Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 48

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Prosessie by `n sogenaamde hemelbestyging

48 Kyk, ons is al buite en nou stroom ook die palmtakke voorsiene geeste die kerk uit en wag op die voorbereide hemelvaart. Die priester volg hulle in vol priesterlike gewaad, met die silwer of goue vaatwerk in die hand. Bo hom sien julle nog `n sogenaamde “hemel”, wat gedra word deur vier in wit geklede manlike geeste, terwyl alle geeste hulle in rye voor hom opstel en `n welbekende prosessie vaandel volg. Nou begin die prosessie met die gebruiklike prosessie seremonies. Selfs die klokkies ontbreek nie; `n kruisbeeld word voor die hemel uitgedra, en die welbekende “Heilig, heilig, heilig is ons Heer God Sebaot” word deur die hele prosessiegeselskap gesing en gebid.

2 Kyk, nou begewe die prosessie hom na `n klein heuwel. Ook ons sal die stoet daarheen volg. Hierdie heuwel is baie misleidend, want hy kan nie so maklik geklim word as wat mens op die eerste oogopslag sou dink nie.

3 Die weg wat daar na bo loop, is die eintlike “katolieke hemelweg”. As mens daarlangs op die eerste, vir ons sigbare hoogte aankom, sien mens eers `n tweede wat weer hoër lê. As mens op hierdie tweede hoogte beland het, dan ontdek mens eers weer `n derde en dit gaan so verder, na gelang van die gemoedstoestand van die “hemelvaarders”. Soms moet hulle meer as duisend sulke hoogtes bestyg, voordat hulle by die sogenaamde “hemelse wolkegebied” aankom.

4 Dit gebeur dan ook dikwels by so `n hemelbestyging dat menigeen heeltemal genoeg kry van die te lang weg. Die mense wend hulle by so `n geleentheid dan tot die geestelike en vra hom hoe lank die reis nog wel sal duur. Die geestelike gee hulle dan altyd die skrifteks ten antwoord, wat as volg lui: “Wie volhard tot die einde toe, sal salig word”. Na so `n antwoord gaan die stoet dan weer verder.

5 As hulle weer so `n vyftig hoogtes oorwin het, dan word aan die geestelike gevra, of `n mens nie na so `n lang reis ietwat mag uitrus nie. Dan gee die geestelike hulle die volgende antwoord: “Bid sonder ophou”. In die geestelike wêreld beteken dit, dat mens nooit mag rus, as mens eenmaal op weg is na die hemel nie. Want mens moet baie goed weet, dat die trae en die lou een deur die mond van God uitgespoeg sal word en nie binnegelaat sal word in die hemelryk nie. Daarom moet hulle maar al hulle kragte versamel en verder gaan totdat hulle geluksalig die poort van die hemel bereik het. Na sulke vermanende woorde trek die stoet weer verder.

6 Wanneer na die volgende vyftig beklimmings, die geestelike self moeg word en ook sy hele geselskap nouliks nog tot klim in staat is, sê die geestelike dan ook: Luister, skape van my kudde, hier is ons halfweg. Nou sal ons God die eer gee en Hom dank dat Hy ons dié punt laat bereik het.

7 Op so `n plek word dan halt geroep, die mense kniel neer en dank God soos wat die geestelike voorgestel het, en wel eers God, die Vader, dan die Seun en ten slotte God, die Heilige Gees.

8 As die hele geselskap `n bietjie op hierdie manier bygekom het, gaan die stoet weer verder. Maar aangesien die geestelike aan sy eie voete merk dat hy by die uiteindelike verdere heuwels nie so maklik meer `n mars, sonder om te rus, sal kan volhou nie, kondig hy nou dadelik aan dat by die beklim van elke volgende hoogte `n “kruiswegstasie” gebied word. By die geleenthede rus hy dan self uit. Wanneer die twaalf, of in die ongunstigste geval die veertien stasies ten einde is en die mekaar opvolgende, steeds ietwat steiler wordende hoogtes nog nie ophou nie, word na die laaste stasie gelas om die rosekrans te neem en dit ook op die uiteindelike nog volgende hoogtes in gedeeltes te bid. As die rosekrans op hierdie manier ook uitgebid is en kom daar nog steeds geen einde aan die altyd steiler wordende hoogtes nie, dan wend almal hulle tot die priester en vra hom wat dit beteken dat daar met al sy veror­deninge tog geen einde kom aan hierdie hoogtes nie.

