Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Opdrag aan Petrus en Paulus om die voormalige Bedoeïene hoofman Cado na vore te bring. Die vergeefse liefdevolle poging van Petrus om die brutale gees vir hulle te wen.

163 Daarop roep Ek vir Petrus en Paulus na My toe en sê: “Gaan julle op pad en bring vir Cado, wat veertien aardse dae gelede in hierdie wêreld aangekom het, na My toe. Ten eerste is dit sy wens, ten tweede moet dit gebeur, sodat hierdie nuwe broeders ook maar die geringste spoor van die opvatting kan kwytraak, dat daar in My, ondanks al My liefde, iets despoties tiranniek sou wees. Gaan julle daarom en bring hom hier.”

[2] Beide verdwyn skielik en is binne `n oogwenk by die berugte Cado. Toe hulle hulleself so skielik naby hom bevind, deins hy letterlik agteruit en skreeu: “Wel alle duiwels! Wat se diere is dit in menslike gedaantes? O vervloekte dierevolk, julle sal my nog tot die bedelstaf bring!”

[3] Paulus sê: “Vriend, ons kom nie by jou bedel vir `n aalmoes nie. Iets dergeliks het ons nie nodig nie, omdat alle skatte van hemel en aarde ons tog al ten dienste staan. Ons het iets anders vir jou, iets wat baie heilsamer vir jou sal wees as alle skatte van die aarde. En dit is, om jou, as dit nog moontlik is, te red van die ewige dood in die hel, want jy was op aarde `n volslae duiwel in menslike gedaante en sodoende al `n totale helse wese. Nou staan jy in die geestewêreld op die punt om na die onderste hel te gaan, ja, jy is eintlik, wat jou innerlike betref, al lankal daarin. Indien jy dit egter nog wil, het ons die mag om jou daarvan te red, maar dan moet jy ons volg en alles gewillig doen wat ons jou sal aanraai.”

[4] Cado sê: “Wat!? Wat besiel julle tronkvoëls? Het ek dan ooit gesterwe? Is ek dalk nie meer op aarde in die besit van al my goedere, van my goud en silwer nie? O julle skelm honde! Op watse skelm manier wil julle my `n paar goudstukke afrokkel vir `n hemel wat nêrens bestaan nie, en red van `n hel, wat niks anders is as `n uitvinding van arbeidsku Roomse nie! Maak dat julle wegkom, anders roep ek al my duiwelsknegte en laat julle met honde verjaag! Kyk net hoe staan die skurke nou daar! Vir geld kan hulle iemand van die hel red en die hemel besorg! Maak dat julle wegkom, anders sal ek dadelik die denkbeeld van `n hemel en hel uit julle dryf!”

[5] Paulus sê: “Vriend, sulke praatjies raak ons nie en ons is ook nie bang vir jou nie, maar laat dit vir jou gesê wees: As jy ons nie goedsmoeds volg nie, sal jy met ons mag kennis maak, want daarvoor is gesorg, dat op jou roep geen duiwel jou te hulp sal kom nie. Origens weet ons baie goed hoe jy aan jou rykdom op aarde gekom het. Daar was baie hongerige duiwels in jou diens en `n leër groot, wilde honde, wat jou kasteel omring het. Hulle het reisigers aangeval en hulle vasgehou totdat jou arme duiwels gekom het en hulle vir `n aansienlike losgeld van die diere bevry het. Jy was wel dikwels aangekla, maar die aanklaers kon niks uitrig nie, omdat die regters in jou diens was. Ons sou jou baie kon vertel oor jou rowerpraktyke, maar op die regte plek sal jy al jou onmenslike gruweldade voor jou sien, en dan sal ons sien of jy `n afsku daarin sal kry en berou daaroor sal voel. As dit so is, dan is jy nog te red; so nie, dan word die onderste hel jou deel! En kom nou goedsmoeds met ons saam, anders sal ons geweld gebruik!” 

[6] Cado skree: “Julle, honde, julle wil my geweld aandoen? Alle duiwels, kom hier! Ons sal wel sien hoe ver julle kan kom met julle geweld!” Hy wag `n tydjie onder afskuwelike tandegekners op sy huisduiwels, maar daar kom niemand opgedaag nie en daar is geen geblaf van een of ander hond te hoor nie. Ook sy kasteel, wat hy tot nou toe nog steeds, netsoos op aarde, as sy vermeende eiendom voor hom sien, begin baie newelagtig te vervloei soos `n ruit, waar warm lig langs stroom.

