die oneindigheid bevat, van die grootste tot die kleinste. 

[6] As die hoogdrawende verstand nou die ydele van sy dwase strewe insien en sy voorheen genoemde arm, wat sy vernuf, of sy vermoë tot waarneming voorstel, ootmoedig terugtrek en in die hart, as die woning van My Gees in die mens, teruglei, in plaas van deur met hom die onbereikbare te wil bereik, dan maak hy die genoemde reis van drie spanne lank. Langs hierdie weg kom mens tot die ware, ewige lewe, tot die ware salige rus, en mens vind daar alles wat die hele oneindigheid bevat, byeen.

[7] Die oneindige, innerlike ryk word trouens eers deel vir deel sigbaar soos die gewas uit die klein kiem, wat in die sentrum van die saad verborge lê. Of uit hierdie geeskiem die saad van My werk vroeër of later, ryker of minder ryk tot volle rypheid sal uitgroei, hang net af van die sterkte van die liefde vir My en vir die naaste. Want die liefde van die hart vir My is gelyk aan die lig en die warmte van die son, en die liefde tot die naaste is die noodsaaklike vrugbare reën. As son en reën in die korrekte verhouding saamwerk, sal elke saad die beste gedy en spoedig tot rypheid kom.

[8] Ek wil julle vir `n beter insig nog `n makliker verstaanbare voorbeeld gee: Stel jou voor dat `n vader sy kinders in die somer saamneem na sy tuin wat vol bome staan, belaai met ryp vrugte. Vol begeerte sou die kinders dadelik in die bome wil klim, die vrugte haastig afpluk en oorvloedig daarvan eet. Die wyse vader sê egter vir die onervare kinders: “Bly mooi by my! As julle met julle swak kragte in die bome sou klim en die vrugte pluk, dan kan julle moontlik uit die boom val, en hande en voete, of selfs julle nekke breek. Ek en my knegte is groot en sterk en ons weet hoe die vrugte gepluk moet word. Wag daarom rustig af! Ekself sal hulle uit die hoë bome gaan haal en in julle skoot lê, dan kan julle, sonder enige moeite, daarvan geniet. As julle eenmaal self groot en sterk is, dan kan julle self ook meesters oor die hoë bome word.” - Begryp julle hierdie beeldspraak?”

[9] Die ligbloues sê: “Dank U, heiligste en beste Vader, ewige dank! Nou is dit vir ons alles sonhelder en ons weet nou niks meer waaroor ons nog om opheldering sou wil vra nie.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205