9 Dan sê die geestelike: Ja, liewe skape van my kudde, hier het eers die oomblik gekom, dat daar vir die hemelryk geweld nodig is; wie dit met geweld na hom toe sal trek, sal dit besit. Tewens verorden die geestelike nog dat die mense van nou af aan by elke hoogte wat nuut beklim moet word, `n Psalm van Dawid moet bid. En so gaan die stoet dan weer met veel moeite voorwaarts.

10 Aangesien ons stoet egter ook al hierdie lotgevalle meemaak en dit aan die lywe ervaar, sal ons hom vanaf hierdie laaste rosekrans pouse tot by die einde te voet volg.

11 Kyk, die volgende hoogte is al baie steil en dit vra enorme inspanning om haar te beklim. Na `n lang en moeisame klim het ons geselskap die hoogte bereik. Kyk net hoe almal dadelik op die klein vlakte gaan lê; die geestelike bring self `n klein psalmbundel te voorskyn, plaas die silwer of goue vaatwerk intussen naas hom en begin die eerste Psalm so langsaam moontlik te lees, sodat hy en die hele geselskap bietjie meer rus kan kry.

12 Nou is die eerste Psalm gelees en ons geestelike neem die silwer of goue vaatwerk weer op, maar sê aan die vier hemeldraers dat hulle, omdat hulle tog al baie naby die ware hemel is, hierdie klein erehemel gevolglik ter plaatse kan laat staan.

13 Na hierdie aanwysing staan almal weer op en begin ook dadelik aan die moeisame bestyging van die volgende hoogte. Soos julle sien, word hierdie beklimming nagenoeg op hande en voete uitgevoer en met ons geestelike, die vaandeldraer en die kruisdraer begin dit steeds slegter te gaan. Daarom laat die geestelike hom dan ook so goed as dit gaan, deur enkele ervare bergbeklimmers omhoog trek; die vaandel en kruisdraers gebruik egter hulle hemelse vaandelstokke as bergstokke.

14 Met baie moeite en inspanning is daar weer `n hoogte geklim. Die vlakte daarbo is so knap, dat ons geselskap maar ter nouer­nood `n rusplek kan vind. Nadat elkeen gaan lê het, begin die priester die tweede Psalm te lees. Maar soos julle sien, word ook hy nou self geweldig bang, want voor hom sien hy weer `n nog steiler hoogte en as hy omlaag kyk, begin hy vreeslik duiselig te word. 

15 Wat moet hy nou doen? Hy word hieroor deur sy medehemelbestygers met vrae bestorm; tewens word daar ook aan hom gevra waar die trappies na die hemel dan is. En die priester sê: Ek dink dat hierdie geweldige bergterrasse die trappies is, vandaar dat julle nou self ervaar hoe gesuiwer van elke sonde `n mens moet wees, as `n mens op hierdie enorme hemeltreë nie daardeur belas wil word nie. Verder sê hy nog: Ons sal ons hier moet opsplit, want dit sou net dalk wees, dat ons op die volgende trap, omdat die ruimte steeds knapper blyk te word, nie meer almal `n plek sal kan vind om daar, tydens die lof vir die Heer en die goddelike drie-eenheid, uit te rus nie. Daarom gaan julle, wat die dapperste is, vooruit. Rus solank bo uit, totdat julle sien dat ons hier opbreek en beklim dan onmiddellik die volgende trap, as daar nog een mag wees.

16 Soos wat julle self met julle innerlike oë kan sien, staan die helfte van die geselskap op en beklim weer op hande en voete die wel baie steil hoogte. Sommiges kom bo, maar ander wat minder krag het, gly weer na benede. Die geestelike vra aan diegene wie al bo is, of daar nog `n hoogte kom. Hulle roep terug: Oorwinning!!! Daar is geen hoogte meer nie; ons staan aan die begin van `n uitgestrekte vlakte. Heel in die verte sien ons ook al die hemelse wolkedek en in die middel `n sterk lig. Ons kan nog net nie ontdek wat dit is nie.

17 Kyk nou, elkeen staan op en stel al sy kragte in om na bo te kom. Die geestelike bind die silwer of goue vaatwerk op sy rug vas en klim ook so goed en so moeilik as wat dit gaan, op hande en voete na bo.

18 Eindelik na baie moeite en inspanning het almal gelukkig hierdie laaste hoogte geklim, loof nou die geestelike en sê: Dit is tog `n duidelike bewys dat niemand sonder so `n geestelike leidsman in die hemel kan kom nie. Maar die geestelike sê: Ja, geliefde kinders, dit is wel waar, omdat God dit Self so bepaal het, nie aan my nie, maar alleen God kom die eer toe! Want as ek na myself kyk, dan het ek julle in `n sekere sin eerder deur vroom bedrog, as deur my insig hierheen gebring. Aangesien die Heer egter Sy apos­tels selfs aangeraai het om slim te wees, is ek daardeur vir julle geregverdig en die welslae van my leiding toon nou vir julle aan, dat ek julle volgens die leer van ons alleen saligmakende kerk volkome redelik en getrou gelei het. Laat ons onsself hier dus weer in die bekende volgorde opstel en op pad gaan na die ewige doel.