[7] Toe Cado dit begin te merk, skree hy luid: “Verraad, verraad! Julle ellendige honde, julle het my kwaad aangedoen! Maak dat julle hier wegkom, julle honde! By alle duiwels, ek sal julle nie volg nie! Julle is `n paar towenaars, julle het my sintuie beheks! Weg met julle, helse honde!”

[8] Met hierdie laaste krete bevind Cado hom egter al voor My en Helena, netsoos voor al die ander gaste, sonder om egter, op Petrus en Paulus na, ook maar iemand van ons kan sien nie. Helena skrik vir hom, omdat hy letterlik van woede gloei en damp, maar Ek versterk haar, sodat sy hom rustiger kan bekyk. Nou gee Ek vir Petrus `n wenk om `n bekeringspoging by Cado te maak en paradysagtige landskappe vir etlike oomblikke aan hom te toon.

[9] Petrus begin dadelik uiters wyse en sagsinnige woorde tot Cado te spreek en sê: “Vriend Cado, wees tog verstandig! Kyk, die ervaring moes jou tog geleer het, dat op aarde alle goedere ydel en vinnig verganklik is en dat ten slotte die rykste en die armste dieselfde sterwenslot deel. Al die vlees moet sterwe, alle materie vergaan, slegs die inwendige gees bly onverwoesbaar! Kyk, jy het liggaamlik gesterwe en leef nog net in jou met `n gees vervulde siel onverwoesbaar verder. Hou daarom nie langer vas aan dit wat vir ewig vergaan het nie, maar erken jou groot aardse skulde en ons sal dit vir jou betaal en jou dan opneem in ons waaragtige en ewige bestendige wêreld, waarin daar vir jou nooit iets sal ontbreek nie. Kyk net daar na die ooste! Die heerlike landerye en paleise is van ons en jy sal dit kry; maar dan moet jy jou skulde beken, sodat ons dit op ons kan neem.”

[10] Cado kyk vlugtig daarna en sien die pragtige landerye. Na `n rukkie sê hy honend: “Weet jy, muise en rotte vang mens die maklikste met `n lokaas. Menige dwaas betaal dubbel ingangsgeld in die teater as `n goëlaar hom hersenskimme laat sien. Maar so `n dom snoek is ek nie, dat ek die hoek dadelik byt nie! Dink jy, dom luilak, dat ek in jou goëlkunste gaan trap? Ek weet wat en wie jy is en ken myself ook baie presies. Sonder my liggaam is ek soveel vryer en sal ek doen wat ek in glo, maar `n dom Jood sal nooit my gids word nie. Begryp jy dit, dom esel? Waarom vra jy na my skuld op aarde? As jy so magtig en alwetend is, moet jy tog lankal te wete gekom het waaruit dit bestaan! Vereffen dit dan ook, as jy al so `n plesier daarin het om skulde vir ander te betaal! Wat gaan my misdade jou trouens aan? Het ek jou dan ooit na die van jou gevra? Maak dat jy vinnig wegkom, anders sal julle die egte duiwel in my teëkom! Het ek julle dalk as `n ou dweper aangeroep? Nee, dit doen `n Cado, die skrik van die Armeense woestyn, nooit! Cado is `n gebieder en die aarde bewe vir sy naam, maar julle Jehova is `n bedelaar en `n knoeier op elke gebied! Dink jy dalk dat Cado nie vir Jehova en die gebasel oor Sy aan die kruis gehange Jesus ken nie? O, `n Cado ken alles, selfs Sy hele leer ken hy beter as jy, wat Sy rots moet wees vir alle tye. Maar die rots is in plaas van uit klip, van skaapbotter gemaak en daarom ook gesmelt. Sodoende het daar van hierdie rots niks anders oorgebly as sy niksseggende naam en `n hele spul houtbeelde, skilderye en valse relikwieë nie. Jy is Petrus en jou metgesel is die ietwat meer hittige Paulus of Saulus (die laaste naam sou die korrekte kon wees!). Sê my liewer hoe dit in hierdie geestewêreld met julle meester gesteld is! Oordeel hy nog ywerig oor dooies en lewendes? Is hy ook so dom soos julle twee?

