Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 51

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die ware drie-eenheid. Die sonde teen die Heilige Gees

51 Die tafeldienaar sê: Liewe vriend, ek begryp baie goed wat jy vir my wil sê, maar ek begryp nie waarom jy tydens jou aardse lewe jou geen ander voorstelling van die hemel gemaak het, terwyl jy tog dikwels die briewe van Paulus gelees het. Sê net, wat het jy dan daarby gedink wanneer jy gelees het: “Soos wat die boom val, bly hy lê”? Jy haal die skouers op en weet nie wat jy my moet antwoord nie. Maar ek sê vir jou, dat die boom nou juis jou geloof voorstel en met ander woorde niks anders beteken nie as: Soos wat jy glo, so sal dit vir jou word! Soos wat die geloof is, so is ook die insig; uit die insig kom ook die aansporing tot handeling voort; soos die aansporing tot handeling is, so is ook die liefde wat tog die eintlike lewe is.

2 Kyk, so het julle almal in `n hemel geglo, soos dit nou voor julle is en julle het ook redelik goed gehandel om hierdie hemel te verwerwe. Soos die boom in die aardse lewe na die vel, volgens julle innerlike belewing in die geestelike sy geval het, so lê hy nou ook. Ek kan julle onmoontlik `n ander hemel gee as die, wat julle vir julleself gegee het, want daar staan tog in die Skrif: “Die Ryk van God kom nie met uiterlike vertoon nie, maar dit is binne-in julle.” Daarom is hierdie aanwesige hemel nou `n produk wat voortgekom het uit julle innerlike geloofsoortuiging. Wat wil julle nou doen? Kan julle afstand doen van julle geloof? Kan julle miskien Luthers of selfs suiwer Evangelies word?

3 Die gas sê: Beste vriend, mag die heilige drie-eenheid ons daarvan bewaar, want dit sou ons uiteindelik nog in die hel bring.

4 Die tafeldienaar sê: Wat wil julle dan eintlik? Daar bly vir julle derhalwe niks anders oor as om vir ewig hier te bly in die mees volkome rus nie.

5 Die gas sê: Beste vriend, wat dink jy, sou ons miskien weer mag terugkeer na die plek waar ons dadelik na ons dood aangekom het? Daar sou ek veel liewer wil wees en alles wil doen, wat my ook aangeraai sou word. Kort en goed, vir eenvoudige kos sou ek alle werksaamhede wil verrig, wat vir ander nuttig is. Dit sou vir my, volgens my gevoel, oneindig veel beter wees as om ewig hier te sit!

6 Die dienaar sê: Ja, ja, liewe vriend, ek begryp dit alles netso goed soos jy; ek begryp net nie, soos ek jou al voorheen gesê het, waarom julle nie op aarde tot `n beter voorstelling van die hemel wou kom nie, terwyl julle julleself tog dikwels, tydens `n langdurige mis, ontsettend gesit en verveel het en dikwels vurig verlangend gesit en wag het op die “Ite missa est”.

7 Die gas sê: O, beste vriend, ek gee toe dat julle dit presies geraai het; so het dit baie dikwels met my gegaan. Ek het die fout ook altyd getrou gebieg, maar kon dit tog nie van my afbieg nie! Die geestelike het dit vir my uitgelê dat dit die kwaadaardige werk van die duiwel was, waarna ek met baie selfverloëning probeer het om my die heilige misoffer so aangenaam moontlik voor te stel, maar jammer genoeg, was al my moeite vergeefs. Ek het wel alle gebede in `n goeie missaal saamgebid en het my dus tydens die mis so goed en aandagtig moontlik besiggehou, maar ek kon dit nie so ver bring, dat dit my uiteindelik gespyt het dat die misoffer klaar was nie. Ek was eintlik innerlik altyd baie bly as ek weer uit die kerk was. In die somer, as dit nie al te warm was en die misoffer bowendien deur goeie koormusiek begelei was, het dit nog goed gegaan, maar in die winter, beste vriend, ek moet eerlik aan jou beken, het ek dit dikwels beskou as `n soort vagevuur wat ons suiwer van ons sondes, dus allermins as `n voorspel van die hemel. Dat ek op aarde so `n monotonie (vervelende) aanvaar het en my ook daarom die monotonie van die hemel, soos wat ek dit vir my voorgestel het en soos wat dit nou vir ons geleer was, verdraaglik gelyk het, het gebeur deurdat ek my met dergelike monotone voorstellings tog in `n wêreld bevind het, wat deur allerlei gebeurtenisse en eie aktiwiteite steeds vol afwisseling was.

