Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 10

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die sfeer van die vyfde gees. Die grootste wonder, die hart van die mens

10 “Ken julle nie hierdie vyfde gees, wat al voor ons staan nie? Kyk maar hoe hy julle vriendelik toelag en uitnooi om in sy sfeer te kom. Gaan dus maar en bekyk sy rykdom. Ook hierdie gees sal in sy eie sfeer vir julle herkenbaar en sigbaar bly en hy sal julle rondlei in die gebied van die skatte van sy innerlike lewe. Begeef julle dus maar in sy sfeer.

2 Julle is nou in sy sfeer, slaan alweer die hande inmekaar van verbasing en is byna buite sinne deur die wonderbaarlike, verhewe grootsheid van dit wat julle nou vlugtig sien. Volg nou maar gerus hierdie vriendelike broedergees, dan sal julle onverwagte dinge aan sy sy ervaar. Netsoos die vorige, sal ook hy julle tolk wees in My Naam; luister dus na wat julle gids sê:

3 O liewe broers en vriende, wat `n saligheid en `n vreugde vir my, dat ek julle hier terug sien! Julle ken my immers; volg my daarom maar in my salige sfeer. Ek wil julle laat sien welke skatte voortkom uit die liefde vir die Heer. Kyk, liewe broers, en veral jy, my geliefde Anselm, daar gunter op daardie heerlike gebergte voor ons, eers daar sal julle die skatte van my saligheid sien!

4 Ons het die top van die gebergte bereik. Kyk nou na die eindelose verte. So ver julle geestesoog maar kan reik, ja so ver julle stoutmoedigste en snelste gedagtes hulle kan verplaas, dit alles is vir my as `n groot vorstedom gegee.

5 Julle vra my nou en sê: Maar liewe salige broer, is jy dan ook die eienaar van al hierdie tallose, pragtige paleise, wat soos opgaande sonne op die ronde berg stralend staan en pryk en ook die eienaar van al die ontelbare miriades salige geeste wat ons oral vriendelik met mekaar sien omgaan? Behoort al die talloos baie pragtige tuine met hulle glansende suiletorings, wat ons verbaasde oë verblind met hulle sterk lig, aan jou?

6 Hoe is dit dan met daardie verre wêrelde, wat ons as opgaande sonne sien? Die helder uitspansel met sy ontelbare, pragtige sterre, is dit ook van jou? En hierdie heerlike son bo ons, wie se strale so mild en sag die hele oneindigheid vul, hoe staan dit met haar? Reken jy haar ook tot jou eiendom?

7 Ja, liewe broers, ek sê vir julle: Nie net dit wat julle sien nie, maar nog oneindig veel meer, wat julle nie kan sien nie, is die eiendom van my liefde! Liewe broers, julle verwonder julle en sê: Maar liewe salige broer, jou verklaring klink byna asof selfsug en eieliefde by jou sou binnegesluip het, want jy sê: Dit alles en nog oneindig veel meer is die eiendom van my liefde. Maar die liefde is tog jou eie ek en dus ook jou eintlike lewe. Weet jy dan nie dat alles slegs die eiendom van die Heer is nie? Hoe kan jy dan nog sê dat dit alles die eiendom van jou liefde is?

8 Ja, liewe broers, julle woorde is vir my aangenaam en julle bedenking is weliswaar gegrond, maar nie reg geplaas hier nie. Want as julle oordeel van buite na binne, dan het julle oordeel wel `n goeie rede, maar hier moet elke oordeel altyd raak wees en maar net van binne na buite gaan. Kyk, daarom is julle oordeel nie op die regte plek nie. Want as ek sê: Dit alles en nog oneindig veel meer is die eiendom van my liefde, dan moet julle daarby van binne uit oordink dat my liefde die Heer self is, en ek geen ander liefde het en dus geen ander lewe as slegs dit van die Heer nie!

9 Sodat julle, broers en vriende, werklik terdeë mag insien dat julle oordeel oor my `n uiterlike oordeel was, sê ek nog dit aan julle vir alle duidelikheid, wanneer julle sê: “Dit alles is die eiendom van die Heer”, julle daardeur slegs die uiterlike bekentenis aflê, dat julle dit alles slegs aan die Heer toeken; maar deur so `n toekenning is die Heer, netsoos die bekentenis, nog buite julle. Wanneer julle egter sê: “Dit alles is die eiendom van my liefde”, dan deel julle daardeur uit julleself mee dat die Heer vir julle alles is en dat Hy met Sy liefde en genade as die ewige lewe in julle woon. Wanneer julle in die liefde van julle hart tot die Heer sê: “Dit alles is die eiendom van my liefde”, dan sê julle daarmee dieselfde as eens my liewe goeie vriend, die ou apostel Paulus gesê het toe hy nog in die vlees op aarde geleef het: “Nou leef nie meer ek nie, maar Christus leef in my!” Dit sê ek julle slegs sodat julle daaruit mag weet op welke manier ons hier spreek, want op aarde bestaan slegs `n uiterlike spreek, wat dan van buite af in die inwendige moet deurdring. Daarom is dit ook `n onseker en selde doeltreffende spraak as dit nie so gevorm is soos die woord van die Heer, waardeur die mens van alle kante gegryp word en dit hom so geheel deurdring. Ons spraak egter is `n inwendige spraak en het niks uiterlik nie, daarom is dit ook altyd doeltreffend.

