Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 13

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die skommel* in haar ooreenstemmende beeld. Seremoniële godsdienskultus en die wêreldse lewe

*(skommel - sitplek tussen twee lang toue wat aan ’n stewige tak of raamwerk bevestig is, en waarin kinders heen en weer kan swaai)

13 “Julle het sekerlik meer as een maal so `n eentonige tuinlugskip gesien, wat aan julle baie goed bekend is onder die naam skommel (swaai); ook sal julle al wel so `n steeds herhalende vliegreis meegemaak het. Wat het julle dan gevoel wanner dié lugskip so flink heen en weer deur `n kundige gesagvoerder gedu word? Julle sê: Ons gevoel was alles behalwe behaaglik en toe ons dié vaartuig verlaat het, het ons byna gebraak van so `n vreeslike heen en weer gereis! Om dié rede het ook alle lus by ons verdwyn om ooit weer so `n lugreis mee te maak.

2 Ek sê: Hierdie beskrywing is baie goed en ons sal dit ook buiten­gewoon goed vir ons doel kan gebruik. Het julle egter net vir julleself afgevra wat daar met so `n skommel sou gebeur wanneer sy deur die entoesiastiese een wat stamp, al te hard in beweging gebring sou word? Julle sê: O ja, dan slaan sy oor, met die gevolg dat dit baie sleg met die lugreisigers afloop. Goed, sê Ek, ook dié verhaal kan ons baie goed gebruik. Gee ons in dié opsig nog `n derde vraag en dit lui: Hoe ver kom die reisigers in so `n lugskip? Antwoord: Na ure lank se heen en weer beweeg het hulle uiteindelik so ver gekom, dat hulle weer op dieselfde punt waar hulle ingestap het, ook uitstap. Wat se reis is dit dus? Antwoord: `n Skynreis, omdat mens weliswaar flink in beweging gesit word, maar desondanks tog nie buite die swaailengte van so `n lugskip kom nie, en mens hom uiteindelik moet laat welgeval om selfs uitgelag te word deur `n slak, wat met `n onvergelykbare stadige kruipbeweging binne `n paar uur meer as die swaailengte van ons skommel afgelê het. So sien ons ook in die sfeer van ons gees­telike gasvrye vriend hoe `n menigte mense hulle in aansienlike groot skommels wild heen en weer laat skommel. Kyk maar: Solank die skommel nog `n matige beweging maak, roep die skommelaars die aanvoerder toe: Harder, harder skommel! Maar as die skommel al byna `n halwe sirkel beskryf, roep hulle weer almal: Stop, stop, anders slaan die skommel oor die kop en is ons verlore!

3 Sien julle nog niks in dié eienaardige beeld nie? O, dit staan vir julle so helder soos `n son voor oë! As julle slegs `n blik op die seremoniële geloofskultus werp, dan sal julle ons beeld dadelik begin te begryp.

4 `n Kind, in so `n seremoniële kerk gebore en gedoop, word in geestelike opsig reeds in so `n skommel gelê, en as hy daarin lê, word die skommel ook terstond geleidelik aan in `n steeds groter beweging gesit. Met so `n beweging dink die mens dan dat hy, die hemel weet watter groot vordering maak en hoe hy vooruit kom. Elkeen kan net, met die eerste oogopslag, maklik insien hoe ver so `n reis sal gaan! Tussen twee pilare hang ons lugskip. Die een pilaar beteken die sogenaamde rots van die geloofsleer, die ander pilaar egter die noodsaaklikheid van staat en politiek. Beide is so stewig moontlik geplaas en deur dwarsbalke met mekaar verbind. So gaan die reis tussen hierdie twee pilare dan vervolgens deur, en mens kan hom geen duimbreedte verder beweeg as die tou, waaraan die veelseggende skommel hang, lank is nie. Sommige skommelaars word baie gou mislik en by die eerste ruspunt wat hulle te baat kan neem, spring hulle daaruit. Enkeles keer so `n vervoermiddel vir goed die rug toe. Slegs diegene wie belang het by die skommel bly pro forma daarin sit, laat hulle slegs vir die skyn heel rustig heen en weer trek, en loof en prys so `n beweging, wat volgens hulle buitengewoon goed is vir die gesondheid. Daardeur trek hulle ook vreemdes aan en sê aan diegene wat so dwaas is, om weer in dié vervoermiddel te klim: Wil julle ten volle die genot en dus die volmaakte bevrediging van so `n tog ervaar, dan moet julle julleself laat blinddoek. Aangesien so-iets dan baie dwase verlei om met geblinddoekte oë in die skommel te gaan sit, gebeur dit dan dat hulle entoesiasties begin te roep en sê: Ja, nou begryp ons eers watter groot geheime agter hierdie eentonigheid verskuil lê, want nou het die heen en weer opgehou en ons vlieg bliksemsnel deur eindelose ruimtes. Dit moet tog `n wonderwerk wees! Wie het ooit kon droom, dat daar agter so-iets eentonig, so-iets groots verborge kan lê?

