Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 34

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Wedersydse beïnvloeding van eggenote in die hiernamaals

34 Julle sê: “Dit is volkome korrek en ons begryp dit. Maar omdat ons ook vrouens in die geselskap gesien het, wat tog geen openbare funksie te vervul het nie, is dit die vraag wat hulle hier doen en waarom hulle in `n sekere sin tot `n eenheid met die geselskap versmelt is.

2 My beste vriende, julle sou julle oor julleself moet verbaas dat julle dit nie oombliklik begryp nie.

3 Is dit dan nie van oudsher so dat die, in elke opsig veel swakker vrou, niks hartstogteliker wil en begeer as juis dit waarteen hulle die minste opgewasse is nie, naamlik heers en regeer. Wanneer manne een of ander funksie beklee en trou of reeds getroud is, dan is dit altyd vas en seker die geval dat die vrou ten slotte meer regeer as die eintlik tot regeer bevoegde man.

4 Om hulle planne te kan deurvoer, gebruik hulle al hulle vroulike listigheid en die man moet wel baie standvastig wees, as hy nie deur sy “Eva” gegryp wil word nie.

5 Julle vra weer: Ja, maar wat is die rede dan dat die vrou gewoonlik die oorwinning met haar listigheid behaal? Ek sê vir julle: Die rede is baie natuurlik en daarom ook baie begryplik. As julle oordink dat die vrou eintlik die wortel van die man is, dan sal julle daardeur al die ander maklik kan verklaar.

6 Die stam van `n boom staan weliswaar met sy takke in die lig van die hemel, suig eteriese kos uit die strale van die son op en niemand merk dat hy, desondanks sy hoofvoedsel vernaamlik van sy wortels kry nie. As die wortels nou teen die boom sou saamsweer en hulle as gevolg daarvan van hom sou losmaak, wat sou daar dan baie spoedig met die boom gebeur? Hy sou verdor en ten slotte geen vrugte meer dra nie. 

7 Kyk, dit weet die vrou in haar hart en sy voel baie goed aan hoe seer die man haar nodig het. As sy egter sleg opgevoed is en daardeur `n verdorwe gemoed het, doen sy dieselfde wat die wortels van `n boom dikwels doen; sy laat naamlik uit die aarde nuwe lote opskiet, voed dit, en daardeur word die toekomende voeding van die boom onttrek. Uit sulke wortellote sal sekerlik nooit `n kragtige en vrugdraende boom groei nie, maar in plaas daarvan `n op die boom lykende struikgewas. As die boom, met die hoër kos uit die hemel, nie `n dergelike misbruik van die wortels kragtig teengaan nie, deur sy takke en fyn takkies flink uit te brei en die bose wortellote met sy sterk skadu laat verwelk, om hulle ten slotte tydens `n gunstige jaargety, of met behulp van die winter te verstik nie, dan is dit duidelik baie nadelig vir sy eie bestaan en werkterrein.

8 So gaan dit ook met `n man wat `n heerssugtige vrou het wat in alles wil imponeer. As hy nie in staat is om haar kragtig met sy manlikheid teen te werk nie, sal die vrou hom spoedig heeltemal omsingel hê met haar wilde lote en sal hy steeds swakker word, ten slotte wegkwyn en al sy krag sien opgaan in die onoorwinlike manlik gedraende worteluitwasse van sy vrou. Dit is dan die vroulike heerssug en reguleersug!

9 `n Ander voorbeeld sien julle by julle kinders, wat in hulle swakheid dikwels sterker is as die allergrootste held, vir wie duisende en nogeens duisende sidder. Laat ons aanneem dat die held `n vader is wat `n klein kind het, wat nog nouliks in staat is om iets verstaanbaar te brabbel. Daar mag duisende na hierdie held toe kom om hom van `n idee af te hou, tog sal hulle verseker niks bereik nie. Maar die kind hoef hom maar aan te kyk, hom toe te lag en dan aan hom te sê: Papa, bly by my, gaan dié keer nie weg nie, want ek is so bang dat jy ongelukkig word; en die held word teergevoelig en luister na sy kind.

10 Na die voorbeeld keer ons weer terug na die vrouens. Soos julle weet, kry die stem van die man in sy jongelingsjare reeds `n kragtige manlike klank; die van die vrou behou die klank van die kind. Kyk, soos die vrou hierdie klank behou, so behou sy ook voortdurend in `n sekere sin min of meer die hele kinderlike wese in haar. As gevolg van die vermoë besit hulle dan ook die kinderlike mag wat, soos gesê, dikwels groter is as die wilskrag van `n nog so groot wêreldheersende veldheer.

