Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Aan Abraham se tafel by die aanskouing van die heilige drievuldigheid

49 Omdat ons hele geselskap al binnegelaat was, probeer ook ons deur hierdie goue poort te kom. Om dié rede het “Petrus” en “Migael” ook die poort oopgelaat, want hulle weet goed, wat ons hier kom doen.

2 Julle ken die velerlei voorstellings van die hemel wat veral in die katolieke kerk gangbaar is. As julle nie volledig in die voorstellings ingewy was nie, dan sal julle dit hier wel deeglik kry. Kyk dus na vore; ons talryke geselskap volgend, nader ons al die eerste toneel.

3 Wat sien julle daar, nie ver voor ons nie? Julle sê: Ons sien op die uitgestrekte agtergrond `n buitengewone pragtige paleis, waarbo `n teks, wat uit glansende wolke saamgestel is, te lees is. As ons dit goed bekyk, staan daar geskryf: “Woning van Abraham”.

4 Goed, sê ek; wat sien julle nog meer? Julle sê: Ons sien rondom dié groot gebou `n baie groot en uitgestrekte tuin wat blyk asof dit al enkele treë van ons vandaan begin.

5 Dit is werklik wonderbaarlik; ons sien `n byna onafsienbare tafel, wat van die mees voortreflike spyse voorsien blyk te wees en as ons goed kyk, ontdek ons aan beide kante `n groot aantal gaste, wat hulle al flink te goed doen. Ook sien ons `n hele klomp bedrywige wesens wat die gaste ywerig bedien, en ook nog dat menige gas hom baie belangstellend met hierdie dienende geeste oor die een of ander onderwerp ophou.

6 Ek sê vir julle: Dit sien julle baie goed. Daarom sal ons onsself terstond met ons geselskap, wat juis op die tafel afstuur, in hierdie tuin begewe en alles wat daar by die tafel gebeur, in oënskou neem.

7 Kyk, Petrus en Migael wys nou vir elkeen van die geselskap `n plek aan en sê aan hulle: Neem julle nou in die hemelryk plaas aan die tafel van Abraham, Isak en Jakob en geniet daar in boaardse oorvloed van die vrugte van die aardse werk wat julle altyd volhardend uit groot liefde vir die hemel, en ter ere van God volbring het. Met stralende gesigte gaan ons geselskap aan tafel en begin baie spoedig die spyse en drank baie lewendig te nuttig. Ons laat ons geselskap nou egter ongestoord en welgemoed hulle honger stil en gaan weer bietjie verder.

8 Kyk, daar aan die einde van hierdie byna onafsienbare lang tafel sit Abraham, Isak en Jakob in volle glorie, en daar vlak voor ons is `n gas met `n hemelse tafeldienaar in gesprek. Wat sou hulle dan met mekaar bespreek? Laat ons bietjie nader gaan, dan sal ons dit goed hoor.

9 Hoor maar, daar vra `n reeds oorversadigde gas, wat volgens julle tydrekening al ongeveer vier weke aan hierdie tafel sit en eet, aan die tafeldienaar: Beste vriend, hoe lank sal hierdie heerlike maaltyd nog duur? Waarop die bediende aan die gas vra: Allerbeste vriend, waarom vra jy dit vir my? Die gas sê bietjie verleë: Goeie vriend, ek sou dit nie vir jou gevra het nie, ja, as ek op aarde sou wees, dan sou ek sekerlik gedink het dat ek, met so `n vraag, `n sonde sou begaan, maar omdat ek nou in die hemel is, waar mens nie meer kan sondig nie, weet ek ook dat so `n vraag geen sonde is nie.

10 Die eintlike rede vir my vraag is dit: Kyk, vir God altyd alle lof en eer! Dit is weliswaar onbeskryflik heerlik om hier te wees, en die spys en drank smaak werklik hemels voortreflik, maar desondanks moet ek eerlik aan jou beken dat hierdie voortdurende eentonig­heid my `n bietjie begin te verveel. Daarom het ek jou gevra hoe lank hierdie maaltyd nog sal duur.