10 Kom nou saam met my na die heuwel daar voor ons, waar julle `n pragtige paleis sien. Kyk, ons het die woord nouliks uitgespreek of ons is al waar ons wil wees. Julle sê nou: Dié paleis is pragtig en groots, maar die tempel wat ons in die sfeer van ons vorige broer gesien het, was grootser. Maar ek sê vir julle: Oordeel nie te vinnig nie, gaan eers na binne en vergelyk dan. Kyk, ook hier is maar `n nou poort waardeur mens in die paleis kom. Buk julle dus so goed julle kan en volg my. Wel, ons het deur die poort gegaan en bevind ons in die paleis.

11 Wat is dit daar met julle, dat julle, asof verstard, in die rondte kyk? Kyk, liewe broers, ek het julle immers al gesê dat julle nie te vinnig moet oordeel nie. Hier lê die waarde van die dinge altyd net in die inwendige en nooit in die uitwendige nie. Daarom is die inwendige ook altyd verhewener en wonderbaarlik grootser as die uiterlike, want hier staan alles in verhouding, soos die Woord van God op aarde. Eenvoudig en beskeie staan dit deur middel van letters in die boek. Wanneer iemand egter deur die nou poort van die deemoedige liefde in die eenvoudige woord binnedring, tot welke wonderbaarlike rykdom kom hy dan nie deur `n enkele woord van God nie, wat eenvoudig en beskeie, uit letters saamgestel, in die boek staan. En, soos gesê, staan die dinge hulle ook hier presies so in verhouding.

12 Julle het nie vermoed dat julle in dié eenvoudige paleis `n oneindigheid vervul met God se wondere sou sien nie. Omdat julle hierdie nou egter sien, die tallose wêrelde in hulle geestelike verheerlikte bestaan en die miriades heerlikhede met hulle tallose salige bewoners daarop, verbaas julle julle daaroor hoe so-iets moontlik is in, van buite af gesien, so `n klein paleis.

13 Maar ek sê vir julle: Dit is by verre na nie so `n groot wonder as die feit dat die hart van `n mens tot woonplek kan word van die Heilige Gees, deur die liefde van die ewige Vader, die oneindige allerheiligste almagtige God!

14 Wil julle saam met my daarheen wandel, waar daar, op `n vlakte vol heerlike glansrykheid, `n wonderbaarlike ronde tempel homself verhef, wat omgewe word deur drie rye baie mooi blinkende pilare, geen dak het nie, maar in die plek daarvan `n stralende reënboogkonstruksie het wat gedurig lyk asof dit beweeg? Julle wil dit, en kyk, ons is ook alweer ter plaatse. Het julle sin om hierdie tempel ook saam met my binne te gaan? Julle bevestig dit bly van hart. Volg my dan ook terstond in hierdie tempel in.

15 Wel, ons is al binne. Julle slaan weer julle hande inmekaar van verbasing. Ja sien julle, so gaan dit hier by ons; in die inwendige is ons tuis. Daarom, laat julle nie van die wysie bring deur die nog groter wonderbaarlike heerlikhede wat julle hier sien nie, want hoe dieper ons deurdring, des te heerliker en pragtiger word alles. Die allergrootste liefde, genade en wonderbaarlike rykdom is egter in die mees inwendige, naamlik in die Heer. Om daar te kom, sal vir geen gees ewig ooit moontlik wees nie, alhoewel hy Hom steeds meer kan nader.

16 Julle vra my na die betekenis van die see daar gunter, wat so pragtig skitter, en die pragtige eiland met verskeie mooi tempels wat nie ver van die oewer lê nie, veral die baie mooie daar op `n steil helling. As julle julleself ook saam met my daarheen wil begewe, kan julle julleself daarvan oortuig wat dit alles is. Julle wil dit, en kyk, ons is ook alweer by ons doel, want op die seë hier het ons geen skepe nodig nie. Deur ons wil kan ons oral kom waar ons maar wil. As julle hierdie tempel ook saam met my wil binnegaan, volg my dan. Maar hierdie tempel mag, wat sy inwendige betref, nie aan julle onthul word nie, maar julle sal julle daarin bevind soos binne-in `n gebou.