11 As gevolg van die vermoë kan die vrou dan ook vanuit die wortel op die man inwerk. Sien sy dat daar langs die weg van gewone “vroulike politiek” niks by die man te bereik is nie, dan gryp die vrou baie gou na die, vir haar kenmerkende swak lykende kinderlikheid, waarmee hulle dan ook meestal die kragtige man oorwin.

12 Ek dink dat deur die voorbeeld alles nog duideliker vir julle word, sodat julle daaruit sonder veel moeite kan aflei waarom daar in die geselskap ook vroulike wesens opgeneem is. Julle moet egter nog weet dat die vrou in die geestelike wêreld by die man bly solank hy hom nie volkome van alle oorbodige vraggoed van die wêreld gesuiwer het nie.

13 Menige man sou eerder, ja selfs veel eerder tot geestelike suiwerheid geraak het, as sy, altyd in dieselfde omstandighede meer sinnelike vrou, nie daarin sou gehinder het nie. Daarom sou ons geselskap, wat die manne aanbetref, reeds baie lankal beter daaraan toe gewees het as daar geen vrouens was nie.

14 So dikwels as wat die een of ander man `n goeie voorneme het en in sy hart `n beter weg wil inslaan, weet sy vrou om hom, deur haar heerssug, altyd daarvan af te hou en hom `n ander weg te wys. Met ander woorde: `n Man wat so `n vrou het, kom in die geestelike wêreld nog baie moeiliker van haar af weg as op aarde. Ook al wil hy hom van haar losmaak, tog weet sy hoe om hom deur haar smeekbede en allerlei kinderlike aanstellery weer te beweeg om by haar te bly, en laat hom op alle moontlike maniere belowe om haar nooit te verlaat nie.

15 Ja, dit is selfs dikwels die geval dat manne met `n goeie hart in die oord aankom met vrouens wat hulleself eintlik heeltemal ryp gemaak het vir die hel. Sulke vrouens is die gevaarlikste en tewens ook die hardnekkigste, want hulle harte hang aan dit wat aan die hel behoort, maar ook om verskillende baatsugtige en heerssugtige oorwegings teen hulle mans.

16 Omdat haar gesindheid egter kennelik na die hel trek en die beter man nie voldoende krag besit om hom van haar los te maak nie, en hom bygevolg oorgee aan die oënskynlike swakheid van sy vrou, trek sy hom geleidelik aan oor die grense van die gebied en oor die, al aan julle bekende stroom, met haar saam op die, soos julle gewoonlik sê, mees onskuldige manier die hel in. Dit kos dan selfs die kragtigste engel die allergrootste geduld en die grootste moeite om so `n man uit die hande van sy helse vrou te bevry. Volgens julle tydrekening kan so `n werksaamheid dikwels honderde jare duur. En kyk, ook in die geselskap is enkele sulke vrouens.

17 Julle sê nou wel: Maar hier sou die Heer tog kan ingryp en `n geweldige streep deur die rekening van sulke vrouens trek. Vir so `n tussenkoms is wel iets te sê, solank iemand nie bekend is met die hoër weë van die goddelike ordening nie. Maar wie dit ken, weet maar al te goed dat so-iets, met die oog op die behoud van die lewe van die gees, so goed as onmoontlik is.

18 Julle moet weet dat die liefde van `n mens sy lewe is en dié lewe dra hy in hom. Maar hoe gebeur dit dat `n man hom deur `n vrou laat oorwin het? Deurdat hy haar te veel in sy liefde opgeneem het. Die man moet by homself te rade gaan en die liefde vir sy vrou en die vir die Heer op `n uiters gevoelige weegskaal lê; beide hierdie soorte liefde dan met angsvallige sorgvuldigheid afweeg en goed daarop let, waar die oorgewig aan die lig kom. Hy moet daarby baie goed by homself nagaan watter van sy verliese vir hom draagliker sou wees: Die verlies van sy geliefde vrou, waarby ook alle voordele van hierdie verbintenis vir hom wegval, of die liefde van die Heer.

19 Maar so-iets moet, soos gesê, nie by `n oppervlakkige opmerking bly nie, waarby iemand byvoorbeeld sou sê: Ek offer vir die liefde van die Heer nie één nie, maar wel tien vrouens op. Nee, hierdie lewensvraag moet altyd met volle oortuiging beantwoord word.

20 Neem ons die geval waarby die Heer so `n man, wat met woorde beweer dat hy die Heer tienmaal meer liefhet as sy vrou, se vrou sou wegneem, naamlik deur die dood van die liggaam.

