Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Migatzi gee `n ander verklaring vir die dood van Josef. Hy verlang bewyse oor Jesus. Josef se rede oor die gees van die liefde as enigste godsgetuie

221 Aartsbiskop Migatzi sê: “My beste, goeie vriend! Jy kan weliswaar vertel wat jy wil en wat jy goeddink, dit maak vir my nie saak nie. Wat jy vir my gesê het, beledig my nie, maar dat jy my in `n sekere sin beskuldig van `n aanslag op jou persoon, dit vererg my! Ek meen tog dat ek jou intiemste vriend was en in die geheim net so goed `n vrymesselaar as jy, en daarom ook weet waarom ek dit met jou vernuwings eens was. As `n altyd helderdenkende man van eer verklaar ek daarom, dat jy, met jou vermoede, op `n dwaalspoor is.

[2] Kyk, die hele aard van jou kwaal was in hoofsaak `n aangebore orgaanafwyking, bestaande uit `n soort kliergeswel in die kop, waarvan jy geen noemenswaardige klagtes ondervind solank jy jou ietwat terughou ten opsigte van Venusgedrag nie. Toe jy haar egter redelik begin te vereer en ten slotte ook nog deur `n sekere skoonheid so tussen die bedrywigheid deur besmet word, het die kwaal in jou kop iets van die gif opgeneem. Jy het te min aandag aan hierdie saak bestee en die doktors het, soos gewoonlik, die kwaal nie reg gediagnoseer nie en jou verkeerd behandel. Daarom was dit ook vanselfsprekend dat jy ten slotte aan jou kwaal ten offer moes val. Dus jyself en niemand anders was verantwoordelik vir die ontstane kranksinnigheid nie, of as jy al oorlede wil wees, aan jou liggaamlike dood! Beskuldig voortaan nie meer die kerk nie, want hulle het geen skuld aan jou kwaal, wat jou hoe dan ook ten gronde sou gerig het nie. 

[3] Dit sou vir my hoogs aangenaam gewees het as ons nog baie jare saam die Oostenrykse volkere kon gelei het, maar die noodlot het gewil dat jy en ek ons van die politieke toneel sou terugtrek. Sodoende het ons beide wel soos jy beweer gesterwe, of volgens my opvatting gepensioeneer en in `n geheime kranksinnige inrigting gebring, waaruit ons elke jaar `n paar keer na buite mag vir `n wandeling om ietwat te geniet. Josef, wees verstandig en beskou hierdie Jood tog nie vir meer as wat Hy is nie! Maar sou dit werklik die geesteswêreld wees en sou jou verhaal oor Christus waar wees, dan sou Hy Hom tog anders aan `n keiser en `n kardinaal voorstel as `n gewone smousjood! Welke bewyse het jy dan vir jou bewerings? Christus `n smousjood! Nou vra ek jou!”  

[4] Josef sê: “Maar ook ek vra jou om jou in die allerhoogste persoonlike teenwoordigheid van Jesus, die Heer ietwat anders te gedra, anders sal dit met jou kardinaalskap spoedig gedaan wees! Die geduld van die Heer moet weliswaar ondeurgrondelik groot wees, omdat Hy dergelike onsin so gelate aanhoor, maar of dit sonder grense i, moet ek tog sterk betwyfel, want wanneer mens en geeste te lank en te hardnekkig sondig en hulle nie wil afkeer van hulle dwase verdorwenhede nie, sal Hy hulle `n dergelike gedrag seker nie al te lank laat welgeval nie. Het ekself byvoorbeeld op aarde aan die verlokkinge van Venus al `n paar jaar eerder geen gehoor meer gegee het nie, toe die goeie hemelse Vader my daarvoor deur allerlei voorvalle in my lewe diverse kere duidelik gewaarsku het, dan het ek miskien, ondanks alle vervolgings van my vyande, so `n tien tot twintig jaar langer kon lewe en die volkere in die Naam van God regeer. Maar omdat ek die heilsame waarskuwing van die Heer in die wind geslaan het, het die geduld van die Heer ietwat opgeraak en moes ek sonder genade en vergewing wat my liggaam betref, in die stof byt en wel pynlik en bitter genoeg. Dus vriend, stel die geduld van die Heer nie al te lank op die proef nie!”