5 Wanneer sulke geblinddoekte lugreisigers dink dat hulle al ver genoeg te gereis het, dan versoek hulle diegene wat belang het by die skommel om hulle oë weer vry te maak. Maar die belang­hebbendes, baie goed wetende watter gevolge die vrymaking van die oë vir hulle geblinddoekte lugreisigers sal hê, raai dit heel dringend af en sê: Wee julle, as julle dit nou sou waag, want in die sfeer waarin julle julleself nou bevind, sou julle vir ewig blind word as julle nou die blinddoek van julle oë sou laat afneem. Eers as ons die groot lewensdoel sal bereik, kan julle die blinddoek wegneem, sodat julle dan mag sien hoe veilig ons julle, vir die geringe loon wat julle ons vir die hele groot reis betaal het, na die doel gebring het.

6 Wel; enkeles laat hulle mislei en hou hulle blinddoeke braaf op, maar ander, bewe van die hierdie eienaardige, onbestemde geblinddoekte reis, ruk die blinddoek af en merk tot hulle groot ergernis dat hulle hul nog tussen die twee pilare bevind. Hulle sou nou graag uit die vervoermiddel wil spring, maar dit is nog te sterk in beweging en daarom is hulle genoodsaak, ondanks al hulle verset, om hierdie eentonige reis mee te maak. Wanneer hulle by die leiers begin te kla, word hulle om allerlei redes beveel om te swyg, omdat hulle andersins hardhandig uit die skommel gegooi sal word, wat hulle nie al te goed sou wou hê nie. En kyk nou net; sodat sulke protesteerders hulle noodgedwonge wel by die uitspraak van die belanghebbendes moet neerlê, is aan die een kant van die skommel `n vuur aangelê en aan die ander kant `n groot hoeveelheid spiese opgestel! Wat bly vir die protesteerders nou nog oor? Niks anders as om hulle nog langer heen en weer te laat skommel en vir elke skommeltog teen hulle wil, vir die huur te betaal. Hoe smagtend wag die siendes op die oomblik dat die skommel sal stop! Maar wanneer sal dit gebeur?

7 Ons sal dit op `n baie maklike manier bereken. Kyk, die nabystaande skommel swaai nou al baie hard, en beskryf van links na regs byna `n halwe sirkel. Maar kyk, deur die harde skommel wikkel die pilare al aansienlik saam met die skommel en deur die groot wrywing het baie drade van die skommeltou al deurgeslyt. Hierdie fout aan ons lugskip word selfs deur die belanghebbendes opgemerk. Daarom durf hulle dit nie meer so hard swaai nie, want hulle sê: As ons die ding te hoog laat gaan, breek die toue en lê ons met ons passasiers, óf in die vuur, óf in die spiese. Daarom sal ons die skommel ongemerk tot stilstand bring, met die protes­teerders `n akkoord aangaan, en sal ons ook onopgemerk na hulle wense voeg, terwyl ons alles, solank dit gaan, sy loop laat neem. Want ons sien baie goed in dat daar nie veel meer met geweld te bereik is nie. 

