Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 70

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Josef verwys aartsbiskop Migatzi na die Heer. Migatzi beskou die hiernamaals as bedrog en verklaar Josef as geestesiek. Josef oor die oorsaak van sy dood

220 Josef gaan verder: “Kyk, vriend, jou dom en sinnelose denkbeelde waarmee jy jou kerk wil verontskuldig, maak al meer as genoeg duidelik dat ons beide liggaamlik al sestig aardjare gelede gesterf het en hier nou baie gesond en wel voortlewe. Sou die volk in die ware geloof onderrig geword het, dan sou hulle hulleself ook makliker laat lei het en sou hulle hulleself meer beywer het om te doen wat goed, waar en mooi is. Omdat hulle egter, in plaas van om alle dinge in hulle ware gedaante te sien, net slaap en van die een droom na die ander deursnork, word daar by so `n volk nie gedink aan geestelike vooruitgang nie. Waarop kon ons in Oostenryk, onder die regering van my moeder, staatmaak? Op niks en niemand nie!

[2] Eens het ek te wete gekom hoe `n geestelike op die preekstoel met hel en verdoemenis gedreig het teen die gebruik van spelde, omdat hy dit as suiwer towery aangesien het, want die duiwel sou in lewende lywe na hom toe gekom en gesê het: “Skenk my jou siel en ek sal jou die kuns leer om spelde by die duisende te maak”. Daarvan het hy so geweldig geskrik, dat hy van angs flou geval het. Het die allersaligste Maria op die trap, wat hy steeds die meeste vereer het, hom toe nie tot hulp gekom nie, dan was hy sonder meer verlore gewees.

[3] As die arme volk nou aan sulke dom geestelikes toevertrou word, dan vra ek myself af: Welke vrugte kan dit dan vir so `n volk afwerp?” En kyk, tienduisende sulke voorvalle het tot my ore gekom en het my daartoe gebring om vir altyd `n einde te maak aan sulke suiwer onsin. God sy dank, die Heer het my inspanning geseën en my dit nie as sonde aangereken nie! Die pous het nou die een oorveeg na die ander van die liewe wêreld gekry en het by die miljoene reeds elke bietjie aansien verloor. Daarvoor het ek die eerste klip gelê, wat vooraf al deur Luther, Calvyn, Hus en Melanchton bewerk was. Ek is weliswaar deur Rome daarvoor verdoem tot die onderste hel, maar dit het my God sy dank nie geskaad nie, want kyk, Hy wat hier naas my staan, is Christus Self, die Heer oor hemel en aarde! En ek glo dat, wie soos ek by Hom is, tog wel `n bietjie salig sal wees!”

[4] Die aartsbiskop sê baie opgewonde: “Jy was in die moederskoot al `n ketter en sal as sodanig ook vir ewig in die hel bly sit! Jy dink dat ons reeds gesterf het? O, jou dwaas! Vir die wêreld, polities gesien, het ons weliswaar gesterf omdat ons onsself daaruit teruggetrek het, maar nie in werklikheid nie, omdat ons tog nog almal in die sigbare Wenen lewe, rondloop en rondry as ons die geleentheid daartoe kry. Dit sal tog sekerlik nie in die geesteswêreld so wees nie! Laat jou nie uitlag nie! Ek, as aartsbiskop, sal tog wel die beste weet hoe dit met die geesteswêreld gesteld sou wees, as daar een bestaan! Maar dat daar na die dood geen lewe meer kan wees nie, val die hele geesteswêreld vanself in duie, en met die godheid van Christus sal dit ook wel eenders wees. Hoe ver moet jy dit in jou dwaasheid gebring het dat jy `n Poolse smousjood as die Nasarener beskou, wat lank gelede aan die kruis gesterwe het en in alle ewigheid nooit meer lewend geword het nie. Dit is werklik al heelwat, dat jy jouself nog nie as Christus begin beskou nie, want daarvoor is jy lankal dom genoeg!

[5] Het jou sieklike toestand jou herinneringsvermoë so volkome aangetas, dat jy jou nie meer kan herinner dat jy as `n dwaas in die geheime keiser-koninklike kranksinnige inrigting beland het nie? Hierdie gebeurtenis sal jou wel die gevoel gegee het dat jy gesterf het, maar dit is nie so nie: Jy het maar net kranksinnig geword en dit gee jou die gevoel dat jy reeds gesterf het. As jy egter wil, kan ek jou spoedig genees, sodat jy dan weer kan geniet van die goue vryheid van die lewe. Jy weet tog dat ek nooit `n seloot was nie, sekerlik nie teenoor jou nie. Kom op, brawe vriend, laat jou genees!”

[6] Josef sê: “Vriend, ek het al baie oor my hoor lieg, maar so-iets het my nog nie oorgekom nie! Dat jy nie in die onsterflikheid en in Christus glo nie en nooit geglo het nie, hinder my eintlik nie heeltemal nie. Ek sal ook geen moeite doen om jou in die geloof in te wy nie, maar dat jy beweer dat ek op aarde kranksinnig was, dit sit my dwars in die krop, aangesien ek maar al te goed geweet het op welke manier ek eintlik die tydelike vir die ewige moes verwissel.

[7] Kyk, deur toedoen van kerklike kant begin ek my, na die ruik aan `n ruiker blomme, onwel in my hoof te voel, wat homself ontwikkel tot `n sterk kopseer en verkoue. Ek slaan geen ag op hierdie saak nie en dink dat die verkoue wel sou oorgaan, maar dit was nie so nie. Toe dit egter, in plaas van beter, by die dag erger word, laat ek my hofarts kom, wat egter ook niks anders konstateer as `n erge hardnekkige kopgriep nie. Maar by die dag voel ek `n sekere druk as te ware op die harsings bo in my hoof sterker word, iets waarop ek aanvanklik ook te min ag geslaan het, totdat daar hom op dieselfde plek ook uitwendig `n *tuberculum malum *(kwaadaardige gewas), soos my hofartse dit noem, begin te ontwikkel, wat ondanks alle mediese behandeling steeds erger word. 

[8] Uiteindelik word daar `n artsvergadering belê. Die raad sien in die abses aan my kop niks gevaarlik nie, behalwe `n eenvoudige dokter, genaamd Quarin. Aan hom word die vraag deur my gestel of hierdie kwaal geneesbaar sou wees. En Quarin sê beslis: “Nee”, waarvoor hy deur my in die adelstand verhef was en uitstekend beloon word. Vanaf daardie oomblik het dit met my liggaam van uur tot uur slegter gegaan en ek sterf spoedig daarna, by my volle bewussyn, sonder die geringste angs vir die dood. Toe ek sterf, kom dit my voor asof ek baie sag ingeslaap het. Spoedig daarna ontwaak ek, maar God sy dank, nie meer in die materiële nie, maar in die geestelike wêreld.

[9] Ek dink dat dit vir jou hieruit tog wel duidelik moet word dat my herinneringsvermoë nie geheel en al uitgeblus is nie, soos jy beweer het. Wat dink jy? Spreek nou!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205