[5] Aartsbiskop Migatzi sê: “Maar beste vriend, voordat ek my na behore kan instel op Christus, die Heer, moet ek tog eers insien dat Hy dit werklik is! Bewys dit eers vir my, dan sal ek anders begin te dink en te praat. Ek het tog nie daarom gevra of ek van jou mag verneem hoe kort of hoe lank die geduld van die Heer is nie. Gee my bewyse en dan sal dit wel blyk of ek dan ook nog so wildweg praat.”

[6] Josef sê: “Solank jou eie hart jou nie deur die gees van die liefde sal sê: Dit is Hy!, solank het alle bewyse ook geen nut vir jou nie. As jou hart dit egter vir jou sal sê, het jy ook geen ander bewyse meer nodig nie. Wie Jesus wil herken, moet Hom liefhê, maar wie Jesus liefhet, het Hom ook lewend in hom; en dit is die enigste bewys waardeur iedereen Christus sonder enige twyfel kan herken. As jy in hierdie gering lykende Jood eers vir Christus met al jou lewenskrag herken, dan sal wel blyk of daar agter hierdie Jood miskien tog ietwat meer skuil.” 

[7] Aartsbiskop Migatzi sê: “Jy is vir my tog `n rare snuiter! Hoe kan ek nou in hierdie Jood Christus liefhê voordat ek weet of Hy dit werklik is? Beteken dit dan nie om die Godheid van Christus diep omlaag te gaan haal as mens sonder verdere ondersoek Christus, die Heer sou begin te vereer in die eerste die beste Jood? Christus liefhê, vereer en aanbid in die vorm van brood en wyn, dit kan nog gaan, omdat Hyself hierdie vorms as aan Homself gelykwaardige plaasvervangers ingestel het. Maar Christus aanbid in die gedaante van `n baie gewone mens en bowendien nog `n Jood, vriend, dit beteken werklik op `n skandalige manier omgaan met die liefde tot Christus. Dit sal ek geensins doen nie! Is Christus slegs `n vrome volksfabel, dan is sowel die een as die ander `n dwaasheid, maar is Christus werklik dit wat die mite oor Hom vertel, dan sou die opvolg van jou advies tog die afskuwelikste godslastering wees, wat met die onderste hel sou bestraf moet word.”

[8] Josef sê: “Nie sleg nie! Wat leer Christus dan Self? Kyk, jou egte Roomse fariseër; Hy sê: “Maar wanneer iemand `n arm broeder opneem in My Naam, die neem My op; wie My egter opneem, neem ook Hom op, wat My gestuur het!” Wanneer die Heer Homself dus met ons broeders gelykstel, waarom sou ons dan anders daaroor dink? Ek sê jou, dit is niks anders nie as ons hoogmoed, wat Hom `n stralende en hoogverhewe God voorstel en Christus in eenvoudige klere nie aanvaar nie, omdat die hoogmoedige siel van die mens iets, wat eenvoudig en deemoedig daar uitsien, nie kan verdra nie! Slegs die hoogmoedige wens sy God met kroon en septer. Die deemoedige wens Hom daarenteen `n vriendelike, meer op homself lykende God, sodat ook hy dit kan aandurf om sy oë na Hom op te slaan en te sê: “O Heer, wel kom U tot my, arme sondaar, in die kleed van die grootste nederigheid, maar desondanks is ek dit nie werd om my oë na U op te slaan nie.” Wat dink jy, wie van hulle sou vir Christus, die Heer die mees aangenaamste wees?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205