Die Geestelike Son - Boek 1
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 52

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102.

Die ware armoede van die gees. Die gevaar van die blinde twyfelsug

52 Kyk nou net! Die tafelbediende verwyder hom en ons geselskap sit koppe bymekaar. In die geestelike beteken dit: Een van sin word. Waaroor het hulle dit nou? `n Bietjie geduld maar, dan sal ons dit spoedig sien. Die een wat eers die meeste met die tafeldienaar gespreek het en eens op aarde `n boer was, sal nou spoedig op die voorgrond tree en aan die hele geselskap `n voorstel maak. Julle sal dit graag wil hoor, maar ek sê vir julle: In die gees kan dit nie so skielik plaasvind nie. Die opnamevermoë van `n gees in sy mees suiwer en volmaakte toestand werk volgens julle begrippe weliswaar ongelooflik vinnig, maar die van `n meer onvolmaakte gees daarenteen des te moeisamer en langsamer. Julle vra: Waarom is dit so? Dit is tog maklik te begryp, omdat die gees niks het waarop hy kan terugval nie; sy enigste besit is slegs sy innerlike.

2 `n Volmaakte gees het die volmaak goeie en ware in eindelose groot oorvloed in homself; daarom kan hy die geestelike reële ware en goeie so ongelooflik vinnig opneem. `n Meer onvolmaakte gees het egter niks anders as misvattings in homself nie. As hy nou die goeie en volkome ware vooruitgang wil boek, dan moet hy eers sy misvattings as sodanig erken, dit uit homself verwyder en daardeur in groot armoede verval, sodat hy `n waaragtige arme van gees word. Eers deur hierdie armoede of volslae geestelike leegte kom die goddelike vonk, wat die liefdevolle goeie is, dan vry, begin hom steeds meer uit te brei en vul dientengevolge die vroeëre geestelike leegte met nuwe lig op. Eers in dié lig word die opname­vermoë van die gees steeds meer volmaak. En so sien julle dat dit ons geselskap nogal ietwat moeite gaan kos om die aanskoulike voorgestelde beeld van die hemel kwyt te raak.

3 Hulle sien nog steeds alles wat hulle in die begin gesien het. Dit getuig daarvan dat hulle innerlike bewuswording van die ware en goeie nog nie veel verander het nie. Julle sou nou wel graag wil weet wat die oorsaak daarvan is, aangesien die tafeldienaar die hele geselskap die waarheid tog danig onder die neus gevryf het, soos wat julle gewoond is om te sê.

4 Ek sê vir julle, daar is dikwels maar één rede daarvoor: Al hierdie katolieke hemelhelde is in wese niks anders as blinde skeptici nie. Skeptisisme is egter vir die mens, wat die houtkewer vir die bome is: Daar hoef maar `n enkele puntjie nie heeltemal steekhoudend te wees nie, of dit sal hom ontwikkel tot `n ryklik reproduserende, skadelike waarheidsinsek, wat ten slotte groot bosse met bome vol van lewe en kennis ten gronde rig.

5 Julle vra nou: Beste vriend, wat is dan die gevaarlike punt by die geselskap? Ek sê vir julle: Die punt op sigself verdien nouliks aandag, maar die skeptikus, wat aan alle vesels van die boom van die lewe en kennis knaag, plaas die onbeduidende puntjie onder `n sterk vergrotende mikroskoop en ontdek dan in die onopvallende puntjie hele berge ongelykhede, wat hom dan nie meer met die natuurlike beeld van die oppervlak van die lewende hout laat verenig nie.

6 Die oorsaak is te vind in die feit dat hierdie skeptici met hulle verstandelike mikroskoop steeds op die onbeduidende punt gefokus bly, waarby geeneen van hulle op die idee kom om die mikroskoop van hulle verstand oor die grense van die punt heen te rig, waardeur hulle sou sien, hoe die oneffe voorkomende punt so met die ander lewenshout verbonde is.

7 Sodat julle nou sien waaruit die punt bestaan, maak ek julle daarop attent dat die tafelbediende die aangehaalde skriftekste, oppervlakkig gesien, ietwat deurmekaar gegooi het. Die regstelling het julle dadelik tydens die gesprek gehoor. Die tafelbediende het oënskynlik `n teks van Paulus geneem en hom Johannes in die mond gelê. Omdat die woordvoerder en nog enkele andere van die geselskap taamlik goed tuis is in die Skrif, het dit hulle opgeval en dit is dan ook hoofsaaklik die rede waarom hulle die koppe bymekaar steek.

