Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 73

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Migatzi se ampsbroeders. Die eselagtige president. Migatzi se erkenning van die Heer. Sy oordeel oor Rome. Antwoord van die biskoppe

223 Nou kom daar skielik wel honderd geraamte-agtige wesens in aan flarde geskeurde vespermantels en ingeduikte biskopsmusse uit alle hoeke te voorskyn en skree baie opgewonde moord en brand. Een van hulle, hulle president, wat `n meer eselagtige as menslike gesig het, stel hom nogal op die voorgrond. Hy is weliswaar die domste van almal, maar dit maak nie saak nie, want hulle benoem steeds net die domste, sodat hulle self soveel te meer onbelemmerd kan doen wat hulle wil. So iemand hardloop haastig na Migatzi toe met `n ernstige gesig, wat daardeur nog dommer begin te lyk, sodat die hele geselskap van die Heer begin te skaterlag. As die na vore getrede president dit sien, word sy gesig nog ernstiger, waardeur sy gesig nog dommer en belagliker begin te lyk.

[2] Hy sper nou sy mond wawyd oop en doen alle moontlike moeite om `n kragtige Rooms-apostoliese vloek uit te spreek. Maar Ek trek `n klein streep deur sy rekening en die heer president stotter daar niks anders uit nie as `n hees knorrend: “j-a, j-a, j-a.” Helena en Robert stik byna van die lag. Selfs Petrus, Paulus en Johannes kon die lag nie heeltemal agter weë laat nie. Die vorste lag ook luidkeels, en Josef merk op dat hy in sy hele lewe nog nooit so `n belaglike gesig as die van hierdie woedende president gesien het nie.

[3] Robert sê vir My: “Heer, ek begryp nie hoe ek, by die binne­gaan van hierdie grafkelder, so bang kon gewees het nie, want nou sal ek my byna kapot lag vir hierdie vreeslike dom gelaats­uitdrukking en oor  die egte eselsgebalk! Dit het egter so `n groot simboliese betekenis, dat mens hom niks meet treffend kan voorstel nie. Hoe magtig het Rome ten tye van Luther geskreeu van toorn en woede en hoe magtig skree dit nou teen die nuwe-katolieke, maar die geskreeu is steeds onveranderlik eselsgebalk en hierdie president is `n geslaagde en getroue beeld van die pousdom!”

[4] Ek sê: “Dit sal ook die gevolg wees van die teenwoordige inspanning van die pousdom. Die mens sal die dienare flink begin uitlag, en hoe meer hulle hulle vererg, soveel te meer sal hulle uitgelag word, totdat hulle eie toorn hulle ten slotte sal verteer. Wat jy hier sien in die kleine, sal op aarde geskied in die grote! Die dienare van Bileam sal alles in werking stel, sal wondermagie bedrywe en skree en balk netsoos hy hier, maar die volk sal hulle vermaak soos ons geselskap nou hier, ten opsigte van hierdie j-a balkende esel. En hierdie vernedering sal die beste geneesmiddel wees vir die dwase.

[5] Maar weldra sal jy ook sien, waarom jy eers so bang was. Spoedig sal die innerlike van hierdie papiste (roomse) na buite tree en jy sal redelik verbaas staan oor die bedrieglike kunste wat hierdie wesens sal realiseer. Ek sal die geselskap egter sodanig bewerk dat hulle hulleself daarby sal gedra soos baldadige publiek by `n mislukte komedie. Dit sal dan `n goeie uitwerking hê.”

[6] Nou kom Migatzi na My toe en sê: “Heer Jesus, U is werklik Hy! Nou herken ek U eers volkome! U alleen sy ewig alle eer!” Ek gryp egter sy hand en sê: “Broeder, word volmaak!” Daarop lyk Migatzi dadelik baie goed en gesond.

[7] Migatzi voel nou baie lig en versterk en voor sy oë word dit ligter en ligter. Hy dra nog net steeds dieselfde geskeurde, aartsbiskoplike gewaad, wat hom sigbaar hinder. Hy bekyk homself en sê na `n rukkie vir My, vol innige liefde en die volste vertroue: “Heer Jesus, waaragtige God en Seun van U ewige Vader! Omdat U reeds teenoor my, sonder enige verdienste, vir my maar terwille van U allerheiligste Naam, so genadig was en my verlos het uit hierdie poel van die verderf, vra ek U my ook te verlos van die res, wat my oë `n weersinwekkende aanblik en my neusgate `n aaklige reuk besorg! Bekyk my walglike gewaad van hoogmoed en bedrog, en bevry my daarvan! Gee my in die plek daarvan `n eenvoudige bedelaarsgewaad en ek sal my salig daarin voel!”

[8] Ek sê: “My beste broeder, die gewaad was weliswaar `n gewaad van hoogmoed en bedrog gewees vir diegene wat dit hoogmoedig en pronksugtig gedra het, maar jy het dit slegs gedra vanweë die ritus, soos wat die rooms-kerklike reëls dit voorgeskryf het. Sodoende was dit vir jou `n ware erekleed en dus nie veragtelik, soos wat jy dink nie.

