Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 130

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Ooreenkomstige betekenis van brood en wyn. Kennis en dade `n opdrag aan die ligbloues

280 Ek sê: “Noudat julle dit begryp het, moet julle ook daarvolgens handel, anders sal julle geen voordeel trek uit My leer nie! Ek sal julle nou die egte brood en die egte wyn laat gee. Die brood is dan ook hier My liggaam en die wyn dan My bloed. Die voedsel sal julle versterk en voortaan sal julle die dood nie meer smaak nie, maar die ewige lewe sal in julle wees.” – Aan Robert: “Broeder Robert, gaan kry jy maar nog brood en wyn.”  

[2] Robert gaan enkele treë suidwaarts die bosse in en vind daar op `n oop plekkie `n vaatjie vol van die beste wyn; langsaan `n hele spul drinkglase en wel vyftig pragtige koringbrode. Toe Robert soveel hemels versterkende middele sien, roep hy vir Helena en sy nuwe helpers, Peter en sy vrou, om hom te help om alles na die korrekte plek te bring. Die geroepenes kom weliswaar onmiddellik, maar met die vier is hulle nie in staat om die voorhande voedsel na die korrekte plek te bring nie.

[3] Dit sien die geeste van die keisers ook, wat tot nou toe met die apostels oor velerlei ordeninge in die hemele gespreek het. Hulle haas hulle na Robert toe om hom te help om alles op te tel en wedywer dan by die bediening van die ligblou geeste, wat met dankbare welbehae die brood eet en die wyn met volle teue drink.

[4] Daarop sê Ek vir die monarge: “My beste vriende en broeders, dit is weliswaar prysenswaardig en goed om oor my en My ryk gedagtes te wissel, maar dit is nog mooier en beter om dit in die werk van die hemele dapper te beoefen. Die kennis gaan natuurlik die doen vooraf, maar as `n mens eenmaal weet wat `n mens te doene staan, dan moet `n mens daarvolgens handel! En `n klein, goeie daad is dan al beter as baie kennis sonder handelinge, want uit so klein daad sal iets tevoorskyn kom. Uit `n handeling ontstaan steeds `n werkstuk, maar uit die suiwer kennis ontstaan niks as dit nie in handelinge oorgaan nie.

[5] Wat sou dit `n pottebakker baat as hy hoe bekwaam in sy kuns was, maar nooit klei op sy draaiskyf sou lê om sy kuns in `n werkstuk om te sit nie? So is die geloof ook `n kennis van die hart. Solank dit nie in werk omgesit word nie, is dit dan dood; die volbringde daad gee haar eers lewe. Daarom doen dit My `n regte plesier aan dat julle, sonder om gevra te word, `n goeie daad verrig het. Waarlik, Ek sê vir julle almal: Ook `n teug vars water wat julle `n dorstige aangereik het, sal deur My hoog gewaardeer word, want Ek kyk minder na die kennis as na die handelinge!

[6] Wie eenmaal iets goeds ken en nie daarvolgens handel nie, is net so goed `n sondaar as hy, wat weliswaar die goeie erken, maar dit tog nie wil doen nie, omdat dit nie met sy gemaksug ooreenstem nie. Om `n goeie burger van My ryk te wees, moet mens homself daarom altyd óór sy traagheid heen stel en die goeie na sy beste wete doen; dan is mens eers dit, wat mens volgens My ewige ordening moet word en wees.”

[7] Teenoor die ligbloues: “Omdat julle nou voldoende versterk is, gaan daarom nog eenmaal na die laagland en wek daar op, wat nog op te wek is. Probeer die verhitte gemoedere tot bedaring te bring, sodat nog `n oorlog onder die mense op aarde, moontlik voorkom kan word. As die werk maar enigsins slaag, sal daar `n groot beloning wag in My hemele, waarin julle maklik kan kom, omdat Ek Self die weg daarheen vir julle gewys het, wat julle nooit kan mis nie.

[8] Sorg egter daarvoor dat julle die vuurrooi geeste oral voor is, want hulle sal nou alle moeite doen om `n oorlog tussen die regente (heersers) aan te wakker. Julle sal weliswaar nie alles kan verhinder nie, maar as julle in My Naam eg bedrywig is, tog baie kan keer wat die mensdom in groot ellende sou stort. Kom egter na die volbringde arbeid weer hierheen, na hierdie plek! Daar sal `n bode vir julle wag, wat julle na die binnegaan in My ryk in My Naam `n helpende hand sal bied. En gaan nou aan die werk, laat so dit wees!”

[9] By die weggaan sê een van die ligbloues nog: “O Heer en Vader, as ons in die vervolg weer honger en dors kry... want ons kan tog nie weet hoe lank ons besig sal wees nie... waar kan ons dan brood en wyn vandaan kry?”

[10] Ek sê: “Vra vir Robert en sy metgeselle hoe lank gelede dit is dat hulle, netsoos julle, met brood en wyn gespysig was en of hulle tot nou toe ooit honger of dors gehad het. Wie eenmaal My brood geëet en My wyn gedrink het, sal vir ewig nie meer honger en nie meer dors hê nie, want My brood is `n waaragtige, lewende spys, die siel en gees voed en voed haar steeds weer in die maag van jou siel en vernu haar. Eweneens is My wyn `n waaragtige drank, waarop geen dors meer sal volg nie. Daarom kan julle baie getroos op pad gaan, want van nou af aan sal julle nooit meer honger of dors hê nie”

[11] Na hierdie versekering gaan die ligbloues nou moedig aan hulle werk. Of hulle baie sal bereik, is nog redelik die vraag, omdat die baie rooi geeste reeds oral druk doenig is om hulle doel te bereik; maar desondanks kan hulle die saak tog redelik aansienlik matig stem. 

[12] Ek sê: “Daar moet nou `n ernstige tugtiging kom oor almal wat dit heeltemal verleer het om My, sowél in die nood, as altyd, aan te roep en die waarde van die mens te erken, wat nie deur My in die wêreld geplaas was om hulle terwille van die glorie van `n troon te laat doodskiet nie. Dan sal die volk, wanneer hulle nugter handel, vir alle tye van die oorwinning verseker wees. Dan eers sal My ryk op aarde kom. As die volk egter wreed handel, iets wat Ek nie wil voorsien, nóg voorbestem nie, dan sal hulle die uiteindelike oorwinning moeilik kry.”  


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205