Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 58

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Voortsetting van die les aan die dinastie. Gelykenis van die lui herders. Die dinastieë be­staan slegs terwille van die volkere. Aan­sporing tot deemoed en verwysing na die Heer

208 Paulus gaan verder: “Ek, Paulus, `n ware kneg van die Heer Jesus, sê vir jou en vir julle almal: Vir God die Heer is alle trone en dinastieë `n gruwel. Maar as die dinastie ag slaan op die wil van die Heer en handel volgens die beginsels wat gegrondves is op die Woord van God en op Sy liefde en ontferming, dan is die dinastie bo die troon verhewe en vir die Heer goed en aangenaam. Die genade, mag, krag en sterkte van die Heer begelei dan so `n dinastie. Wee die vyand wat haar aanval; waarlik, hy sal tot stof en as vermorsel word! Knoop dit in julle ore, julle ou vorste, wat geestelik nog diep gewortel is in die vlees. Geen dinastie is op homself `n staande iets en geen troon het waarde en duursaamheid as daar nie iemand op sit, wat werklik met God se genade begiftig is nie.

[2] `n Dinastie wat deur die Heer egter so lank op die troon gelaat was soos die Habsburgers, moet in die algemeen tog na die wens van die Heer gewees het, anders sou hulle hulle netsoos ander dinastieë lankal nie meer op die troon bevind het nie. Julle is egter juis daarom hier so lank in julle nag en blindheid, omdat julle in julle harte die dinastie beskou as iets wat op aarde en ook nog in die geestewêreld die allerhoogste is en vir welke behoud die Heer Sy almag sou moet insit. O kyk, dit is `n groot dwaling in julle binneste! Die Heer is weliswaar die enige sterkte en mag van elke dinastie en van elke troon, maar nie terwille van die dinastie en die troon nie, maar terwille van die volkere; hulle alleen beteken iets vir Hom.

[3] God die Heer doen ten opsigte van elke dinastie wat `n huis- en grondbesitter doen, wat baie weilande en baie kuddes het. Wanneer een of meer skape van sy kudde sleg daaraan toe is, sal die eienaar hulle met alle aandag versorg, sodat hulle beter mag word, maar as die herder lui en sleg word, sal hy met die meester van die kudde se stok te doene kry. Verbeter hy nie sy lewe nie, dan sal die heer hom uit sy diens ontslaan en nooit meer `n kudde aan sy hoede toevertrou nie. Al ontslaan die heer ook honderd herders uit sy diens, omdat hulle slegte herders was, hy sal nie `n skaap wegmaak omdat hy sleg daaraan toe is nie; hy sal hom behou en versorg, maar `n slegte herder sal hy uit sy diens verwyder. 

[4] Rig net julle blikke oor die hele aarde: Die volkere is nog dieselfde, maar waar is alle dinastieë en konings wat eens oor hierdie volkere geheers het? Hulle het slegte herders geword en het sodoende ook hulle posisies kwytgeraak! Verwyder daarom uit julle harte wat dwaas en besonder nietig is voor God! Trek julle dinastiese hoogmoed uit soos `n slegte kleed en trek die nuwe kleed van deemoed en waaragtige insig aan, sodat julle opgeneem mag word in die troppe lammers van God, wat die ware kinders van God is!

[5] Julle het die woorde verneem, wat die vurige ruiter tot julle gerig het. Daar was ook gesê, dat spoedig na die bodes wat julle tegemoet gegaan het, die Heer Self sal kom en julle verwoeste vestings en vervalle kastele sal oprig. Maar ek, Paulus, sê vir julle nog baie meer as wat die vurige profeet te sê gehad het:

[6] Kyk, die Heer, wat na ons toe sou kom, bevind Hom hier by ons. Hy hier aan die kant van my hart, dit is Hy. Gaan na Hom toe en lê Hom voor wat julle op julle hart het! Hy alleen besit die oerbron van die lewende water. As julle dit sal drink, sal julle nooit meer dors hê nie! Omdat Hyself hier werklik persoonlik aanwesig is, moet julle na Hom toe gaan: Hy alleen kan en sal julle help. Ons is nie by magte om te help nie, wel het ons die vermoë om ons blinde broeders voor te berei op die hulp van God.”

[7] Daarop sê die eerste vors Rudolf: “Van die begin af aan het jy goed gespreek en het jy ons die saak duidelik uitgelê, maar dat Hy, hier aan die kant van jou hart, Christus die Heer sou wees, dus God Self in alle ewigheid, dit is dom van jou. As `n maghebber op aarde geen onderskeidingstekens dra nie, soos byvoorbeeld `n ridderorde of so-iets, en rondloop soos die geringste stalkneg van `n gewone burger, dan het hy dit aan homself te danke as daar met vuil na hom gegooi word! As `n aardse koning al deur uiterlike praal moet laat sien wie hy is - dan sal dit tog sekerlik na die ewige Heerser van alle heersers soveel te meer die geval wees! Bowendien staan daar ook geskrywe: “God woon in die ontoeganklike lig.”

[8] Paulus sê: “O ja, die laaste is wel korrek, maar nie vir iedereen nie. Kyk net goed! Juis die lig waarin die Heer hom nou bevind, sal vir jou en jou gelyke wel die mees ontoeganklike wees, want die lig van die deemoed en selfvernedering is vir wesens soos julle waarlik die mees verborge. Ek, Paulus, sê vir julle: Sou die Heer stralend soos `n son na julle toe gekom het, dan het julle Hom dadelik aanvaar, maar in dié kleed is Hy vir julle ontoeganklik! Dit sal vir julle egter nog moeilik word om nader aan Hom te kom! Julle weet nou alles; doen derhalwe wat julle wil! Ek is uitgepraat met julle.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205