21 Wanneer die man dan in homself in alle erns en met volle oortuiging kan sê: Heer, ek dank U dat U my dit aangedoen het, want ek weet immers, danksy my liefde vir U, dat alles wat U doen die allerbeste is. Wanneer vir so `n man bowendien die liefde tot die Heer egter `n meer as voldoende vergoeding sou wees vir die verlies van sy vrou, dan is die liefde tot die Heer in hom werklik groter as die vir sy vrou.

22 Word hy egter treurig oor die handelswyse van die Heer en sê hy: Heer, kyk, ek het U so lief; waarom het U my so `n verdriet en so `n leed aangedoen? Waarlik, julle kan dit glo, so `n man hou meer van sy vrou as van die Heer!

23 Wanneer so `n man sy vrou ook nog verskeie jare oorleef, haar mettertyd vergeet en hom heeltemal na die Heer toegewend het, dan het hy desondanks tog nie so `n liefde volkome uit sy hart verban nie. Want mag sy vrou dan na tien jaar weer terugkom, dan sou hy asof betowerd wees en sy vrou weer met die grootste liefde opneem, sekerlik wanneer sy hom bowendien, as`t ware geestelik verjong, tegemoet sou tree.

24 Julle vra nou weliswaar weer: Hoe is dit dan moontlik as `n wewenaar hom tog in so `n geval so geheel aan die Heer oorgegee het? Maar ek vra julle: Was hierdie oorgawe vrywillig of veeleer net noodgedwonge? Sou hy dit gedoen het as die Heer nie sy vrou van hom afgeneem het nie? By die Heer tel egter net die vrye wil en gevolglike volledige selfverloëning in alles.

25 Hierdie man treur oor die verlies van sy vrou. Daarom wend hy hom tot die Heer om by Hom die nodige troos, gerusstelling en volledige genesing van sy gebroke hart te vind.

26 Wat beteken die Heer dan in dié opsig vir hom? Was Hy wel die sentrale liefde in die hart van so `n man, of was Hy nie veeleer slegs `n kalmeringsmiddel, `n dekmantel vir die pyn en dus ook `n genesende pleister daarvoor nie? Nou kan julle sekerlik niks anders sê nie as dat die Heer hier alleen die tweede was, naamlik middel, dekmantel en pleister. Maar wie kan sê dat `n liefde uit dankbaarheid, gelykwaardig is aan die fundamentele liefde van die hart?

27 Is dié onderskeid nie ook te maak tussen die liefde wat `n gelukkig gemaakte mens vir sy weldoener voel, en die liefde vir die geluk self wat hom ten deel geval het? Ek dink dat daar tussen hierdie twee soorte liefde `n baie groot verskil bestaan, want die liefde vir die weldoener is slegs `n gevolg van die fundamentele liefde wat in die ontvange geluksaligheid woon en is sodoende geen fundamentele nie, maar `n ondergeskikte liefde.

28 Wat stel dit egter voor met betrekking tot die Heer, aangesien die mens sy allergrootste geluk tog alleen van die Heer mag verwag? So besien moet al die ander vir Hom van nul en gener waarde, en dus vir ewig oorbodig wees. Hy sou tog in homself opreg moet kan sê: As ek maar die Heer het, vra ek nóg na `n hemel, nóg na `n aarde en dus nog veel minder na `n vrou. 

29 Hieruit kan julle baie goed begryp waarom ek julle baie indringend daarop opmerksaam gemaak het, hoe buitengewoon grondig `n man sy liefde vir die Heer en die vir sy vrou moet ondersoek, want die Heer sê immers Self: Wie sy vader, sy moeder, sy vrou, sy broer en sy kinders meer liefhet as vir My, is My nie waardig nie!

30 Nou vra julle weer: Is so `n man dan, as gevolg van sy ondergeskikte liefde vir die Heer, verlore? Sekerlik nie, maar hy kan nie tot die Heer kom, voordat hy die eintlike grond van sy liefde vir goed vaarwel gesê het en sy ondergeskikte liefde tot hoofliefde gemaak het nie.

31 Watter probleme dit dikwels in die geestelike ryk met hom meebring, kon ons ten dele by dié geselskap gesien het. Ons sal dié uiters belangrike punt by `n volgende toneel egter nog veel duideliker en grondiger in die praktyk aanskou. Dan sal julle sien hoe dikwels so `n oënskynlik heeltemal uitgedoofde, verkeerde egtelike liefde weer opnuut oplaai wanneer sulke eggenotes weer in die geesteswêreld bymekaarkom. Daarom laat ons dié geselskap ongestoord sy weg volg en begewe ons onsself weer bietjie verder.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205