8 Ons spreker het hulle dadelik heimlik daarop gewys en gesê: My liewe, salige vriende, as hierdie tafelbediende eg tuis sou wees in die goddelike waarheid, dan sou hy Paulus tog nie somaar met Johannes verwissel het nie. So het hy kennelik Johannes iets in die mond gelê, wat net Paulus gesê het, en dit is vir my genoeg om aan te neem dat hierdie dienaar nie in die eintlike goddelike waarheid tuis is nie. Daarom hoef alles wat hy gesê het, waarskynlik nie al te ernstig geneem word nie.

9 Ek is van mening dat hierdie hemel weliswaar `n ware en volmaakte hemel is, maar die verhaal en die lering oor die tafel gevangeskap berus volgens my slegs op `n vermoede van die tafeldienaar, wat ons daarmee behoorlik om die bos gelei het. Ons is vry en kan aan tafel gaan wanneer ons wil, maar as ons wil, kan ons ook in hierdie groot tuin gaan wandel. Ek is ook van mening dat dit ons vry staan om die groot, pragtige paleis daar agter die groot lang tafel te besigtig en miskien selfs te bewoon, want die Heer het tog gesê: “In die Ryk van My Vader is baie wonings!” Daarom kan daar in die buitengewoon groot paleis immers `n hele klomp wonings wees. Dit is ook bes moontlik dat daar verderop nog `n enorme aantal van sulke paleise voorhande is. Daarom dink ek dat ons nie meer op ons, bepaald nie bybelvaste tafeldienaar, moet wag nie, maar ons dadelik na eie goeddunke en genoeë na die groot paleis begewe. Hier is ons nie meer in staat om te sondig nie; daarom kan ons ook doen wat ons wil! 

10 Dit is tog sekerlik beter om met `n helder bewussyn in die hemel te wees, as volgens die ietwat vergesogte mening van ons tafeldienaar om in `n waaragtige boerehemel te kom. As dit nie die egte hemel is nie, dan kan ons ook niks daaraan doen nie, aangesien `n ander een nooit vir ons op aarde voorgehou was nie. En as dit daar, soos wat ons dit op aarde geleer het, hier uitermate regverdig gaan, wat ook ongetwyfeld die geval sal wees, dan sou ek net wil weet waarom ons `n tydlank met `n valse hemel gefop moes word. Ons het tog altyd in `n egte en waaragtige hemel geglo, maar nie in `n fop- of skynhemel nie. Dit sou tog werklik laag van ons wees as ons God daarvan sou verdink dat Hy ons net met hierdie hemel vir die gek wou hou. Laat ons daarom dapper voorwaarts gaan!

11 Sien julle nou hoe die punt, soos `n houtkewer, die hele vroeëre bos van goeie insigte aangetas het; ons skeptici het weer heeltemal tot hulle ou dwalinge verval. Julle vra nou wel: Ja, waarom het die tafeldienaar dit dan gedoen? Ek sê vir julle: Die dienaar het in `n geestelike sin korrek gespreek, maar ons deur dwalings bevooroordeelde skeptici het hulle verstandsmikroskoop nie oor die grens van die punt van twyfel heen gerig nie, waardeur hulle die goeie neweverbindinge kon ontdek het.

12 Julle sal wel gemerk het dat die dienaar die teks van die apostel Paulus nie volledig uitgespreek het nie en die begrip “wesenlik” of ook “liggaamlike” of “stoflike” het hy weggelaat. Kyk, dit is `n baie belangrike verbindingspunt. Die verbindingspunt is nou juis dit wat die geselskap mis, want so `n verbindingspunt beteken nou juis die daadkragtige liefde vanuit die suiwer geloof in die Heer.

13 Kyk nou verder; die hele evangelie van Johannes, wat die innerlike, lewende woord of die liefde vir die Heer weergee, is in hemelse sin saamgevat in die teks wat deur die dienaar uitgespreek is, en gee, wat die Heer betref, enkel en alleen die korrekte lig.

14 Maar Paulus neem die lig, wat by Johannes die liefde van die Heer is, lewendig in hom op. Op grond daarvan sê Paulus dan ook: “Nou leef ek nie meer nie, maar Christus leef in my!” Daarom is die teks wat deur die tafeldienaar aangehaal is, heeltemal van Johannes en kan nie van Paulus wees nie, omdat dit die hele geselskap nog ontbreek aan die wesenlike van die liefde vir die Heer. Die verdere verloop van hierdie belangrike ontwikkeling sal ons spoedig in die nabyheid van die geselskap kan aanskou.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205