[11] Petrus sê: “Hy het ons nou net na jou toe gestuur, sodat ons jou van die ewige ondergang kan red!” Cado sê: “Waarom het hy nie liewer Self gekom nie? Het hy miskien koue gevat na die oordele, het daardeur verkoue gekry en kan nou nie uitgaan nie? Daarom het hy julle waarskynlik na my toe gestuur om my ietwat op te warm met julle kragtige asem! Maar Cado is geen skaap soos die in Bethlehem gebore Messias van die Jode nie, om welke rede sy landgenote Hom dan ook aan die kruis hulle eer betoon het. O julle dom skaapkoppe! Dink julle dan dat `n Cado hom ook aan die neus laat lei soos een of ander hongerige Jood? Ver van dit, beste skapies van God! Cado is `n leeu en nooit `n skapie van God nie! Begryp julle dit? As julle by julle Heer kom, bring hom dan die beste groete van my oor en sê vir hom, dat dit my regtig spyt, dat hy geen Cado op aarde was nie, maar `n baie gewone skaap!” 

[12] Petrus sê: “Vriend, langs hierdie weg sal jy nie verder kom nie. Jou weg loop na die hel en na die ewige kwelling vanuit jouself, want jy is sleg tot in die diepste vesels van jou lewe! Sodat jy egter kan weet wie Jesus, die gekruisigde is, was en ewig sal wees, sê ek vir jou, as een van sy trouste getuies: Hy is God, die enigste en unieke, die ewige, die Heer en Leraar, heilig in die ewige oneindigheid! Hy alleen kan jou behou, maar ook laat val vir ewig. Kyk nou eenmaal in die rigting van die oggendglorie na die geopende hemel, maar kyk ook in die rigting van die middernagtelike duister waar die bek van die hel wyd oop staan; waarheen wil jy gaan? Geen God sal jou oordeel nie, ook geen engel en beide van ons ook nie, maar jou wil is jou eie regter!”

[13] Cado sê: “Dus daar is die sogenaamde hemel en daar in die rigting van die middernagtelike duister die romantiese hel! So, so, dit is baie mooi! Wat kos die deur julle tevoorskyn getowerde spektakel nie? Julle is wel `n stel magiërs uit die boonste rakke! Sê net, is die hel Oudjoods of Rooms-Katoliek, Grieks, Turks of Indies? Is die hemel dalk Persies?

[14] Petrus sê: “Cado, Cado, jy is `n brutale gees en jy dryf smadelik die spot met die oneindige goedheid en erbarming van God. Kyk, ons is welwillend en jou goedgesind en bereid om jou, volgens God se ordening, alle goeie dienste te bewys. Ons het jou nog met geen enkele harde woord beledig nie, behalwe wat ons jou aangetoon het, hoe dit daar met jou ten opsigte van God se geregtigheid voorstaan, maar jy het toe soos `n wilde tier in woede teen ons ontsteek. Waarom dan tog, vriend? Gedra jou tog in jou onmag teenoor ons op dieselfde manier as wat ons, wat in die besit van alle mag uit God, teenoor jou is. Ons sal dan makliker met mekaar eens word as tot nou toe. Glo my tog, ons wat jou deur en deur ken, as ek sê dat dit daar met jou werklik uiters sleg staan, vanweë die voorliefde van jou hart vir die bose. Jy kan jouself in geen ewigheid help nie, maar wanneer jy jou misdade teenoor ons beken en jou hart vir ons open, stel jy ons daardeur in die geleentheid om jou hart te reinig. Sluit jy dit egter steeds meer vir ons af, dan sal die kwaadaardige vuil in jou hart hulle verhard, en dit sal nooit meer moontlik wees om jou te red van die ewige dood nie! Cado, oordink tog hierdie heilsame en allervriendelikste woorde!” 

[15] Cado sê: “Bespaar julle tog asseblief alle moeite, omdat ek my nodeloos gaan vererg. Het julle dan nooit gehoor, dat hulle wat van kindsbeen af gewoond is om te heers, nooit kan of wil gehoorsaam nie? Van my kan julle slegs langs die weg van my genade en grootmoedigheid iets bereik, maar langs die weg van julle raadgewing nooit as te nimmer nie! `n Egte koning mag nooit raad aanneem as hy sy aansien as heerser wil handhaaf nie. Hy moet steeds heers!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205