8 En kyk nou opnuut. Die skommel beweeg hom oor `n veel korter afstand baie onverskillig heen en weer en diegene wat nie meer geblinddoek is nie, spring een vir een daaruit. Ons sien nou byna geen insittendes meer nie, behalwe die belanghebbendes en `n enkele geblinddoekte. Julle sien ook dat die bestuurders van die skommel ywerig moeite doen om beide wankelende pilare met allerlei stutte so goed as moontlik vas te sit. Betaalde knegte klim langs lere omhoog en probeer om met swak koorde die baie beskadigde tou so goed moontlik aan beide pilare vas te maak. Omdat die tou egter nie stil hang nie, maar hom nog steeds heen en weer beweeg, kan hulle nêrens `n veilige en stewige lus maak nie; dan is dit te lank, dan weer te kort, sodat hulle daardeur bitter weinig kan bydra tot die verdere behoud van die hooftou. Dit is tog `n duidelike kenmerk van die huidige stand van sake!

9 Wie dit slegs as `n beeld van leë fantasie sou wil beskou, moet maar net `n vlugtige blik op die doen en late van die huidige wêreld werp, en hy sal dié vasbind en knope wat oor en weer tussen lande, volkere en kerkgenootskappe lê, baie duidelik herken. Ek wil julle net opmerksaam maak op allerlei onderlinge onderhandelings tussen state, wat lei tot verskillende ooreenkomste. Wie dit ook maar met `n halwe oog bekyk, sal die betekenis van die boge­noemde kuns en vliegwerk met toue en bande baie duidelik sien. Nou sal die een of ander My teengaan en sê: As die sake so is, waarom is die weer siende protesteerders dit dan eens met die aanbind en verstewiging van die toue? Julle het die antwoord duidelik voor oë: Omdat die skommel nou nog taamlik hard gaan en hulle hulleself ook in hierdie fatale skommel bevind, is hulle byna netso bang soos die belanghebbendes self, dat die tou voortydig sal breek. Hulle laat hulle die vasknoop daarom welgeval om nie deur die voortydige breek van die tou hard saam neer te val nie, dit wil sê, saam met diegene wat belang het by die skommel. Dat die vasbind en vasknoop dus `n duidelike teken is van die swakheid van die hooftou, is vir julle nou wel baie voor die hand liggend. As `n land of volk hom teenoor die ander sterk genoeg ag, dan sou hy, uit hoofde van sy welbewuste mag, wel voorskrifte gee en sou sekerlik geen gebruik gemaak het van lapmiddele nie. Aangesien hy egter sy innerlike swakheid goed ken, neem hy sy toevlug tot die agteraf verstewiging, maar ondanks dit alles, sal die swak verslete tou dit geen sekonde langer hou nie, omdat hy, as gevolg van die sterk slytasie, nog verborge swakhede in homself het.

10 As die hooftou gaan breek, sal alle bandjies en koordjies ook onmiddellik daarmee stukkend gaan. Kyk, dit bied die tweede beeld vir ons.