11 Die tafeldienaar sê: Wel beste vriend, het jy dan nooit op aarde gehoor dat die hemelse vreugde ewig en onveranderlik voortduur nie? Hoe kan jy my dan vra hoe lank hierdie maaltyd nog sal duur? Kyk, so `n maaltyd duur tog vir ewig!

12 Kyk, nou skrik ons gas en sê aan die tafeldienaar: Ja beste vriend, dit sien ek goed in, maar ek het op aarde ook hoor spreek oor die ewige aanskouing van God. Ek sien wel daar ver op die agtergrond vir Abraham, Isak en Jakob, maar van God, die Vader, God, die Seun en God, die Heilige Gees is nêrens iets te bespeur nie.

13 Die bediende sê: My beste vriend, dink jy dan dat die goddelike drie-eenheid vlak voor jou neus moet sit? Kyk net omhoog daar bo Abraham, Isak en Jakob, dan sal julle dadelik vir God in Sy drievuldigheid in die ontoeganklike lig aanskou. Jy sal tog op aarde dikwels gehoor het dat God in die hemel woon, waar alle saliges Hom van aangesig tot aangesig kan sien, dit wil sê van die aangesig van die Vader tot by die aangesig van die Heilige Gees, maar eintlik woon die goddelike drie-eenheid in die ontoeganklike lig! Wel beste vriend, wil jy miskien `n nog volmaakter hemel hê?

14 Ons gas sê: O beste vriend, ek sê vir jou, geensins nie; ek is volkome tevrede, as ek tenminste maar `n dienaar soos jy kan wees, om op dié manier tog bietjie beweging te hê. Of as dit geoorloof sou wees om tenminste so nou en dan bietjie in hierdie mooi tuin rond te wandel; dit sou dan na my mening hierdie hemelse saligheid aansienlik verhoog!

15 Die tafeldienaar sê: Liewe vriend, wat hoor ek daar uit jou mond? Dit lyk wel of jy ontevrede is oor dit wat God jou in die hemel toebedeel het. Jy praat oor beweeg en ronddwaal in hierdie tuin; Het jy dan nie altyd self gebid nie: God, gee hulle die ewige rus en die ewige vrede? Het jy hier geen ewige rus en geen ewige vrede nie? Waarvoor wil jy dan hier beweeg?!

16 Die gas word heeltemal verleë en sê ten slotte aan die tafeldienaar: Liewe vriend, ek erken dat dit alles korrek is en dat die hemelryk hier waaragtig in letterlike sin tot uitdrukking kom en ek sien ook in dat dit, as gevolg van die vir ewig uitgespreekte waarheid, nie anders kan wees nie. Wanneer ek daarenteen bedink dat ek hier op hierdie plek ewig moet bly sit, werklik, beste vriend, dan loop die koue rillings oor my rug; bowendien moet ek, met betrekking tot die hemelse saligheid en vreugde, eerlik beken dat ek as armsalige boer op aarde beduidend gelukkiger was as hier by die ewige vooruitsig in die hemel! Aangesien ek nou egter eenmaal in die hemel is, is alles aan God opgeoffer! Die beste nog, is dat mens nie hier kan sondig nie.

17 Die tafeldienaar sê: Ek sien goed dat jy ontevrede is met die hemel. Maar wat moet ek met jou maak? Terwille van jou kan die hemelse orde tog nie versteur word nie!

18 Die gas sê: Beste vriend, ek het eens op aarde gehoor, en ook op skilderye gesien, dat die saliges, knielend op wolke, God onafgebroke aanskou, maar hier is slegs `n tuin; waar is die wolke dan? Die dienaar sê: Liewe vriend, bekyk die bodem maar net `n bietjie noukeuriger, dan sal jy baie gou die los ondergrond ontdek. Dink jy dalk dat dit `n aardryk is? Kyk maar, ek sal die bodem ietwat met my hand loswoel, dan kan jy jou terstond daarvan oortuig, dat ons onsself almal op “hemelse wolke” bevind.