17 Wel, ons is al binne. Hierdie allerpragtigste boustyl geval julle baie goed. Maar kyk, daar by daardie groot venster, waardeur rooi lig na binne val, wie sien julle daar? Julle sê: `n Baie liewe, vriendelike man en `n netso beminlike, vriendelike dame. Gaan maar saam met my en wees volstrek nie bevrees nie, want hierdie bewoners is buitengewoon vriendelik en uitstralend. Kyk, beide staan op en kom ons ylings met ope arms tegemoet. Herken julle hulle nog nie? Julle sal hulle sekerlik herken as hulle vlak by ons is. Daar is hulle al! Laat julle deur hulle seën, want hy is die liefling van die Heer, die apostel Johannes en sy, o broers en vriende, sy is die moeder van die vleesgeworde ewige Woord uit God! Sy het julle nou geseën, maar die tyd om met hulle te kan praat, het nog nie aangebreek nie. Tydens julle verblyf hier, sal die geleentheid hom sekerlik nog vir ons voordoen om nader aan, sowél Johannes as Mirjam te kom, as wat nou die geval is. My innerlike sê vir my: Tot hier en nie verder nie mag ek julle lei. Daarom kan julle weer saam met my terugkeer na die plek vanwaar ons vertrek het.

18 Slegs een ding sou ek van julle wil weet. Julle het dit weliswaar nie gemerk nie, maar dit het my blik nie ontgaan nie, dat hierdie, beide lieflinge van die Heer, terwyl julle naderkom, asof deur `n salige eerbied aangegryp word, waardeur hulle ook absoluut nie in staat was om te spreek nie. So-iets het ek nog nooit gesien nie, terwyl ek tog al baie op hierdie plek was; ja, dit is selfs die plek waar ek my die graagste ophou. Julle swyg en wil niks meer vir my sê nie. O broers, juis julle stilswye doen iets groots aan my, ja die allergrootste vermoede. Daarom wil ek ook nie verder aandring nie, en dus geskied, soos altyd, die allerheiligste wil van die Heer.

19 Julle vra my en sê: Maar liewe broer, hoe sal ons nou die weg terugvind? Kyk eers waar julle julleself bevind en vra dan eers. Julle sê nou: Hoe is so-iets moontlik? Ons is al op die plek vanwaar ons vertrek het! Ja, sien julle, dit gaan beter as met julle spoorweë op aarde. Ons het ons plek eintlik gladnie verlaat nie, maar dit word julle slegs toegestaan om juis in hierdie, my sfeer, wat die genade van die Heer is, steeds dieper, en nogeens dieper blikke in my innerlike liefde te werp. Julle hoef daarom niks anders te doen as om julle blik terug te trek om te ontdek dat julle julle nog volkome behoue op die voorgaande plek bevind nie. Daarom het ek nou niks anders meer vir julle te sê nie as dat ek die een is, wat as julle broer op aarde, die naam Frans gedra het. Daarmee het ek my innerlike opdrag aan julle vervul en kan julle ook weer uit my sfeer tree.

20 Wel, hoe het alles julle geval? Julle het heeltemal in geluksalige vervoering geraak. Ja, dit is wel goed, maar dit is nog nie alles nie. Kyk, daar kom reeds `n sesde gees na ons geselskap toe. Hy hoort nie meer tuis op hierdie geestelike son nie, maar hy is `n bewoner van My heilige stad. In sy sfeer sal julle weliswaar ook enkele dinge van die geestelike son sien, maar julle sal dit in `n heel ander lig sien as wat tot nou toe die geval was. Berei julle daarom goed voor want Ek sê vir julle: Alles sal `n heel ander aansien kry.

21 Julle tweede broer wil ook graag julle beweegredes weet. Maar Ek sê: Daarvoor is hy nog nie ryp nie. Eén oomblik sou vir hom al te veel wees, maar ons sal tog dat hy My nabyheid voel. Kyk net hoe hy begin straal van geluk en hoe hy uit die diepste van sy hart geluksalig uitroep: O heilige Vader, U kan nie meer ver weg wees nie, want die niksvermoedende saligheid van my liefde sê vir my dat U naby ons is! Wanneer sal ons ooit die hoogste saligheid geniet, om U, o heilige Vader te aanskou in die allergrootste liefde van ons hart? Ek sê vir julle: Aan hierdie geeste sal hierdie genade spoedig, ja heel spoedig verleen word. Maar ons sal ons voorberei op `n verdere beskouing by die volgende geleentheid, en dus genoeg vir vandag.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205