19 Opnuut gesterk begin hulle aan die tog oor hierdie uitgestrekte hoogvlakte en kyk net hoe besonder vinnig ons stoet hom nou hier voortbeweeg. Die hemelse wolke kom altyd maar nader en ons bevind ons reeds onder die hemelse wolkebedekking. Daar sien julle `n hoë muur met `n goue poort daarin, wat egter gesluit is. Die geestelike tree na vore en sê: Liewe kinders, ons het gevra en ons is gegee; ons het gesoek en het gevind. Nou kom dit op die klop neer. Dus mag die draer van die kruis daarmee die eerste aanklop en wel drie keer: In die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, dan sal die poort sekerlik oopgemaak word.

20 Dit gebeur soos die geestelike gesê het. En werklik, wanneer hy die derde keer klop, gaan die deur oop en Petrus, saam met die aartsengel Migael, verskyn, ondersoek ons geselskap nog en laat dit dan ook sonder uitsondering die hemel binnegaan. Slegs die spesifieke kenmerke van Petrus en die aartsengel Migael word weggelaat, sodat tenminste die eerste al te materiële vonk in hulle wat die hemel binnegaan, uitgedoof word.

21 Julle sou graag wil weet of dit werklik Petrus en die aartsengel Migael is? Ek sê vir julle: Dit alles is slegs `n verskyningsvorm, wat in die Naam van die Heer deur engelgeeste tot stand gebring word. So het ook hierdie hele hemel ontstaan en dit moet alles ook so wees, want anders sou dit nie moontlik gewees het om vat te kry op geeste wat hulle gebaseer het op iets wat onwaar is nie.

22 Daarom tref elkeen die geestelike wêreld en die hemel aan, soos wat hy dit vir hom, gebaseer op sy geloof, in die gees geskep het, met die vagevuur as enigste uitsondering. Dit laat die Heer nie toe nie, omdat groot skade daardeur toegebring sou kan word aan die geeste, as hulle hulleself in so `n beklaenswaardige toestand, waar hulle, in plaas van tot die Heer, hulleself slegs des te kragtiger tot die heiliges sou wend, of hulp van misoffers op aarde sou verwag. Dit alles sou die gees mettertyd geheel en al dood, omdat die gees in die opsig heeltemal sou afsien van eie werksaamheid en sy saligheid slegs sou soek in die direkte of indirekte genade van God, wat met ander woorde gesê, niks anders sou beteken nie, as die begaan van `n geestelike moord op sigself!

23 Julle vra nou: Hoe dan so? Dit is tog maklik te begryp! Die lewe van die gees bestaan immers enkel en alleen deur die genade van die daarin aanwesige liefde en die werksaamheid wat juis met hierdie liefde ooreenkom.

24 Wat gebeur daar op aarde met iemand wat hom aan elke aktiwiteit onttrek? Hy word ten slotte totaal kragteloos en so swak, dat hy hom nouliks nog teen `n vlieg kan verset. As hy dan, as gevolg van sy totale onaktiwiteit, onontkombaar in die grootste ellende raak, dan leer die ervaring op aarde maar al te dikwels dat so `n toestand vir die mens meestal die oorsaak van selfmoord is. In die geestelike wêreld sou `n geestelike selfmoord ook daardeur plaasvind, omdat sulke lydende geeste, ondanks die aanroep van heiliges, geen verlossing ervaar nie, waardeur hulle dan totaal ongelowig en wanhopig sou word, wat die ware geestelike dood tot gevolg het!

25 Waarom dan? Omdat geestelike wanhoop soveel wil sê, as `n volkome gewelddadige afskeiding van die Heer. Om dié rede word so `n toestand selfs nie in die hel toegelaat nie. Wanneer die boosheid al te aktief word daar, laat die Heer die boosheid ook bestraf en wel uitermate gevoelig. Word die boosheid weer daar­deur beëindig, dan hou straf en pyn ook op. 

26 Wat egter hierdie (katolieke) hemel betref, hy is geen belemmering vir die lewe van die gees nie, en kan hier as `n goeie, lewendige skool beskou word, waarin die geeste die ware hemel eers begin te herken. Hoe dit egter in hierdie hemel in sy werking gaan, sal ons by die volgende geleentheid so grondig moontlik in die gees beskou. Hiermee genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205