8 Maar hier, waar elke afwisseling eensklaps verdwyn, hier, waar geen meer nag is nie, om niks te doen, ewige leeglê, voortdurend dieselfde uitsig, kyk, hier merk mens eers hoe vreeslik vervelend dit is. Daarom vra ek jou, praat jy net vir ons met Abraham, Isak en Jakob, en vra, of hulle ons iets te doene wil gee of, soos vroeër gesê, ons weer wil laat afdaal na die laer streek, waar ons miskien tog ietwat te doene kan kry, want hier hou ons dit in geen geval uit nie!

9 Die tafeldienaar sê: Maar wat verlang julle dan?! Wat wil jy dan hier doen? Wat benede? Het jy nie al op aarde geglo en gesê: Die Heer God Sebaot is `n almagtige God en het geen hulp van mense nodig nie? Slegs op aarde laat Hy hulle uit genade werk, sodat hulle die hemel kan verdien. Hier in Sy Ryk egter, sou dit met alle werk gedaan wees! Kyk, dit was ook julle geloof, maar wat wil julle hier naas die goddelike almag doen? Sou Hy jou diens wel nodig hê?

10 Die gas sê: O, beste vriend, glo my, ek sien my enorme vergissing nou in en gee openlik toe, dat ons almal ons hier letterlik in `n strafhemel bevind, want deur jou vraag het ek volkome daarvan bewus geword. As die Heer ons uit suiwer erbarming laat werk het om die hemel te verdien, dan sien ek werklik nie in waarom Sy genade, Sy oneindige liefde en goedheid juis in die hemel sou ophou nie.

11 Beste vriend, ek kan van jou gesig aflees dat jy iets anders in gedagte het. Daarom vra ons jou almal dringend, hou ons nie langer in onsekerheid nie en sê vir ons, wat die waaragtige wil van God is. Ons wil immers alles doen en ons in alles skik, maar bring ons nie meer terug na hierdie, in die letterlike sin van die woord, lang en daardeur ook besonder saai tafel nie; want werklik, ekself sou, as dit moontlik was, liewer sterf en dus ophou om te bestaan, as om my `n vraatsugtige poliep te waan op die bodem van hierdie onmeetlike ligsee!

12 Die tafeldienaar sê: Liewe vriend en broer, kyk, nou eers is jy ryp en kan ek jou en julle almal die waarheid meedeel. Luister dus:

13 Die hemel wat julle hier sien, is niks anders nie as `n verskyningsvorm van julle onware geloof; die drie-eenheid wat julle sien, stel die toppunt van julle dwaling voor.

14 Hoedat julle ooit kon gedink het dat drie gode ten slotte tog `n God kan wees?! Dat elkeen van hierdie drie gode iets anders sou verrig en hierdie drie tog volkome één in wese en natuur sou wees? Voorts, hoedat julle julle `n niksdoenende God kan voorstel, terwyl Hy tog in alle ewigheid die mees aktiewe wese is? Kyk, op grond hiervan het julle dan ook `n ewige werklose lewe vir julle voorgestel, sonder om te oordink dat die lewe energie is, wat God, vanuit Sy ewige energie, in al Sy lewende skepsele geblaas het.

15 Het die Heer op aarde nie geleer dat Hy en die Vader volkome één is nie? Het Hy nie gesê: “Wie My sien, sien die Vader”? Het Hy nie ook gesê: “Glo julle, dat Ek in die Vader is en die Vader in My?” Kyk, dit alles kon julle tog vroeër op die gedagte gebring het dat die Heer slegs Eén is en dus ook maar `n persoon; maar geen ‘driegod’, soos julle Hom vir julleself voorgestel het nie.

16 Julle sê nou wel: Beste vriend, jy weet tog hoe ons geloof aan bande gelê was. Ons kon tog onmoontlik iets anders geweet het as dit wat die kerk ons, enersyds onder allerlei bedreiginge van ewige straf in die hel, en andersyds deur die steeds onduidelike aanprysinge van die hemel, geleer het en waaraan hulle altyd nog toegevoeg het: “Geen oog het ooit gesien, geen oor het ooit gehoor en in geen mensehart het opgekom wat God berei het vir hulle wat Hom liefhet nie!”

17 O vriende en broers, ek weet maar al te goed, dat julle bedrieg en geweldig mislei is. Daarom het nou ook die verlossende oomblik aangebreek waarop julle die ware God en die ware hemel sal leer ken.