19 Kyk, die dienaar skuif die gras bietjie opsy en ons gas sien tot sy nie geringe verbasing dat die ondergrond werklik slegs uit glansende wolke bestaan. Nadat hy hom daarvan oortuig het, wend hy hom dadelik weer met die volgende vraag tot die bediende: Beste vriend, as die bodem hier so vreeslik los is, is dit dan nie ook moontlik dat iemand dalk deur `n bietjie ondeurdagte, onhandige beweging kan deurval nie? En as dit moontlik is, waarin val hy dan? Die vagevuur sal tog nie hier onder ons wees nie?

20 Die tafeldienaar sê: Beste vriend, daarvoor hoef jy gladnie bang te wees nie, want jy is nou immers `n buitengewone glansende gees en hierdie bodem is vir jou netso stewig as wat die aardryk ooit was vir jou liggaam.

21 Die gas sê verder: Beste vriend, staan my nog `n vraag toe: Is hierdie bodem slegs hier in die omgewing van hierdie tafel so stewig, of is hy oral so? Die bediende sê: Vriend, waarom vra jy na dinge wat jou nie aangaan nie? Hier, waar jy jou saligheid geniet, sien jy baie goed dat die bodem vir ewighede stewig genoeg is. Die uitgestrekte tuin hoef jy bowendien nie te betree nie; waarom sou jy jou oor sy stewigheid bekommer. Omdat jy my egter gevra het, sal ek jou wel sê dat die tuin oral dieselfde stewige ondergrond het, anders sou hy ons immers nie gedra het as ons voortdurend oral die oorvloedige vrugte vir hierdie ewige tafel versamel en hulle hierheen bring nie.

22 Die gas is nou eindelik tevrede en die tafeldienaar wil homself verwyder, maar by ons gas skiet daar weer juis iets te binne. Daarom sê hy nog die volgende aan die tafeldienaar: Beste vriend, aangesien ons nou eenmaal al oor soveel gedagtes verwissel het, wil ek jou tog nog `n ding vra, maar wel heeltemal tussen ons. Wat sou daar met iemand gebeur, as hy, omdat hy heeltemal genoeg gehad het van die lang sit, stellig tog net sou opstaan en `n klein wandeling daar oor die pragtige velde gaan maak?

23 Die tafeldienaar sê: Niks sal gebeur nie, maar jy weet tog dat God nie graag sal wil sien dat `n salige gees nie tevrede is met Sy voorskrifte nie. Wat dus met jou sou kan gebeur, kan ek jou nie goed uitlê nie, maar soveel is seker, dat jou leë plek dadelik ingeneem sou word, en dat jy dan verder weer onderaan sou moet aanskuif. Trouens, my liewe vriend, ek sien dat jy, tydens ons hele gesprek, nouliks een keer na die drie-eenheid opgekyk het, terwyl daar gesê is dat jy God onafgebroke sal aanskou!

24 Die gas sê: Beste vriend, dit is alles goed en wel, maar kyk, my hele wese snak na meer vryheid en indien moontlik, ook na een of ander besigwees, want by God, ek moet jou sê: Soos wat dit nou is, hou ek dit geen oomblik langer meer uit nie, laat staan `n ewigheid!

25 Kyk nou, ons gas staan op en loop weg so hard hy kan en soos julle goed kan sien, vind sy voorbeeld navolging. Die tafeldienare sit hulle agterna en wanneer hulle hulle ingehaal het, sal ook ons hulle inhaal en dan ons verdere beskouings hou en sien hoe hierdie gebeurtenis sal afloop. Maar nou genoeg vir vandag.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205