Van die Hel tot die Hemel - Boek 2
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 98

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154.

Oor die korrekte liefde vir God. Gelykenis van die smal poortjie en die groot las. `n Hemelse onse Vader

248 Die offisier begeef hom nou vinnig na My toe en sê: “Heiligste Vader, U roep my en ek staan in alle liefde voor U en wag om U hoogheilige wil uit U mond te verneem.”

[2] Ek sê: “My beste Peter, jy moet nie voortdurend “heilig” en “allerheiligste” teenoor My in jou mond neem nie en bowendien moet jy die aardse komplimente heeltemal afleer, want hier, waar almal gelyk is en daar maar een Heer is, is elke kompliment `n dwaasheid. Die sersant-majoor het jou goed en waarheidsgetrou die lewensomstandighede in My hemele uiteengesit, maar stilletjies het jy steeds iets daarteen in te bring, en dit is nie goed nie. As Ek Self iemand vir jou aanbeveel om jou te onderrig, dan moet jy maar net na hom luister en jou lewe daarvolgens inrig, maar as jy steeds met teenwerpinge kom en iets anders, wat nooit met My ewige ordening in ooreenstemming kan wees nie, beter vind, sal jy nooit met jouself in die reine kom nie. 

[3] Die sersant-majoor het jou onder andere gesê van welke aard die liefde vir My moet wees, as dit vir jou die korrekte vrugte wil afwerp, maar jy het toe weer anders daaroor gedink. Tog moet dit wees soos wat die sersant-majoor dit so eenvoudig vir jou uitgelê het.

[4] Kyk, jy hou so hartstogtelik baie van die lieftallige Mathilde, dat jy jou nouliks teen so `n liefde kan verweer. Tog moet jy Mathilde voorlopig heeltemal opgee en moet jou liefde heeltemal net aan My behoort en dieselfde geld ook vir Mathilde. Anders sal jy nooit My ryk saam met haar kan binnegaan nie.

[5] As jy Mathilde nie uit My hande ontvang het nie, kan sy jou nie met heil en krag uit My behulpsaam wees nie, maar jou wel geleidelik aan onheil en aansienlike verswakking bring.

[6] Gaan daarom na haar toe, bring haar na My toe en dra haar aan My oor! Dan eers sal jy vry wees om die korrekte liefde uit My in jou op te neem.”

[7] Die offisier sê: “Heer en Vader, dat ek U Woord nougeset sal nakom, is tog vanselfsprekend, maar tog wil ek U vra of U my nie nog met enkele woorde wil sê, waarom ek eintlik Mathilde eers geheel aan U moet oordra, voordat sy deur U hand heeltemal myne kan word. Tot vrou kan ek haar tog nie hier in die geesteryk neem nie, omdat, volgens U Woord, `niemand hier kan trou of uitgehuwelik word nie. Tot verdere ontwikkeling in U ryk, o Heer, het U haar tog Self aan my toevertrou. Dat ek haar gespeen het van alle sinlike bygedagtes as `n gawe uit U hand en as `n allerliefste, hemelse wese liefhet, vind ek geheel in ooreen­stemming met my gewete. 

[8] Heer, vergeef my, arme sondaar, sulke vrae, maar ek kan niks daaraan doen dat ek eers van alles die rede wil weet, voordat ek tot handelinge oorgaan nie. Ek besef weliswaar goed dat mens U wil onvoorwaardelik moet opvolg, omdat U altyd die beste vir U kinders wil hê, maar tog voel ek die drang in my om, van alles wat ek moet doen, die rede en die doel te deurgrond. As dit dus U wil mag wees om my iets daaroor mee te deel, sal dit vir my uiters welkom wees!”

[9] Ek sê: “Maar nie vir My nie, beste vriend en seun, want as dit nodig sou wees om jou die rede daarvan te sê, dan het Ek dit lankal gedoen. As so wys sal jy My hopelik tog wel beskou, dat Ek duidelik insien wat wel of nie nodig is nie. Op goeie gronde sê Ek jou egter nie die rede daarvoor nie. Het jy dalk ook iets daarteen in te bring?  

[10] As jy `n las van aansienlike omvang dra en jy kom by `n smal poort daarmee, waardeur jy daar moet deurgaan as jy die doel van die lewe wil bereik, sê vir My, wat sal jy met die omvangryke las op jou skouers doen om die hoë doel te bereik?”

[11] Die offisier sit groot oë op en sê na `n rukkie: “As ek die las nie deur die smal poort kan kry nie sal ek hom vas en seker voor die poort neerlê en probeer om my daarsonder deur te wring, want die doel van die lewe staan hoër as elke las, ook al lyk dit hoe waardevol.” Ek sê: “Goed, My seun! Gaan heen en handel daarvolgens, dan sal jy lewe!”

[12] Nou begewe die offisier hom dadelik na Mathilde en sê vir haar: “Mathilde, die Heer vra na jou. Kom dus saam met my, sodat ek jou aan Sy heilige hande kan toevertrou.” Mathilde sê: “Ek is maar `n onwaardige diensmaagd van die Heer, maar Sy heilige wil geskied!”

[13] Met hierdie woorde bring die offisier Peter vir Mathilde na My toe en sê: “My Heer, my God en heilige Vader, hier is sy wat U verlang! Ek dra haar met groot vreugde in my hart aan U oor, want ek weet dat U die beste vir haar ewige lewensgeluk sal sorg. Slegs U heilige wil geskied.”

[14] Mathilde sê egter, vol vrees en liefde vir My: “Heilige Vader, U wat in die hemel woon, laat U Naam altyd en steeds meer erken en geheilig word! Laat U ryk van Liefde, Wysheid en ewige lewe tot ons almal kom! Laat slegs U heilige wil deur alle vrye geeste, wesens en mense in die hemele en op alle hemelliggame nougeset nageleef word! Gee o heilige Vader, dat alle kinders U hemelbrood van die lewe mag eet met `n suiwer mond! Vergeef ons almal ons swakhede en sonde, soos wat ons almal vergewe, wat ons ooit beledig het! Laat ook nie toe dat ons, kinders wat nog met allerlei swakheid behep is, so in versoeking gebring word, dat dit ons kragte te bowe gaan nie! As iets boos egter U kinders dreig om te verderwe, wend dit dan af en bevry hulle van alles wat hulle boosheid sou kon aandoen! Want aan U alleen is ewig alle mag en krag! Aan U alle roem, lofprysing, eer en aanbidding! Aan U alleen ewig al ons liefde en lof! Amen!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205