[9] Want nie alles is sleg aan die Roomse nie! Dit is slegs `n gruwel, as hulle vanweë die aardse Mammon, na middele gryp wat van suiwer helse aard is, soos: Valse wonders, valse genees­middele, aflate, relikwieë- en beeldeverering, amulette, vroom­klinkende towerformules, blinde seremonies, genadebedevaarts-oorde, kerkskatte vir ydel kerklike luukses, hoë ampte en ereplekke, die mees uitgebreide heerssug en die hardnekkige mening om altyd die grootste gelyk in die wêreld te hê. Ek wil niks sê van hulle misoffers nie, niks van hulle oorbieg, van hulle tempels, klokke en orrels, niks van waardige kunswerke, niks van die heilig hou van hulle bedehuise en niks van die begrafnis­seremonies vir oorledenes nie. Want as dit alles met `n suiwer ingesteldheid gebruik word, is dit deugdelik om die menslike gemoed te verhef en te veredel, maar dat die Roomse dit op hulleself geneem het om die suiwer dinge te gebruik om die menslike hart dom te hou en dit blindelings te laat glo dat mens, deur die nougesette gebruik daarvan, tot die lewe in die hemel kan kom en slegs daardeur My genade kan verkry, dit is baie sleg! Want daardeur word Ek, as Vader teenoor die kinders, tot `n tiran gemaak, wat wel deur die dom mens gevrees moet word, maar nooit bemin moet word nie. Die verstandiges, en die mens met lewenservaring, begin hulle dan egter vir My te skaam. Hulle wil dan dikwels van `n Verlosser, soos wat die Roomse kerk Hom afskilder, niks meer weet nie en werp daardeur die kind saam met die badwater weg. Dit bewerkstellig die Roomse kerk deur haar eiemagtige leerstelsels, bepalings, konsessies en voordele, wat hulle voorgee om van My te gekry het, en bowendien deur allerlei toegestane en gepreekte bygelowe. Dit is egter dit waardeur hulle hulleself ten gronde rig en eintlik reeds ten gronde gerig het.

[10] Dit alles lê egter nie by die gewaad nie, maar by die geweldige misbruik daarvan. Behou daarom ondertussen maar jou gewaad! As ons weldra uit Wenen weggaan en onderweg nog geestelik `n besoek aan `n plek gebring het, sal jou gewaad wel in `n ander verander!” Daarmee is Migatzi tevrede en dank My vir hierdie troosvolle les.

[11] Tegelykertyd klink daar egter uit die donker hoeke skril krete: “Uit met hierdie ketters, met hierdie godslasteraars, met hierdie vir ewig vervloektes!” Migatzi val byna in onmag en sê bewend: “Maar Heer, kan U dit aanhoor sonder om hulle almal met vuur en swawel te vernietig? Terwille van U allerheiligste Naam... wat sal gebeur?”

[12] Ek sê: “Heeltemal niks, want Ek is tog nie soos `n mens, wat dadelik alles met vuur en swawel wil vernietig nie! Wat se soort mense en geeste dra die aarde? En tog laat Ek daagliks die son opkom en ondergaan en die aarde verlig en verwarm op al haar plekke na die mate waarin die natuur dit vereis. Kyk, in die geduld en die liefde lê die grootste krag! Wie dit nooit uit die oog sal verloor nie, sal groot dinge bereik! Daarom moet ons dan ook geduld en liefde hê vir alles wat swak is, dan sal ons moeite steeds met die beste resultaat beloon word. Laat hulle maar skreeu! Hulle sal wel ophou as hulle genoeg geskreeu het. Dus geen angs en geen ergernis meer nie!”

[13] Op dieselfde oomblik begin dit op die agtergrond te bliksem en geweldig te donder. Gloeiende reuseslange kom uit verskillende hoeke te voorskyn en kronkel woedend. Vurige geraamtes rammel, ook naguile en vlermuise ontbreek nie, en op die agtergrond is `n afskuwelike, reusagtige muil te siene met verskriklike groot, byna witgloeiende slagtande. Uit die muil slaan voortdurend rook en vlamme omhoog, en op die voorhoof van hierdie helledraak staan in rooigloeiende skrif geskrywe: “Ek is die ewige helledraak, wat alle brutale ketters moet verslind! Iedereen wat hulle nie aan die Roomse, alleen saligmakende kerk wil hou nie en lag vir haar heilige gebooie, sal deur my vir ewig opgevreet word.”

[14] Deur die opskrif ontstaan daar al `n geweldige gelag. Selfs die aanvanklik redelik angstige Helena sê: “Hierdie skouspel sou in die amfiteater baie opsien gebaar het; die Stefanus katedraal staan wel op `n baie pragtige bodem! Het ek daarvan op aarde ook maar `n flou vermoede gehad, dan was ek die eerste gewees, wat `n soortgelyke tempel met `n brandende fakkel sou besoek het. Bekyk net die kêrels daar, wat alles uithaal om arme en swak geeste in hulle heb- en heerssugtige nette te dryf! Aha, daar kom hulle aan; `n groot groep in aartsbiskoplike kleding getooi, gevolg deur `n hele menigte bediendes. Wat gaan hulle nou doen?” Ek sê: “Wees rustig, my dogter, luister en kyk!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205