18 Julle het in die woord van die Heer gelees met welke uiterlike vorm Hy die hemelryk vergelyk het. As julle, welke vorm dan ook, net ietwat noukeurig beskou, moet dit tog vir julle in `n flits duidelik word dat die Heer nooit `n onaktiewe, maar in allerlei vorme, `n baie aktiewe hemelryk verkondig het.

19 Wend julle julle dan nou ook tot die enige Heer, Jesus Christus, want Hy alleen is God van hemel en aarde. Wend julle egter in julle liefde tot Hom; dan sal julle dadelik in Hom en uit Hom in julleself die ware bestemming van die ewige lewe vind en dan ook baie duidelik aanskou.

20 Hierdie onware drie-eenheid moes egter in julle ten gronde gaan, sodat julle die ware drie-eenheid, wat die Liefde, die Wysheid en die daaruit voortkomende Daadkrag in die enige Heer Jesus is, mag leer ken.

21 Dink nie dat daar by die doop van Christus `n goddelike drie-persoonlikheid geopenbaar was nie, want wat daar gebeur het, was slegs `n verskyningsvorm, deur die Heer toegelaat, sodat die mense daardeur in die een Heer die volle almag en die volle goddelikheid sou herken. Toe het die Wysheid van God, wat as Sy ewige Woord, wat uit die Liefde voortgekom het, die vlees aangeneem en heet God se Seun, wat soveel wil sê as: Die Wysheid is die vrug van die Liefde en kom uit Haar voort, soos die lig uit die warmte. Die sigbare gestalte van God se Gees bokant die Seun beteken slegs dat die ewige, oneindige Krag van God weliswaar, net soos wat die Wysheid voortgekom het uit die Liefde, maar tog deur die Wysheid werk, soos die warmte van die son in die voortgeplante lig die uitwerking teweegbring.

22 Wanneer julle dit nou alles insien, sal julle ook maklik begryp dat, omdat die totale oneindige lig van die Wysheid in die Heer voorhande was, in Hom dus ook die totale oneindige Liefde, net soos die uit beide voortkomende oneindige, goddelike Daadkrag voorhande moet wees.

23 Johannes sê immers ook: “In Christus woon die volheid van God” en hy sê ook: “In die begin was God; en God was die Woord en die Woord was by God; die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.” Julle sê weliswaar dat daar geskrywe staan: “In die begin was die Woord, God was die Woord, want die Woord was by God en God was in die Woord.” Dit beteken dieselfde, want God en Woord is een en dieselfde as Seun en Vader. Of wanneer julle sê: Woord en God, wat ook dieselfde is as Seun en Vader, is die een nie voor die ander nie, want Vader en Seun of God en die Woord, of liefde en wysheid is vanaf alle ewigheid volkome één. Daarom mag julle die teks uit Johannes ook maar draai soos wat julle wil, sy getuienis het steeds dieselfde betekenis, naamlik dat die Heer Eén is, sowel as Vader, as Seun, as Gees, as Liefde, as Wysheid, as alles!

24 Julle vra hoe mens dit dan moet begryp as die Heer sê, dat die sonde teen die Vader en die Seun vergeeflik is, maar “die sonde teen die Heilige Gees” is nie. Dit is tog baie begryplik; wie stry teen die goddelike Liefde, word deur die goddelike Liefde gegryp en geheel; wie stry teen die goddelike Wysheid word eenders deur die goddelike Wysheid behandel. Maar sê net self, as daar `n dwaas sou wees wat werklik teen die oneindige goddelike Mag en Krag in opstand sou wil kom, wat kan hom anders te wagte staan as dat die oneindige goddelike Krag hom ook sal aangryp, maar hom dan wegblaas die oneindigheid in, vanwaar hy `n hopelose lang terugweg sal hê om te gaan om moontlikerwys weer nader aan God se liefde en erbarming te kom.

25 Kyk, dit alles doen immers steeds een en dieselfde Heer, wat hom aan elke mens openbaar na gelang van wat die mens wil. Wie dit derhalwe teen sy Krag wil opneem, hom sal die Heer ook laat proe hoe Sy almag smaak, vergeleke met die onmag van `n skepsel! Maar dink veral nie dat die Heer so `n dwase stryder sal verdoem of vernietig nie, want die Heer doen alles vanuit Sy oneindige liefde, sodat niemand verlore sal gaan nie. Oordink dit alles in julle harte; daarna sal ek terugkom en julle lei na dit wat julle in julleself gevind en erken sal hê.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205