11 Neem al julle kerklike en politieke sake bymekaar, of vergelyk elke moontlike detail daarvan met ons beeld, en julle sal ontdek dat dit, sowél in die algemeen, as in elke detail, presies daarmee ooreenstem. Sodat julle dit egter nog duideliker begryp, wil Ek vir julle, slegs as voorbeeld, iets aanhaal uit sowél die sfeer van die kerk as van die staat. Uit die kerklike sfeer neem ons byvoorbeeld die skuldbekentenis. Die toestand van die skommel, waarin dit by die heen en weer swaai, die aardbodem die naaste nader, is die sondige toestand. Die mens bieg en verhef hom daardeur aan die een kant met `n swaai na die hemel, maar gly netso vinnig weer terug. Op die laagste punt bieg mens weer en swaai dan aan die ander kant na die hemel. So herhaal die mens in sy skommel­situasie hierdie daad, so lank hy leef, en sluit sy lewe by die rustoestand van die skommel gewoonlik weer met die skuld­bekentenis. Die skommel swaai dan egter nie meer omhoog nie, maar die mens verlaat dié lewe op dieselfde punt waar hy begin het. Welke vooruitgang die geestelike mens daardeur egter geboek het, kan julle nou juis aflei uit ons beeld in die sfeer van ons gees op die geestelike son, naamlik dat hy nog baie lank sal deur­skommel totdat die tou wel sal breek, of hy sy, as te ware vasgegroeide blinddoek, kwytraak. Aan hierdie gegewe maatstaf kan julle die hele seremoniële kerklike gebeure meet, en daarin sal julle niks anders ontdek nie as “die skommel”. Die wesenlike sin van die hele teenswoordige kerklike lewe word ook baie treffend besing deur elke kerkklok wat by elke swaai met enorme lawaai steeds een en dieselfde toon laat hoor. `n Harmonies gevoelige oor kan dan luister soveel dit wil en vir daardie doel alle moontlike plekke uitsoek, dit sal egter tog niks anders hoor en in hom opneem, as juis voortdurend dieselfde eentonige klank nie, wat reeds by die eerste klokslag duidelik waar te neem is. Wat so `n luisteraar ten slotte sal verkondig is die volgende: Van veraf kan die klank nog aangehoor word, maar van naby is dit onverdraaglik; wat soveel wil sê as: Solank dit uit my omgewing bly, sit ek goed! So het ons dus `n voorbeeld uit die sfeer van die kerk; nou nog `n staatkundige voorbeeld. 

12 Kyk net na julle industrie en na alle geldsake wat eintlik die sentrale punt van die hele staatkundige lewe is. Wie nie daarin die bedrywigheid sien van die voortdurende skommel nie, moet wel sewevoudig met blindheid geslaan wees. Julle sal oral, sowél in die algemeen, as in `n afsonderlike geval, `n omhoog swaai en `n weer spoedige terugval opmerk. Die een land swaai omhoog, die ander swaai terug en beland weer op die laagste stand van sy skommel. Spoedig val die eers omhoog swaaiende ryk weer en `n ander swaai omhoog. So dikwels as wat julle nog opgemerk het dat `n ryk hom tot die hoogste top opgewerk het, so dikwels was dit ook `n duidelike teken vir sy val, wat nog veel vinniger gaan as sy swaai omhoog.

13 As julle gaan kyk na verskillende ryk geworde partikulêre (private persone) wat van hulle privaat-skommel wins gemaak het, dan sien julle dat hulle in hulle eie skommel, waarin hulle hulleself op die sogenaamde hoogste punt van hulle welstand bevind, so pas ook begin het om terug te swaai. By almal kom dit slegs op die lengte van die skommeltou neer. As die toue baie lank is, dan is die swaai veel langsamer en verder reikend. Maar al sou `n skommel­tou ook van die son tot die aarde reik, dan sal die daaraan bevestigde skommel, as hy die hoogste punt bereik het, hom tog dadelik weer in sy onbeduidende diepte terug begewe. So is die hele wêreldse lewe niks anders as suiwer skommel nie! Julle kan dit bekyk soos julle wil; wie van julle My daaruit een of ander vooruitgang kan aantoon, gee Ek `n tienvoudige ewige lewe as geskenk! Julle kan ook hier die sinspreuk van die ou wyses toepas, wat lui: Daar is niks nuuts onder die son nie! Dit is ook my mening, want by sulke in die algemeen selfsugtige skynbewegings en vordering sal daar onder die son ontsettend weinig nuuts te vinde wees.

14 Gelukkig is diegene wat hulle aan die skommel kan onttrek, want op die vrye terrein sal hy met weinig skrede in enkele minute meer doen as met al daardie geskommel in baie duisende jare. Wie dus volmaak wil word, soos wat die Vader in die hemel volmaak is, moet niks so seer vermy word as die skommelende bedrywigheid oral in die wêreld nie. Beter is dit vir die gees en sy ewige lewe om `n swaar kruis voort te sleep, as om hom, al is dit hoe sag, die ewige dood in te skommel.

15 Wel, julle sal dié beeld hopelik begryp. Daarom sal ons die volgende helder in oënskou neem. Maar vir vandag laat ons dit hierby!”

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205